Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

’n Sinagoge in die eerste eeu: Hierdie voorstelling beeld ’n paar kenmerke uit van die eerste-eeuse sinagoge in Gamla, wat 10 kilometer noordoos van die See van Galilea is. Dit wys hoe ’n sinagoge in die ou tyd dalk gelyk het

Wat is die oorsprong van die sinagoge?

DIE woord “sinagoge” kom van die Griekse woord wat “byeenkoms” of “bymekaarkom” beteken. Hierdie naam is gepas omdat Joodse gemeenskappe al vir ’n baie lang tyd by sinagoges bymekaarkom vir onderrigting en aanbidding. Die Hebreeuse Geskrifte verwys nie spesifiek na sinagoges nie, maar die Christelike Griekse Geskrifte wys duidelik dat sulke bymekaarkomplekke alreeds teen die eerste eeu HJ bestaan het.

Die meeste geleerdes glo dat sinagoges hulle oorsprong gehad het gedurende die tyd toe die Jode in gevangenis in Babilon was. Die Encyclopaedia Judaica sê: “Die ballinge, sonder die Tempel, in ’n vreemde land, het in hierdie moeilike tyd vertroosting nodig gehad, en daarom het hulle van tyd tot tyd, waarskynlik op ’n Sabbat, bymekaargekom en die Skrif gelees.” Toe die Jode uit Babilon vrygelaat is, het hulle blykbaar aangehou om bymekaar te kom om te bid en die Skrif te lees. Hulle het sinagoges begin waar hulle hulle ook al gevestig het.

Teen die eerste eeu HJ was sinagoges die middelpunt van die Joodse geloof en sosiale lewe vir gemeenskappe om die Middellandse See, regoor die Midde-Ooste en ook in Israel. Professor Lee Levine van die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem sê: “[Die sinagoge] was ’n plek waar mense studeer het, heilige maaltye geëet het, hofsake gehou het, fondse van die gemeenskap ingesamel het en politieke en sosiale vergaderinge gehou het.” Hy sê verder: “Godsdiensvergaderinge was natuurlik die belangrikste.” Daarom kan ons verstaan hoekom Jesus gereeld na die sinagoge gegaan het wanneer mense daar bymekaargekom het (Mark. 1:21; 6:2; Luk. 4:16). Hy het diegene wat daar was, onderrig, vermaan en aangemoedig. Nadat die Christengemeente gestig is, het die apostel Paulus ook gereeld in sinagoges gaan preek. Persone wat nader aan God wou kom, sou na die sinagoge gaan. Daarom het Paulus, wanneer hy by ’n stad aangekom het, gewoonlik eerste na die sinagoge gegaan om daar te preek. – Hand. 17:1, 2; 18:4.