Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lankmoedigheid — Volharding met ’n doel

Lankmoedigheid — Volharding met ’n doel

IN HIERDIE “laaste dae” word die druk van die lewe al hoe erger, en daarom het Jehovah se volk lankmoedigheid, of geduld, meer nodig as ooit tevore (2 Tim. 3:1-5). Ons lewe in ’n wêreld waarin baie mense liefhebbers van hulleself is, nie bereid is tot enige ooreenkoms nie en nie selfbeheersing het nie. Mense wat so optree, is gewoonlik glad nie geduldig nie. Daarom moet elke Christen hom afvra: ‘Raak ek miskien ongeduldig net soos die mense rondom my? Wat beteken dit om geduldig te wees? En hoe kan ek hierdie Christelike eienskap ’n permanente deel van my persoonlikheid maak?’

WAT IS GEDULD?

In die Bybel beteken geduld meer as om net ’n moeilike situasie te verduur. ’n Persoon met goddelike geduld volhard met ’n doel. Hy dink nie net aan wat hy nodig het nie, maar ook aan wat die beste sal wees vir die persoon wat besig is om ’n onaangename situasie te veroorsaak. Selfs wanneer ’n geduldige persoon onregverdig behandel of kwaad gemaak word, sal hy altyd hoop dat die verhouding weer kan verbeter. Daarom verbaas dit ons nie dat geduld eerste genoem word wanneer die Bybel praat van die goeie eienskappe wat deur liefde voortgebring word nie (1 Kor. 13:4). * God se Woord sê ook dat “lankmoedigheid”, of geduld, een van die aspekte van die vrug van die gees is (Gal. 5:22, 23). Maar wat moet ons doen sodat ons hierdie goddelike eienskap kan aanleer?

HOE OM GEDULD AAN TE LEER

Ons moet bid en Jehovah vra vir sy heilige gees om ons te help om die eienskap van geduld aan te leer. Hy gee sy gees aan diegene wat in hom glo en op hom vertrou (Luk. 11:13). Maar al is God se gees baie kragtig, moet ons nog steeds ons deel doen en in ooreenstemming met ons gebede optree (Ps. 86:10, 11). Dit beteken dat ons ons bes moet doen om elke dag geduldig te wees sodat hierdie eienskap diep in ons hart kan begin groei. Maar dalk moet ons meer doen om geduld ’n permanente deel van ons persoonlikheid te maak. Wat kan ons hiermee help?

Ons kan geduld aanleer deur Jesus se volmaakte voorbeeld te ondersoek en dit na te volg. Die apostel Paulus se geïnspireerde beskrywing van die “nuwe persoonlikheid” stem ooreen met die voorbeeld wat Jesus gestel het. Paulus het gesê dat geduld deel van hierdie nuwe persoonlikheid is, en toe het hy ons aangespoor om ‘die vrede van die Christus in ons harte te laat heers’ (Kol. 3:10, 12, 15). Ons kan sulke vrede in ons harte laat “heers” deur Jesus se geloof na te volg. Hy het die vaste geloof gehad dat God sake op die regte tyd sal regstel. Wanneer ons Jesus se voorbeeld navolg, sal niks veroorsaak dat ons ongeduldig raak nie, maak nie saak wat in ons lewe gebeur nie. — Joh. 14:27; 16:33.

Ons wil dalk graag hê dat God se beloofde nuwe wêreld gou moet kom. Maar ons leer om geduldiger te wees wanneer ons nadink oor hoe geduldig Jehovah met ons is. Die Bybel verseker ons: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Pet. 3:9). Help dit ons nie om geduldiger met ander te wees wanneer ons nadink oor hoe geduldig Jehovah met ons is nie? (Rom. 2:4). Maar in watter soort situasies het ons geduld nodig?

WANNEER GEDULD NODIG IS

Daar is elke dag situasies wat ons geduld kan toets. Byvoorbeeld, as jy voel dat jy iets belangriks het om te sê, sal jy dalk geduldig moet wees sodat jy ander nie in die rede val nie (Jak. 1:19). Jy sal dalk ook geduldig moet wees wanneer jy met medegelowiges assosieer wie se gewoontes jou irriteer. In plaas daarvan om te oorreageer, sal dit verstandig wees om te dink aan hoe Jehovah en Jesus op ons swakhede reageer. Hulle kyk nie met ’n kritiese oog na die klein dingetjies wat ons verkeerd doen nie. Hulle sien eerder ons goeie eienskappe raak en wag geduldig terwyl ons probeer om beter te doen. — 1 Tim. 1:16; 1 Pet. 3:12.

Nog ’n situasie wat ons geduld kan toets, is wanneer iemand ons daarvan beskuldig dat ons iets verkeerds gesê of gedoen het. Ons is dalk geneig om vinnig op ons perdjie te spring en onsself te verdedig. Maar God se Woord sê: “Iemand wat geduldig is, is beter as iemand wat hoogmoedig van gees is. Moenie haastig wees in jou gees om aanstoot te neem nie, want om aanstoot te neem, rus in die boesem van die sotte” (Pred. 7:8, 9). Daarom moet ons, selfs as die beskuldiging heeltemal onwaar is, geduldig wees en mooi dink oor wat ons gaan sê. Jesus het hierdie beginsel toegepas toe ander hom onregverdig behandel het en hom gespot het. — Matt. 11:19.

Ouers moet veral geduldig wees wanneer hulle sien dat hulle kinders ’n verkeerde houding, begeerte of neiging begin ontwikkel. Kyk byvoorbeeld wat met Mattias, wat nou ’n lid van die Bethelgesin in Skandinawië is, gebeur het. Toe hy ’n tiener was, is hy aanhoudend by die skool geterg oor die dinge waarin hy glo. In die begin het sy ouers nie besef wat aan die gang is nie. Maar later het die uitwerking van hierdie teenstand duidelik geword, want hulle seun het begin wonder of dit waarin hy glo, regtig die waarheid is. Mattias se pa, Gillis, sê: “Ons moes baie geduldig wees.” Mattias sou vra: “Wie is God? Sê nou die Bybel is nie God se Woord nie? Hoe weet ons dat dit regtig God is wat dit of dat van ons wil hê?” Hy sou ook vir sy pa sê: “Hoekom moet ek geoordeel word net omdat ek nie dieselfde as julle voel of glo nie?”

Gillis sê: “Partykeer het ons seun hierdie vrae gevra omdat hy kwaad geword het, nie vir my of sy ma nie, maar vir die waarheid. Dit het vir hom gevoel asof die waarheid sy lewe net moeilik maak.” Hoe het Gillis die situasie hanteer? “Ek en my seun sou partykeer vir ure sit en gesels. Ek het die meeste van die tyd net geluister en nou en dan ’n vraag gevra sodat ek beter kon verstaan hoe hy voel en dink. Soms het ek iets aan hom verduidelik en hom dan ’n dag of twee gegee om daaroor te dink voordat ons dit verder sou bespreek. Ander kere sou ek sê dat ek ’n paar dae nodig het om te dink oor iets wat hy gesê het. Deur middel van hierdie gereelde gesprekke het Mattias stadig gevorder en dinge soos die losprys, God se soewereiniteit en Jehovah se liefde beter begin verstaan en kon hy dit aanvaar. Dit het lank geneem, en dit was baie keer moeilik, maar liefde vir Jehovah het stadig maar seker in sy hart begin groei. Ek en my vrou is baie bly dat ons ons seun se hart kon bereik omdat ons hom geduldig deur sy tienerjare gehelp het.”

Gillis en sy vrou het op Jehovah se ondersteuning vertrou terwyl hulle hulle seun geduldig gehelp het. Gillis dink terug aan hoe dit was en vertel dat hy dikwels vir Mattias gesê het dat hulle hom baie liefhet, en daarom het hulle hard gebid dat Jehovah hom sou help om die waarheid te verstaan. Hoe dankbaar is hierdie ouers tog dat hulle so geduldig was!

Ware Christene moet ook liefdevol en geduldig wees terwyl hulle vir familielede of vriende wat chronies siek is, sorg. Kyk na die voorbeeld van Ellen, * wat ook in Skandinawië bly.

Omtrent agt jaar gelede het Ellen se man twee beroertes gehad. Die beroertes het party van sy breinfunksies beskadig, en daarom kan hy nie meer bly of hartseer voel nie en ook nie meegevoel met ander hê nie. Hierdie situasie is ’n groot uitdaging vir Ellen. Sy sê: “Ek moet baie geduldig wees, en ek het al baie gebid.” Sy sê ook: “Die teks wat my die meeste vertroos, is Filippense 4:13 wat sê: ‘Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.’” Danksy hierdie krag volhard Ellen geduldig terwyl sy ten volle vertrou dat Jehovah haar sal ondersteun. — Ps. 62:5, 6.

VOLG JEHOVAH SE GEDULD NA

Die beste voorbeeld van hoe om geduldig te wees, is natuurlik Jehovah s’n (2 Pet. 3:15). Daar is baie verslae in die Bybel wat wys hoe geduldig Jehovah is (Neh. 9:30; Jes. 30:18). Kyk byvoorbeeld hoe Jehovah gereageer het toe Abraham getwyfel het oor Jehovah se besluit om Sodom te vernietig. Eerstens, Jehovah het Abraham nie in die rede geval terwyl hy gepraat het nie. Jehovah het eerder geduldig geluister na al Abraham se vrae en die dinge waaroor hy bekommerd was. Toe het Jehovah gewys dat hy geluister het deur Abraham se woorde te herhaal en hom te verseker dat selfs as daar net tien regverdiges in die stad gevind sou word, Hy Sodom nie sou vernietig nie (Gen. 18:22-33). Wat ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat geduldig geluister het en nie oorreageer het nie!

Goddelike geduld is natuurlik ’n baie belangrike deel van die nuwe persoonlikheid wat alle Christene moet hê. As ons hard daaraan werk om hierdie kosbare eienskap aan te leer, eer ons ons liefdevolle en geduldige hemelse Vader en sal ons onder diegene wees “wat deur geloof en geduld die beloftes beërf”. — Heb. 6:10-12.

^ par. 4 Die eienskap van liefde word bespreek in die eerste artikel van hierdie reeks oor die nege aspekte van die vrug van God se heilige gees.

^ par. 15 Naam is verander.