Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Jehovah het my besluit ryklik geseën

Jehovah het my besluit ryklik geseën

Die son was besig om op te kom terwyl ons pamflette onder die deure van die laaste paar huise in ons velddiensgebied gesit het. Dit was 1939, en ons het in die middel van die nag opgestaan om meer as ’n uur lank te ry na die dorpie Joplin in die suidweste van Missouri, VSA. Nadat ons ons werk stilletjies gedoen het, het ons almal in die kar geklim en na die plek gegaan waar ons afgespreek het om die ander kargroepe te ontmoet. Maar jy wonder dalk hoekom ons voor sonop in velddiens uitgegaan het en toe die gebied so gou verlaat het. Ek sal julle later daaroor vertel.

TOE ek in 1934 gebore is, was my ouers, Fred en Edna Molohan, alreeds 20 jaar lank aktiewe Bybelstudente (Jehovah se Getuies). Ek is baie dankbaar dat hulle my geleer het om God lief te hê. Ons gesin het in Parsons, ’n klein dorpie in die suidooste van Kansas, gebly. Ons was deel van ’n gemeente waarvan amper almal gesalfde Christene was. Ons het gereeld vergaderinge bygewoon en die waarheid in God se Woord aan ander verkondig. Saterdagmiddag was gewoonlik tyd vir openbare getuieniswerk, wat ons destyds straatwerk genoem het. Partykeer het ons ’n bietjie moeg geword, maar my pa het altyd vir ons ná die tyd roomys gekoop.

Al was ons gemeente klein, was die gebied waarin ons velddiens gedoen het baie groot. Dit het ’n hele paar dorpies en baie plase in omliggende distrikte ingesluit. Wanneer ons plase besoek het, het ons dikwels ons lektuur vir vars groente en eiers verruil, en partykeer selfs vir lewendige hoenders. Aangesien my pa reeds ’n bydrae vir die lektuur gemaak het, kon ons hierdie kos vir ons gesin gebruik.

PREDIKINGSKAMPANJES

My ouers het ’n grammofoon gekry om in die predikingswerk te gebruik. Ek was te klein om daarmee te werk, maar ek het dit geniet om my pa en ma te help wanneer hulle opnames van broer Rutherford se toesprake vir hulle herbesoeke en Bybelstudies gespeel het.

Saam met my pa en ma by ons klankmotor

My pa het ’n groot luidspreker op ons 1936-Ford se dak vasgemaak sodat dit as ’n klankmotor gebruik kon word. Dit was ’n baie goeie manier om die Koninkryksboodskap te versprei. Gewoonlik sou ons eers ’n musiekopname speel om mense se aandag te kry, en daarna sou ons ’n Bybeltoespraak speel. Ná die toespraak sou ons vir belangstellendes lektuur aanbied.

In die dorpie Cherryvale, Kansas, het baie mense op ’n Sondag by die dorp se park ontspan. Die polisie het vir my pa gesê dat hy nie die klankmotor in die park kan inbring nie, maar hy kon dit buite die park gebruik. Sonder om teë te praat, het my pa die kar in die straat langs die park parkeer. Die mense in die park kon die boodskap nog steeds maklik hoor, en daarom het hy verder gegaan met die program. Dit was altyd vir my opwindend om op sulke tye saam met my pa en my ouer broer, Jerry, te wees.

In die laat 1930’s het ons aan spesiale “blitskampanjes” deelgeneem om vinnig deur gebiede te werk waar daar baie teenstand was. Ons sou opstaan terwyl dit nog donker was (soos ons in Joplin, Missouri, gedoen het) en stilletjies pamflette of boekies onder mense se deure sit. Ná die tyd sou ons mekaar buite die dorp ontmoet om seker te maak dat niemand deur die polisie gearresteer is nie.

Inligtingsoptogte was nog ’n opwindende manier waarop ons gedurende daardie jare velddiens gedoen het. Om die Koninkryk te verkondig het ons plakkate gedra en in ’n ry deur ’n dorp geloop. Ek onthou een van hierdie optogte in ons dorp toe ons vriende plakkate gedra het waarop die woorde “Godsdiens is ’n strik en ’n bedrogspul” geskryf was. Hulle het by ons huis begin, omtrent een en ’n half kilometer deur die dorp geloop en weer by ons huis bymekaargekom. Gelukkig het niemand hulle teëgestaan nie, en baie mense wat hulle gesien het, het belanggestel.

VROEË STREEKBYEENKOMSTE

Ons gesin het baie keer van Kansas na Texas gereis om streekbyeenkomste by te woon. My pa het vir die Missouri-Kansas-Texas-spoorweg gewerk. Daarom kon ons verniet met die trein ry, wat dit vir ons moontlik gemaak het om by ons familie te gaan kuier en streekbyeenkomste saam by te woon. My ma se ouer broer, Fred Wismar, en sy vrou, Eulalie, het in die dorp Temple in Texas gebly. Oom Fred het die waarheid in die vroeë 1900’s geleer toe hy nog jonk was. Hy is gedoop en het vir sy susters, insluitende my ma, vertel wat hy geleer het. Oom Fred het ’n tyd lank in Sentraal-Texas as ’n sonekneg (nou bekend as ’n kringopsiener) gedien, en daarom het baie broers in hierdie gebied hom goed geken. Hy was liefdevol, altyd gelukkig en dit was lekker om saam met hom te wees. Hy het ’n groot ywer vir die waarheid gehad en was definitief ’n goeie voorbeeld vir my.

In 1941 het ons gesin met die trein na St. Louis, Missouri, gegaan om ’n groot streekbyeenkoms by te woon. Al die jongmense is genooi om in ’n spesifieke gedeelte te sit en na broer Rutherford se toespraak “Kinders van die Koning” te luister. Aan die einde van sy toespraak was almal in ons groep baie verras toe broer Rutherford en sy assistente die nuwe boek Kinders aan ons begin uitdeel. Elkeen van die meer as 15 000 jongmense wat daar was, het hierdie geestelike geskenk baie waardeer.

In April 1943 het ons die klein maar betekenisvolle “Oproep tot aksie”-byeenkoms in Coffeyville, Kansas, geniet. Die nuwe Teokratiese Bedieningskool, wat in alle gemeentes gehou sou word, is ingestel, en ’n boekie met 52 lesse wat in die skool gebruik sou word, is vrygestel. Ek het later daardie jaar my eerste studente toespraak gehou. Daardie byeenkoms is ook vir my baie spesiaal omdat ek, en ’n paar ander, in ’n koue plaasdammetjie daar naby gedoop is.

MY DROOMLOOPBAAN — BETHELDIENS

Ek het in 1951 skool klaargemaak en moes toe besluit wat ek met my lewe gaan doen. My broer Jerry het voorheen by Bethel gedien, en ek wou ook baie graag Bethel toe gaan. Daarom het ek my aansoekvorm na die kantoor in Brooklyn gestuur. Hierdie besluit was op die ou end baie goed vir my geestelikheid. My aansoek is sommer gou goedgekeur, en ek is genooi om op 10 Maart 1952 met my Betheldiens te begin.

Ek wou graag in die drukkery werk sodat ek kon help met die produksie van tydskrifte en lektuur. Maar ek was eers gevra om ’n kelner te wees en toe later om in die kombuis te werk. Ek het dit geniet en baie geleer. Ek het toe nooit die voorreg gehad om in die drukkery te werk nie. Maar omdat die kombuispersoneel se werksure anders was, het ek in die dag tyd gehad om in stilte my persoonlike studie in die groot Bethelbiblioteek te doen. Dit het my gehelp om geestelik te groei en my geloof te versterk. Dit het my ook meer vasbeslote gemaak om Jehovah so lank as wat ek kon by Bethel te dien. Jerry het Bethel in 1949 verlaat en met Patricia getrou. Maar hulle het naby Brooklyn gebly en my altyd gehelp en baie aangemoedig gedurende my eerste paar jaar in Betheldiens.

Kort nadat ek by Bethel aangekom het, het hulle oudisies gereël sodat hulle meer broers op die lys van Bethelsprekers kon hê. Broers op hierdie lys is gedurende die jaar toegewys om gemeentes binne ’n radius van 322 kilometer om Brooklyn te besoek. Hulle sou dan ’n openbare toespraak hou en saam met die gemeente velddiens doen. Dit was vir my ’n groot voorreg om op hierdie lys te wees. Ek was maar baie senuweeagtig toe ek my eerste openbare toespraak, wat toe ’n uur lank was, gehou het. Ek het gewoonlik met die trein na die gemeentes toe gery. Ek onthou nog goed hoe ek in 1954 op ’n koue Sondagmiddag op ’n trein na New York geklim het. Ek was veronderstel om teen vroegaand terug te wees by Bethel. Maar daar het ’n storm opgekom met ysige winde en sneeu. Die trein se elektriese enjins het uitgesny en krag verloor. Die trein het uiteindelik teen vyfuur Maandagoggend by die stasie in die stad New York aangekom. Van daar af het ek met ’n ondergrondse trein Brooklyn toe gery en dadelik in die kombuis gaan werk. Ek was ’n bietjie laat en baie moeg nadat ek die hele nag regop gesit het in die trein. Maar sulke dinge het nie eintlik saak gemaak nie, want ek het dit baie geniet om die broers te dien en om soveel nuwe vriende te maak op hierdie spesiale naweke.

Ons maak reg vir ’n uitsending by die WBBR-studio

Gedurende my eerste paar jaar by Bethel is ek genooi om deel te neem aan die uitsendings van die WBBR-radiostasie. Die studio’s was toe op die tweede verdieping van Columbia Heights 124. Ek was een van die karakters van ’n Bybelstudieprogram wat elke week uitgesaai is. Broer A.H. Macmillan, wat jare lank ’n lid van die Bethelgesin was, het gereeld aan hierdie radioprogramme deelgeneem. Almal was baie lief vir hom en het hom broer Mac genoem. Hy was vir die jonger lede van die Bethelgesin ’n uitstekende voorbeeld van volharding in Jehovah se diens.

’n Strooibiljet om WBBR te adverteer

In 1958 het ek ’n nuwe toewysing gekry. Ek moes studente wat Gileadskool voltooi het, help om visums te kry, en ek moes vervoer reël vir hierdie ywerige manne en vroue. In daardie jare was dit baie duur om te vlieg, en daarom het die meeste sendelinge wat na Afrika en die Verre Ooste gegaan het as passasiers op vragskepe gereis. Later toe dit goedkoper geword het om te vlieg, het die meeste sendelinge per vliegtuig na hulle toewysings gereis.

Ek kry Gilead-diplomas reg vir die gradueringsprogram

VERVOER NA STREEKBYEENKOMSTE

In 1960 het ek ook begin om vlugte van die Verenigde State na Europa te reël vir diegene wat die internasionale streekbyeenkomste in 1961 sou bywoon. Ek was deel van die groep wat van New York na Hamburg gevlieg het om die streekbyeenkoms in Duitsland by te woon. Ná die streekbyeenkoms het ek en drie ander broers van Bethel ’n kar gehuur, deur Duitsland na Italië gery en die takkantoor in Rome besoek. Van daar af het ons Frankryk toe gegaan. Toe het ons oor die Pireneë gery na Spanje, waar die predikingswerk verbied was. Ons kon ’n bietjie lektuur, wat toegedraai was om soos geskenke te lyk, vir ons broers in Barcelona neem. Dit was baie opwindend om hulle te ontmoet! Ons het verder gery na Amsterdam en toe van daar af teruggevlieg New York toe.

Omtrent ’n jaar later het dit deel van my Betheltoewysing geword om vir afgevaardigdes vervoer te reël na ’n spesiale reeks internasionale streekbyeenkomste wat regoor die wêreld gehou sou word. Dit was die “Ewige goeie nuus”-byeenkoms van 1963. Reëlings is getref vir 583 afgevaardigdes om regoor die wêreld te reis en streekbyeenkomste in Europa, Asië en die Stille Suidsee by te woon. Hulle sou hulle toer afsluit in Honolulu, Hawaii, en Pasadena, Kalifornië. Daar is ook gereël dat broers Libanon en Jordanië besoek waar hulle op spesiale toere kon gaan om meer omtrent die lande van die Bybel te leer. Ons Bethel-afdeling het nie net vlugte gereël en hotelbesprekings gemaak nie, ons het ook gesorg dat die broers al die nodige visums het.

’N NUWE MAAT OM SAAM MET MY TE REIS

Maar daar is nog ’n rede waarom 1963 vir my ’n baie belangrike jaar is. Op 29 Junie het ek met Lila Rogers van Missouri getrou. Sy het toe al drie jaar by Bethel gedien. ’n Week ná ons troue het ek en Lila by die rondom-die-wêreldtoergroep aangesluit en Griekeland, Egipte en Libanon besoek. Ons het van Beiroet na ’n klein lughawe in Jordanië gevlieg. Ons het gewonder wat sou gebeur wanneer ons daar aankom, aangesien daar beperkings op ons werk was en ons gehoor het dat Jehovah se Getuies nie visums kon kry om daarheen te gaan nie. Ons was so verras toe ons ’n groep mense by die lughawe sien met ’n plakkaat wat sê: “Welkom Jehovah se Getuies”! Dit was wonderlik om die lande van die Bybel met ons eie oë te sien! Ons het die plekke besoek waar Abraham, Isak en Jakob gebly het, waar Jesus en die apostels gepreek het en waar die Christelike godsdiens begin en tot aan die eindes van die aarde versprei het. — Hand. 13:47.

Die afgelope 55 jaar het Lila my in al ons toewysings getrou ondersteun. Ons kon Spanje en Portugal ’n paar keer besoek terwyl die werk daar verbied was. Ons kon die broers en susters aanmoedig en vir hulle lektuur en ander noodsaaklike dinge neem. Dit was selfs vir ons moontlik om ’n paar van ons broers te besoek wat in ’n ou militêre fort in Cádiz, Spanje, opgesluit was. Dit het my baie bly gemaak dat ek hulle met ’n Bybeltoespraak kon aanmoedig.

Saam met Patricia en Jerry Molohan op pad na die 1969 “Vrede op aarde”-byeenkoms

Sedert 1963 was dit my voorreg om te help met die reëlings vir toere na internasionale streekbyeenkomste in Afrika, Australië, Europa, Hawaii, Nieu-Seeland, Puerto Rico, Sentraal- en Suid-Amerika en die Verre Ooste. Ek en Lila was al by ’n hele paar onvergeetlike streekbyeenkomste, insluitende een in 1989 in Warskou, Pole. Baie broers van Rusland kon daardie groot streekbyeenkoms bywoon — hulle eerste een ooit! ’n Hele paar van die broers en susters wat ons daar ontmoet het, was jare lank in Sowjet-tronke opgesluit as gevolg van hulle geloof.

Nog ’n voorreg wat ek regtig geniet het, was om takkantore regoor die wêreld te besoek en Bethelgesinne en sendelinge aan te moedig. Die laaste keer toe ons by die takkantoor in Suid-Korea was, kon ons 50 van ons broers by ’n tronk in Soewon besoek. Daardie broers was almal baie positief en het daarna uitgesien om weer aan die bediening deel te neem. Dit was vir ons baie aanmoedigend om met hulle te praat! — Rom. 1:11, 12.

MEER VERKONDIGERS — MEER VREUGDE

Oor die jare het ek gesien hoe Jehovah sy volk seën. Toe ek in 1943 gedoop is, was daar omtrent 100 000 verkondigers, en nou is daar meer as 8 000 000 verkondigers wat Jehovah in 240 lande dien. Hierdie vermeerdering is hoofsaaklik as gevolg van die harde werk wat deur Gileadgegradueerdes gedoen is. Dit was vir my ’n groot vreugde om oor die jare saam met baie van hierdie sendelinge te werk en hulle te help om by hulle sendingtoewysings uit te kom!

Ek is baie bly dat ek as ’n jongmens besluit het om my lewe in Jehovah se diens te gebruik en dat ek aansoek gedoen het om by Bethel te dien. Jehovah het my ryklik geseën in alles wat ek gedoen het. Ek en Lila geniet ons Betheldiens en het dekades lank die voorreg gehad om saam met die gemeentes in Brooklyn velddiens te doen. Ons het dit baie geniet en het goeie vriende daar gemaak.

Ek dien nog steeds by Bethel, en Lila ondersteun my elke dag. Al is ek nou meer as 84 jaar oud, kan ek nog steeds betekenisvolle werk doen. Ek help met die hantering van die takkantoor se korrespondensie.

Ek en Lila vandag

Dit maak my baie bly om deel te wees van Jehovah se wonderlike organisasie en om die groot verskil te sien tussen diegene wat Jehovah dien en diegene wat hom nie dien nie. Ons kan die woorde in Maleagi 3:18 nou beter verstaan. Dit sê: “Julle sal beslis weer die onderskeid sien tussen ’n regverdige en ’n goddelose, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie.” Elke dag kan ons sien dat Satan se stelsel van dinge al hoe meer agteruitgaan. Dit is ook duidelik dat mense geen hoop het nie en baie min vreugde in die lewe het. Maar diegene wat vir Jehovah lief is en hom dien, het ’n gelukkige lewe, selfs in hierdie kritieke tye. Hulle het ook ’n vaste hoop vir die toekoms. Dit is beslis ’n baie groot voorreg om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig! (Matt. 24:14). Ons sien uit na die dag, wat binnekort hier gaan wees, wanneer God se Koninkryk hierdie ou wêreld met die nuwe wêreld sal vervang. Dan sal al sy beloftes waar word, en ons sal met goeie gesondheid en ewige lewe geseën word. Getroue knegte van Jehovah sal dan vir ewig hier op die aarde lewe.