Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 8

Hoekom moet ons wys dat ons dankbaar is?

Hoekom moet ons wys dat ons dankbaar is?

“Toon dat julle dankbaar is.” – KOL. 3:15.

LIED 46 Ons dank u, Jehovah

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe het ’n Samaritaan gewys dat hy dankbaar is nadat Jesus hom genees het?

DIE tien manne was desperaat. Hulle het melaatsheid gehad en hulle toestand sou net vererger. Maar eendag het hulle Jesus, die Groot Leermeester, van ver af sien aankom. Hulle het gehoor dat Jesus alle soorte siektes genees het, en hulle was oortuig dat hy hulle ook kon genees. Daarom het hulle uitgeroep: “Jesus, Onderrigter, wees ons barmhartig!” Hy het toe die tien manne heeltemal genees. Hulle almal was natuurlik baie dankbaar vir Jesus se goedhartigheid. Maar een van hulle het nie net dankbaar gevoel nie – hy het ook gewys dat hy dankbaar * is vir wat Jesus gedoen het. Hierdie geneesde man, ’n Samaritaan, was gemotiveer om God “met ’n harde stem” te verheerlik. – Luk. 17:12-19.

2-3. (a) Hoekom wys ons dalk nie altyd dat ons dankbaar is nie? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Net soos die Samaritaan wil ons wys dat ons dankbaar is teenoor dié wat goedhartig is. Maar soms vergeet ons om dankie te sê of om te wys dat ons dankbaar is.

3 In hierdie artikel gaan ons bespreek hoekom dit belangrik is om te wys dat ons dankbaar is. Ons gaan leer uit die voorbeelde van party Bybelkarakters wat dankbaar was en ander wat nie dankbaar was nie. Dan gaan ons na spesifieke maniere kyk oor hoe ons kan wys dat ons dankbaar is.

HOEKOM MOET ONS WYS DAT ONS DANKBAAR IS?

4-5. Hoekom moet ons wys dat ons dankbaar is?

4 Jehovah stel vir ons die voorbeeld oor hoe ons kan wys dat ons dankbaar is. Een manier waarop hy dit doen, is deur diegene wat hom bly maak, te beloon (2 Sam. 22:21; Ps. 13:6; Matt. 10:40, 41). En die Bybel moedig ons aan om “navolgers van God, as geliefde kinders” te word (Ef. 5:1). Ons wil Jehovah se voorbeeld navolg, en dit is ’n belangrike rede hoekom ons moet wys dat ons dankbaar is.

5 Kyk na nog ’n rede hoekom ons vir ander wil wys dat ons dankbaar is. Dankbaarheid is soos ’n lekker ete – ons geniet dit meer wanneer ons dit met ander deel. Wanneer ons voel dat ons waardeer word, maak dit ons gelukkig. Wanneer ons wys dat ons ander waardeer, maak dit hulle gelukkig. Die persoon aan wie ons ons dankbaarheid betoon, weet dat wat hy vir ons gedoen of gegee het, ons regtig gehelp het. Dit sal ons vriendskap met daardie persoon versterk.

6. Hoe kan woorde van dankbaarheid soos goue appels wees?

6 Ons woorde van dankbaarheid is kosbaar. Die Bybel sê: “Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word” (Spr. 25:11). Stel jou voor hoe pragtig ’n appel wat van goud gemaak is, in silwersnywerk sal lyk! En dink net hoe waardevol dit sal wees! Hoe sou jy voel as jy so ’n geskenk sou kry? Wel, wanneer jy vir ander sê hoe dankbaar jy is, kan dit net so waardevol wees. En dink aan hierdie feit: ’n Appel wat van goud gemaak is, kan vir ’n baie lang tyd hou. Net so sal ’n persoon jou woorde van dankbaarheid dalk vir die res van sy lewe onthou, en dit sal vir hom iets kosbaars wees.

HULLE HET GEWYS DAT HULLE DANKBAAR IS

7. Hoe het Dawid, volgens Psalm 27:4, gewys dat hy dankbaar is, en hoe het ander psalmskrywers dieselfde gedoen?

7 Baie van God se knegte in die verlede het gewys dat hulle dankbaar is. Dawid was een van hulle. (Lees Psalm 27:4.) Hy het ’n baie groot waardering vir rein aanbidding gehad en dit kon in sy dade gesien word. Hy het ’n groot hoeveelheid van sy rykdom gegee om te help met die bou van die tempel. Asaf se nakomelinge het gewys dat hulle dankbaar is deur psalms, of lofliedere, te skryf. In een lied het hulle vir God gesê dat hulle dankbaar is en Jehovah vereer vir sy “wonderbare werke” (Ps. 75:1). Dit is duidelik dat Dawid en die nakomelinge van Asaf vir Jehovah wou wys dat hulle al die seëninge wat hulle van hom ontvang het, baie waardeer. Kan jy aan maniere dink hoe jy die psalmskrywers kan navolg?

Wat leer Paulus se brief aan die Romeine ons oor hoe om dankbaar te wees? (Sien paragraaf 8-9) *

8-9. Hoe het die apostel Paulus gewys dat hy sy broers en susters waardeer, en wat was ongetwyfeld die resultaat?

8 Die apostel Paulus het sy broers en susters waardeer, en hy het dit gewys in die manier hoe hy oor hulle gepraat het. Hy het altyd in sy persoonlike gebede vir God gesê dat hy dankbaar is vir hulle. Hy het ook in sy briewe wat hy aan hulle geskryf het, gewys dat hy hulle waardeer. In die eerste 15 verse van Romeine 16 het Paulus die name van 27 mede-Christene genoem. Paulus het spesifiek gesê dat Prisca en Aquila “hulle nekke vir [sy] siel gewaag het”, en hy het Febe beskryf as “’n verdediger van baie”, insluitende homself. Hy het hierdie dierbare, hardwerkende broers en susters geprys. – Rom. 16:1-15.

9 Paulus het geweet dat sy broers en susters onvolmaak is, maar aan die einde van sy brief aan die Romeine het hy op hulle goeie eienskappe gefokus. Stel jou voor hoe aanmoedigend dit vir daardie broers en susters was toe hulle hoor hoe Paulus se woorde hardop voor die gemeente gelees word! Dit moes ongetwyfeld hulle vriendskap met Paulus versterk het. Sê jy gereeld vir die broers en susters in jou gemeente hoe dankbaar jy is vir die goeie dinge wat hulle doen en sê?

10. Wat kan ons leer uit die manier waarop Jesus vir sy volgelinge gesê het hoeveel hy hulle waardeer?

10 In sy boodskappe aan sekere gemeentes in Klein-Asië het Jesus gewys dat hy die werk wat sy volgelinge doen, waardeer. Hy het byvoorbeeld sy boodskap aan die gemeente in Tiatira begin deur te sê: “Ek ken jou dade en jou liefde en geloof en bediening en volharding en weet dat jou dade in die laaste tyd meer is as dié van vroeër” (Op. 2:19). Jesus het nie net genoem dat hulle meer doen nie, maar hy het hulle ook geprys vir die eienskappe wat hulle gemotiveer het om goeie dinge te doen. Alhoewel Jesus vir party in Tiatira moes raad gee, het hy nog steeds aan die begin en aan die einde van sy boodskap aanmoedigende woorde gebruik (Op. 2:25-28). Dink aan die gesag wat Jesus het as die hoof van al die gemeentes. Hy hoef nie vir ons dankie te sê vir die werk wat ons vir hom doen nie. Maar tog maak hy ’n punt daarvan om te sê hoe dankbaar hy is. Hy stel beslis ’n uitstekende voorbeeld vir ouer manne!

HULLE HET GEWYS DAT HULLE NIE DANKBAAR IS NIE

11. Hoe het Esau oor heilige dinge gevoel, volgens Hebreërs 12:16?

11 Ongelukkig het party Bybelkarakters gewys dat hulle nie dankbaar is nie. Byvoorbeeld, alhoewel Esau deur ouers grootgemaak is wat lief was vir Jehovah en Hom gerespekteer het, het hy nie waardering vir heilige dinge gehad nie. (Lees Hebreërs 12:16.) Hoe het hy gewys dat hy ondankbaar is? Esau was oorhaastig en het sy geboortereg aan sy jonger broer, Jakob, vir ’n bord kos verkoop (Gen. 25:30-34). Esau was later baie spyt oor die keuse wat hy gemaak het. Maar hy was nie dankbaar vir wat hy gehad het nie, en daarom het hy nie ’n rede gehad om te kla toe hy nie gekry het wat hy as eersgeborene moes kry nie.

12-13. Hoe het die Israeliete gewys dat hulle nie dankbaar is nie, en wat was die resultaat?

12 Die Israeliete het baie redes gehad om dankbaar te wees. Hulle is uit slawerny vrygelaat nadat Jehovah die Tien Plae oor Egipte gebring het. Toe het God hulle by die Rooisee gered deur die hele leërmag van Egipte te vernietig. Die Israeliete was so dankbaar hiervoor dat hulle ’n oorwinningslied gesing het om Jehovah te loof. Maar het hulle dankbaar gebly?

13 Toe die Israeliete nuwe uitdagings gehad het, het hulle gou al die goeie dinge vergeet wat Jehovah vir hulle gedoen het. Hulle het toe gewys hoe ondankbaar hulle is (Ps. 106:7). Hoe? “Die hele vergadering van die kinders van Israel het . . . teen Moses en Aäron begin murmureer.” Hulle het in werklikheid teen Jehovah gemurmureer (Eks. 16:2, 8). Hy was teleurgesteld omdat sy volk ondankbaar was. Hy het later voorspel dat hierdie hele geslag Israeliete in die wildernis sou sterf, behalwe Josua en Kaleb (Num. 14:22-24; 26:65). Kom ons kyk hoe ons dit kan vermy om hierdie slegte voorbeelde na te volg en hoe ons die goeie voorbeelde kan navolg.

WYS DAT JY DANKBAAR IS

14-15. (a) Hoe kan huweliksmaats wys dat hulle mekaar waardeer? (b) Hoe kan ouers hulle kinders leer om dankbaar te wees?

14 In die gesin. Die hele gesin kan daarby baat vind as hulle wys dat hulle mekaar waardeer. Huweliksmaats sal al hoe nader aan mekaar kom hoe meer hulle wys dat hulle mekaar waardeer. Dit sal ook vir hulle makliker wees om mekaar se foute te vergewe. ’n Man wat sy vrou waardeer, let nie net die goeie dinge op wat sy doen en sê nie, maar hy “staan [ook] op, en hy prys haar” (Spr. 31:10, 28). En ’n wyse vrou sê vir haar man watter spesifieke dinge sy oor hom waardeer.

15 Ouers, hoe kan julle julle kinders leer om dankbaar te wees? Onthou dat julle kinders julle sal navolg in wat julle doen en sê. Daarom moet julle ’n goeie voorbeeld stel deur vir julle kinders dankie te sê wanneer hulle dinge vir julle doen. Leer ook julle kinders om dankie te sê wanneer mense dinge vir hulle doen. Help julle kinders om te verstaan dat woorde van dankbaarheid uit die hart kom en dat hulle woorde ’n baie goeie uitwerking op ander kan hê. ’n Jong vrou met die naam Clary het byvoorbeeld gesê: “Toe my ma 32 jaar oud was, was sy skielik alleen met drie kinders wat sy op haar eie moes grootmaak. Toe ek 32 geword het, het ek gedink aan hoe moeilik dit vir haar op daardie ouderdom moes gewees het. Daarom het ek vir haar gesê hoe dankbaar ek is vir alles wat sy opgeoffer het om my en my broers groot te maak. Sy het onlangs vir my gesê dat my woorde vir haar baie kosbaar is, dat sy dikwels daaraan dink en dat dit haar dag altyd ophelder.”

Leer julle kinders om te wys dat hulle dankbaar is (Sien paragraaf 15) *

16. Gee ’n voorbeeld van hoe dit ander kan aanmoedig as ons wys dat ons hulle waardeer.

16 In die gemeente. Wanneer ons vir ons broers en susters wys dat ons hulle waardeer, moedig ons hulle aan. Byvoorbeeld, Jorge, ’n ouer man wat 28 jaar oud is, het ernstig siek geword. Hy kon ’n maand lank nie die vergaderinge bywoon nie. Selfs nadat hy weer die vergaderinge begin bywoon het, kon hy nog steeds nie dele op die vergaderinge doen nie. Jorge erken: “My beperkings en die feit dat ek nie my verantwoordelikhede in die gemeente kon nakom nie, het my waardeloos laat voel. Maar ná een vergadering het ’n broer vir my gesê: ‘Ek wil vir jou dankie sê vir die goeie voorbeeld wat jy vir my gesin stel. Jy het geen idee hoe baie ons dit geniet het om oor die afgelope paar jaar na jou toesprake te luister nie. Dit het ons gehelp om geestelik te groei.’ Ek het ’n knop in die keel en trane in my oë gekry. Sy woorde is net wat ek nodig gehad het.”

17. Hoe kan ons vir Jehovah wys dat ons sy vrygewigheid waardeer, volgens Kolossense 3:15?

17 Teenoor ons vrygewige God. Jehovah het ons ’n oorvloed geestelike voedsel gegee. Ons kry byvoorbeeld goeie raad deur middel van ons vergaderinge, tydskrifte en webwerwe. Het jy al ooit na ’n toespraak geluister, ’n artikel gelees of na JW Broadcasting gekyk en gedink: ‘Dit is net wat ek nodig gehad het’? Hoe kan ons vir Jehovah wys dat ons sy vrygewigheid waardeer? (Lees Kolossense 3:15.) Een manier is deur gereeld in gebed vir hom dankie te sê vir hierdie goeie gawes. – Jak. 1:17.

Om die Koninkryksaal skoon te maak is ’n uitstekende manier om te wys dat ons dankbaar is (Sien paragraaf 18)

18. Hoe kan ons wys dat ons dankbaar is vir ons Koninkryksaal?

18 Nog ’n manier hoe ons vir Jehovah kan wys dat ons dankbaar is, is deur ons plek van aanbidding skoon en netjies te hou. Ons help gereeld om die Koninkryksaal skoon te maak en in stand te hou. En dié wat die elektroniese toerusting hanteer wat deur die gemeente gebruik word, maak seker dat hulle dit nie beskadig nie. Wanneer ons mooi na ons Koninkryksale kyk, sal dit langer hou en sal ons minder herstelwerk hoef te doen. Op hierdie manier sal daar meer geld beskikbaar wees om ander Koninkryksale regoor die wêreld te bou en te herstel.

19. Wat het jy uit die ondervinding van ’n kringopsiener en sy vrou geleer?

19 Teenoor diegene wat hard werk vir ons. Ons woorde van dankbaarheid kan ’n persoon anders laat voel oor die uitdagings wat hy of sy het. Kyk na die ondervinding van ’n kringopsiener en sy vrou. Ná ’n lang wintersdag in die bediening het hulle na hulle verblyf teruggegaan en was hulle baie moeg. Dit was so koud dat sy vrou in haar winterjas gaan slaap het. Die volgende oggend het sy vir haar man gesê dat sy nie meer in die reisende werk wil wees nie. Later daardie selfde oggend het sy ’n brief van die takkantoor gekry. Die brief het haar hartlik geprys vir haar bediening en volharding. Dit het erken hoe moeilik dit kan wees om elke week in ’n nuwe plek te bly. Haar man het gesê: “Sy was so diep geraak deur hierdie woorde dat sy nooit weer gesê het dat sy nie meer in die reisende werk wil wees nie. Sy het eintlik ’n hele paar keer vir my aangemoedig om aan te hou wanneer ek daaraan gedink het om op te hou.” Hierdie paartjie het amper 40 jaar lank reisende werk gedoen.

20. Wat moet ons elke dag probeer doen, en hoekom?

20 Ons moet elke dag probeer om te wys dat ons dankbaar is deur wat ons doen en sê. Ons opregte woorde en dade kan dalk net wees wat iemand nodig het om deur nog ’n dag in hierdie ondankbare wêreld te kom. En wanneer ons wys dat ons dankbaar is, sal ons vriendskappe opbou wat vir ewig sal hou. Maar die belangrikste is dat ons ons vrygewige en dankbare Vader, Jehovah, sal navolg.

LIED 20 Die gawe van u Seun

^ par. 5 Wat kan ons leer by Jehovah, Jesus en ’n melaatse Samaritaan oor hoe ons kan wys dat ons dankbaar is? Dié artikel gaan hierdie voorbeelde en ander bespreek. Ons gaan leer hoekom dit so belangrik is om te wys dat ons dankbaar is, en ons gaan na ’n paar spesifieke maniere kyk oor hoe ons dit kan doen.

^ par. 1 WAT DIT BETEKEN: Om dankbaar teenoor iemand of vir iets te wees, beteken dat ons besef hoe waardevol daardie persoon of item is. Hierdie woord kan verwys na gevoelens van opregte waardering.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENT: Paulus se brief word vir die gemeente in Rome gelees; Aquila, Priscilla, Febe en ander is baie bly om hulle name te hoor.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ma help haar dogter om te wys hoe dankbaar sy is vir die goeie voorbeeld wat ’n ouer suster stel.