Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 2

Loof Jehovah in die gemeente

Loof Jehovah in die gemeente

“In die midde van die gemeente sal ek u loof.” – PS. 22:22.

LIED 59 Loof Jah met my

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe het Dawid oor Jehovah gevoel, en wat het dit hom gemotiveer om te doen?

KONING DAWID het geskryf: “Jehovah is groot en baie lofwaardig” (Ps. 145:3). Hy was lief vir Jehovah, en daarom het hy God “in die midde van die gemeente” geloof (Ps. 22:22; 40:5). Jy is sekerlik ook lief vir Jehovah en stem saam met Dawid se woorde: “Mag u geloof word, o Jehovah, die God van ons vader Israel, van onbepaalde tyd, ja, tot onbepaalde tyd.” – 1 Kron. 29:10-13.

2. (a) Hoe kan ons Jehovah loof? (b) Waarmee sukkel party mense, en wat gaan ons nou bespreek?

2 Een manier waarop ons Jehovah vandag loof, is deur te antwoord by ons Christelike vergaderinge. Maar vir ’n hele paar van ons broers en susters is dit nie altyd so maklik nie. Al wil hulle graag antwoord by die vergaderinge, is hulle bang om dit te doen. Hoe kan hulle hierdie vrees oorkom? En watter praktiese voorstelle kan ons almal help om aanmoedigende antwoorde te gee? Voordat ons na hierdie vrae kyk, gaan ons eers vier belangrike redes bespreek hoekom ons by die vergaderinge antwoord.

HOEKOM ONS BY DIE VERGADERINGE ANTWOORD

3-5. (a) Volgens Hebreërs 13:15, hoekom antwoord ons by die vergaderinge? (b) Moet ons almal dieselfde soort antwoorde gee? Verduidelik.

3 Jehovah het ons almal die voorreg gegee om hom te loof (Ps. 119:108). Ons antwoorde by vergaderinge is een manier waarop ons “’n lofoffer” aan God bring, en niemand anders kan dit vir ons doen nie. (Lees Hebreërs 13:15.) Verwag Jehovah dieselfde soort lofoffer, of antwoord, van elkeen van ons? Nee, beslis nie!

4 Jehovah weet dat ons almal verskillende vermoëns en omstandighede het, en hy waardeer enigiets wat ons vir hom kan doen. Dink aan die verskillende soorte offerandes wat die Israeliete vir hom kon bring. Party Israeliete kon ’n lam of ’n bok offer. Maar ’n Israeliet wat arm was, kon “twee tortelduiwe of twee jong duiwe” offer. En as ’n Israeliet nie twee duiwe kon bekostig nie, het Jehovah “’n tiende van ’n efa fynmeel” aanvaar (Lev. 5:7, 11). ’n Bietjie meel was nie so duur nie, maar solank dit “fynmeel” was, het Jehovah nog steeds daardie offerande waardeer.

5 Ons liefdevolle God voel vandag nog steeds dieselfde. Wanneer ons antwoorde gee, verwag hy nie dat ons almal so goed soos Apollos of so oortuigend soos Paulus moet praat nie (Hand. 18:24; 26:28). Al wat Jehovah van ons vra, is dat ons ons beste gee wanneer ons antwoord. Hy verwag nie dat ons meer doen as wat ons kan nie. Dink aan die weduwee wat die twee muntstukkies gegee het. Jehovah het dit waardeer omdat sy alles gegee het wat sy kon. – Luk. 21:1-4.

Wanneer ons antwoord, help dit ons en dié wat na ons luister (Sien paragraaf 6-7) *

6. (a) Volgens Hebreërs 10:24, 25, watter uitwerking kan ander se kommentare op ons hê? (b) Hoe kan jy wys dat jy ander se aanmoedigende antwoorde waardeer?

6 Ons moedig mekaar aan deur ons antwoorde. (Lees Hebreërs 10:24, 25.) Ons almal waardeer dit om na die verskillende antwoorde by ons vergaderinge te luister. Ons geniet die kinders se eenvoudige, opregte antwoorde. Dit is ook baie aanmoedigend om te hoor hoe ander opgewonde praat oor iets nuuts wat hulle onlangs geleer het. En ons bewonder dié wat die moed bymekaargeskraap het om ’n antwoord te gee al is hulle skaam of al het hulle eers onlangs begin om ons taal te leer praat (1 Tess. 2:2). Hoe kan ons wys dat ons hulle aanmoedigende antwoorde waardeer? Ons kan ná die vergadering vir hulle dankie sê. Nog ’n manier om te wys dat ons dankbaar is, is deur self ’n antwoord te gee. So sal ons by die vergaderinge aangemoedig word en sal ons ook ander aanmoedig. – Rom. 1:11, 12.

7. Hoe help dit ons wanneer ons by die vergaderinge antwoord?

7 Dit help ons persoonlik wanneer ons antwoord (Jes. 48:17). Hoe kan dit ons help? Eerstens, as ons graag ’n antwoord wil gee, motiveer dit ons om goed voor te berei vir die vergadering. Wanneer ons goed voorberei, help dit ons om God se Woord beter te verstaan. En as ons God se Woord beter verstaan, kan ons die dinge wat ons leer beter toepas. Tweedens, ons sal heel moontlik die vergadering meer geniet omdat ons daaraan deelneem. Derdens, omdat dit ’n bietjie inspanning van ons vereis om te kan antwoord, sal ons gewoonlik die punte waaroor ons gepraat het nog steeds onthou lank nadat die vergadering verby is.

8-9. (a) Volgens Maleagi 3:16, hoe dink jy voel Jehovah oor ons antwoorde? (b) Waarvoor is party nog steeds bang?

8 Ons maak Jehovah se hart bly wanneer ons oor ons geloof praat. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah na ons luister en dat hy dit regtig waardeer wanneer ons, selfs wanneer dit vir ons moeilik is, antwoorde by die vergaderinge gee. (Lees Maleagi 3:16.) Hy wys sy waardering deur ons te seën wanneer ons hard probeer om sy hart bly te maak. – Mal. 3:10.

9 Dit is duidelik dat ons goeie redes het om antwoorde by die vergaderinge te gee. Maar party is nog steeds bang om hulle hand op te steek. Moenie mismoedig raak as jy so voel nie. Kom ons kyk na ’n paar Bybelbeginsels, voorbeelde en praktiese voorstelle wat ons almal kan help om meer by die vergaderinge te antwoord.

HOE OM VREES TE OORKOM

10. (a) Watter vrees het baie van ons? (b) Hoekom is dit dalk ’n goeie teken as ons bang is om te antwoord?

10 Kry jy ’n knop op jou maag elke keer as jy net daaraan dink om jou hand op te steek om ’n antwoord te gee? Dan is jy nie alleen nie. Die meeste van ons voel ’n bietjie bang wanneer ons ’n antwoord gee. Voordat jy iets omtrent hierdie vrees kan doen, moet jy eers uitvind wat die rede daarvoor is. Is jy bang dat jy jou woorde sal vergeet of dat jy dalk die verkeerde antwoord sal gee? Of is jy miskien bang dat jou antwoord nie so goed soos iemand anders s’n sal wees nie? Eintlik is sulke vrese ’n goeie teken. Dit wys dat jy nederig is en dat jy ander hoër as jouself beskou. Jehovah is lief vir dié wat nederig is (Ps. 138:6; Fil. 2:3). Maar Jehovah wil ook hê dat jy hom moet loof en dat jy jou broers en susters by die vergaderinge moet aanmoedig (1 Tess. 5:11). Hy is lief vir jou en sal jou die moed gee wat jy nodig het.

11. Watter beginsels in die Bybel kan ons help?

11 Kom ons kyk na ’n paar Bybelbeginsels. Die Bybel sê dat ons almal partykeer foute maak deur dalk die verkeerde ding te sê of iets nie op die regte manier te sê nie (Jak. 3:2). Jehovah en ons broers en susters verwag nie van ons om volmaak te wees nie (Ps. 103:12-14). Hulle is ons geestelike familie en is lief vir ons (Mark. 10:29, 30; Joh. 13:35). Wanneer ons ’n antwoord gee, verstaan hulle dat ons nie altyd presies sê wat ons wou gesê het nie.

12-13. Wat leer ons uit Nehemia en Jona se voorbeelde?

12 Dink aan ’n paar Bybelvoorbeelde wat jou kan help om jou vrees te oorkom. Nehemia was byvoorbeeld die kneg van ’n magtige koning. Nehemia was ontsteld omdat hy gehoor het dat Jerusalem se mure en poorte nog nie herbou is nie (Neh. 1:1-4). Stel jou net voor hoe sy maag op ’n knop getrek het toe die koning vir hom vra hoekom hy so ongelukkig lyk! Nehemia het dadelik gebid en die koning toe geantwoord. Dit het daartoe gelei dat die koning baie gedoen het om God se volk te help (Neh. 2:1-8). Ons het ook die voorbeeld van Jona. Toe Jehovah hom gevra het om met die mense van Nineve te gaan praat, was Jona so bang dat hy in die teenoorgestelde rigting gevlug het (Jona 1:1-3). Maar met Jehovah se hulp kon Jona vir die mense van Nineve gaan preek. En wat hy vir hulle gesê het, het hulle baie gehelp (Jona 3:5-10). Uit Nehemia se voorbeeld leer ons hoe belangrik dit is om te bid voordat ons ’n antwoord gee. Ons leer uit Jona se voorbeeld dat Jehovah ons kan help om hom te dien, al is ons baie bang. En om ’n antwoord in die gemeente te gee, kan tog seker nie so moeilik wees soos om vir die mense van Nineve te gaan preek nie?

13 Watter praktiese voorstelle kan jou help om aanmoedigende antwoorde by die vergaderinge te gee? Kom ons kyk na ’n paar.

14. Hoekom moet ons goed voorberei vir die vergaderinge, en wanneer kan ons dit doen?

14 Berei voor vir elke vergadering. Wanneer jy vooruit beplan en goed voorberei, sal jy meer selfvertroue hê om te antwoord (Spr. 21:5). Ons almal berei natuurlik op verskillende tye vir die vergaderinge voor. Eloise, ’n weduwee in haar 80’s, begin al vroeg in die week om vir die Wagtoring-studie voor te berei. Sy sê: “Ek geniet die vergaderinge meer as ek lank voor die tyd voorberei.” Joy, wat voltyds werk, berei haar Wagtoring op ’n Saterdag voor. Sy sê dat dit dan makliker vir haar is om die inligting te onthou. Ike, ’n besige ouer man wat ook pionier, sê: “Dit is vir my beter om vir kort rukkies in die week te studeer as om alles op een slag te doen.”

15. Hoe kan jy goed voorberei vir ’n vergadering?

15 Hoe berei ’n mens goed voor vir ’n vergadering? Begin deur eers te bid en Jehovah te vra vir heilige gees (Luk. 11:13; 1 Joh. 5:14). Kyk dan na die titel, onderhofies, prente en vensters om te sien waaroor die les gaan. Berei nou elke paragraaf voor en probeer om soveel tekste as moontlik te lees. Dink mooi na oor die inligting, veral oor die punte wat jy graag in jou antwoord wil beklemtoon. Wanneer jy beter voorberei, sal jy meer daaruit leer en sal dit vir jou makliker wees om ’n antwoord te gee. – 2 Kor. 9:6.

16. Watter hulpmiddele is daar, en hoe kan ons dit gebruik?

16 Gebruik elektroniese hulpmiddele as dit beskikbaar is in ’n taal wat jy ken. Jehovah het, deur sy organisasie, vir ons elektroniese hulpmiddele gegee om ons te help om vir die vergaderinge voor te berei. Die JW Library®-app maak dit vir ons moontlik om studiepublikasies op ’n elektroniese toestel af te laai. Dan kan ons dit enige tyd en op enige plek voorberei. Ons kan die publikasies ook lees of daarna luister. Party gebruik hierdie app gedurende etenstyd by die werk of skool of terwyl hulle êrens heen op pad is. Die Watchtower Library en die Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK maak dit vir ons baie maklik wanneer ons navorsing wil doen oor iets terwyl ons voorberei.

Wanneer berei jy vir die vergaderinge voor? (Sien paragraaf 14-16) *

17. (a) Hoekom is dit goed om meer as een antwoord voor te berei? (b) Wat het jy geleer in die video Word Jehovah se vriend – Berei jou antwoord voor?

17 Probeer om ’n paar antwoorde voor te berei vir elke deel van die vergadering. Hoekom? Want jy sal dalk nie elke keer gevra word wanneer jy jou hand opsteek nie. Ander sal heel moontlik ook hulle hand opsteek, en dalk vra die studiehouer een van hulle om te antwoord. Die studiehouer moet seker maak dat die vergadering betyds klaarmaak, en daarom kan daar net ’n paar antwoorde in elke deel gegee word. Moenie kwaad of mismoedig raak as hy jou nie aan die begin vra om te antwoord nie. As jy meer as een antwoord voorberei het, kan jy later weer jou hand opsteek en ’n ander antwoord gee. Dalk kan jy in een van jou antwoorde ’n teks lees. Maar dit sal ook goed wees as jy ’n antwoord in jou eie woorde kan gee. *

18. Hoekom moet ons kort antwoorde gee?

18 Gee kort antwoorde. Baiekeer is dit ’n kort, eenvoudige antwoord wat ons die meeste aanmoedig. Daarom moet jy probeer om jou antwoorde kort te hou – nie langer as 30 sekondes nie (Spr. 10:19; 15:23). As jy al jare lank antwoorde by die vergaderinge gee, is dit belangrik dat jy ’n goeie voorbeeld stel deur jou antwoorde kort te hou. As jy lang, ingewikkelde antwoorde gee, kan dit ander laat voel dat hulle antwoorde nie goed genoeg is nie en dat hulle nooit so goed soos jy sal kan antwoord nie. En as ons kort antwoorde gee, sal meer mense ’n kans kry om aan die vergadering deel te neem. Jy moet veral ’n kort, eenvoudige antwoord gee as jy die eerste een is wat antwoord. Moenie probeer om al die punte in die paragraaf te noem nie. Nadat die hoofgedagte van die paragraaf bespreek is, kan jy van die ander gedagtes uitbring. – Sien die venster “ Wat kan ek antwoord?

19. Hoe kan die studiehouer jou help, maar wat sal jy moet doen?

19 Sê vir die studiehouer as jy graag ’n antwoord by ’n sekere paragraaf wil gee. As jy dit wil doen, moet jy ’n ruk voor die vergadering begin vir die studiehouer daarvan sê. Wanneer die vraag van daardie paragraaf gevra word, moet jy jou hand vinnig en hoog genoeg opsteek sodat die studiehouer dit kan sien.

20. Hoe is ’n gemeentelike vergadering soos ’n ete saam met vriende?

20 Dink aan die gemeentelike vergaderinge as ’n ete saam met goeie vriende. Wat sal jy doen as vriende in die gemeente jou na ’n braai uitnooi en jou vra om iets kleins saam te bring om te eet? Dalk is jy ’n bietjie senuweeagtig, maar jy sal seker jou bes doen om iets saam te bring waarvan almal hou. Jehovah nooi ons ook uit na ’n ete by ’n tafel vol goeie dinge by ons vergaderinge (Ps. 23:5; Matt. 24:45). En dit maak sy hart bly as ons ook ietsie bring. Maar ons wil ons beste vir hom gee. Daarom moet jy goed voorberei en soveel antwoorde gee as wat jy kan. Dan sal jy nie net by Jehovah se tafel eet nie, maar jy sal ook iets saambring wat ander in die gemeente kan geniet.

LIED 2 Jehovah is u naam

^ par. 5 Net soos die psalmskrywer Dawid, is ons almal lief vir Jehovah en geniet ons dit om hom te loof. ’n Spesiale manier waarop ons kan wys dat ons vir God lief is, is deur te antwoord by ons vergaderinge. Maar vir party van ons is dit nie so maklik nie. As jy so voel, sal hierdie artikel jou help om te verstaan wat die redes daarvoor is en wat jy kan doen om jou vrese te oorkom.

^ par. 17 Kyk op jw.org/af na die video Word Jehovah se vriend – Berei jou antwoord voor. Gaan na BYBELLERINGE > KINDERS.

^ par. 63 BESKRYWING VAN PRENTE: Broers en susters in ’n gemeente geniet ’n bespreking van Die Wagtoring.

^ par. 65 BESKRYWING VAN PRENTE: Hier is ’n paar van die broers en susters wat op die vorige prent aan die Wagtoring-studie deelneem. Al het hulle verskillende omstandighede, maak elkeen van hulle tyd om vir die vergadering voor te berei.