Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie oordeel volgens wat jy sien nie

Moenie oordeel volgens wat jy sien nie

“Hou op om na die uiterlike te oordeel, maar oordeel met ’n regverdige oordeel.” — JOH. 7:24.

LIED: 142, 123

1. Wat het Jesaja oor Jesus voorspel, en hoekom is dit aanmoedigend?

JESAJA se profesie oor ons Here Jesus Christus stel ons gerus en gee ons hoop. Jesaja het voorspel: “Hy sal nie oordeel net volgens wat sy oë sien nie, en ook nie teregwys net volgens wat sy ore hoor nie.” Hy het ook gesê: ‘Hy sal die geringes met regverdigheid oordeel’ (Jes. 11:3, 4). Hierdie woorde is aanmoedigend omdat die wêreld vandag vol partydigheid en vooroordeel is. Ons het almal hierdie volmaakte Regter nodig, want hy sal ons nooit volgens die uiterlike, of volgens wat hy sien, oordeel nie!

2. Wat het Jesus ons beveel om te doen, en wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

2 Elke dag oordeel ons mense, of vorm ons opinies oor hulle. Maar omdat ons onvolmaak is, kan ons nie sake volmaak oordeel soos Jesus nie. Ons word gewoonlik beïnvloed deur wat ons sien. Maar toe Jesus op die aarde was, het hy beveel: “Hou op om na die uiterlike te oordeel, maar oordeel met ’n regverdige oordeel” (Joh. 7:24). Dit is duidelik dat Jesus wil hê dat ons hom moet navolg en ander nie moet oordeel volgens wat ons sien nie. In hierdie artikel gaan ons kyk na drie gebiede waarop mense gewoonlik beïnvloed word deur wat hulle sien: ras of etniese groep, rykdom en ouderdom. Ons gaan ook kyk na praktiese maniere hoe ons op elkeen van hierdie gebiede Jesus se bevel kan gehoorsaam.

MOENIE OORDEEL VOLGENS RAS OF ETNIESE GROEP NIE

3, 4. (a) Hoekom het die apostel Petrus sy beskouing van nie-Jode verander? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Watter nuwe waarheid het Jehovah Petrus gehelp om te verstaan?

3 Stel jou voor wat deur die apostel Petrus se gedagtes gegaan het toe hy gevra is om na die huis van die nie-Jood Kornelius in Sesarea te gaan (Hand. 10:17-29). Net soos ander Jode van daardie tyd, het Petrus grootgeword met die idee dat nie-Jode onrein is. Maar daar het ’n paar dinge gebeur wat veroorsaak het dat Petrus sy beskouing verander het. Jehovah het Petrus byvoorbeeld ’n visioen laat sien (Hand. 10:9-16). In die visioen het Petrus ’n voorwerp gesien wat soos ’n laken gelyk het. Dit was vol onrein diere en het voor hom neergedaal terwyl ’n stem uit die hemel beveel het: “Staan op, Petrus, slag en eet!” Maar Petrus het geweier om dit te doen. Toe het die stem uit die hemel vir hom gesê: “Hou op om die dinge wat God gereinig het, verontreinig te noem.” Toe Petrus wakker word, het hy nie verstaan wat die stem vir hom probeer sê het nie. Op daardie oomblik het manne wat deur Kornelius gestuur is, daar aangekom. Die heilige gees het Petrus gelei om saam met hierdie manne na Kornelius se huis te gegaan.

4 As Petrus sake geoordeel het net volgens wat hy gesien het, sou hy nooit in Kornelius se huis ingegaan het nie. Jode het nooit in die huise van nie-Jode ingegaan nie. Hoekom het Petrus dit gedoen ten spyte van diepgewortelde vooroordeel? Petrus was diep geraak deur die visioen wat hy gesien het, asook deur die versekering wat hy van die heilige gees ontvang het. Kornelius het vir Petrus vertel wat met hom gebeur het, en Petrus is toe geïnspireer om te sê: “Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Hand. 10:34, 35). Petrus het hierdie waarheid, wat tot groot veranderinge sou lei, toe vir die eerste keer verstaan. Hoe sou hierdie waarheid oor onpartydigheid alle Christene raak?

5. (a) Wat wil Jehovah hê moet alle Christene verstaan? (b) Wat is dalk nog steeds diep in ons hart, al weet ons wat die waarheid is?

5 Jehovah het Petrus gebruik om alle Christene te help verstaan dat Hy nie partydig is nie. Dit maak nie vir Jehovah saak watter taal ons praat of van watter ras, etniese groep, nasionaliteit of stam ons is nie. Enige man of vrou wat God vrees en doen wat reg is, is vir hom aanvaarbaar (Gal. 3:26-28; Op. 7:9, 10). Jy weet waarskynlik dat dit waar is. Maar sê nou jy het in ’n land of huis grootgeword waar daar baie vooroordeel was? Dalk dink jy dat jy onpartydig is, maar diep in jou hart is daar miskien nog steeds vooroordeel. Selfs Petrus, wat die voorreg gehad het om vir ander te wys dat Jehovah onpartydig is, het mense later met vooroordeel behandel (Gal. 2:11-14). Hoe kan ons na Jesus luister en ophou om ander te oordeel volgens wat ons sien?

6. (a) Wat kan ons help om enige vooroordeel uit ons hart uit te roei? (b) Wat kan ’n mens aflei uit ’n verslag wat ’n verantwoordelike broer geskryf het?

6 Ons moet God se Woord gebruik en onsself goed ondersoek om te sien of ons nog enige gedagtes of gevoelens van vooroordeel in ons het (Ps. 119:105). Ons kan ook ’n goeie vriend vra of hy enige vooroordeel in ons sien, want partykeer kan ons dit nie self raaksien nie (Gal. 2:11, 14). Sulke gedagtes en gevoelens is dalk so deel van ons dat ons nie eers daarvan bewus is nie. Kom ons kyk byvoorbeeld na wat ’n verantwoordelike broer oor ’n voorbeeldige paartjie in voltydse diens geskryf het. Die suster se man was van ’n etniese minderheidsgroep op wie mense gewoonlik neersien. Blykbaar was die verantwoordelike broer nie daarvan bewus dat hy gevoelens van vooroordeel teenoor hierdie minderheidsgroep gehad het nie. In sy verslag aan die takkantoor het hy baie goeie dinge oor die man gesê, maar toe het hy afgesluit deur te sê: “Al is hy van [hierdie nasionaliteit], help sy gewoontes en die manier waarop hy lewe ander om te sien dat net omdat iemand [van hierdie etniese groep] is, dit nie beteken dat hy minderwaardig en vuil is, soos [hierdie mense] gewoonlik is nie.” Sien jy die punt? Dit maak nie saak watter verantwoordelikhede ons het nie, ons moet onsself goed ondersoek en gewillig wees om hulp te aanvaar sodat ons kan sien of daar nog enige vooroordeel in ons hart is. Wat kan ons nog doen?

7. Hoe kan ons wys dat ons ons hart wyd oopmaak?

7 As ons verruim word, of ons hart wyd oopmaak, sal ons toelaat dat liefde die vooroordeel in ons hart vervang (2 Kor. 6:11-13). Is dit jou gewoonte om net saam met mense van jou eie ras, etniese groep, nasionaliteit, stam of taal te kuier? Dan moet jy jou hart wyer oopmaak. Miskien kan jy iemand van ’n ander agtergrond nooi om saam met jou velddiens te doen. Of nooi hulle na jou huis vir ’n ete of om by jou te kom kuier (Hand. 16:14, 15). As jy dit doen, sal jou hart so vol liefde word dat daar nie plek sal wees vir vooroordeel nie. Maar kom ons kyk na nog ’n gebied waarop ons geneig is om ander te oordeel volgens wat ons sien — materiële rykdom.

MOENIE OORDEEL VOLGENS RYKDOM OF ARMOEDE NIE

8. Hoe kan rykdom of armoede, volgens Levitikus 19:15, ons beskouing van ander beïnvloed?

8 Materiële rykdom is nog iets wat ons beskouing van ander kan beïnvloed. Levitikus 19:15 sê: “Jy mag die geringe [of “arme”] nie partydig behandel nie, en jy mag ’n vername [of “ryk”] man nie bevoorreg nie. Met geregtigheid moet jy jou metgesel oordeel.” Maar hoe kan ’n persoon se rykdom of armoede ons beskouing van hom beïnvloed?

9. Watter hartseer waarheid het Salomo neergeskryf, en watter les leer ons hieruit?

9 Salomo is geïnspireer om ’n hartseer waarheid oor onvolmaakte mense neer te skryf. In Spreuke 14:20 het hy gesê: “Die arme is selfs vir sy medemens ’n voorwerp van haat, maar die vriende van die ryke is baie.” Wat leer ons uit hierdie woorde? As ons nie versigtig is nie, kan ons dalk broers wat ryk is as ons vriende wil hê, terwyl ons broers wat arm is, vermy. Hoekom is dit so gevaarlik om ander te oordeel volgens die materiële dinge wat hulle besit?

10. Van watter probleem het Jakobus gepraat?

10 As ons ander volgens hulle materiële rykdom oordeel, kan ons klasseverskille in die gemeente veroorsaak. Die dissipel Jakobus het gewaarsku dat hierdie probleem besig was om party gemeentes in die eerste eeu te verdeel. (Lees Jakobus 2:1-4.) Ons moet ons gemeentes vandag teen hierdie gevaar beskerm en nie toelaat dat sulke idees ’n invloed op ons het nie. Hoe kan ons seker maak dat ons mense nie oordeel volgens wat ons sien nie?

11. Watter uitwerking het ’n persoon se materiële besittings op sy verhouding met Jehovah? Verduidelik.

11 Ons moet ons broers sien soos Jehovah hulle sien. ’n Persoon is nie vir Jehovah kosbaar omdat hy ryk is of omdat hy arm is nie. Ons verhouding met Jehovah sal nooit afhang van hoeveel materiële besittings ons het of nie het nie. Al is dit waar dat Jesus gesê het dat dit “vir ’n ryk man moeilik sal wees om in die koninkryk van die hemele in te gaan”, het hy nie gesê dat dit onmoontlik sou wees nie (Matt. 19:23). Jesus het ook gesê: “Gelukkig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God” (Luk. 6:20). Maar dit het nie beteken dat al die arm mense spesiaal geseën sou word en na Jesus se leringe sou luister nie. Baie van die armes het nie na hom geluister nie. Die feit is dat ons eenvoudig nie ’n persoon se verhouding met Jehovah volgens sy materiële besittings kan oordeel nie.

12. Watter raad gee die Bybel aan die rykes en aan die armes?

12 Ons het baie broers en susters, ryk en arm, wat Jehovah liefhet en hom met hulle hele hart dien. Die Bybel beveel diegene wat ryk is “om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God”. (Lees 1 Timoteus 6:17-19.) God se Woord waarsku ook al God se knegte, ryk en arm, om nie lief te wees vir geld nie (1 Tim. 6:9, 10). Ja, as ons ons broers sien soos Jehovah hulle sien, sal ons nie geneig wees om hulle te oordeel volgens hulle materiële besittings nie. Maar wat van ’n persoon se ouderdom? Kan ons ander daarvolgens oordeel? Kom ons kyk.

MOENIE OORDEEL VOLGENS OUDERDOM NIE

13. Wat leer die Bybel ons oor respek vir ouer persone?

13 Ons lees ’n hele paar keer in die Bybel dat ons ouer persone moet respekteer. Levitikus 19:32 sê: “Voor grys hare moet jy opstaan, en jy moet aan ’n bejaarde agting betoon, en jy moet jou God vrees.” En Spreuke 16:31 sê: “Grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word.” Paulus het Timoteus ook gewaarsku om ’n ouer broer nie skerp te kritiseer nie, maar hom eerder as ’n vader te beskou (1 Tim. 5:1, 2). Al het Timoteus ’n mate van gesag oor ouer broers gehad, moes hy meegevoel met hulle hê en hulle met respek behandel.

14. Wanneer moet ons dalk ’n persoon wat ouer as ons is, raad gee of dissiplineer?

14 Maar tot watter mate sal ons hierdie beginsel toepas? Sê nou iemand sondig moedswillig of sê dinge wat Jehovah nie goedkeur nie. Moet ons verplig voel om hierdie persoon se gedrag oor te sien net omdat hy ouer as ons is? Jehovah sal nie oordeel volgens wat hy sien nie, en hy sal iemand wat moedswillig sondig nie verskoon net omdat hy oud is nie. Kyk na die beginsel in Jesaja 65:20: “Wat die sondaar betref, al is hy honderd jaar oud, sal ’n vloek oor hom uitgespreek word.” ’n Soortgelyke beginsel word in Esegiël se visioen uitgebeeld (Eseg. 9:5-7). Daarom is dit belangrik dat ons altyd eerder die Oue van Dae, Jehovah God, moet respekteer (Dan. 7:9, 10, 13, 14). As ons dit doen, sal ons nie bang wees om iemand raad te gee wanneer dit nodig is nie, maak nie saak hoe oud hy is nie. — Gal. 6:1.

Het jy respek vir jonger broers? (Sien paragraaf 15)

15. Watter les oor respek vir jonger broers leer ons by die apostel Paulus?

15 Maar wat van jonger broers in die gemeente? Hoe beskou jy hulle? Paulus het aan die jong man Timoteus geskryf: “Laat geen mens ooit op jou jeug neersien nie. Inteendeel, wees ’n voorbeeld vir die getroues in woord, in gedrag, in liefde, in geloof, in kuisheid” (1 Tim. 4:12). Timoteus was dalk in sy vroeë 30’s toe Paulus hierdie woorde geskryf het. Nogtans het Paulus vir hom belangrike verantwoordelikhede gegee. Wat ook al die rede vir hierdie raad was, ons leer ’n belangrike les hieruit. Ons moenie broers oordeel net omdat hulle jonk is nie. En onthou dat selfs Jesus sy hele aardse bediening uitgevoer het toe hy in sy vroeë 30’s was.

16, 17. (a) Hoe besluit ouer manne of ’n broer kwalifiseer om as ’n bedieningskneg of ’n ouer man aanbeveel te word? (b) Hoe kan ons persoonlike opinies of ons kultuur verskil van wat die Bybel sê?

16 Dalk word daar in ons kultuur op jonger mans neergesien. As dit die geval is, sal ouer manne in die gemeente dalk nie jonger broers wat kwalifiseer, aanbeveel om as bedieningsknegte of ouer manne te dien nie. Alle ouer manne moet onthou dat die Bybel nie sê hoe oud ’n man moet wees voordat hy as ’n bedieningskneg of ’n ouer man aanbeveel kan word nie (1 Tim. 3:1-10, 12, 13; Tit. 1:5-9). As ’n ouer man op grond van sy kultuur ’n reël maak, tree hy nie in ooreenstemming met die Bybel op nie. God se Woord moet gebruik word om te besluit of jonger manne aanbeveel kan word, en nie ons persoonlike opinie of ons kultuur nie. — 2 Tim. 3:16, 17.

17 Kom ons kyk hoe sulke onskriftuurlike beskouings wat op kultuur gegrond is, kan veroorsaak dat broers wat kwalifiseer, teruggehou word. In een land is ’n bedieningskneg belangrike verantwoordelikhede gegee, en hy het dit baie goed hanteer. Die ouer manne in sy gemeente het saamgestem dat die jong broer tot ’n redelike mate aan die skriftuurlike vereistes voldoen om as ’n ouer man te dien, maar hy is nie aanbeveel nie. ’n Paar van die ouer broers op die liggaam van ouer manne het daarop aangedring dat die broer te jonk lyk om ’n ouer man te wees. Ongelukkig is die broer toe nie aangestel nie. Hierdie is net een ondervinding, maar verslae wys dat baie broers regoor die wêreld deur sulke opinies beïnvloed word. Dit is baie belangrik dat ons eerder op die Bybel moet vertrou en nie op ons persoonlike idees of opinies wat op ons kultuur gegrond is nie! Slegs dan sal ons aan Jesus se bevel gehoorsaam wees en ophou om te oordeel volgens wat ons sien.

OORDEEL MET ’N REGVERDIGE OORDEEL

18, 19. Wat is nodig sodat ons ander kan sien soos Jehovah hulle sien?

18 Ons is almal onvolmaak, maar ons kan leer om ander deur Jehovah se onpartydige oë te sien (Hand. 10:34, 35). Dit is iets waaraan ons heeltyd moet werk, en ons kan dit net doen as ons die raad in God se Woord volg. Wanneer ons hierdie raad toepas, sal dit ons help om aan Jesus se bevel gehoorsaam te wees en om op te hou oordeel volgens wat ons sien. — Joh. 7:24.

19 Binnekort sal ons Koning, Jesus Christus, alle mense oordeel, nie volgens wat sy oë sien of wat sy ore hoor nie, maar met regverdigheid (Jes. 11:3, 4). Dit is iets waarna ons almal uitsien!