Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer die waarheid aan ander

Leer die waarheid aan ander

“O Jehovah, . . . die hele inhoud van u woord is waarheid.” — PS. 119:159, 160.

LIED: 29, 53

1, 2. (a) Watter werk was vir Jesus die belangrikste toe hy op die aarde was, en hoekom? (b) Wat moet ons doen om as “God se medewerkers” suksesvol te wees?

JESUS CHRISTUS was ’n timmerman en ’n leermeester (Mark. 6:3; Joh. 13:13). Hy het geleer om albei volmaak te doen. As ’n houtwerker het hy geleer om houtwerkgereedskap goed te gebruik sodat hy bruikbare items uit hout kon maak. En as ’n leermeester wat die goeie nuus aan ander geleer het, het hy sy kennis van die Geskrifte goed gebruik om die gewone mense te help om die waarhede in God se Woord te verstaan (Matt. 7:28; Luk. 24:32, 45). Toe Jesus 30 jaar oud was, het hy opgehou om ’n timmerman te wees omdat hy geweet het dat dit belangriker is om mense te leer. Hy het gesê dat die werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig een van die redes was hoekom God hom aarde toe gestuur het (Matt. 20:28; Luk. 3:23; 4:43). Jesus het die bediening die belangrikste werk in sy lewe gemaak, en hy wou hê dat ander hierdie werk saam met hom moes doen. — Matt. 9:35-38.

2 Ons is dalk nie timmermanne nie, maar ons is beslis verkondigers van die goeie nuus. Hierdie werk is so belangrik dat God daarby betrokke is. Die Bybel sê dat ons “God se medewerkers” is (1 Kor. 3:9; 2 Kor. 6:4). Ons erken dat ‘die hele inhoud van Jehovah se woord waarheid is’ (Ps. 119:159, 160). Dit is hoekom ons wil seker maak dat ons die “woord van die waarheid reg hanteer” in ons bediening. (Lees 2 Timoteus 2:15.) Daarom hou ons aan om te leer hoe om die Bybel beter te gebruik. Dit is die belangrikste gereedskapstuk wat ons het om die waarheid oor Jehovah, Jesus en die Koninkryk aan ander te leer. Om ons te help om suksesvol te wees in ons bediening het Jehovah se organisasie vir ons nog gereedskap gegee wat ons moet leer om goed te gebruik. Hierdie gereedskap is in ons Gereedskapskissie vir Onderrigting.

3. Waarop moet ons fokus in die tyd wat ons nog oor het om vir mense te getuig, en hoe help Handelinge 13:48 ons om dit te doen?

3 Jy wonder dalk hoekom ons dit ’n Gereedskapskissie vir Onderrigting noem en nie ’n Gereedskapskissie vir die Predikingswerk nie. Om te “preek” beteken om ’n boodskap te verkondig, maar om te “onderrig” beteken dat ons ’n persoon help om die boodskap te verstaan sodat hy sal reageer op wat hy leer. In die tyd wat ons nog oor het om vir mense te getuig, moet ons daarop fokus om Bybelstudies te begin en mense die waarheid te leer. Dit beteken dat ons ywerig soek na almal “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het en hulle help om gelowiges te word. — Lees Handelinge 13:44-48.

4. Hoe kan ons weet wie “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, en hoe kan ons hulle vind?

4 Hoe kan ons weet wie “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het? Soos in die eerste eeu, kan ons net sulke mense vind deur die predikingswerk te doen. Daarom moet ons presies doen wat Jesus gesê het: “In watter stad of dorpie julle ook al ingaan, soek wie daarin verdienstelik is” (Matt. 10:11). Ons verwag nie dat mense wat hoogmoedig is, nie opreg is of glad nie in geestelike dinge belangstel na die goeie nuus sal luister nie. Ons soek na eerlike en nederige mense wat graag die waarheid wil leer. Ons kan dit vergelyk met hoe Jesus as ’n timmerman dalk na die regte stuk hout gesoek het om ’n meubelstuk, ’n deur, ’n juk of iets anders te maak. Wanneer hy dit gekry het, kon hy dan sy gereedskap neem, dit op ’n vaardige manier gebruik en die item maak. Dit is ook wat ons moet doen terwyl ons hard probeer om dissipels te maak van mense met die regte hartstoestand. — Matt. 28:19, 20.

5. Wat moet ons weet omtrent die gereedskap in ons Gereedskapskissie vir Onderrigting? Gee ’n voorbeeld. (Sien prente aan begin van artikel.)

5 Net soos in enige gereedskapskis het elke stuk gereedskap ’n spesifieke doel. Kyk byvoorbeeld na die houtwerkgereedskap wat Jesus sou gebruik het. * Hy het gereedskap nodig gehad waarmee hy die hout kon meet, merk, sny, boor en vorm. Hy het ook gereedskap nodig gehad om seker te maak dat die stukke hout waterpas is en om dit aan mekaar vas te maak. Net so het elke stuk gereedskap in ons Gereedskapskissie vir Onderrigting ’n spesifieke doel. Daarom gaan ons nou kyk hoe om hierdie belangrike gereedskap te gebruik.

GEREEDSKAP OM ONS VOOR TE STEL

6, 7. (a) Hoe het jy die kontakkaartjies al gebruik? (b) Hoekom gebruik ons die uitnodiging na die gemeentelike vergaderinge?

6 Kontakkaartjies. Hierdie gereedskapstuk is klein maar baie effektief. Ons kan dit gebruik om ons aan mense voor te stel en hulle van ons webwerf te vertel, waar hulle meer oor ons kan leer en selfs ’n Bybelstudie kan aanvra. Sover het meer as 400 000 mense al op jw.org vir ’n Bybelstudie gevra, en elke dag is daar nog honderde sulke versoeke! Dalk kan jy ’n paar kontakkaartjies by jou hou en dit gebruik om vir iemand te getuig wanneer jy deur die loop van die dag ’n geleentheid kry.

7 Uitnodigings. Die uitnodiging na die gemeentelike vergaderinge sê: “Jy word genooi om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer.” Dan gee dit jou die keuse om dit “by ons openbare vergaderinge” te doen “of saam met ’n persoonlike onderrigter”. Op hierdie manier sê hierdie gereedskapstuk vir mense wie ons is, en dit nooi ook persone wat “bewus is van hulle geestelike behoefte” om die Bybel saam met ons te studeer (Matt. 5:3). Mense is natuurlik welkom om ons vergaderinge by te woon of hulle nou ’n Bybelstudie aanvaar of nie. As hulle wel ’n vergadering bywoon, sal hulle self sien hoeveel hulle oor die Bybel kan leer.

8. Hoekom is dit belangrik dat mense ten minste een van ons vergaderinge bywoon? Gee ’n voorbeeld.

8 Dit is belangrik dat ons aanhou om mense te nooi om ten minste een keer ’n vergadering by te woon. Hoekom? Hulle sal die groot verskil sien tussen die geestelike oorvloed by ons vergaderinge en die geestelike hongersnood in Babilon die Grote (Jes. 65:13). Ray en Linda, ’n getroude paartjie in die Verenigde State, het ’n paar jaar gelede dit self ondervind. Hulle het besluit dat dit tyd was dat hulle kerk toe gaan. Hulle het in God geglo en wou hom beter leer ken. Daarom het hulle begin om al die kerke in hulle dorp een vir een by te woon. Van die begin af het hulle besluit dat hulle net by ’n kerk sou aansluit as dit aan twee vereistes voldoen. Eerstens, hulle moes iets leer tydens die kerkdiens. En tweedens, die lede van die kerk moes lyk soos mense wat beweer dat hulle God aanbid. Dit het hulle ’n paar jaar geneem om elke kerk in hulle dorp te besoek. Maar hulle was baie teleurgesteld, want hulle het niks geleer nie, en die kerkgangers het glad nie ordentlik aangetrek nie. Nadat hulle die laaste kerk op hulle lysie besoek het, het Linda werk toe gegaan en Ray huis toe. Op pad huis toe het hy verby ’n Koninkryksaal gery en gedink: ‘Hoekom gaan ek nie in om te kyk wat daar gebeur nie?’ Natuurlik was dit die beste ondervinding wat hy gehad het! Almal by die Koninkryksaal was baie vriendelik en was netjies aangetrek. Ray het heel voor gesit en het baie gehou van wat hy geleer het! Dit was net soos die apostel Paulus gesê het oor ’n persoon wat vir die eerste keer ’n Christelike vergadering bywoon en dan sê: “God is werklik onder julle” (1 Kor. 14:23-25). Daarna het Ray elke Sondag die vergadering bygewoon, en toe het hy ook die vergadering in die week begin bywoon. Linda het ook die vergaderinge begin bywoon, en alhoewel hulle in hulle 70’s was, het hulle die Bybel begin studeer en is hulle gedoop.

GEREEDSKAP OM GESPREKKE TE BEGIN

9, 10. (a) Hoekom is die pamflette maklik om te gebruik? (b) Verduidelik hoe om die pamflet Wat is die Koninkryk van God? te gebruik.

9 Pamflette. Ons het agt pamflette wat dit baie maklik maak om ’n gesprek met iemand te begin. Vandat ons begin het om hierdie pamflette in 2013 vry te stel, is daar omtrent vyf miljard van hulle gedruk! Dit is baie maklik om hierdie gereedskap te gebruik, want hulle almal volg dieselfde formaat. As jy geleer het hoe om een van hulle te gebruik, sal jy almal kan gebruik. Maar hoe kan jy ’n pamflet gebruik om ’n gesprek met ’n persoon te begin?

10 Sê nou jy gebruik die pamflet Wat is die Koninkryk van God? Wys vir die persoon die vraag op die voorkant van die pamflet terwyl jy vra: “Het jy al ooit gewonder wat die Koninkryk van God is? Sal jy sê dit is . . . ?” Vra dan watter een van die drie antwoorde hy sou kies, maar moenie vir hom sê of sy antwoord reg of verkeerd is nie. Maak die pamflet oop by die onderhofie “Wat die Bybel sê”, en wys vir hom die twee tekste Daniël 2:44 en Jesaja 9:6. Sit die gesprek voort, as dit moontlik is. Laastens, wys vir die persoon die vraag op die agterkant van die pamflet onder die onderhofie “Iets om oor te dink”: “Hoe sal die lewe onder die heerskappy van God se Koninkryk wees?” Dit sal die grondslag lê vir jou volgende gesprek met die persoon. Wanneer julle weer gesels, kan jy verwys na les 7 van die brosjure Goeie nuus wat van God kom! Dit is een van die gereedskapstukke waarmee ons ’n Bybelstudie begin.

GEREEDSKAP WAT BELANGSTELLING WEK

11. Waarvoor is ons tydskrifte ontwerp, maar wat moet ons oor hulle weet?

11 Tydskrifte. Die Wagtoring en Ontwaak! kom in meer lande en in meer tale voor as enige ander tydskrif in die wêreld! Omdat hierdie tydskrifte deur mense regoor die wêreld gelees word, word voorbladonderwerpe gekies wat die meeste mense interessant sal vind. Ons moet hierdie gereedskap gebruik om mense se belangstelling te wek in die dinge wat vandag regtig saak maak. Maar om hierdie tydskrifte in die regte mense se hande te kry, moet ons weet vir wie hulle geskryf is.

12. (a) Vir wie is die Ontwaak! ontwerp, en wat is die doel daarvan? (b) Watter sukses het jy onlangs met hierdie gereedskapstuk gehad?

12 Die Ontwaak! is ontwerp vir mense wat min of geen kennis van die Bybel het nie. Hulle weet dalk niks van Christelike leringe nie, het dalk nie baie vertroue in godsdiens nie of weet dalk nie dat die Bybel hulle op praktiese maniere kan help nie. Een van die hoofdoelwitte van die Ontwaak! is om die leser te oortuig dat God bestaan (Rom. 1:20; Heb. 11:6). Nog ’n doelwit van hierdie tydskrif is om geloof in die Bybel op te bou en die leser te help besef dat dit “waarlik . . . die woord van God” is (1 Tess. 2:13). Die drie voorbladonderwerpe vir 2018 is: “Die pad van geluk”, “12 Geheime vir ’n suksesvolle gesin” en “Hulp vir dié wat treur”.

13. (a) Vir wie is die publieke uitgawe van Die Wagtoring ontwerp? (b) Watter sukses het jy onlangs met hierdie gereedskapstuk gehad?

13 Die publieke uitgawe van Die Wagtoring fokus op geestelike dinge en is bedoel vir mense wat ’n mate van respek vir God en sy Woord het. Hoewel hulle dalk kennis van die Bybel het, is hulle begrip van die leringe daarin nie akkuraat nie (Rom. 10:2; 1 Tim. 2:3, 4). Die drie voorbladonderwerpe vir 2018 beantwoord die volgende vrae: “Is die Bybel vandag nog prakties?”, “Wat hou die toekoms in?” en “Gee God vir jou om?

GEREEDSKAP WAT MOTIVEER

14. (a) Wat is die doel van die vier video’s in ons Gereedskapskissie vir Onderrigting? (b) Watter sukses het jy al met hierdie video’s gehad?

14 Video’s. In Jesus se dag het ’n timmerman net handgereedskap gebruik. Maar vandag het houtwerkers ook kraggereedskap, soos ’n saag, ’n boor, ’n skuurmasjien, ’n spykermasjien en nog meer. Behalwe vir ons gedrukte publikasies het ons nou ook pragtige video’s om vir mense te wys. Vier van hulle is in ons gereedskapskissie: Waarom moet jy die Bybel studeer?, Wat gebeur tydens ’n Bybelstudie?, Wat gebeur by ’n Koninkryksaal? en Jehovah se Getuies — Wie is ons? Die video’s wat minder as twee minute lank is, kan met die eerste besoek gebruik word. Die langer video’s kan gebruik word wanneer jy ’n herbesoek doen of wanneer iemand genoeg tyd het om daarna te kyk. Hierdie wonderlike gereedskap kan mense motiveer om die Bybel te studeer en ons vergaderinge by te woon.

15. Gee ’n voorbeeld om te wys watter uitwerking dit op mense kan hê as hulle na een van ons video’s in hulle eie taal kyk.

15 Byvoorbeeld, toe ’n suster ’n vrou van Mikronesië ontmoet het wie se moedertaal Japees is, het sy vir haar die video Waarom moet jy die Bybel studeer? in haar taal gewys. Toe die video begin speel, het die vrou gesê: “Dit is my taal. Ek kan dit nie glo nie! Ek kan aan sy aksent hoor dat hy van my eiland af kom. Hy praat my taal!” Daarna het sy gesê dat sy na alles sal gaan kyk wat op jw.org in haar taal beskikbaar is. (Vergelyk Handelinge 2:8, 11.) Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. ’n Suster in die Verenigde State het ’n skakel vir haar broer se seun gestuur van dieselfde video in sy taal. Hy het daarna gekyk en in ’n e-pos vir haar gesê: “Die deel oor ’n bose mag wat ’n invloed op die wêreld uitoefen, het veral my aandag getrek. Ek het vir ’n Bybelstudie gevra.” Hy bly in ’n land waar ons werk verbied is!

GEREEDSKAP OM ANDER DIE WAARHEID TE LEER

16. Verduidelik waarvoor die volgende brosjures gebruik word: (a) Luister na God en lewe vir ewig. (b) Goeie nuus wat van God kom! (c) Wie doen vandag Jehovah se wil?

16 Brosjures. Hoe kan jy die waarheid vir iemand leer as daar nie Bybellektuur in sy taal beskikbaar is of as hy nie goed kan lees nie? Ons het net die regte gereedskapstuk daarvoor — die brosjure Luister na God en lewe vir ewig. * ’n Uitstekende gereedskapstuk wat gebruik kan word om studies te begin is die brosjure Goeie nuus wat van God kom! Jy kan vir ’n persoon die 14 onderwerpe op die agterblad wys en hom dan die een laat kies waarin hy die meeste belangstel. Begin dan die studie met daardie les. Het jy al hierdie metode gebruik wanneer jy herbesoeke doen? Die derde brosjure in ons gereedskapskissie is Wie doen vandag Jehovah se wil? Dit is ontwerp om studente na die organisasie te rig. Sien Ons Christelike Lewe en Bediening — Vergaderingwerkboek van Maart 2017 om te leer hoe om hierdie brosjure by elke Bybelstudie te gebruik.

17. (a) Wat is die doel van die twee boeke wat ons met mense studeer? (b) Wat word verwag van almal wat tot doop vorder, en hoekom?

17 Boeke. Nadat jy ’n studie in ’n brosjure begin het, kan jy enige tyd oorskakel na die boek Wat leer die Bybel werklik? Hierdie gereedskapstuk sal ’n persoon help om basiese Bybelleringe beter te verstaan. Nadat die student die boek voltooi het en as hy geestelike vordering maak, moet jy die boek ‘Hou julle in God se liefde’ met hom studeer. * Hierdie gereedskapstuk sal die student leer hoe om Bybelbeginsels elke dag toe te pas. Hou in gedagte dat nuwelinge, selfs nadat hulle gedoop is, moet aanhou met hulle studie totdat hulle albei hierdie boeke klaar studeer het. Dit sal hulle help om ’n vaste grondslag in die waarheid te hê. — Lees Kolossense 2:6, 7.

18. (a) As onderrigters van die waarheid, wat word ons in 1 Timoteus 4:16 aangemoedig om te doen, en wat sal die gevolg wees? (b) Wat moet ons doel wees terwyl ons ons Gereedskapskissie vir Onderrigting gebruik?

18 As Jehovah se Getuies is ons die verantwoordelikheid gegee om die boodskap van “die waarheid van dié goeie nuus” te verkondig wat mense na die ewige lewe kan lei. (Kol. 1:5; lees 1 Timoteus 4:16.) Daarom het ons die Gereedskapskissie vir Onderrigting gekry. Dit bevat presies wat ons nodig het om hierdie werk te doen. (Sien “ Gereedskapskissie vir Onderrigting”.) Ons moet hierdie gereedskap op ’n vaardige manier en na die beste van ons vermoë gebruik. Wanneer ’n verkondiger met ’n persoon praat wat belangstel, kan hy self besluit watter lektuur in ons gereedskapskissie hy gaan gebruik. Maar ons wil nie net lektuur plaas nie. En ons moet ook nie lektuur los by mense wat nie in ons boodskap belangstel nie. Ons doel is om dissipels te maak van mense wat eerlik en nederig is en wat graag die waarheid wil leer — mense wat die “regte gesindheid vir die ewige lewe” het. — Hand. 13:48; Matt. 28:19, 20.

^ par. 5 Sien die artikel “Die timmerman” en die venster “Die timmerman se gereedskapskis” in Die Wagtoring van 1 Augustus 2010.

^ par. 16 As die persoon nie kan lees nie, kan jy die brosjure Luister na God gebruik, wat meestal net prente bevat.

^ par. 17 Wanneer die boeke Wat kan die Bybel ons leer? en Hoe om in God se liefde te bly in Afrikaans beskikbaar word, moet jy hulle gebruik.