Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 6

Behou jou onkreukbaarheid!

Behou jou onkreukbaarheid!

“Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” – JOB 27:5.

LIED 34 Ek sal lojaal bly

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe het drie Getuies van Jehovah wat in hierdie paragraaf beskryf word, lojaal aan Jehovah gebly?

STEL jou die volgende drie situasies voor waarby Jehovah se Getuies betrokke is: (1) ’n Jong meisie is by die skool en die onderwyser vra al die kinders in die klas om aan ’n feesviering deel te neem. Die meisie weet dat God hierdie viering nie goedkeur nie, en daarom sê sy op ’n respekvolle manier dat sy nie daaraan sal deelneem nie. (2) ’n Jong man wat baie skaam is, preek van deur tot deur. Hy besef dat een van die kinders wat saam met hom skoolgaan by die volgende huis woon, en dat hierdie persoon al voorheen Jehovah se Getuies bespot het. Maar die jong man gaan nog steeds na die huis en klop aan die deur. (3) ’n Man werk hard om vir sy gesin te sorg. Op ’n dag vra sy baas vir hom om iets te doen wat oneerlik of onwettig is. Alhoewel hy sy werk kan verloor, verduidelik die man vir sy baas dat hy eerlik moet wees en die wet moet gehoorsaam omdat God dit van sy knegte verwag. – Rom. 13:1-4; Heb. 13:18.

2. Watter vrae gaan ons bespreek, en waarom?

2 Watter eienskap sien jy in hierdie drie persone? Jy sien dalk ’n hele paar, soos moed en eerlikheid. Maar daar is een belangrike eienskap wat uitstaan – onkreukbaarheid. Al drie hierdie persone wys dat hulle lojaal is aan Jehovah. Hulle besluit om eerder aan God se standaarde gehoorsaam te bly. Dit is onkreukbaarheid wat hulle motiveer om op hierdie manier op te tree. Jehovah sou sekerlik op elkeen van hulle trots wees vir hulle onkreukbaarheid. Net so wil ons ook ons Vader in die hemel trots maak. Kom ons bespreek die volgende vrae: Wat is onkreukbaarheid? Hoekom het ons onkreukbaarheid nodig? En hoe kan ons meer vasbeslote wees om in hierdie moeilike tye nie ons onkreukbaarheid prys te gee nie?

WAT IS ONKREUKBAARHEID?

3. (a) Wat beteken onkreukbaarheid vir ons? (b) Watter voorbeelde wys dat dit vir ons belangrik is dat dinge volkome, sonder gebrek of volledig moet wees?

3 Wat beteken onkreukbaarheid vir ons as God se knegte? Onkreukbaarheid beteken dat ons Jehovah as ’n Persoon met ons hele hart liefhet en dat ons aan hom toegewyd bly ongeag wat gebeur. Daarom sal ons altyd eers dink aan wat sy wil vir ons is voordat ons besluite neem. Kom ons kry eers ’n bietjie agtergrond. Een basiese betekenis vir die woord “onkreukbaarheid” soos dit in die Bybel gebruik word, is: volkome, sonder gebrek of volledig. Die Israeliete het byvoorbeeld diere aan Jehovah geoffer, en die Wet het gesê dat hierdie diere sonder gebrek moes wees (Lev. 22:21, 22). * God se knegte was nie toegelaat om diere te offer wat byvoorbeeld nie albei oë of ore gehad het nie of wat sieklik was. Dit was vir Jehovah belangrik dat die dier volkome, sonder gebrek of volledig is (Mal. 1:6-9). Ons kan verstaan hoekom dit vir Jehovah belangrik is dat iets sonder gebrek of volledig is. Wanneer ons iets koop, of dit nou vrugte, boeke of gereedskap is, wil ons nie hê dat dit vol gate of stukkend moet wees nie. Ons wil iets hê wat volkome, sonder gebrek of volledig is. Jehovah voel dieselfde wanneer dit kom by ons liefde vir hom en ons lojaliteit. Dit moet volkome, sonder gebrek of volledig wees.

4. (a) Hoekom kan ’n onvolmaakte persoon onkreukbaar wees? (b) Wat verwag Jehovah van ons, volgens Psalm 103:12-14?

4 Maar jy wonder dalk of ’n onvolmaakte persoon onkreukbaar kan wees. Ons voel dalk dat ons baie foute maak, en beslis nie sonder gebrek is nie. Maar hier is twee redes hoekom ’n onvolmaakte persoon onkreukbaar kan wees. Eerstens, Jehovah fokus nie op ons foute nie. Sy Woord sê vir ons: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Ps. 130:3). Hy weet dat ons onvolmaak en sondige mense is, en hy vergewe ons vryelik (Ps. 86:5). Tweedens, Jehovah weet wat ons beperkings is, en hy verwag nie meer van ons as wat ons kan doen nie. (Lees Psalm 103:12-14.) Hoe kan ons dan volkome, sonder gebrek of volledig in sy oë wees?

5. Hoekom is liefde die sleutel tot onkreukbaarheid vir Jehovah se knegte?

5 Liefde is die sleutel tot onkreukbaarheid vir Jehovah se knegte. Ons liefde vir God en ons lojale toegewydheid aan hom as ons hemelse Vader moet volkome, sonder gebrek of volledig wees. As ons daardie soort liefde behou selfs wanneer ons getoets word, dan is ons onkreukbaar (1 Kron. 28:9; Matt. 22:37). Dink weer aan die drie Getuies wat ons aan die begin genoem het. Hoekom tree hulle so op? Wil die jong meisie dan nie ’n lekker tyd by die skool hê nie, of wil die jong man bespot word of wil die pa sy werk verloor? Natuurlik nie. Hulle weet dat Jehovah se standaarde regverdig is, en hulle wil graag hulle hemelse Vader bly maak. Omdat hulle lief is vir hom, dink hulle altyd aan hom voordat hulle besluite neem. Op hierdie manier wys hulle dat hulle onkreukbaar is.

HOEKOM HET ONS ONKREUKBAARHEID NODIG?

6. (a) Hoekom het jy onkreukbaarheid nodig? (b) Hoe het Adam en Eva gewys dat hulle nie onkreukbaar is nie?

6 Hoekom het elkeen van ons onkreukbaarheid nodig? Jy het onkreukbaarheid nodig omdat Satan vir Jehovah uitgedaag het, en hy het jou ook uitgedaag. Daardie opstandige engel het homself Satan, of “Teenstander”, in die tuin van Eden gemaak. Hy het Jehovah se goeie naam belaster deur te impliseer dat God ’n slegte, selfsugtige en oneerlike Heerser is. Ongelukkig het Adam en Eva Satan se kant gekies en teen Jehovah in opstand gekom (Gen. 3:1-6). Toe hulle in Eden was, het hulle baie geleenthede gehad om hulle liefde vir Jehovah te versterk. Maar toe Satan hierdie aantyging gemaak het, was hulle liefde nie volkome of volledig nie. Nog ’n vraag het ontstaan: Sou enige mens lojaal aan Jehovah God bly omdat hulle lief is vir hom? Met ander woorde, is dit vir mense moontlik om onkreukbaar te wees? Daardie vraag is in Job se geval gevra.

7. Hoe het Jehovah en Satan oor Job se onkreukbaarheid gevoel, volgens Job 1:8-11?

7 Job het gelewe in die tyd toe die Israeliete in Egipte was. Sy onkreukbaarheid was uniek. Hy was onvolmaak, net soos ons. Hy het foute gemaak. Maar Jehovah het Job liefgehad omdat hy onkreukbaar was. Satan het waarskynlik alreeds vir Jehovah uitgetart oor die mens se onkreukbaarheid. Daarom het Jehovah vir Satan van Job se onkreukbaarheid vertel. Die manier waarop Job sy lewe gelei het, het bewys dat Satan ’n leuenaar is! Satan het daarop aangedring dat Job se onkreukbaarheid getoets word. Jehovah het sy vriend Job vertrou en Satan toegelaat om hom te toets. – Lees Job 1:8-11.

8. Hoe het Satan vir Job aangeval?

8 Satan is wreed, en hy is ’n moordenaar. Hy het Job op verskillende maniere aangeval. Hy het sy besittings en sy rykdom van hom af weggeneem, sy knegte doodgemaak en hom ’n slegte reputasie in die gemeenskap gegee. Hy het Job se gesin aangeval deur sy tien kinders dood te maak. Toe het hy Job baie siek gemaak deur hom van kop tot tone met verskriklike swere te tref. Job se vrou was baie mismoedig en bedroef. Sy het vir hom gevra hoekom hy nog aan sy onkreukbaarheid vashou en gesê dat hy God moet vervloek en sterf. Job self het gewens dat hy kon sterf, maar hy het nog steeds sy onkreukbaarheid behou. Toe het Satan probeer om hom op ’n ander manier aan te val. Hy het drie van Job se vriende gebruik. Hierdie manne het Job dae lank besoek, maar hulle het hom glad nie vertroos nie. Hulle het hom eerder gekritiseer en uitgeskel. Hulle het beweer dat God Job se probleme veroorsaak het en dat God nie omgegee het dat hy aan sy onkreukbaarheid vashou nie. Hulle het selfs te kenne gegee dat Job ’n goddelose man is en alles verdien wat met hom gebeur! – Job 1:13-22; 2:7-11; 15:4, 5; 22:3-6; 25:4-6.

9. Wat het Job geweier om te doen toe hy beproewinge deurgemaak het?

9 Hoe het Job al hierdie beproewinge hanteer? Hy was nie volmaak nie. Hy het kwaad geword en sy valse vertroosters uitgeskel en het dinge gesê wat hy later as wilde praatjies beskryf het. Hy het sy eie regverdigheid meer verdedig as God s’n (Job 6:3; 13:4, 5; 32:2; 34:5). Maar selfs toe sy situasie baie sleg was, het Job geweier om teen Jehovah God te draai. Hy het geweier om die leuens van daardie valse vriende te glo. Hy het gesê: “Dit is vir my ondenkbaar dat ek julle regverdig sou verklaar! Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” (Job 27:5). Dit is ’n baie belangrike stelling. Job het geweier om sy onkreukbaarheid prys te gee, en ons kan dieselfde doen.

10. Hoe is jy betrokke by die aantyging wat Satan teen Job gemaak het?

10 Satan maak dieselfde aantyging oor elkeen van ons. Hoe is jy daarby betrokke? Satan sê eintlik dat jy Jehovah God nie regtig liefhet nie, dat jy God sal ophou dien om jou eie lewe te red en dat jy jou onkreukbaarheid sal prysgee! (Job 2:4, 5; Op. 12:10). Hoe laat dit jou voel? Dit maak ’n mens seer, nie waar nie? Maar dink hieraan: Jehovah het soveel vertroue in jou dat hy jou ’n wonderlike geleentheid gee. Jehovah laat Satan toe om jou onkreukbaarheid te toets. Jehovah het die vertroue dat jy jou onkreukbaarheid sal behou en sal help om te bewys dat Satan ’n leuenaar is. En Hy belowe dat hy jou sal help om dit te doen (Heb. 13:6). Dit is beslis ’n voorreg om deur die Soewerein van die heelal vertrou te word! Kan jy sien hoekom onkreukbaarheid so belangrik is? Dit help ons om Satan ’n leuenaar te bewys, om ons Vader se goeie naam te verdedig en om sy manier van regeer te ondersteun. Wat kan ons doen om ons onkreukbaarheid te behou?

WAT KAN ONS VANDAG DOEN OM ONS ONKREUKBAARHEID TE BEHOU?

11. Wat kan ons uit Job se voorbeeld leer?

11 Satan val God se knegte al hoe meer aan in hierdie moeilike “laaste dae” (2 Tim. 3:1). Hoe kan ons meer vasbeslote wees om in hierdie donker tye ons onkreukbaarheid te behou? Ons kan weer eens baie uit Job se voorbeeld leer. Lank voordat Job getoets is, het hy gewys dat hy ’n man van onkreukbaarheid is. Kom ons kyk na drie lesse wat ons by hom kan leer oor hoe ons meer vasbeslote kan wees om ons onkreukbaarheid te behou.

Wat kan ons doen om meer vasbeslote te wees om ons onkreukbaarheid te behou? (Sien paragraaf 12) *

12. (a) Hoe het Job ontsag en diep respek vir Jehovah opgebou, volgens Job 26:7, 8, 14? (b) Hoe kan ons ontsag en diep respek vir God opbou?

12 Job het sy liefde vir God versterk deur ontsag en diep respek vir Jehovah op te bou. Job het tyd spandeer om na te dink oor hoe wonderlik Jehovah se skepping is. (Lees Job 26:7, 8, 14.) Hy was verstom toe hy oor die aarde, die hemel, die wolke en die donderweer gedink het. Hy het erken dat hy baie min weet oor al die dinge wat Jehovah gemaak het. Jehovah se woorde was ook vir Job kosbaar, en daarom het hy gesê: “Ek het die woorde van sy mond as ’n skat bewaar” (Job 23:12). Job se ontsag en diep respek vir Jehovah het hom beweeg om sy Vader lief te hê en Sy hart bly te maak. Daarom was Job meer vasbeslote om sy onkreukbaarheid te behou. Ons moet Job se voorbeeld navolg. Ons weet baie meer oor die wonders van die skepping as wat mense in Job se tyd geweet het. En ons het die hele geïnspireerde Bybel wat ons help om te sien watter soort Persoon Jehovah werklik is. Alles wat ons leer, kan ons help om ons hart met ontsag te vul. Ons ontsag en respek vir Jehovah sal ons dan motiveer om hom lief te hê en te gehoorsaam. Dit sal ook ons begeerte versterk om nie ons onkreukbaarheid prys te gee nie. – Job 28:28.

Ons word meer vasbeslote om ons onkreukbaarheid te behou deur pornografie te verwerp (Sien paragraaf 13) *

13-14. (a) Hoe het Job gewys dat hy gehoorsaam is, volgens Job 31:1? (b) Hoe kan ons Job se voorbeeld navolg?

13 Job se gehoorsaamheid het hom gehelp om sy onkreukbaarheid te behou. Job het geweet dat onkreukbaarheid vereis dat ’n persoon gehoorsaam moet wees. Elke keer wanneer ons gehoorsaam is, maak dit ons meer vasbeslote om ons onkreukbaarheid te behou. Job het sy bes gedoen om God in sy daaglikse lewe te gehoorsaam. Hy was byvoorbeeld versigtig oor hoe hy ander vrouens behandel het. (Lees Job 31:1.) As ’n getroude man het hy geweet dat dit verkeerd sou wees om romantiese belangstelling te toon in enige ander vrou behalwe sy eie vrou. Vandag lewe ons in ’n wêreld wat vol seksuele versoekings is. Sal ons, net soos Job, weier om ongepaste aandag te gee aan iemand met wie ons nie getroud is nie? Sal ons ook weier om na enige onsedelike of pornografiese prente te kyk, ongeag waar dit verskyn? (Matt. 5:28). As ons hard werk om elke dag sulke selfbeheersing te hê, sal ons meer vasbeslote wees om ons onkreukbaarheid te behou.

Ons word meer vasbeslote om ons onkreukbaarheid te behou deur ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge te hê (Sien paragraaf 14) *

14 Job was ook gehoorsaam aan Jehovah in die manier waarop hy materiële dinge beskou het. Job het gesien dat as hy sy vertroue in sy besittings stel, hy ernstig sou sondig en gestraf moes word (Job 31:24, 25, 28). Vandag lewe ons in ’n baie materialistiese wêreld. As ons leer om die regte beskouing van geld en besittings te hê, soos die Bybel ons aanspoor om te doen, sal ons meer vasbeslote wees om ons onkreukbaarheid te behou. – Spr. 30:8, 9; Matt. 6:19-21.

Ons word meer vasbeslote om ons onkreukbaarheid te behou deur ons hoop lewendig te hou (Sien paragraaf 15) *

15. (a) Wat het Job gehelp om sy onkreukbaarheid te behou? (b) Hoe help dit ons as ons die hoop wat Jehovah gee in gedagte hou?

15 Job het sy onkreukbaarheid behou deur te fokus op die hoop dat God hom sou beloon. Hy het geglo dat sy onkreukbaarheid vir God saak maak (Job 31:6). Job het, ten spyte van sy beproewinge, die vertroue gehad dat Jehovah hom uiteindelik sou beloon. Hierdie vertroue het hom beslis gehelp om aan sy onkreukbaarheid vas te hou. Jehovah was so bly oor Job se onkreukbaarheid dat Hy hom ryklik beloon het terwyl hy nog ’n onvolmaakte man was! (Job 42:12-17; Jak. 5:11). En Job gaan nog meer belonings in die toekoms kry. Het jy die vaste hoop dat Jehovah jou vir jou onkreukbaarheid sal beloon? Ons God het nie verander nie (Mal. 3:6). As ons onthou dat hy ons onkreukbaarheid waardeer, kan ons ons hoop vir ’n wonderlike toekoms in ons hart lewendig hou. – 1 Tess. 5:8, 9.

16. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

16 Wees vasbeslote om nooit jou onkreukbaarheid prys te gee nie! Soms sal dit dalk voel asof jy die enigste een is wat jou onkreukbaarheid behou, maar jy sal nooit alleen wees nie. Regoor die wêreld is daar miljoene getroue mense wat hulle onkreukbaarheid behou. Jy sal deel word van die groep manne en vroue van geloof wat in die verlede hulle onkreukbaarheid behou het, selfs al was hulle lewe in gevaar (Heb. 11:36-38; 12:1). Mag ons almal vasbeslote wees om ons onkreukbaarheid te behou net soos Job wat gesê het: “Ek [sal] my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” En mag ons onkreukbaarheid Jehovah vir altyd verheerlik!

LIED 124 Bly lojaal

^ par. 5 Wat is onkreukbaarheid? Hoekom waardeer Jehovah hierdie eienskap in sy knegte? Hoekom is onkreukbaarheid vir elkeen van ons belangrik? Hierdie artikel sal ons help om die Bybel se antwoorde op hierdie vrae te kry. Dit sal ons ook help om te sien wat ons kan doen om meer vasbeslote te wees om nie ons onkreukbaarheid prys te gee nie. As ons dit doen, sal ons baie seëninge ontvang.

^ par. 3 Die Hebreeuse woord wat as “sonder gebrek” vertaal word en wat na ’n dier verwys, hou verband met die woord vir “onkreukbaarheid” wat gebruik word wanneer dit na mense verwys.

^ par. 50 BESKRYWING VAN PRENT: Job as ’n jong pa leer party van sy kinders oor die wonders van Jehovah se skepping.

^ par. 52 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer weier om saam met sy werksmaats na pornografie te kyk.

^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer besluit om nie ’n groot en duur televisie te koop wat hy nie nodig het nie en wat hy nie kan bekostig nie.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer sit tyd opsy om te bid en om oor die Paradyshoop na te dink.