Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Praat die waarheid

Praat die waarheid

“Praat die waarheid met mekaar.” — SAG. 8:16.

LIED: 56, 124

1, 2. Wat het die slegste uitwerking op die mensdom gehad, en wie was daarvoor verantwoordelik?

DIE telefoon, die elektriese gloeilamp, die motorkar en die yskas is maar net ’n paar van die uitvindings wat die lewe makliker gemaak het. Ander uitvindings het die lewe weer gevaarliker gemaak, soos vuurwapens, landmyne, sigarette en die atoombom, om maar net ’n paar te noem. Maar daar is iets wat ouer is as al hierdie dinge, en dit het die slegste uitwerking op die mensdom gehad. Wat is dit? Die leuen! ’n Leuen is wanneer ’n persoon iets sê wat nie waar is nie om iemand anders te bedrieg. En wie het die eerste leuen uitgedink? “Die Duiwel [is] die vader van die leuen”, het Jesus Christus gesê. (Lees Johannes 8:44.) Wanneer het hy die eerste leuen vertel?

2 Dit het duisende jare gelede in die tuin van Eden gebeur. Die eerste mense, Adam en Eva, het die lewe baie geniet. Hulle het in die Paradys gewoon wat hulle Skepper vir hulle gegee het. Toe het die Duiwel in die prentjie gekom. Hy het geweet dat God Adam en Eva beveel het om nie van “die boom van die kennis van goed en kwaad” te eet nie en dat hulle sou sterf as hulle ongehoorsaam was. Maar Satan het nogtans, deur middel van ’n slang, vir Eva gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie [die eerste leuen wat ooit vertel is]. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te KEN.” — Gen. 2:15-17; 3:1-5.

3. Hoekom kan ons sê dat Satan slegte bedoelings gehad het toe hy hierdie leuen vertel het, en wat was die gevolg daarvan?

3 Satan het slegte bedoelings gehad toe hy hierdie leuen vertel het, want hy het goed geweet dat Eva sou sterf as sy hom sou glo en die vrug eet. Eva en Adam was albei ongehoorsaam aan Jehovah en het uiteindelik gesterf (Gen. 3:6; 5:5). En nog erger, deur hulle sonde het “die dood . . . tot alle mense deurgedring”. Om die waarheid te sê, “die dood [het] as koning geheers”, selfs oor diegene wat nie soos Adam gesondig het nie (Rom. 5:12, 14). In plaas daarvan dat mense vandag volmaak is en vir ewig lewe soos God dit nog altyd wou gehad het, word mense maar omtrent 70 jaar oud, of 80 as hulle baie gesond is. En selfs dan is die lewe “vol moeite en skadelike dinge” (Ps. 90:10). Satan se leuen het beslis baie hartseer veroorsaak!

4. (a) Watter vrae moet ons kan beantwoord? (b) Slegs wie kan volgens Psalm 15:1, 2 Jehovah se vriend wees?

4 Toe Jesus verduidelik het wat die Duiwel gedoen het, het hy gesê: “Hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie.” Die waarheid is nog steeds nie in Satan nie, want hy hou aan om “die hele bewoonde aarde” met sy leuens te mislei (Op. 12:9). Ons wil nie hê dat die Duiwel ons moet mislei nie. Daarom gaan ons drie vrae bespreek: Hoe is Satan besig om mense vandag te mislei? Hoekom vertel mense gewoonlik leuens? En hoe kan ons wys dat ons altyd “die waarheid” praat sodat ons nooit ons vriendskap met Jehovah verloor, soos Adam en Eva, nie? — Lees Psalm 15:1, 2.

HOE SATAN BESIG IS OM MENSE TE MISLEI

5. Hoe is Satan besig om mense vandag te mislei?

5 Die apostel Paulus het geweet dat ons dit kan vermy om deur Satan mislei te word, “want ons is nie onkundig omtrent sy planne nie” (2 Kor. 2:11). Ons weet dat die hele wêreld — insluitende valse godsdiens, korrupte regerings en die gierige besigheidswêreld — deur die Duiwel beheer word (1 Joh. 5:19). Daarom is ons glad nie verbaas dat Satan en sy demone mense in magsposisies beïnvloed om “leuens” te vertel nie (1 Tim. 4:1, 2). Dit is beslis waar van persone in groot besighede wat valse advertensies gebruik om skadelike produkte te verkoop en bedrieglike geldmaakskemas te bevorder.

6, 7. (a) Hoekom is godsdiensleiers wat leuens vertel veral skuldig? (b) Watter leuens het jy godsdiensleiers al hoor vertel?

6 Godsdiensleiers wat leuens vertel, is veral skuldig omdat hulle diegene wat hulle glo se kans op ewige lewe in gevaar stel. As iemand ’n valse lering aanvaar en iets doen wat eintlik deur God veroordeel word, kan daardie persoon sy ewige lewe verloor (Hos. 4:9). Jesus het geweet dat die godsdiensleiers in sy dag sulke leuens vertel het. Hy het reguit vir hulle gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Want julle trek rond oor see en droë land om een proseliet te maak, en wanneer hy dit word, maak julle hom ’n voorwerp vir Gehenna [ewige vernietiging], twee keer erger as julleself” (Matt. 23:15). Jesus het daardie godsdiensleiers baie sterk veroordeel. Hulle was beslis ‘van hulle vader die Duiwel, ’n mensemoordenaar’. — Joh. 8:44.

7 Vandag is daar oral in die wêreld godsdiensleiers, maak nie saak of hulle nou pastoor, priester, rabbi, swami of iets anders genoem word nie. Net soos godsdiensleiers in die eerste eeu, is hulle ook besig om “die waarheid” in God se Woord te “onderdruk” en het hulle “die waarheid van God vir die leuen verruil” (Rom. 1:18, 25). Hulle leer mense valse leringe soos “een keer gered, altyd gered”, die onsterflikheid van die mensesiel, reïnkarnasie en die belaglike idee dat God ’n homoseksuele lewenstyl en huwelike tussen persone van dieselfde geslag goedkeur.

8. Watter leuen verwag ons sal politieke leiers binnekort vertel, maar hoe moet ons daarop reageer?

8 Politieke leiers het leuens gebruik om mense te mislei. Een van die grootste leuens wat hulle nog sal vertel, is dat hulle dit reggekry het om “vrede en veiligheid” op die aarde te bring! Maar “dan sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom”. Ons moenie toelaat dat hulle ons om die bos lei met hulle leuens en ons laat dink dat daar hoop vir hierdie stelsel van dinge is nie! Ons weet baie goed “dat Jehovah se dag net soos ’n dief in die nag kom”. — 1 Tess. 5:1-4.

HOEKOM MENSE GEWOONLIK LEUENS VERTEL

9, 10. (a) Hoekom vertel mense leuens, en wat is die gevolg daarvan? (b) Wat omtrent Jehovah moet ons nie vergeet nie?

9 Wanneer ’n nuwe uitvinding populêr raak, sal dit uiteindelik op groot skaal vervaardig word. Dit het ook met die leuen gebeur. Vandag het dit iets algemeens geword om leuens te vertel, en dit is nie net mense met baie invloed wat leuens vertel nie. Die artikel “Why We Lie” deur Y. Bhattacharjee sê byvoorbeeld dat om leuens te vertel algemeen aanvaar word as deel van die menslike natuur. Mense vertel gewoonlik leuens om hulleself te beskerm of hulleself in ’n goeie lig te stel. Hulle vertel leuens om ’n fout of iets wat hulle gedoen het, weg te steek of om hulleself finansieel of persoonlik te bevoordeel. Die artikel sê ook dat party mense “maklik vir vreemdelinge, medewerkers, vriende en geliefdes leuens, oor iets groots of kleins, sal vertel”.

10 Wat is die gevolg van al hierdie leuens? Mense vertrou mekaar nie meer nie, en verhoudings kan vernietig word. Dink net hoe hartseer dit is wanneer ’n vrou byvoorbeeld ontrou is aan haar man en dan leuens vertel om die onsedelike verhouding weg te steek. Of wanneer ’n man sy vrou en kinders by die huis mishandel, maar dan in die openbaar voorgee dat hy ’n liefdevolle man en pa is. Maar ons moet onthou dat sulke bedrieglike persone niks vir Jehovah kan wegsteek nie, want “alles lê naak en oop en bloot voor” sy oë. — Heb. 4:13.

11. Wat leer ons uit die slegte voorbeeld van Ananias en Saffira? (Sien prent aan begin van artikel.)

11 In die Bybel is daar ’n voorbeeld van ’n Christenegpaar in die eerste eeu wat hulle “deur Satan laat oorhaal” het om vir God ’n leuen te vertel. Ananias en Saffira het vooraf in hulle hart besluit om die apostels te bedrieg. Hulle het ’n eiendom verkoop, maar het net ’n gedeelte van die geld wat hulle gekry het vir die apostels gegee. Omdat hulle hulleself in ’n goeie lig wou stel, het hulle die gemeente laat dink dat hulle al die geld wat hulle gekry het as ’n bydrae gegee het. Maar Jehovah kon sien wat hulle gedoen het en het hulle daarvoor gestraf. — Hand. 5:1-10.

12. Wat gaan gebeur met onberouvolle mense wat met slegte bedoelings leuens vertel, en hoekom?

12 Hoe voel Jehovah daaroor as iemand ’n leuen vertel? Alle mense wat met slegte bedoelings leuens vertel en onberouvol is, sal net soos Satan in “die poel van vuur” gegooi word (Op. 20:10; 21:8; Ps. 5:6). Hoekom gaan dit met hulle gebeur? Omdat Jehovah dieselfde beskouing het van sulke leuenaars as wat hy het van persone wat soos “honde” optree, dit wil sê persone wie se gedrag walglik is in God se oë. — Op. 22:15.

13. Wat weet ons omtrent Jehovah, en wat motiveer dit ons om te doen?

13 Ons weet dat Jehovah “nie ’n mens [is] dat hy leuens sou vertel nie”. Eintlik is dit vir God “onmoontlik . . . om te lieg” (Num. 23:19; Heb. 6:18). “Jehovah haat . . . ’n valse tong” (Spr. 6:16, 17). As ons sy goedkeuring wil hê, moet ons volgens sy standaard van eerlikheid lewe. Daarom sal ons nie “vir mekaar lieg nie”. — Kol. 3:9.

ONS “PRAAT DIE WAARHEID”

14. (a) Hoe wys ons dat ons anders is as mense wat aan valse godsdiens behoort? (b) Verduidelik die beginsel in Lukas 6:45.

14 Wat is een manier hoe ware Christene wys dat hulle anders is as mense wat aan valse godsdiens behoort? Ons “praat die waarheid”. (Lees Sagaria 8:16, 17.) Paulus het verduidelik: ‘Ons beveel ons as God se bedienaars aan deur waaragtige woorde’ (2 Kor. 6:4, 7). Jesus het oor die mens gesê: “Uit die oorvloed van die hart praat sy mond” (Luk. 6:45). Daarom sal ’n persoon die waarheid praat as daar waarheid in sy hart is. Dit maak nie saak of dit iets groots of kleins is nie, hy sal die waarheid praat met vreemdelinge, medewerkers, vriende en geliefdes. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde hoe ons kan wys dat ons probeer om in alles eerlik te wees.

Sien jy ’n probleem in hierdie suster se lewe? (Sien paragraaf 15, 16)

15. (a) Hoekom is dit nooit verstandig om ’n dubbele lewe te probeer lei nie? (b) Wat kan jongmense help om groepsdruk te weerstaan? (Sien voetnoot.)

15 As jy ’n jongmens is, wil jy dalk graag hê dat persone van jou ouderdom jou moet aanvaar. Maar jy moet seker maak dat jy nooit ’n dubbele lewe lei, soos party gedoen het nie. Wanneer hulle saam met hulle gesin en die gemeente is, maak hulle asof hulle volgens Jehovah se standaarde lewe. Maar wanneer hulle saam met wêreldse jongmense is of sosiale media gebruik, is hulle ’n heel ander mens. Hulle gebruik dalk vuil taal, dra onbeskeie klere, luister na musiek wat ’n slegte invloed op hulle het, misbruik alkohol of dwelms, gaan in die geheim met iemand uit, of selfs erger. Hulle lewe is ’n leuen, en hulle probeer om hulle ouers, hulle mede-aanbidders en God te bedrieg (Ps. 26:4, 5). Jehovah weet wanneer ons hom net ‘met ons lippe eer, maar ons hart ver van hom verwyderd is’ (Mark. 7:6). Dit is baie beter om eerder te doen wat die Bybel sê: “Laat jou hart nie afgunstig wees op sondaars nie, maar wees die hele dag in die vrees van Jehovah.” — Spr. 23:17. *

16. Wat is belangrik wanneer jy aansoek doen vir ’n spesiale diensvoorreg?

16 Miskien wil jy graag as ’n gewone pionier dien of in die een of ander vorm van spesiale voltydse diens wees, soos om by Bethel te dien. Dit is belangrik dat jy heeltemal eerlik is wanneer jy die aansoekvorm vir voltydse diens invul. Jy moet die volle waarheid vertel wanneer jy al die vrae oor jou gesondheid, keuse van vermaak en sedelike standaarde beantwoord (Heb. 13:18). Sê nou jy was betrokke by die een of ander onrein of twyfelagtige gedrag waaroor jy nog nie met die ouer manne gepraat het nie? Vra hulle om jou te help sodat jy Jehovah met ’n skoon gewete kan dien. — Rom. 9:1; Gal. 6:1.

17. Wat moet ons doen wanneer diegene wat ons vervolg ons oor ons broers uitvra?

17 Sê nou die regering verbied die Koninkrykswerk in die land waarin jy bly. Wat moet jy doen as jy ingeroep word en hulle jou oor jou broers uitvra? Moet jy vir hulle alles vertel wat jy weet? Wat het Jesus gedoen toe hy deur die Romeinse goewerneur ondervra is? In ooreenstemming met die Bybelbeginsel dat daar ‘’n tyd is om stil te bly en ’n tyd is om te praat’, het Jesus partykeer niks gesê nie! (Pred. 3:1, 7; Matt. 27:11-14). Wanneer so iets gebeur, is dit beter om goeie oordeel te gebruik sodat ons nie ons broers in gevaar stel nie. — Spr. 10:19; 11:12.

Wat sal jou help om te besluit wanneer om stil te bly en wanneer om die volle waarheid te vertel? (Sien paragraaf 17, 18)

18. Watter verantwoordelikheid het ons wanneer die ouer manne ons oor ons broers uitvra?

18 Sê nou iemand in die gemeente het ernstig gesondig en jy weet iets oor wat gebeur het. Die ouer manne, wat die verantwoordelikheid het om die gemeente sedelik rein te hou, moet jou dalk vra wat jy oor die saak weet. Wat sal jy doen, veral as ’n goeie vriend of ’n familielid betrokke is? Die Bybel sê: “Hy wat getroue woorde spreek, sal vertel wat regverdig is” (Spr. 12:17; 21:28). Daarom is dit jou verantwoordelikheid om die ouer manne alles te vertel. Jy moet niks wegsteek nie en ook nie die feite verdraai nie. Hulle het die reg om te weet wat al die feite is. Dan sal hulle kan vasstel wat die beste manier is om die persoon wat gesondig het te help om sy of haar verhouding met Jehovah te herstel. — Jak. 5:14, 15.

19. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Die psalmskrywer Dawid het tot Jehovah gebid: “U het behae geskep in waaragtigheid in die binneste” (Ps. 51:6). Dawid het geweet dat waaragtigheid, of om eerlik te wees, uit ons hart kom. Ware Christene “praat die waarheid met mekaar” in alle aspekte van hulle lewe. Nog ’n manier waarop ons kan wys dat ons as God se knegte anders is, is deur sy waarhede aan ander in ons bediening te leer. In die volgende artikel gaan ons leer hoe om dit te doen.

^ par. 15 Sien hoofstuk 15 “Hoe kan ek portuurdruk weerstaan?” en hoofstuk 16 “’n Dubbele lewe — Hoef iemand te weet?” in die boek Vrae wat jongmense vra — Antwoorde wat werk, Deel 2.