Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 7

Soek sagmoedigheid en maak Jehovah bly

Soek sagmoedigheid en maak Jehovah bly

“Soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde . . . Soek sagmoedigheid.” – SEF. 2:3.

LIED 80 ‘Kom ondervind dat Jehovah goed is’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Hoe word Moses beskryf, en wat het hy gedoen? (b) Watter kragtige rede het ons om sagmoedigheid aan te kweek?

DIE Bybel sê die volgende oor Moses: “[Hy] was verreweg die sagmoedigste van al die mense wat op die oppervlak van die aarde was” (Num. 12:3). Het dit beteken dat hy swak, besluiteloos en bang was om sy man te staan? Dit is dalk hoe party mense ’n sagmoedige persoon sal beskryf. Maar so ’n beskouing is heeltemal verkeerd. Moses was sterk, glad nie bang om besluite te neem nie en ’n moedige kneg van God. Met Jehovah se hulp het hy met die magtige heerser van Egipte gepraat, omtrent 3 000 000 mense deur ’n woestyn gelei en die nasie Israel gehelp om hulle vyande te oorwin.

2 Ons ondervind nie die uitdagings wat Moses moes oorkom het nie, maar elke dag kry ons met mense en situasies te doen wat dit moeilik maak om sagmoedig te wees. Ons het nogtans ’n kragtige rede om hierdie eienskap aan te kweek. Jehovah belowe dat die “sagmoediges . . . die aarde [sal] besit” (Ps. 37:11). Sal jy jouself as ’n sagmoedige persoon beskryf? Sou ander sê dat jy sagmoedig is? Voordat ons hierdie belangrike vrae kan beantwoord, moet ons eers weet wat dit beteken om sagmoedig te wees.

WAT IS SAGMOEDIGHEID?

3-4. (a) Waarmee kan sagmoedigheid vergelyk word? (b) Watter vier eienskappe het ons nodig as ons sagmoedig wil wees, en hoekom?

3 Sagmoedigheid * is soos ’n pragtige skildery. Hoe so? Net soos ’n kunstenaar ’n hele paar mooi kleure gebruik om ’n pragtige skildery te verf, het ons ’n hele paar lieflike eienskappe nodig om sagmoedig te wees. Party van hierdie eienskappe is nederigheid, onderdanigheid, saggeaardheid en moed. Hoekom het ons hierdie spesifieke eienskappe nodig as ons Jehovah wil bly maak?

4 Slegs nederige mense sal hulle aan God se wil onderwerp. Dit is deel van God se wil dat ons saggeaard moet wees (Matt. 5:5; Gal. 5:23). Wanneer ons God se wil doen, maak dit Satan baie kwaad. Alhoewel ons nederig en saggeaard is, word ons deur baie mense gehaat wat deel is van Satan se wêreld (Joh. 15:18, 19). Daarom het ons moed nodig om Satan te weerstaan.

5-6. (a) Hoekom haat Satan sagmoedige mense? (b) Watter vrae sal ons beantwoord?

5 ’n Persoon wat nie sagmoedig is nie, is hoogmoedig, beheer nie sy woede nie en is ongehoorsaam aan Jehovah. Dit beskryf presies hoe Satan is. Dit is geen wonder dat hy sagmoedige mense haat nie! Hulle wys hoe goddeloos hy is omdat hy nie die goeie eienskappe het wat hulle het nie. En wat dit vir Satan nog erger maak, is dat hulle wys dat hy ’n leuenaar is. Dit maak nie saak wat hy doen of sê nie, hy kan sagmoedige mense nie keer om Jehovah te dien nie! – Job 2:3-5.

6 Wanneer kan dit vir ons moeilik wees om sagmoedig te wees? En hoekom moet ons aanhou om sagmoedigheid te soek, of aan te kweek? Om hierdie vrae te beantwoord gaan ons kyk na die voorbeeld van Moses, die drie Hebreërs wat gevangenes in Babilon was en Jesus.

WANNEER KAN DIT MOEILIK WEES OM SAGMOEDIG TE WEES?

7-8. Hoe het Moses gereageer toe mense hom nie met respek behandel het nie?

7 Wanneer ons gesag ontvang: Dit kan vir diegene met gesag moeilik wees om sagmoedig te bly, veral wanneer iemand oor wie hulle gesag het hulle nie met respek behandel nie of sê dat hulle nie goeie besluite neem nie. Het dit al ooit met jou gebeur? Wat as iemand in jou familie so optree? Hoe sou jy reageer? Kom ons kyk wat Moses gedoen het.

8 Jehovah het Moses as Israel se leier aangestel en het hom toegelaat om die wette vir die nasie neer te skryf. Daar is geen twyfel dat Jehovah Moses ondersteun het nie. Maar ten spyte hiervan het Moses se eie broer en suster, Aäron en Mirjam, hom gekritiseer. Hulle het ook vir hom gesê dat hy nie ’n goeie besluit geneem het deur met ’n uitlandse vrou te trou nie. Party mans in Moses se posisie sou dalk kwaad geword het en wraak wou neem – maar nie Moses nie. Hy het nie gou aanstoot geneem nie. Hy het Jehovah selfs gesmeek om Mirjam se straf te beëindig (Num. 12:1-13). Hoekom het Moses so gereageer?

Moses het Jehovah gesmeek om Mirjam se straf te beëindig (Sien paragraaf 8)

9-10. (a) Wat het Jehovah Moses help verstaan? (b) Wat kan gesinshoofde en ouer manne uit Moses se voorbeeld leer?

9 Moses het toegelaat dat Jehovah hom oplei. Toe Moses omtrent 40 jaar vroeër deel was van Egipte se koninklike familie, was hy nie sagmoedig nie. Hy het so ’n vinnige humeur gehad dat hy ’n man doodgemaak het wat volgens hom onregverdig opgetree het. Moses het gedink dat Jehovah sou saamstem met wat hy gedoen het. Jehovah het Moses 40 jaar lank gehelp om te verstaan dat hy nie net moed nodig gehad het om die Israeliete te lei nie; hy moes ook sagmoedig wees. En om sagmoedig te wees, moes hy ook nederig, onderdanig en saggeaard wees. Hy het hierdie les goed verstaan en ’n uitstekende opsiener geword. – Eks. 2:11, 12; Hand. 7:21-30, 36.

10 Vandag moet gesinshoofde en ouer manne Moses se voorbeeld navolg. Wanneer ander jou nie met respek behandel nie, moet jy nie gou aanstoot neem nie. Wees nederig en erken jou foute (Pred. 7:9, 20). Wees onderdanig en volg Jehovah se riglyne oor hoe om probleme te hanteer. En gee altyd ’n sagte antwoord (Spr. 15:1). Gesinshoofde en opsieners wat op hierdie manier reageer, maak Jehovah bly, bevorder vrede en stel ’n goeie voorbeeld van hoe om sagmoedig te wees.

11-13. Watter voorbeeld het die drie Hebreërs vir ons gestel?

11 Wanneer ons vervolg word: Regdeur die geskiedenis het menseheersers Jehovah se knegte vervolg. Hulle beskuldig ons dalk daarvan dat ons slegte dinge doen. Maar die werklike rede hoekom hulle kwaad is, is omdat ons “eerder aan God as heerser gehoorsaam [is] as aan mense” (Hand. 5:29). Ons word dalk gespot, in die tronk gegooi of selfs fisies mishandel. Maar met Jehovah se hulp sal ons nie in opstand kom nie. Ons sal eerder kalm bly wanneer ons getoets word.   

12 Dink aan die voorbeeld van die drie Hebreërs wat na Babilon geneem is – Hananja, Misael en Asarja. * Die koning van Babilon het hulle beveel om voor ’n groot goue beeld neer te buig. Hulle het op ’n kalm manier vir die koning verduidelik hoekom hulle nie die beeld sal aanbid nie. Hulle het aan God gehoorsaam gebly ten spyte van die koning se dreigement om hulle in ’n brandende vuuroond te gooi. Jehovah het gekies om hulle onmiddellik te red, maar hulle het nie aangeneem dat hy dit sou doen nie. Hulle was eerder gewillig om enigiets te aanvaar wat Jehovah sou toelaat om met hulle te gebeur (Dan. 3:1, 8-28). Hulle het bewys dat sagmoedige mense werklik moedig is – geen koning, geen dreigement en geen straf kan ons keer om ons “uitsluitlike toegewydheid” aan Jehovah te gee nie. – Eks. 20:4, 5.

13 Hoe kan ons die drie Hebreërs se voorbeeld navolg wanneer ons lojaliteit aan God getoets word? Ons vertrou nederig dat Jehovah vir ons sal sorg (Ps. 118:6, 7). Wanneer mense ons van ’n oortreding beskuldig, antwoord ons hulle op ’n kalm en respekvolle manier (1 Pet. 3:15). En ons weier om enigiets te doen wat ons vriendskap met ons liefdevolle Vader in gevaar stel.

Wanneer mense ons teëstaan, antwoord ons hulle op ’n respekvolle manier (Sien paragraaf 13)

14-15. (a) Wat kan gebeur wanneer ons in ’n stresvolle situasie is? (b) Hoekom kan ons sê dat Jesus die beste voorbeeld is van iemand wat sagmoedig gebly het ondanks stresvolle situasies, volgens Jesaja 53:7, 10?

14 Wanneer ons in ’n stresvolle situasie is: Ons almal ondervind stres vir verskillende redes. Ons het dalk stres ondervind voordat ons ’n toets by die skool moes skryf of ’n sekere taak by die werk moes doen. Dit kan ook stres veroorsaak wanneer ons dink aan ’n mediese prosedure wat ons dalk nodig het. Wanneer ons in ’n stresvolle situasie is, is dit moeilik om sagmoedig te wees. Dinge wat ons gewoonlik nie pla nie, begin ons dalk irriteer. Ons kan miskien dinge sê wat nie liefdevol is nie en mense op ’n lelike manier behandel. As jy al ooit in ’n stresvolle situasie was, dink aan die voorbeeld van Jesus.

15 Gedurende Jesus se laaste paar maande op aarde, het hy baie stres ervaar. Hy het geweet dat hy doodgemaak sou word en baie pyn en lyding sou ondervind (Joh. 3:14, 15; Gal. 3:13). ’n Paar maande voor sy dood het hy gesê dat hy benoud is (Luk. 12:50). En net ’n paar dae voor sy dood het Jesus gesê dat hy “verontrus” is. Jesus se nederigheid en onderdanigheid aan God kan duidelik gesien word in die gebed waarin hy sy hart uitgestort het. Hy het gesê: “Vader, red my uit hierdie uur. Nietemin is dit waarom ek tot in hierdie uur gekom het. Vader, verheerlik u naam” (Joh. 12:27, 28). Toe die tyd aangebreek het, het Jesus toegelaat dat God se vyande hom in hegtenis neem en op ’n baie pynlike en vernederende manier doodmaak. Al het Jesus baie stres en lyding ondervind, het hy sagmoedig gebly en God se wil gedoen. Ons kan sonder twyfel sê dat Jesus die beste voorbeeld is van iemand wat sagmoedig gebly het ondanks stresvolle situasies! – Lees Jesaja 53:7, 10.

Jesus is die beste voorbeeld van sagmoedigheid (Sien paragraaf 16-17) *

16-17. (a) Wat het Jesus se vriende gedoen wat dit dalk vir hom moeilik gemaak het om sagmoedig te wees? (b) Hoe kan ons Jesus navolg?

16 Op die laaste aand van Jesus se lewe op aarde, het sy hegte vriende iets gedoen wat dit dalk vir hom moeilik gemaak het om sagmoedig te wees. Kan jy jou voorstel onder hoeveel druk Jesus daardie aand was? Sou hy tot die dood getrou bly? Miljarde mense se lewens het daarvan afgehang (Rom. 5:18, 19). Maar selfs belangriker, sy Vader se reputasie was daarby betrokke (Job 2:4). Toe, gedurende sy laaste ete met sy hegte vriende, die apostels, het hulle gesprek in “’n driftige woordewisseling” verander oor “wie van hulle blykbaar die grootste was”. Jesus het al ’n paar keer met sy vriende hieroor gepraat, insluitende vroeër daardie selfde aand! Verbasend genoeg het Jesus nie geïrriteerd geword nie. Hy het eerder op ’n kalm manier gereageer. Hy het op ’n liefdevolle maar ferm manier weer eens vir hulle verduidelik watter soort gesindheid hulle moet hê. En toe het hy sy vriende geprys omdat hulle hom lojaal ondersteun. – Luk. 22:24-28; Joh. 13:1-5, 12-15.

17 Hoe sou jy gereageer het as jy in ’n soortgelyke situasie was? Ons kan Jesus navolg en saggeaard bly selfs wanneer ons in ’n stresvolle situasie is. Wees onderdanig en gehoorsaam Jehovah se bevel om “aan [te hou] om mekaar te verdra” (Kol. 3:13). Ons sal hierdie bevel gehoorsaam as ons onthou dat ons almal dinge doen en sê wat ander irriteer (Spr. 12:18; Jak. 3:2, 5). En probeer om altyd ander vir hulle goeie eienskappe te prys. – Ef. 4:29.

HOEKOM MOET ONS AANHOU OM SAGMOEDIGHEID TE SOEK?

18. Hoe help Jehovah sagmoedige mense om goeie besluite te neem, maar wat moet hulle doen?

18 Ons sal beter besluite neem. Wanneer ons moeilike keuses in die lewe moet maak, sal Jehovah ons help om goeie besluite te neem – maar net as ons sagmoedig is. Hy belowe dat hy “die begeerte van die sagmoediges” sal hoor (Ps. 10:17). Maar hy sal nie net ons begeerte, of versoek, hoor nie. Die Bybel belowe: “Hy sal die sagmoediges in sy regterlike beslissing laat wandel, en hy sal die sagmoediges sy weg leer” (Ps. 25:9). Jehovah gee hierdie leiding deur middel van die Bybel, publikasies * en programme wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matt. 24:45-47). Ons moet ons deel doen deur nederig te erken dat ons hulp nodig het, deur die materiaal te studeer wat Jehovah voorsien en deur gewillig toe te pas wat ons leer.

19-21. Watter fout het Moses by Kades gemaak, en watter lesse kan ons daaruit leer?

19 Ons sal minder foute maak. Dink weer aan die voorbeeld van Moses. Hy was dekades lank sagmoedig en het Jehovah bly gemaak. Maar nadat die Israeliete amper 40 jaar lank deur die wildernis gereis het, het Moses sy sagmoedigheid verloor. Sy suster, die een wat heel moontlik sy lewe in Egipte gered het, het kort voor dit gesterf en is by Kades begrawe. En nou het die Israeliete weer eens gesê dat daar nie na hulle behoeftes omgesien word nie. Hierdie keer het hulle met Moses gestry omdat hulle te min water gehad het. Ten spyte van al die wonderwerke wat Jehovah deur Moses gedoen het en ten spyte van die feit dat Moses die volk so lank onselfsugtig gelei het, het hulle nog steeds gekla. Hulle het nie net gekla omdat hulle te min water gehad het nie, maar hulle het ook oor Moses gekla, asof dit sy skuld was dat hulle dors is. – Num. 20:1-5, 9-11.

20 In ’n oomblik van woede het Moses sy sagmoedige gesindheid verloor. Eerder as om geloof te toon en met die rots te praat, soos Jehovah beveel het, het Moses verbitterd geword en met die volk gepraat en gesê dat hy ’n wonderwerk sou doen. Toe het hy die rots twee keer geslaan en baie water het daaruit gestroom. Trots en woede het veroorsaak dat hy ’n ernstige fout maak (Ps. 106:32, 33). Omdat Moses vir ’n oomblik sy sagmoedigheid verloor het, was hy nie toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan nie. – Num. 20:12.

21 Ons leer belangrike lesse uit hierdie voorbeeld. Eerstens, ons moet aanhoudend daaraan werk om sagmoedig te wees. As ons ons sagmoedigheid verloor, kan ons maklik trots word en onverstandige dinge doen en sê. Tweedens, stres kan dit vir ons moeilik maak om sagmoedig te wees. Daarom moet ons ons bes doen om sagmoedig te bly, selfs wanneer ons onder druk is.

22-23. (a) Hoekom moet ons aanhou om sagmoedigheid aan te kweek? (b) Wat beteken die woorde “moontlik sal julle verberg word” in Sefanja 2:3?

22 Ons sal beskerm word. Jehovah gaan binnekort alle goddelose mense van die aarde verwyder, en slegs die sagmoediges sal oorbly. Dan sal daar ware vrede op die aarde wees (Ps. 37:10, 11). Sal jy een van daardie sagmoediges wees? Jy kan wees as jy Jehovah se liefdevolle uitnodiging aanvaar wat deur die profeet Sefanja opgeteken is. – Lees Sefanja 2:3.

23 Hoekom sê Sefanja 2:3: “Moontlik sal julle verberg word”? Hierdie woorde beteken nie dat Jehovah diegene wat hom bly wil maak en vir wie hy lief is, nie kan verberg, of beskerm, nie. Dit beteken eerder dat ons iets moet doen as ons beskerm wil word. Ons kan “die dag van Jehovah se toorn” oorleef en vir ewig lewe as ons nou die moeite doen om Jehovah bly te maak deur sagmoedigheid aan te kweek.

LIED 120 Volg Christus se sagmoedigheid na

^ par. 5 Nie een van ons is met sagmoedigheid gebore nie. Ons moet leer om sagmoedig te wees. Dit is dalk vir ons maklik om sagmoedig te wees wanneer ons met vreedsame mense te doen het, maar dit is dalk moeilik om sagmoedig te bly wanneer ons met trotse mense te doen het. Hierdie artikel bespreek party van die uitdagings wat ons dalk moet oorkom sodat ons die pragtige eienskap van sagmoedigheid kan ontwikkel.

^ par. 3 WAT DIT BETEKEN: Sagmoedigheid. Sagmoedige mense behandel ander op ’n vriendelike manier en is saggeaard selfs wanneer hulle uitgetart word. Nederigheid. Mense wat nederig is, is nie trots of arrogant nie. Hulle beskou ander as hoër as hulleself. Wanneer daar gesê word dat Jehovah nederig is, beteken dit dat hy diegene wat ondergeskik is aan hom op ’n liefdevolle en genadige manier behandel.

^ par. 12 Die Babiloniërs het die drie Hebreërs die name Sadrag, Mesag en Abednego gegee. – Dan. 1:7.

^ par. 18 Sien byvoorbeeld die artikel “Neem besluite wat God eer” in Die Wagtoring van 15 April 2011.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus bly sagmoedig en kalm terwyl hy sy dissipels reghelp nadat hulle gestry het oor wie die grootste is.