Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 9

Liefde en geregtigheid in eertydse Israel

Liefde en geregtigheid in eertydse Israel

“Hy het regverdigheid en geregtigheid lief. Die aarde is vol van die liefderyke goedhartigheid van Jehovah.” – PS. 33:5.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Wat wil ons almal graag hê? (b) Waarvan kan ons seker wees?

ONS almal wil graag hê dat ander vir ons moet lief wees. En ons almal wil graag regverdig behandel word. As ander ons gereeld sleg en onregverdig behandel, sal ons dalk waardeloos en sonder hoop voel.

2 Jehovah weet dat ons baie graag liefde en geregtigheid wil hê (Ps. 33:5). Ons kan daarvan seker wees dat ons God ons baie liefhet en dat hy wil hê dat ons regverdig behandel moet word. Ons kan die bewyse daarvan sien wanneer ons na die Wet kyk wat Jehovah deur Moses aan die nasie Israel gegee het. As jou hart smag na liefde of as jy onregverdig behandel is, kan die Mosaïese Wet * jou help om te sien dat Jehovah vir sy knegte omgee.

3. (a) Wat leer ons wanneer ons die Wet van Moses bestudeer, soos verduidelik word in Romeine 13:8-10? (b) Watter vrae sal hierdie artikel beantwoord?

3 Wanneer ons die Wet van Moses bestudeer, leer ons oor die tere gevoelens van ons liefdevolle God, Jehovah. (Lees Romeine 13:8-10.) In hierdie artikel sal ons na ’n paar van die wette kyk wat aan Israel gegee is en die volgende vrae beantwoord: Hoekom kan ons sê dat die Wet op liefde gebaseer was? Hoekom kan ons sê dat die Wet geregtigheid bevorder het? Hoe moes dié wat die leiding geneem het die Wet toepas? En veral wie was deur die Wet beskerm? Die antwoorde op hierdie vrae kan ons vertroos, hoop gee en ons nader aan ons liefdevolle Vader bring. – Hand. 17:27; Rom. 15:4.

DIE WET VAN MOSES WAS OP LIEFDE GEBASEER

4. (a) Hoekom kan ons sê dat die Wet van Moses op liefde gebaseer was? (b) Watter gebooie het Jesus beklemtoon in Matteus 22:36-40?

4 Ons kan sê dat die Wet van Moses op liefde gebaseer was omdat liefde die motivering is vir alles wat Jehovah doen (1 Joh. 4:8). Jehovah het die Wet van Moses op twee basiese gebooie baseer – wees lief vir God en wees lief vir jou naaste. (Lev. 19:18; Deut. 6:5; lees Matteus 22:36-40.) Daarom kan ons verwag dat elkeen van die meer as 600 gebooie waaruit die Wet bestaan ons iets oor Jehovah se liefde leer. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

5-6. Wat wil Jehovah hê moet getroude paartjies doen, en waarvan is Jehovah bewus? Gee ’n voorbeeld.

5 Wees getrou aan jou huweliksmaat, en sorg vir jou kinders. Jehovah wil hê dat getroude paartjies se liefde vir mekaar so sterk moet word dat dit ’n leeftyd sal duur (Gen. 2:24; Matt. 19:3-6). Om egbreuk te pleeg is een van die ergste dinge wat ’n persoon kan doen, en dit is glad nie liefdevol nie. Daarom het die sewende gebod van die Tien Gebooie egbreuk verbied (Deut. 5:18). Dit is ’n sonde “teen God” en ’n wrede ding om aan ’n persoon se huweliksmaat te doen (Gen. 39:7-9). ’n Onskuldige huweliksmaat sal dalk baie jare later nog steeds die pyn van daardie ontrouheid voel.

6 Jehovah is ten volle bewus van hoe huweliksmaats mekaar behandel. Hy wou veral hê dat Israelitiese vrouens goed behandel moes word. ’n Man wat die Wet gerespekteer het, sou sy vrou liefhê en nie sonder goeie rede van haar skei nie (Deut. 24:1-4; Matt. 19:3, 8). Maar as daar wel ’n ernstige probleem ontstaan het en hy van haar geskei het, moes hy vir haar ’n skeibrief gee. Hierdie brief het haar teen enige beskuldiging van onsedelikheid beskerm. En voordat hy die skeibrief vir sy vrou kon gee, moes hy blykbaar eers met die ouer manne van die stad gaan praat. Op hierdie manier het die ouer manne die geleentheid gehad om die paartjie te help om hulle huwelik te red. Wanneer ’n Israelitiese man vir selfsugtige redes van sy vrou geskei het, het Jehovah nie altyd iets daaromtrent gedoen nie. Maar hy het wel die trane van die vrou gesien en haar pyn gevoel. – Mal. 2:13-16.

Jehovah wou hê dat kinders gelukkig moes wees en veilig moes voel terwyl hulle op ’n liefdevolle manier deur hulle ouers grootgemaak en geleer word (Sien paragraaf 7-8) *

7-8. (a) Wat het Jehovah ouers beveel om te doen? (Sien prent op voorblad.) (b) Watter lesse leer ons?

7 Die Wet wys ook dat Jehovah wil hê dat kinders gelukkig moet wees en veilig moet voel. Jehovah het ouers beveel om nie net na hulle kinders se fisiese behoeftes om te sien nie, maar ook na hulle geestelike behoeftes. Ouers moes van elke geleentheid gebruik maak om hulle kinders te leer om Jehovah se Wet te waardeer en om hom lief te hê (Deut. 6:6-9; 7:13). Een van die redes hoekom Jehovah die Israeliete gestraf het, is omdat hulle party van hulle kinders verskriklik mishandel het (Jer. 7:31, 33). Ouers moes hulle kinders beskou, nie as besittings wat hulle kon verwaarloos of mishandel nie, maar as ’n erfenis, ’n geskenk van Jehovah wat hulle moes waardeer. – Ps. 127:3.

8 Lesse: Jehovah let op hoe huweliksmaats mekaar behandel. Hy wil hê dat ouers hulle kinders moet liefhê, en hy hou hulle verantwoordelik vir die manier waarop hulle hulle kinders behandel.

9-11. Hoekom het Jehovah die wet gegee wat hebsug verbied?

9 Moenie begeer wat aan ander behoort nie. Die laaste gebod van die Tien Gebooie het hebsug, of die verkeerde begeerte na iets wat aan ander behoort, verbied (Deut. 5:21; Rom. 7:7). Jehovah het hierdie wet aan sy volk gegee om hulle ’n belangrike les te leer – hulle moes hulle hart beskerm, dit wil sê hulle gedagtes en gevoelens. Hy weet dat goddelose gedagtes en gevoelens tot goddelose dade lei (Spr. 4:23). As ’n Israeliet toegelaat het dat verkeerde begeertes in sy hart ontwikkel, sou hy ander heel moontlik nie op ’n liefdevolle manier behandel nie. Koning Dawid het byvoorbeeld in hierdie strik getrap. Hy was oor die algemeen ’n goeie man. Maar by een geleentheid het hy ’n ander man se vrou begeer. Sy begeerte het tot sonde gelei (Jak. 1:14, 15). Dawid het egbreuk gepleeg, die vrou se man probeer bedrieg en hom toe laat doodmaak. – 2 Sam. 11:2-4; 12:7-11.

10 Jehovah het geweet wanneer ’n Israeliet ongehoorsaam was aan die wet oor hebsug – Hy kan harte lees (1 Kron. 28:9). Die wet oor hebsug het sy volk gewaarsku dat hulle gedagtes moes vermy wat kon veroorsaak dat hulle slegte dinge doen. Jehovah is beslis ’n wyse en liefdevolle Vader!

11 Lesse: Jehovah sien meer as net ’n persoon se uiterlike voorkoms. Hy sien ons hart, die werklike persoon (1 Sam. 16:7). Geen gedagtes, gevoelens en dade kan van hom af weggesteek word nie. Hy fokus op ons goeie eienskappe en help ons om dit te ontwikkel. Maar hy wil hê dat ons verkeerde gedagtes moet identifiseer en beheer voordat dit tot verkeerde dade lei. – 2 Kron. 16:9; Matt. 5:27-30.

DIE WET VAN MOSES HET GEREGTIGHEID BEVORDER

12. Wat word deur die Wet van Moses beklemtoon?

12 Die Wet van Moses beklemtoon ook dat Jehovah geregtigheid liefhet (Ps. 37:28; Jes. 61:8). Hy stel die volmaakte voorbeeld van hoe om ander regverdig te behandel. Wanneer die Israeliete gehoorsaam was aan die wette wat Jehovah hulle gegee het, het hy hulle geseën. Wanneer hulle sy regverdige standaarde geïgnoreer het, het hulle die gevolge daarvan gedra. Kyk na twee ander wette in die Tien Gebooie.

13-14. Wat het die eerste twee van die Tien Gebooie vereis, en hoe sou die Israeliete daarby baat gevind het as hulle aan hierdie wette gehoorsaam was?

13 Aanbid slegs vir Jehovah. Die eerste twee van die Tien Gebooie het vereis dat die Israeliete hulle uitsluitlik aan Jehovah toewy en het hulle teen afgodediens gewaarsku (Eks. 20:3-6). Hierdie gebooie was nie om Jehovah te bevoordeel nie, maar eerder om sy volk te bevoordeel. Wanneer sy volk lojaal aan hom was, het dit goed met hulle gegaan. Wanneer hulle die gode van ander nasies aanbid het, het dit sleg met hulle gegaan.

14 Dink aan die Kanaäniete. Hulle het lewelose afgode aanbid eerder as die ware en lewende God. As gevolg daarvan het hulle hulleself verlaag (Ps. 115:4-8). Hulle het as deel van hulle aanbidding verskriklike dinge gedoen, soos om onrein seksuele dade te pleeg en kinderofferandes te maak. Net so het die Israeliete hulleself verlaag en hulle gesinne seergemaak wanneer hulle Jehovah geïgnoreer het en gekies het om afgode te aanbid (2 Kron. 28:1-4). Diegene wat die leiding geneem het, het Jehovah se standaarde van geregtigheid verwerp. Hulle het hulle mag misbruik en die swakkes en weerloses onderdruk (Eseg. 34:1-4). Jehovah het die Israeliete gewaarsku dat hy dié sou straf wat hulpelose vroue en kinders sleg behandel het (Deut. 10:17, 18; 27:19). Maar Jehovah het sy volk geseën wanneer hulle lojaal aan hom was en mekaar regverdig behandel het. – 1 Kon. 10:4-9.

Jehovah is lief vir ons en weet wanneer ons onregverdig behandel word (Sien paragraaf 15)

15. Watter lesse leer ons oor Jehovah?

15 Lesse: Jehovah kan nie blameer word wanneer dié wat sê dat hulle hom dien, sy standaarde ignoreer en sy volk sleg behandel nie. Maar Jehovah is lief vir ons en hy weet wanneer ons onregverdig behandel word. Hy verstaan ons pyn baie beter as wat ’n ma die pyn van haar baba kan verstaan (Jes. 49:15). Al doen hy nie onmiddellik iets omtrent die saak nie, sal hy op die regte tyd onberouvolle sondaars oordeel vir die manier waarop hulle ander behandel het.

HOE MOES DIE WET TOEGEPAS WORD?

16-18. Op watter gebiede van die lewe kon die Wet van Moses toegepas word, en watter lesse leer ons?

16 Die Wet van Moses kon op baie gebiede van ’n Israeliet se lewe toegepas word. Daarom was dit belangrik dat die aangestelde ouer manne Jehovah se volk regverdig oordeel. Hulle het nie net die verantwoordelikheid gehad om geestelike sake te hanteer nie, maar wanneer daar ’n misdaad gepleeg is of geskille tussen mense was, moes hulle dit ook hanteer. Kyk na die volgende voorbeelde.

17 As ’n Israeliet iemand doodgemaak het, was hy nie sommer net tereggestel nie. Die stad se ouer manne sou eers die saak ondersoek en dan besluit of hy die doodstraf moes kry (Deut. 19:2-7, 11-13). Die ouer manne het ook alledaagse sake hanteer, soos geskille oor besittings en geskille in die huwelik (Eks. 21:35; Deut. 22:13-19). Wanneer die ouer manne regverdig was en die Israeliete die Wet gehoorsaam het, het almal daarby baat gevind en het die nasie Jehovah verheerlik. – Lev. 20:7, 8; Jes. 48:17, 18.

18 Lesse: Elke gebied van ons lewe is vir Jehovah belangrik. Hy wil hê dat ons ander regverdig en liefdevol moet behandel. En hy let op wat ons doen en sê, selfs in die privaatheid van ons eie huis. – Heb. 4:13.

19-21. (a) Hoe moes ouer manne en regters God se volk behandel? (b) Hoe het die Wet van Moses die volk beskerm, en watter lesse leer ons?

19 Jehovah wou sy volk red van die slegte invloede van die nasies rondom hulle. Daarom het hy vereis dat die ouer manne en regters onpartydig moet wees wanneer hulle die Wet toepas. Maar dié wat moes oordeel, moes redelik wees en nie die volk sleg behandel nie. Hulle moes lief wees vir geregtigheid. – Deut. 1:13-17; 16:18-20.

20 Jehovah het meegevoel met sy volk, en daarom het hy wette gegee om te keer dat mense onregverdig behandel word. Byvoorbeeld, die Wet het die moontlikheid dat iemand valslik van ’n misdaad beskuldig word, beperk. Die beskuldigde het die reg gehad om te weet wie hom aankla (Deut. 19:16-19; 25:1). En voordat hy skuldig bevind kon word, moes daar ten minste twee getuies wees wat bewyse moes gee (Deut. 17:6; 19:15). Wat as ’n Israeliet ’n misdaad gepleeg het wat slegs deur een getuie gesien is? Hy kon nie net aanvaar dat hy daarmee sou wegkom nie. Jehovah het gesien wat hy doen. In die gesin het die pa die gesag gekry, maar sy gesag was beperk. Wanneer gesinne probleme gehad het, het die ouer manne van die stad in sommige gevalle die verantwoordelikheid gehad om betrokke te raak en ’n finale besluit te neem. – Deut. 21:18-21.

21 Lesse: Jehovah stel vir ons die volmaakte voorbeeld; hy is altyd regverdig (Ps. 9:7). Hy beloon dié wat lojaal is en sy standaarde gehoorsaam, maar hy straf dié wat hulle gesag misbruik (2 Sam. 22:21-23; Eseg. 9:9, 10). Party doen dalk slegte dinge, en dit lyk miskien asof hulle daarmee wegkom, maar wanneer Jehovah besluit dat dit die regte tyd is, sal hy hulle straf (Spr. 28:13). En as hulle nie berou toon nie, sal hulle binnekort leer dat dit “iets vreesliks [is] om in die hande van die lewende God te val”. – Heb. 10:30, 31.

VERAL WIE WAS DEUR DIE WET BESKERM?

Wanneer ouer manne geskille opgelos het, moes hulle Jehovah se liefde vir mense en vir geregtigheid navolg (Sien paragraaf 22) *

22-24. (a) Veral wie was deur die Wet beskerm, en wat leer ons oor Jehovah? (b) Watter waarskuwing is in Eksodus 22:22-24 opgeteken?

22 Die Wet het veral persone beskerm wat hulleself nie kon beskerm nie, soos weeskinders, weduwees en uitlanders. Daar was vir die regters in Israel gesê: “Jy mag die reg van die inwonende vreemdeling of van die vaderlose seun nie verdraai nie, en jy mag die kleed van ’n weduwee nie as pand neem nie” (Deut. 24:17). Jehovah het persoonlike belangstelling in die weerloses van die gemeenskap getoon. En hy het dié gestraf wat die weerloses mishandel het. – Lees Eksodus 22:22-24.

23 Die Wet het ook gesinne teen seksmisdade beskerm deur alle vorme van bloedskande te verbied (Lev. 18:6-30). Anders as die nasies rondom Israel, wat sulke gedrag toegelaat het of selfs goedgekeur het, moes Jehovah se volk hierdie soort gedrag beskou soos Hy dit beskou – as ’n walglike daad.

24 Lesse: Jehovah wil hê dat persone wat in verantwoordelike posisies is liefdevolle belangstelling moet toon in diegene oor wie hulle gesag het. Hy haat seksmisdade en wil hê dat almal, veral die weerloses, regverdig behandel en beskerm moet word.

DIE WET, “’N SKADUWEE . . . VAN DIE TOEKOMSTIGE GOEIE DINGE”

25-26. (a) Hoekom kan ons sê dat liefde en geregtigheid soos asem en lewe is? (b) Wat gaan ons in die volgende artikel van hierdie reeks bespreek?

25 Liefde en geregtigheid is soos asem en lewe; op die aarde kan die een nie sonder die ander een bestaan nie. Wanneer ons oortuig is dat Jehovah ons regverdig behandel, word ons liefde vir hom sterker. En wanneer ons God en sy regverdige standaarde liefhet, motiveer dit ons om ander lief te hê en hulle regverdig te behandel.

26 Die Mosaïese Wetsverbond was soos asem omdat dit lewe gegee het aan die verhouding tussen Jehovah en die Israeliete. Nadat Jesus die Wet vervul het, was dit nie meer vir God se volk nodig om die Wet te gehoorsaam nie. Dit was met iets beters vervang (Rom. 10:4). Die apostel Paulus het die Wet beskryf as “’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge” (Heb. 10:1). Die volgende artikel in hierdie reeks sal party van hierdie goeie dinge bespreek, asook die belangrike rol wat liefde en geregtigheid in die Christengemeente speel.

LIED 109 Toon intense liefde uit die hart

^ par. 5 Hierdie artikel is die eerste in ’n reeks van vier wat sal bespreek hoekom ons daarvan seker kan wees dat Jehovah vir ons omgee. Die ander drie artikels sal in Die Wagtoring van Mei 2019 verskyn. Die titels van hierdie artikels is: “Liefde en geregtigheid in die Christengemeente”, “Liefde en geregtigheid ondanks goddeloosheid” en “Vertroosting vir dié wat mishandel is”.

^ par. 2 WAT DIT BETEKEN: Die meer as 600 wette wat Jehovah deur Moses aan die Israeliete gegee het, word “die Wet”, “die Wet van Moses”, “die Mosaïese Wet” en “die gebooie” genoem. Die eerste vyf boeke van die Bybel (Genesis tot Deuteronomium) word ook dikwels die Wet genoem. Soms word hierdie term gebruik om na die hele geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte te verwys.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Israelitiese ma geniet dit om met haar dogters te gesels terwyl sy kos maak. In die agtergrond lei ’n pa sy seun op om vir die skape te sorg.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: Ouer manne by die stad se poort tree liefdevol op en help ’n weduwee en haar kind wat deur ’n plaaslike handelaar onregverdig behandel is.