Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat het God al gedoen?

Wat het God al gedoen?

’n Goeie manier om iemand beter te leer ken, is om uit te vind wat daardie persoon al gedoen of bereik het en watter uitdagings hy oorkom het. Dit is dieselfde met God. As jy hom beter wil leer ken, moet jy meer leer oor wat hy gedoen het. Terwyl jy dit doen, sal jy dalk verbaas wees om uit te vind dat baie dinge wat hy in die verlede gedoen het ons nou bevoordeel en met ons toekoms verband hou.

GOD HET ALLES GEMAAK SODAT ONS DIT KAN GENIET

Jehovah God is die Grootse Skepper, en sy “onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is” (Romeine 1:20). “Hy is die Maker van die aarde deur sy krag, die Een wat die vrugbare land stewig gevestig het deur sy wysheid en die Een wat die hemel uitgespan het deur sy verstand” (Jeremia 10:12). Die wonderlike skepping wys ook vir ons dat God in ons belangstel.

Dink net aan hoe spesiaal Jehovah die mens gemaak het. Hy het ons “na sy beeld” geskep (Genesis 1:27). Dit beteken dat hy dit vir ons moontlik gemaak het om sy wonderlike eienskappe tot ’n sekere mate te weerspieël. Hy het ons met die vermoë geskep om sy waardes en sy beskouing van sake te verstaan. As ons ons bes probeer om daarvolgens te lewe, sal ons gelukkiger wees en ’n doel in die lewe hê. Maar dit is nie al wat hy gedoen het nie. Hy het dit ook vir ons moontlik gemaak om sy vriende te word.

Wanneer ons kyk na alles wat God op die aarde geskep het, kan ons sien hoe hy oor ons voel. Die apostel Paulus het gesê dat God “homself inderdaad nie sonder getuienis gelaat het nie deurdat hy goed gedoen het deur vir [ons] reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en [ons] harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul” (Handelinge 14:17). God het nie net vir ons die dinge gegee wat ons nodig het om te oorleef nie. Hy wil hê ons moet die lewe geniet, en daarom het hy vir ons ’n oorvloed gegee en ’n verskeidenheid om van te kies. Dit is alles maar net ’n voorsmakie van wat hy vir ons in gedagte het.

Jehovah het die aarde gemaak sodat die mens vir ewig daarop kan lewe. Die Bybel sê dat God “die aarde . . . aan die mensekinders gegee” het en dat hy “dit nie verniet geskep het nie, [maar] dit gevorm het om bewoon te word” (Psalm 115:16; Jesaja 45:18). Wie moet daarop bly en vir hoe lank? “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.” – Psalm 37:29.

Daarom het Jehovah die eerste man en vrou, Adam en Eva, geskep en hulle in ’n aardse paradys gesit “om dit te bewerk en daarvoor te sorg” (Genesis 2:8, 15). God het vir hulle twee opwindende opdragte gegee: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit” (Genesis 1:28). Adam en Eva het die hoop gehad om vir ewig op die aarde te lewe. Ongelukkig het hulle gekies om ongehoorsaam aan Jehovah te wees, en daarom het hulle nie meer die hoop gehad om onder “die regverdiges” te wees wat ‘die aarde sal besit’ nie. Hulle ongehoorsaamheid het egter nie Jehovah se voorneme vir ons en die aarde verander nie, soos ons later sal sien. Maar kom ons kyk eers na iets anders wat God gedoen het.

GOD HET ONS SY GESKREWE WOORD GEGEE

Die Bybel staan ook bekend as God se Woord. Hoekom het Jehovah die Bybel vir ons gegee? Die hoofrede is sodat ons van hom kan leer (Spreuke 2:1-5). Dit is waar dat die Bybel nie al die vrae wat ons dalk oor God het, beantwoord nie – geen boek kan dit doen nie (Prediker 3:11). Maar alles wat in die Bybel staan, help ons om God te leer ken. Ons sien watter soort persoon hy is deur die manier waarop hy mense behandel. Ons sien van watter tipe mense hy hou en nie hou nie (Psalm 15:1-5). Ons leer hoe hy aanbidding, sedelikheid en materiële dinge beskou. En die Bybel gee ons ’n baie duidelike beskrywing van Jehovah se persoonlikheid deur middel van wat sy Seun, Jesus Christus, gedoen en gesê het. – Johannes 14:9.

Nog ’n rede hoekom Jehovah sy Woord, die Bybel, vir ons gegee het, is sodat ons kan weet wat ons moet doen om ’n gelukkige en betekenisvolle lewe te hê. In die Bybel sê Jehovah vir ons hoe om ’n gelukkige gesin te hê, hoe om tevrede te wees en hoe om angstigheid te hanteer. En soos later in hierdie tydskrif verduidelik sal word, kan die antwoorde op die belangrikste vrae in die lewe in die Bybel gevind word, soos: Hoekom kry mense so swaar en wat gaan in die toekoms gebeur? Dit verduidelik ook wat God gedoen het om seker te maak dat sy oorspronklike voorneme vervul sal word.

Daar is nog baie ander redes hoekom die Bybel so ’n spesiale boek is wat slegs van God af kon kom. Al is dit oor ’n tydperk van 1 600 jaar deur sowat 40 manne geskryf, het dit een hooftema omdat dit eintlik God se gedagtes is (2 Timoteus 3:16). Anders as ander antieke boeke is die Bybel deur die eeue heen akkuraat bewaar, soos duisende ou Bybelmanuskripte bevestig. En al was daar baie pogings om te keer dat die Bybel vertaal, versprei en gelees word, het dit behoue gebly. Vandag is dit die wyds verspreide en mees vertaalde boek. Die feit dat die Bybel nog steeds bestaan, wys dat “die woord van ons God . . . tot onbepaalde tyd [sal] bly bestaan”. – Jesaja 40:8.

GOD HET VERSEKER DAT SY VOORNEME VERVUL SAL WORD

God het nog iets vir ons gedoen. Hy het ’n spesiale voorsiening gemaak om te verseker dat sy voorneme vervul sal word. Soos vroeër genoem is, wil God hê dat mense vir ewig op die aarde moet lewe. Maar toe Adam besluit het om ongehoorsaam aan God te wees en gesondig het, het hy die kans om vir ewig te lewe verloor, nie net vir homself nie maar ook vir sy toekomstige kinders. ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’ (Romeine 5:12). Omdat die mens ongehoorsaam was, het dit gelyk asof God se voorneme nie vervul sal word nie. Hoe het Jehovah gereageer?

Wat Jehovah gedoen het, stem ooreen met sy eienskappe. Hy het Adam en Eva vir hulle dade verantwoordelik gehou, maar hy het uit liefde voorsiening vir hulle toekomstige kinders gemaak. Jehovah het in sy wysheid besluit hoe om die situasie te hanteer en hy het onmiddellik gesê wat hy gaan doen om die probleem op te los (Genesis 3:15). God sou die mens van sonde en die dood red deur middel van sy Seun, Jesus Christus. Wat het dit behels?

Om mense van die gevolge van Adam se opstand te red, het Jehovah vir Jesus na die aarde toe gestuur om mense te leer wat hulle moet doen om vir ewig te lewe en om “sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28; Johannes 14:6). a Jesus kon die losprys betaal omdat hy net soos Adam ’n volmaakte man was. Maar anders as Adam was Jesus tot sy dood volmaak gehoorsaam. Aangesien Jesus nie verdien het om te sterf nie, het Jehovah hom tot lewe in die hemel opgewek. Jesus kon nou vir gehoorsame mense die kans gee om vir ewig te lewe, iets wat Adam nie gedoen het nie. “Want net soos baie deur die ongehoorsaamheid van die een mens sondaars gemaak is, so sal ook baie deur die gehoorsaamheid van die een persoon regverdig gemaak word” (Romeine 5:19). Deur Jesus se losprysoffer sal God sy belofte vervul dat mense vir ewig op die aarde sal lewe.

Ons leer baie oor Jehovah uit die manier waarop hy die probleme hanteer het wat ontstaan het as gevolg van Adam se ongehoorsaamheid. Dit is duidelik dat niks Jehovah kan keer om dit wat hy begin het, klaar te maak nie. Sy woord “sal beslis sukses behaal” (Jesaja 55:11). Ons waardeer ook die feit dat Jehovah baie lief is vir ons. “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry. Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenoffer vir ons sondes.” – 1 Johannes 4:9, 10.

God het “selfs sy eie Seun nie gespaar . . . nie, maar hom vir ons almal oorgelewer”. Daarom kan ons seker wees dat God vir ons “alle ander dinge” wat hy ons belowe het, sal gee (Romeine 8:32). Wat het God belowe om vir ons te doen? Lees verder om uit te vind.

WAT HET GOD AL GEDOEN? Jehovah het die mens geskep om vir ewig op die aarde te lewe. Hy het die Bybel vir ons gegee sodat ons oor hom kan leer. Jehovah het deur Jesus Christus die losprys voorsien, en dit gee ons die versekering dat sy voorneme vervul sal word

a Vir meer inligting oor die losprys, sien les 27 van die boek Geniet die lewe vir ewig!, uitgegee deur Jehovah se Getuies en aanlyn beskikbaar by www.pr418.com/af.