Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vertrou op ons Leier — Die Christus

Vertrou op ons Leier — Die Christus

“Een is julle Leier, die Christus.” — MATT. 23:10.

LIED: 16, 14

1, 2. Watter uitdagings het Josua gehad nadat Moses gesterf het?

DIT was asof Josua nog steeds Jehovah se woorde kon hoor: “My kneg Moses is dood; en staan nou op, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat ek aan hulle . . . gee” (Jos. 1:1, 2). Wat ’n skielike verandering vir Josua, wat amper 40 jaar lank Moses se dienaar was!

2 Omdat Moses jare lank Israel se leier was, het Josua dalk gewonder hoe God se volk op sy leierskap sou reageer (Deut. 34:8, 10-12). ’n Bybelnaslaanwerk sê oor Josua 1:1, 2: “’n Verandering in leierskap was nog altyd een van die gevaarlikste tye vir ’n land, in eertydse en in moderne tye.”

3, 4. Hoe weet ons dat dit nie onverstandig van Josua was om op God te vertrou nie, en watter vraag kan ons ons afvra?

3 Josua het dalk goeie rede gehad om bekommerd te wees. Maar hy het op Jehovah vertrou en was gou om Sy instruksies te volg (Jos. 1:9-11). Dit was nie onverstandig van hom om op God te vertrou nie. Volgens die verslag in die Bybel het Jehovah Josua en die Israeliete deur middel van ’n engel gelei, wat as Sy verteenwoordiger opgetree het. Hierdie engel was heel waarskynlik die Woord, God se eersgebore Seun. — Eks. 23:20-23; Joh. 1:1.

4 Jehovah het die Israeliete gehelp om die verandering in leierskap van Moses na Josua goed te hanteer. Ons lewe ook in ’n tyd van geskiedkundige verandering, en ons wonder dalk: ‘Het ons goeie rede om Jesus as ons aangestelde Leier te vertrou terwyl God se organisasie vinnig vooruitbeweeg?’ (Lees Matteus 23:10.) Wel, kom ons kyk hoe Jehovah in die verlede gedurende tye van verandering betroubare leierskap aan sy volk gegee het.

GOD SE VOLK WORD IN KANAÄN INGELEI

5. Watter onverwagte ontmoeting het Josua gehad toe hy naby Jerigo gekom het? (Sien prent aan begin van artikel.)

5 Kort nadat die Israeliete die Jordaan oorgesteek het, het Josua ’n onverwagte ontmoeting gehad. Toe hy naby Jerigo gekom het, het hy ’n man met ’n swaard in sy hand gesien. Josua het nie geweet wie hierdie vreemde man is nie, en daarom het hy gevra: “Is jy vir ons of vir ons teenstanders?” Josua was verbaas toe hierdie man vir hom sê wie hy is. Hy was die “vors van die leër van Jehovah”, en hy was gereed om God se volk te beskerm. (Lees Josua 5:13-15.) Al sê die verslag op ander plekke dat Jehovah direk met Josua gepraat het, het God waarskynlik ’n engel gebruik om as sy verteenwoordiger op te tree, soos God dikwels in die verlede gedoen het. — Eks. 3:2-4; Jos. 4:1, 15; 5:2, 9; Hand. 7:38; Gal. 3:19.

6-8. (a) Hoekom het party van Jehovah se instruksies miskien vanuit ’n menslike oogpunt vreemd gelyk? (b) Hoe het dit duidelik geword dat dit wyse instruksies was en dat dit op die regte tyd gegee is? (Sien ook voetnoot.)

6 Josua het duidelike instruksies van die engel ontvang oor hoe hy die stad Jerigo moes verower. Aan die begin het party van die instruksies dalk nie gelyk asof dit ’n goeie plan is nie. Jehovah het byvoorbeeld beveel dat al die mans besny moes word. Dit sou beteken dat hulle ’n hele paar dae lank nie sou kon veg nie. Was dit die regte tyd om daardie sterk manne te besny? — Gen. 34:24, 25; Jos. 5:2, 8.

7 Daardie Israelitiese soldate het heel moontlik gewonder hoe hulle hulle gesinne sou beskerm as die vyand hulle kamp sou aanval. Maar toe het iets onverwags gebeur! Hulle het gehoor dat Jerigo “dig toegesluit [was] weens die kinders van Israel” (Jos. 6:1). Hierdie nuus moes sekerlik hulle vertroue in God se leiding versterk het.

8 Die Israeliete is nie beveel om Jerigo aan te val nie, maar eerder om ses dae lank een keer elke dag rondom die stad te trek, en sewe keer op die sewende dag. Party soldate het miskien gedink: ‘Dit is nou ’n mors van tyd en energie!’ Maar Israel se onsigbare Leier het presies geweet wat hy doen. Die Israeliete se geloof is versterk omdat hulle die instruksies gevolg het, en dit was ook nie vir hulle nodig om teen Jerigo se sterk manne te veg nie. — Jos. 6:2-5; Heb. 11:30. *

9. Hoekom moet ons die instruksies volg wat ons van God se organisasie kry? Gee ’n voorbeeld.

9 Wat kan ons uit hierdie verslag leer? Partykeer verstaan ons dalk nie heeltemal hoekom die organisasie dinge op ’n nuwe manier wil doen nie. Byvoorbeeld, ons het aan die begin dalk gewonder of dit ’n goeie idee is om elektroniese toestelle vir persoonlike studie, in die bediening en by die vergaderinge te gebruik. Maar nou sien ons dalk die voordele daarvan om dit te gebruik as dit moontlik is. Wanneer ons die positiewe resultate van sulke veranderinge sien, al het ons nie aan die begin gedink dat dit kan werk nie, versterk dit ons geloof en eenheid.

CHRISTUS SE LEIERSKAP IN DIE EERSTE EEU

10. Wie was eintlik verantwoordelik vir die belangrike vergadering wat die bestuursliggaam in Jerusalem gehou het?

10 Omtrent 13 jaar nadat Kornelius ’n Christen geword het, het party Joodse gelowiges nog steeds gesê dat Joodse mans besny moes word (Hand. 15:1, 2). Toe die broers in Antiogië nie oor hierdie kwessie kon saamstem nie, is daar gereël dat Paulus hierdie saak na die bestuursliggaam in Jerusalem neem. Maar onder wie se leiding het hy dit eintlik gedoen? Paulus het gesê: “Ek het as gevolg van ’n openbaring opgegaan.” Dit is duidelik dat dit Christus was wat sake so gereël het dat die bestuursliggaam hierdie kwessie hanteer. — Gal. 2:1-3.

In die eerste eeu kon Christus se leierskap duidelik gesien word (Sien paragraaf 10, 11)

11. (a) Watter probleem in verband met die besnydenis was daar nog steeds onder Joodse gelowiges? (b) Hoe is Paulus se bereidwilligheid om die ouer manne in Jerusalem te ondersteun, getoets? (Sien ook voetnoot.)

11 Onder Christus se leiding het die bestuursliggaam dit duidelik gemaak dat dit nie nodig was vir nie-Joodse Christene om besny te word nie (Hand. 15:19, 20). Maar jare nadat hierdie besluit geneem is, het baie Joodse gelowiges nog steeds hulle kinders laat besny. Toe die ouer manne in Jerusalem hoor dat daar gesê word dat Paulus nie die Wet van Moses gehoorsaam nie, het hulle hom gevra om iets te doen wat hy nie verwag het nie (Hand. 21:20-26). * Hulle het vir hom gesê om vier manne na die tempel te neem sodat mense kon sien dat Paulus “die Wet onderhou”. Paulus kon die wysheid van hulle opdrag bevraagteken het. Hy kon gesê het dat die probleem eintlik by Joodse Christene lê omdat hulle nie die kwessie in verband met die besnydenis goed verstaan het nie. Maar Paulus het geweet dat die ouer manne wou hê dat daar eenheid onder die gelowiges moet wees, en daarom het hy gewys dat hy die ouer manne ondersteun deur hulle nederig te gehoorsaam. Maar ons wonder dalk: ‘Hoekom het Jesus toegelaat dat hierdie kwessie vir so ’n lang tyd voortduur, aangesien sy dood die Wet van Moses tot ’n einde gebring het?’ — Kol. 2:13, 14.

12. Hoekom het Christus moontlik toegelaat dat soveel tyd verbygaan voordat die kwessie oor die besnydenis opgelos is?

12 Wanneer daar ’n aanpassing is in hoe dinge verstaan word, het party mense meer tyd nodig om dit te aanvaar. Joodse Christene het genoeg tyd nodig gehad om hulle beskouing te verander (Joh. 16:12). Dit was vir party moeilik om te aanvaar dat besnyding nie meer ’n teken van ’n spesiale verhouding met God was nie (Gen. 17:9-12). En sommige was bang dat mense in hulle Joodse gemeenskappe hulle sou vervolg as hulle anders was (Gal. 6:12). Maar later het Christus verdere riglyne gegee deur die geïnspireerde briewe wat Paulus geskryf het. — Rom. 2:28, 29; Gal. 3:23-25.

CHRISTUS LEI NOG STEEDS SY GEMEENTE

13. Wat kan ons help om Christus se leierskap vandag te waardeer?

13 Wanneer ons sekere veranderinge in die organisasie nie heeltemal verstaan nie, sal dit goed wees om na te dink oor hoe Christus in die verlede die leiding geneem het. Of dit nou in Josua se dag of in die eerste eeu was, Christus het nog altyd wyse leiding gegee om God se volk as ’n geheel te beskerm, hulle geloof te versterk en te sorg dat God se knegte verenig bly. — Heb. 13:8.

14-16. Hoe is die riglyne wat ons van “die getroue en verstandige slaaf” kry ’n duidelike bewys dat Christus besorg is oor ons geestelikheid?

14 Die riglyne wat ons op die regte tyd van “die getroue en verstandige slaaf” kry, is ’n duidelike bewys dat Jesus besorg is oor ons geestelikheid (Matt. 24:45). Marc, ’n pa van vier, sê: “Satan probeer om gemeentes af te breek deur gesinne aan te val. Maar noudat ons aangemoedig word om elke week gesinsaanbidding te hou, is dit vir gesinshoofde baie duidelik wat die boodskap is — beskerm jou gesin!”

15 Wanneer ons sien hoe Christus ons lei, besef ons dat hy werklik belangstel in ons geestelike vordering. Patrick, wat as ’n ouer man dien, sê: “Aan die begin was dit vir party nie aanmoedigend om oor naweke in klein groepies vir velddiens bymekaar te kom nie. Maar een van Jesus se hoofeienskappe — sy belangstelling in die geringes — kan duidelik in hierdie reëling gesien word. Broers en susters wat teruggetrokke of minder bedrywig is, voel asof hulle meer waardeer word en dat hulle iets beteken. Dit het hulle gehelp om geestelik te groei.”

16 Christus voorsien nie net in ons geestelike behoeftes nie, hy help ons ook om gefokus te bly op die belangrikste werk wat vandag op die aarde gedoen word. (Lees Markus 13:10.) André, wat onlangs as ’n ouer man aangestel is, het nog altyd probeer om enige nuwe riglyne wat deur God se organisasie gegee word te volg. Hy sê: “Die vermindering van personeel by takkantore herinner ons aan hoe dringend die tye is en dat ons op die predikingswerk moet fokus.”

ONDERSTEUN CHRISTUS SE LEIDING GETROU

17, 18. Hoekom is dit goed om na te dink oor die voordele wat ons ontvang omdat ons by veranderinge aanpas?

17 Wanneer ons kyk na die manier waarop ons gekroonde Koning, Jesus Christus, ons lei, is dit duidelik dat hy aan die toekoms dink. Daarom moet ons bly wees oor die voordele wat ons ontvang omdat ons by onlangse veranderinge aangepas het. Jy sal dit dalk aanmoedigend vind om gedurende gesinsaanbidding te bespreek hoe veranderinge in die weeklikse vergaderinge en die bediening jou bevoordeel het.

Help jy jou gesin en ander om aan te pas by veranderinge in Jehovah se organisasie? (Sien paragraaf 17, 18)

18 As ons verstaan dat die instruksies wat Jehovah se organisasie vir ons gee tot ons voordeel is, sal ons hierdie instruksies waarskynlik met vreugde volg. Ons waardeer die feit dat ons geld spaar omdat ons minder lektuur druk. Die organisasie gebruik moderne tegnologie om meer mense met die goeie nuus te bereik. As ons dit in gedagte hou, sal ons meer gebruik maak van publikasies en media op ons elektroniese toestelle as dit moontlik is. Wanneer ons dit doen, wys ons dat ons Christus se beskouing oor die organisasie se middele het en dit wyslik wil gebruik.

19. Hoekom moet ons Christus se leiding ondersteun?

19 Wanneer ons Christus se leiding ywerig ondersteun, versterk ons ander se geloof en help ons om eenheid te bevorder. In verband met die wêreldwye Bethelgesin wat verminder is, sê André: “Die goeie gesindheid van voormalige Betheliete wat by sulke veranderinge moes aanpas, vul my met vertroue en respek. Hulle beweeg saam met Jehovah se strydwa deur vreugde te vind in enige toewysing wat hulle ontvang.”

VERTROU OP ONS LEIER MET JOU OË VAN GELOOF

20, 21. (a) Hoekom kan ons op Christus, ons Leier, vertrou? (b) Watter vraag gaan ons in die volgende artikel bespreek?

20 Ons aangestelde Leier, Jesus Christus, sal binnekort ‘sy oorwinning voltooi’ en “vreesinboesemende dinge” doen (Op. 6:2; Ps. 45:4). Maar intussen is hy besig om God se volk voor te berei vir dit wat ná hierdie stelsel van dinge gaan kom. Elkeen van ons sal help met die ontsaglike onderrigtingswerk asook die bouwerk wat gedurende die tyd van die opstanding gedoen sal word.

21 Ons moet aanhou om ten volle op ons gesalfde Koning te vertrou, al verander ons omstandighede. As ons dit doen, sal hy ons in die nuwe wêreld inlei. (Lees Psalm 46:1-3.) Ons sukkel dalk soms om aan te pas wanneer dinge verander, veral wanneer iets gebeur wat ons nie verwag het nie. Hoe kan ons in so ’n geval ons innerlike vrede behou en sterk geloof in Jehovah hê? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.

^ par. 8 Argeoloë het groot hoeveelhede graan in Jerigo se ruïnes gevind, wat aandui dat die stad nie lank beleër is nie en dat hulle kosvoorraad nie opgeraak het nie. Aangesien die Israeliete nie toegelaat was om Jerigo te plunder nie, was dit die regte tyd om die land in te val, want dit was die oestyd en daar was oorgenoeg kos in die landerye. — Jos. 5:10-12.

^ par. 11 Sien die venster “Paulus bied ’n toets nederig die hoof” in Die Wagtoring van 15 Maart 2003, bl. 24.