Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat gaan God nog doen?

Wat gaan God nog doen?

As jy deur ’n moeilike tyd gaan, sou jy ongetwyfeld verwag dat ’n goeie vriend iets sou doen om jou te help. Met dit in gedagte sê party dat God nie ’n vriend is nie omdat hulle voel dat God niks doen om hulle te help nie. Maar God het eintlik alreeds baie dinge gedoen wat ons bevoordeel, en hy gaan ook iets doen om ’n einde te maak aan al die pyn en lyding wat ons vandag ondervind. Wat gaan God doen?

HY GAAN ’N EINDE MAAK AAN ALLE GODDELOOSHEID

God gaan ’n einde maak aan alle goddeloosheid deur die oorsaak daarvan te vernietig. Die Bybel sê vir ons wie die oorsaak van goddeloosheid is. Dit sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). “Die bose” is Satan die Duiwel. Jesus het hom “die heerser van hierdie wêreld” genoem (Johannes 12:31). Satan se invloed op die mens is die hoofoorsaak van die probleme op die aarde. Wat gaan God doen?

Jehovah God gaan binnekort deur middel van sy Seun, Jesus Christus, optree en “die een tot niet . . . maak wat die vermoë het om die dood te veroorsaak, dit is die Duiwel” (Hebreërs 2:14; 1 Johannes 3:8). Die Bybel sê ook dat die Duiwel weet dat “hy ’n kort tydjie het” voordat hy vernietig gaan word (Openbaring 12:12). God gaan ook almal wat goddeloos is, vernietig. – Psalm 37:9; Spreuke 2:22.

HY GAAN DIE AARDE ’N PARADYS MAAK

Nadat die Skepper ’n einde gemaak het aan alle goddeloosheid op die aarde, gaan hy optree om sy voorneme te vervul. Hy wil hê dat volmaakte mense vir ewig op ’n paradysaarde moet lewe. Waarna kan ons uitsien?

Vrede en veiligheid wat vir ewig sal duur. “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.” – Psalm 37:11.

Oorgenoeg gesonde kos. “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.” – Psalm 72:16.

Gerieflike huise en bevredigende werk. “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. . . . Die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut.” – Jesaja 65:21, 22.

Wil jy graag hierdie dinge sien gebeur? Dit sal binnekort ’n werklikheid wees.

HY GAAN SIEKTE EN DIE DOOD HEELTEMAL VERWYDER

Vandag word almal siek en gaan hulle uiteindelik dood, maar dit gaan nie vir lank so wees nie. God gaan binnekort al die voordele van Jesus se losprysoffer ’n werklikheid maak sodat “elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Wat is party van die voordele?

Siekte sal heeltemal verwyder word. “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie. Die volk wat in die land woon, sal vergifnis van hulle oortreding ontvang het.” – Jesaja 33:24.

Die dood sal heeltemal verwyder word. “Hy sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee.” – Jesaja 25:8.

Mense sal vir ewig lewe. “Die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.” – Romeine 6:23.

Mense wat gesterf het, sal weer lewend gemaak word. “Daar [sal] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees” (Handelinge 24:15). Hulle sal baat vind by die losprys, ’n geskenk van God.

Hoe gaan God al hierdie dinge doen?

HY GAAN ’N VOLMAAKTE REGERING OPRIG

God gaan sy voorneme vir die mens en die aarde vervul deur middel van ’n hemelse regering, met Christus Jesus as die Heerser daarvan (Psalm 110:1, 2). Jesus het sy volgelinge geleer om vir hierdie regering, of koninkryk, te bid toe hy gesê het: “Ons Vader in die hemele, . . . laat u koninkryk kom.” – Matteus 6:9, 10.

God se Koninkryk sal oor die aarde regeer en ’n einde maak aan al die pyn en lyding wat mense ervaar. Hierdie Koninkryk is die beste regering wat die mens ooit sal kan hê! Daarom het Jesus hard gewerk om “die goeie nuus van die koninkryk” te verkondig terwyl hy op die aarde was, en hy het vir sy dissipels gesê om dieselfde te doen. – Matteus 4:23; 24:14.

Jehovah God het belowe om al hierdie wonderlike dinge vir mense te doen omdat hy baie lief is vir hulle. Motiveer dit jou nie om hom beter te wil leer ken en nader aan hom te kom nie? Hoe sal dit jou help as jy besluit om dit te doen? Dit sal in die volgende artikel verduidelik word.

WAT GAAN GOD NOG DOEN? God gaan siekte en die dood verwyder, mense onder God se Koninkryk verenig en die aarde ’n paradys maak