Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 12

Wys dat jy besorg is oor ander se gevoelens

Wys dat jy besorg is oor ander se gevoelens

“Julle [moet] almal . . . meegevoel betoon.” – 1 PET. 3:8.

LIED 90 Bemoedig mekaar

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom geniet ons dit om tussen mense te wees wat besorg is oor ons gevoelens, volgens 1 Petrus 3:8?

ONS geniet dit om tussen mense te wees wat besorg is oor ons gevoelens. Hulle probeer om te verstaan wat ons dink en hoe ons voel. Hulle dink voor die tyd aan wat ons nodig het en bied aan om ons te help – soms nog voordat ons vir hulp vra. Ons waardeer mense wat wys dat hulle “meegevoel” * met ons het. – Lees 1 Petrus 3:8.

2. Hoekom moet ons dalk daaraan werk om empatie aan ander te betoon?

2 As Christene wil ons almal wys dat ons empatie, of meegevoel, met ander het. Maar dit is nie altyd maklik nie. Hoekom nie? Een rede is dat ons onvolmaak is (Rom. 3:23). Daarom moet ons hard daaraan werk om aan ander te dink omdat ons geneig is om net aan onsself te dink. Party van ons sukkel dalk ook om empatie aan ander te betoon as gevolg van hoe ons grootgeword het of as gevolg van dinge wat in die verlede met ons gebeur het. En ons kan dalk ook beïnvloed word deur die gesindheid van die mense om ons. In hierdie laaste dae dink baie mense nie aan ander se gevoelens nie. Hulle is eerder “liefhebbers van hulleself” (2 Tim. 3:1, 2). Wat kan ons help om hierdie uitdagings te oorkom wat dit vir ons moeilik maak om besorg te wees oor ander se gevoelens?

3. (a) Hoe kan ons daarin verbeter om meegevoel te betoon? (b) Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ons kan daarin verbeter om meegevoel te betoon deur Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, na te volg. Jehovah is ’n God van liefde, en hy stel die beste voorbeeld van hoe om besorg te wees oor ander (1 Joh. 4:8). Jesus het sy Vader se persoonlikheid volmaak nagevolg (Joh. 14:9). Terwyl hy op die aarde was, het hy gewys hoe mense medelye kan betoon. In hierdie artikel gaan ons eers bespreek hoe Jehovah en Jesus gewys het dat hulle besorg is oor ander se gevoelens. Dan sal ons kyk hoe ons hulle voorbeelde kan navolg.

HOE JEHOVAH GEWYS HET DAT HY BESORG IS OOR ANDER

4. Hoe wys Jesaja 63:7-9 dat Jehovah besorg is oor sy knegte se gevoelens?

4 Die Bybel leer dat Jehovah besorg is oor sy knegte se gevoelens. Dink byvoorbeeld aan hoe Jehovah gevoel het toe die eertydse Israeliete deur beproewinge gegaan het. God se Woord sê: “In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak.” (Lees Jesaja 63:7-9.) Later, deur middel van Sagaria, het Jehovah gesê dat dit hom persoonlik raak wanneer sy volk mishandel word. Jehovah het vir sy knegte gesê: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel” (Sag. 2:8). Wat ’n kragtige beskrywing van Jehovah se besorgdheid vir sy volk!

Jehovah het medelye met die Israeliete gehad en hulle uit slawerny in Egipte bevry (Sien paragraaf 5)

5. Gee ’n voorbeeld van wat Jehovah gedoen het om sy knegte te help wat gely het.

5 Jehovah voel nie net medelye vir sy knegte wat ly nie, hy doen ook iets om hulle te help. Byvoorbeeld, toe die Israeliete as slawe in Egipte swaargekry het, het Jehovah hulle pyn verstaan en wou hy iets doen om hulle te help. Jehovah het vir Moses gesê: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk . . . , en ek het hulle geroep gehoor . . . ek weet goed watter pyn hulle ly. En ek daal neer om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos” (Eks. 3:7, 8). Omdat Jehovah medelye met sy volk gehad het, het hy hulle uit slawerny bevry. Honderde jare later, in die Beloofde Land, is die Israeliete deur vyande aangeval. Hoe het Jehovah gereageer? Hy “het spyt gevoel oor hulle gekerm weens hulle onderdrukkers en dié wat hulle rondgestoot het”. Jehovah het weer eens empatie met sy volk gehad, en daarom het hy iets gedoen om hulle te help. Hy het rigters gestuur om die Israeliete van hulle vyande te red. – Rigt. 2:16, 18.

6. Gee ’n voorbeeld van hoe Jehovah gewys het dat hy besorg is oor die gevoelens van iemand wie se denke verkeerd was.

6 Jehovah wys dat hy besorg is oor sy knegte se gevoelens – selfs al is hulle denke soms verkeerd. Dink aan die voorbeeld van Jona. God het hierdie profeet gestuur om ’n boodskap van oordeel teen die Nineviete te verkondig. Toe hulle berou getoon het, het God besluit om hulle nie te vernietig nie. Maar Jona was nie gelukkig met hierdie besluit nie. Hy het “kwaad geword” omdat sy profesie nie waar geword het nie. Maar Jehovah was geduldig met Jona en het hom gehelp om sy denke reg te stel (Jona 3:10–4:11). Jona het later die punt gesnap, en Jehovah het hom selfs gebruik om hierdie verslag op te teken sodat ons daarby kan baat vind. – Rom. 15:4. *

7. Waarvan word ons verseker wanneer ons lees oor hoe Jehovah sy knegte behandel het?

7 Die manier hoe Jehovah sy volk behandel het, verseker ons dat hy empatie met sy knegte het. Hy is bewus van die pyn en lyding wat elkeen van ons ondervind. Jehovah “ken die hart van die mensekinders goed” (2 Kron. 6:30). Hy verstaan ons diepste gedagtes en emosies, asook ons beperkings. En “hy sal nie toelaat dat [ons] versoek word bo wat [ons] kan verdra nie” (1 Kor. 10:13). Hierdie belofte is baie vertroostend!

HOE JESUS GEWYS HET DAT HY BESORG IS OOR ANDER

8-10. Wat het Jesus gehelp om besorg te wees oor ander?

8 Toe Jesus as ’n mens op aarde gelewe het, was hy baie besorg oor ander. Daar is ten minste drie dinge wat hom gehelp het om vir ander om te gee. Eerstens, soos vroeër genoem is, het Jesus sy hemelse Vader se persoonlikheid volmaak weerspieël. Net soos sy Vader het Jesus mense liefgehad. Al het Jesus dit baie geniet om Jehovah te help om alles te maak, was hy veral lief vir mense (Spr. 8:31). Liefde het Jesus gemotiveer om besorg te wees oor ander se gevoelens.

9 Tweedens, net soos Jehovah, kon Jesus harte lees. Hy kon mense se beweegredes en gevoelens onderskei (Matt. 9:4; Joh. 13:10, 11). Wanneer Jesus gesien het dat mense baie hartseer was, het sy besorgdheid hom gemotiveer om hulle te vertroos. – Jes. 61:1, 2; Luk. 4:17-21.

10 Derdens het Jesus self party van die uitdagings ervaar wat mense om hom gehad het. Byvoorbeeld, Jesus het blykbaar in ’n arm gesin grootgeword. Hy het by sy pleegvader, Josef, geleer hoe om harde fisiese werk te doen (Matt. 13:55; Mark. 6:3). Josef het blykbaar die een of ander tyd voor die einde van Jesus se bediening gesterf. Daarom weet Jesus waarskynlik hoe dit voel as ’n geliefde sterf. Jesus het ook geweet hoe dit voel om familielede te hê wat nie dieselfde godsdiensoortuigings het nie (Joh. 7:5). Hierdie en ander omstandighede sou Jesus gehelp het om die uitdagings en gevoelens van gewone mense te verstaan.

Omdat Jesus medelye het, neem hy ’n dowe man weg van die skare om hom te genees (Sien paragraaf 11)

11. Wanneer kon Jesus se besorgdheid duidelik gesien word? Verduidelik. (Sien prent op voorblad.)

11 Jesus se besorgdheid kon duidelik gesien word toe hy wonderwerke gedoen het. Jesus het nie wonderwerke gedoen omdat hy dit moes doen nie. Hy was “beweeg deur innige jammerte” vir dié wat gely het (Matt. 20:29-34; Mark. 1:40-42). Dink byvoorbeeld hoe Jesus moes gevoel het terwyl hy ’n dowe man weg van die skare geneem het om hom te genees of hoe hy gevoel het toe hy die enigste seun van ’n weduwee opgewek het (Mark. 7:32-35; Luk. 7:12-15). Jesus het simpatie met hierdie mense gehad en wou hulle help.

12. Hoe wys Johannes 11:32-35 dat Jesus meegevoel met Marta en Maria gehad het?

12 Jesus het gewys dat hy meegevoel met Marta en Maria gehad het. Toe hy gesien het hoe hartseer hulle was oor die dood van hulle broer, Lasarus, het Jesus “trane gestort”. (Lees Johannes 11:32-35.) Hy het nie gehuil omdat hy ’n baie goeie vriend verloor het nie. Hy het geweet dat hy Lasarus gaan opwek. Jesus het eerder gehuil omdat hy die pyn en hartseer van sy dierbare vriende verstaan het en daardeur geraak is.

13. Hoe moedig dit ons aan om te weet dat Jesus meegevoel met ander het?

13 Ons vind baie daarby baat om te leer van Jesus se meegevoel. Ons is natuurlik nie volmaak soos hy was nie. Maar ons is lief vir hom vir die manier waarop hy ander behandel het (1 Pet. 1:8). Dit moedig ons aan om te weet dat hy nou as Koning van God se Koninkryk regeer. Hy sal binnekort ’n einde maak aan alle lyding. Omdat Jesus as ’n mens op die aarde gelewe het, is hy in die beste posisie om mense te help herstel van die wonde wat deur Satan se heerskappy veroorsaak is. Ons is beslis geseënd om ’n Heerser te hê wat “met ons swakhede kan simpatiseer”. – Heb. 2:17, 18; 4:15, 16.

VOLG JEHOVAH EN JESUS SE VOORBEELD NA

14. Wat word ons beweeg om te doen, volgens Efesiërs 5:1, 2?

14 Wanneer ons nadink oor Jehovah en Jesus se voorbeeld, beweeg dit ons om meer meegevoel aan ander te betoon. (Lees Efesiërs 5:1, 2.) Ons kan nie soos Jehovah en Jesus harte lees nie. Maar ons kan probeer om die gevoelens en behoeftes van ander te verstaan (2 Kor. 11:29). Ons is nie soos die selfsugtige mense in die wêreld nie. Ons probeer om nie net ‘’n oog op ons eie sake te hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van ander’. – Fil. 2:4.

(Sien paragraaf 15-19) *

15. Veral wie moet wys dat hulle meegevoel het?

15 Dit is veral gemeentelike ouer manne wat moet wys dat hulle meegevoel het. Hulle weet dat Jehovah hulle verantwoordelik hou vir die manier waarop hulle sy skape behandel (Heb. 13:17). Ouer manne moet empatie hê om hulle broers en susters te help. Hoe kan ouer manne wys dat hulle meegevoel het?

16. Wat doen ’n ouer man wat simpatie het, en hoekom is dit belangrik?

16 ’n Ouer man wat simpatie het, spandeer tyd saam met sy Christenbroers en -susters. Hy vra vrae en luister dan aandagtig en geduldig. Dit is veral belangrik wanneer een van hierdie dierbare skape hulle hart wil uitstort, maar sukkel om die regte woorde te kry (Spr. 20:5). Wanneer ’n ouer man bereid is om van sy tyd te gee om saam met sy broers en susters te wees, versterk dit hulle vriendskap en liefde en bou dit vertroue tussen hulle op. – Hand. 20:37.

17. Watter eienskap waardeer baie broers en susters die meeste in ouer manne? Gee ’n voorbeeld.

17 Baie broers en susters sê dat die eienskap wat hulle die meeste in gemeentelike ouer manne waardeer, is hulle besorgdheid oor ander se gevoelens. Hoekom? Adelaide sê: “Dit is makliker om met hulle te praat omdat jy weet dat hulle jou sal verstaan.” Sy sê verder: “Jy kan sien dat hulle meegevoel met jou het deur die manier hoe hulle reageer wanneer jy met hulle praat.” ’n Broer wat dankbaar is oor die manier hoe ’n ouer man hom behandel het, sê: “Ek het gesien hoe een ouer man trane in sy oë kry terwyl hy oor my situasie gedink het. Ek sal dit altyd onthou.” – Rom. 12:15.

18. Hoe kan ons meegevoel vir ander ontwikkel?

18 Dit is natuurlik nie net ouer manne wat meegevoel moet betoon nie. Ons almal kan hierdie eienskap ontwikkel. Hoe? Probeer verstaan wat familielede en broers en susters deurmaak. Toon belangstelling in die tieners in jou gemeente, in dié wat siek en bejaard is en in dié wat ’n geliefde aan die dood verloor het. Vra hoe dit met hulle gaan. Gee hulle jou volle aandag wanneer hulle vir jou sê hoe hulle voel. Wys dat jy regtig hulle situasie verstaan. Bied aan om hulle te help hoe jy ook al kan. Wanneer ons dit doen, wys ons dat ons liefde opreg is. – 1 Joh. 3:18.

19. Hoekom moet ons aanpasbaar wees wanneer ons ander probeer help?

19 Ons moet aanpasbaar wees wanneer ons ander probeer help. Hoekom? Want mense reageer op verskillende maniere wanneer hulle deur moeilike tye gaan. Party wil graag praat, terwyl ander nie daarvan hou om oor hulle probleme te praat nie. Alhoewel ons graag wil help, moet ons dit vermy om vrae te vra wat hulle ongemaklik sal laat voel (1 Tess. 4:11). Selfs al sê party hoe hulle voel, sal ons dalk nie altyd saamstem met wat hulle sê nie. Maar ons moet besef dat dit is hoe hulle voel. Ons moet gou wees om te hoor en stadig wees om te praat. – Matt. 7:1; Jak. 1:19.

20. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 Ons wil nie net in die gemeente meegevoel betoon nie, maar ook in die bediening. Hoe kan ons meegevoel betoon wanneer ons dissipels maak? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

LIED 130 Wees vergewensgesind

^ par. 5 Jehovah en Jesus is besorg oor ander se gevoelens. In hierdie artikel gaan ons sien wat ons uit hulle voorbeelde kan leer. Ons sal ook bespreek hoekom ons meegevoel moet betoon en hoe ons dit kan doen.

^ par. 1 WAT DIT BETEKEN: Om “meegevoel” te betoon beteken om die gevoelens van ander te probeer verstaan en om dieselfde te voel (Rom. 12:15). In hierdie artikel het die woorde “meegevoel” en “besorgdheid” dieselfde betekenis.

^ par. 6 Jehovah het ook medelye betoon aan ander getroue persone toe hulle mismoedig of bang was. Dink aan die verslae van Hanna (1 Sam. 1:10-20), Elia (1 Kon. 19:1-18) en Ebed-Meleg (Jer. 38:7-13; 39:15-18).

^ par. 65 BESKRYWING VAN PRENT: Vergaderinge by die Koninkryksaal gee vir ons baie geleenthede om meegevoel aan ander te betoon. Ons sien (1) ’n ouer man wat op ’n liefdevolle manier met ’n jong verkondiger en sy ma praat, (2) ’n pa en sy dogter wat ’n ouer suster na haar kar toe help en (3) twee ouer manne wat aandagtig na ’n suster luister wat vir raad vra.