Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 13

Betoon meegevoel in jou bediening

Betoon meegevoel in jou bediening

“Hy is ontroer deur innige jammerte vir hulle . . . En hy het hulle baie dinge begin leer.” – MARK. 6:34.

LIED 70 Soek dié wat dit waardig is

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat is een aspek van Jesus se persoonlikheid wat ons hart die meeste raak? Verduidelik.

EEN aspek van Jesus se persoonlikheid wat ons hart die meeste raak, is sy vermoë om die uitdagings te verstaan wat ons as onvolmaakte mense het. Toe Jesus op die aarde was, kon hy “bly [wees] saam met mense wat bly is” en “huil saam met mense wat huil” (Rom. 12:15). Byvoorbeeld, toe 70 van sy dissipels met vreugde teruggekeer het van ’n suksesvolle predikingskampanje, het Jesus “begin oorloop van vreugde in die heilige gees” (Luk. 10:17-21). Maar toe Jesus sien watter uitwerking Lasarus se dood gehad het op dié wat vir hom lief was, het hy “in die gees gekreun en verontrus geword”. – Joh. 11:33.

2. Wat het Jesus gehelp om meegevoel met mense te hê?

2 Wat het hierdie volmaakte man gehelp om sondige mense met soveel genade en medelye te behandel? Eerstens, Jesus was lief vir mense. Soos in die vorige artikel genoem is, was Jesus veral lief vir mense (Spr. 8:31). Hierdie liefde vir mense het hom gemotiveer om die manier waarop mense dink goed te verstaan. Die apostel Johannes het verduidelik: “Hy het . . . geweet wat in die mens is” (Joh. 2:25). Jesus het baie medelye vir ander gehad. Mense kon sy liefde vir hulle aanvoel en het na die Koninkryksboodskap geluister. Hoe meer ons sulke medelye vir mense ontwikkel, hoe beter sal ons ons bediening kan uitvoer. – 2 Tim. 4:5.

3-4. (a) Hoe sal ons oor ons bediening voel as ons meegevoel het? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Die apostel Paulus het geweet dat hy die verantwoordelikheid gehad het om te preek, en ons het ook (1 Kor. 9:16). Maar as ons meegevoel met ander het, sal ons nie net preek omdat ons dit moet doen nie, maar ook omdat ons vir mense omgee en hulle graag wil help. Ons weet dat dit “groter geluk [verskaf] om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Hoe meer ons hierdie beskouing van ons bediening het, hoe meer sal ons dit geniet.

4 In hierdie artikel gaan ons leer hoe ons meegevoel in ons bediening kan betoon. Eerstens gaan ons kyk hoe Jesus oor mense gevoel het en wat ons daaruit kan leer. Dan gaan ons na vier maniere kyk hoe ons sy voorbeeld kan navolg. – 1 Pet. 2:21.

JESUS HET MEEGEVOEL IN DIE BEDIENING BETOON

Meegevoel het Jesus gemotiveer om ’n vertroostende boodskap te verkondig (Sien paragraaf 5-6)

5-6. (a) Vir wie het Jesus meegevoel gehad? (b) Hoekom het Jesus jammer gevoel vir die mense vir wie hy gepreek het, soos voorspel is in Jesaja 61:1, 2?

5 Kyk na ’n voorbeeld van hoe Jesus meegevoel betoon het. By een geleentheid was Jesus en sy dissipels baie moeg omdat hulle die goeie nuus verkondig het sonder om te rus. Hulle het nie eers “tyd gehad om te eet nie”. Daarom het Jesus en sy dissipels “na ’n eensame plek vertrek om alleen te wees” en om ‘’n bietjie te rus’. Maar ’n groot skare het vooruitgehardloop na die plek waarheen Jesus en sy dissipels op pad was. Hoe het Jesus gereageer toe hy daar aankom en die mense sien? “Hy is ontroer deur innige jammerte * vir hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder. En hy het hulle baie dinge begin leer.” – Mark. 6:30-34.

6 Hoekom het Jesus hierdie mense jammer gekry, of meegevoel met hulle gehad? Hy het gesien dat hulle “soos skape sonder ’n herder” was. Miskien het Jesus gesien dat party van hulle arm was en baie hard moes werk om vir hulle gesin te sorg. Dalk was ander baie hartseer omdat iemand vir wie hulle lief was, gesterf het. As dit die geval was, kon Jesus hulle situasie waarskynlik verstaan. Soos ons in die vorige artikel gesien het, het Jesus dalk self van hierdie probleme ervaar. Jesus was besorg oor ander, en hy wou hulle vertroos. – Lees Jesaja 61:1, 2.

7. Hoe kan ons Jesus se voorbeeld navolg?

7 Wat leer ons uit Jesus se voorbeeld? Net soos Jesus is ons omring deur mense wat “soos skape sonder ’n herder” is. Hulle het baie probleme. Ons het wat hulle nodig het – die Koninkryksboodskap (Op. 14:6). Daarom volg ons ons Heer na en verkondig ons die goeie nuus omdat ons “jammer voel vir die geringe en die arme” (Ps. 72:13). Ons het medelye met mense, en ons wil iets doen om hulle te help.

HOE ONS MEEGEVOEL KAN BETOON

Dink aan wat elke persoon nodig het (Sien paragraaf 8-9)

8. Wat is een manier hoe ons meegevoel in die bediening kan betoon? Gee ’n voorbeeld.

8 Wat kan ons help om meegevoel te hê met die mense vir wie ons preek? Ons moet ons voorstel hoe hulle dink en voel, en dan moet ons hulle behandel soos ons graag behandel wil word (Matt. 7:12). * Kom ons bespreek vier spesifieke maniere hoe ons dit kan doen. Eerstens, dink aan wat elke persoon nodig het. Ons kan die werk om die goeie nuus te verkondig vergelyk met die werk wat ’n dokter doen. ’n Goeie dokter dink aan wat elke pasiënt nodig het. Hy vra vrae en luister dan aandagtig terwyl die pasiënt vir hom sê hoe hy voel en wat sy simptome is. In plaas daarvan om die eerste behandeling voor te skryf waaraan hy kan dink, sal hy dalk eers meer toetse doen om te bepaal wat fout is en dan die regte behandeling voorskryf. Net so moet ons nie dieselfde metode gebruik met elkeen wat ons in ons bediening ontmoet nie. Ons wil eerder probeer om die spesifieke omstandighede en beskouings van elke persoon te verstaan.

9. Wat moet ons vermy, en wat wil ons eerder doen?

9 Wanneer jy iemand in die bediening ontmoet, moet jy nie aanneem dat jy weet wat sy omstandighede is of wat hy glo en hoekom hy dit glo nie (Spr. 18:13). Vra eerder taktvolle vrae om die persoon te leer ken en om uit te vind waarin hy glo (Spr. 20:5). As dit gepas is in jou kultuur, vra hom oor sy werk, sy gesin, sy agtergrond en sy beskouings. Wanneer ons vrae vra, laat ons hulle eintlik toe om vir ons te sê hoekom hulle die goeie nuus nodig het. Wanneer ons weet wat hulle spesifieke behoeftes is, kan ons meegevoel betoon en hulle dan die hulp gee wat hulle nodig het, net soos Jesus gedoen het. – Vergelyk 1 Korintiërs 9:19-23.

Probeer jou voorstel hoe die persoon vir wie jy preek se lewe is (Sien paragraaf 10-11)

10-11. Wat is ’n tweede manier hoe ons meegevoel kan betoon, in ooreenstemming met 2 Korintiërs 4:7, 8? Gee ’n voorbeeld.

10 Tweedens, probeer jou voorstel hoe hulle lewe is. Op ’n manier kan ons hulle situasie verstaan aangesien ons ook onvolmaak is en probleme het (1 Kor. 10:13). Ons weet dat die lewe in hierdie wêreld baie moeilik kan wees. Ons volhard slegs met Jehovah se hulp. (Lees 2 Korintiërs 4:7, 8.) Maar dink aan dié wat nie ’n goeie vriendskap met Jehovah het nie. Dit moet vir hulle baie moeilik wees om sonder sy hulp in hierdie wêreld te lewe. Net soos Jesus voel ons jammer vir hulle, en motiveer dit ons om vir hulle “goeie nuus van iets beters” te vertel. – Jes. 52:7.

11 Kyk na die voorbeeld van ’n broer met die naam Sergei. Voordat Sergei die waarheid geleer het, was hy baie teruggetrokke. Dit was vir hom baie moeilik om met ander te praat. Later het hy ’n Bybelstudie aanvaar. Sergei sê: “In my Bybelstudie het ek geleer dat Christene ’n verpligting het om ander van hulle geloof te vertel. Ek was vas oortuig dat ek dit nooit sou kon doen nie.” Maar hy het gedink aan dié wat nog nie die waarheid gehoor het nie, en hy kon hom net voorstel hoe moeilik hulle lewe moet wees omdat hulle Jehovah nie ken nie. Hy sê verder: “Die nuwe dinge wat ek geleer het, het my baie gelukkig gemaak en innerlike vrede gegee. Ek het geweet dat ander ook hierdie waarhede moet leer.” Hoe meer meegevoel Sergei ontwikkel het, hoe meer moed het hy gekry om te preek. “Tot my groot verbasing,” sê Sergei, “het dit my in werklikheid meer selfvertroue gegee om met ander oor die Bybel te praat. Dit het ook my geloof in hierdie nuwe opvattings versterk.” *

Party sal dalk meer tyd nodig hê om geestelike vordering te maak (Sien paragraaf 12-13)

12-13. Hoekom moet ons geduldig wees wanneer ons mense in die bediening onderrig? Gee ’n voorbeeld.

12 Derdens, wees geduldig wanneer jy mense onderrig. Onthou, hulle het dalk nog nooit gedink aan party van die Bybelwaarhede wat ons baie goed ken nie. En baie voel sterk oor die dinge waarin hulle glo. Hulle voel dalk dat hulle geloof hulle nader bring aan hulle familie, kultuur en gemeenskap. Hoe kan ons hulle help?

13 Dink aan hierdie vergelyking: Wat gebeur wanneer ’n brug wat oud en in ’n slegte toestand is, vervang moet word? Dikwels word ’n nuwe brug gebou terwyl die ou brug nog steeds gebruik word. Wanneer die nuwe brug klaar is, kan die ou brug afgebreek word. Net so moet ons dalk eers mense help om waardering op te bou vir “nuwe” waarhede – Bybelleringe wat hulle aan die begin nie geken het nie – voordat ons hulle vra om hulle “ou” oortuigings agter te laat waaraan hulle baie geheg was. Eers dan sal hulle gereed wees om van hulle vorige oortuigings weg te breek. Dit sal dalk tyd neem om mense te help om sulke veranderinge te maak. – Rom. 12:2.

14-15. Hoe kan ons mense help wat min of niks weet oor die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe nie? Gee ’n voorbeeld.

14 As ons geduldig is met mense in die bediening, sal ons nie van hulle verwag om Bybelwaarhede te verstaan of te aanvaar wanneer hulle dit vir die eerste keer hoor nie. Ons meegevoel sal ons eerder beweeg om hulle oor ’n tydperk te help redeneer oor wat die Bybel sê. Kyk byvoorbeeld hoe ons dalk met iemand sal redeneer oor die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Baie mense weet min of niks oor hierdie lering nie. Hulle dink dalk dat die dood die einde van alles is. Of hulle dink miskien dat alle goeie mense hemel toe gaan. Hoe kan ons hulle help?

15 ’n Broer vertel watter metode hy gebruik om mense te help om hieroor te redeneer. Eerstens lees hy Genesis 1:28. Dan vra hy die huisbewoner waar God wou hê die mens moes bly en watter soort lewe hy vir hulle wou hê. Die meeste mense sê: “Hy wou hê dat hulle op die aarde moes lewe en gelukkig moes wees.” Volgende lees die broer Jesaja 55:11, en dan vra hy of God se voorneme verander het. Baie keer sê die huisbewoner nee. Laastens lees die broer Psalm 37:10, 11, en dan vra hy wat die toekoms vir die mens inhou. Deur die Bybel op hierdie manier te gebruik, het hy al ’n hele paar mense gehelp om te verstaan dat God nog steeds wil hê dat goeie mense vir ewig op ’n paradysaarde moet lewe.

Om iets goeds te doen, soos om ’n aanmoedigende brief te stuur, kan goeie resultate hê (Sien paragraaf 16-17)

16-17. Met Spreuke 3:27 in gedagte, wat is ’n paar praktiese maniere hoe ons kan wys dat ons meegevoel met ander het? Gee ’n voorbeeld.

16 Vierdens, dink aan praktiese maniere hoe jy vir mense kan wys dat jy vir hulle omgee. Byvoorbeeld, het ons op ’n ongeleë tyd aan ’n huisbewoner se deur geklop? Ons kan jammer sê en dan vra of ons kan terugkom op ’n tyd wat hulle pas. Wat as ’n huisbewoner hulp nodig het met ’n klein takie? Of wat as iemand vir die een of ander rede nie die huis kan verlaat nie en hy iemand nodig het om iets vir hom te gaan doen? In sulke gevalle kan ons die persoon dalk help. – Lees Spreuke 3:27.

17 ’n Suster het goeie resultate gehad nadat sy iets goeds gedoen het wat dalk onbelangrik gelyk het. Omdat sy meegevoel gehad het, het sy ’n brief vir ’n gesin geskryf wat ’n kind in die dood verloor het. In die brief was daar ’n paar vertroostende Bybeltekste. Hoe het die gesin gereageer? Die bedroefde ma het geskryf: “Ek het gister ’n baie slegte dag gehad. Ek dink nie jy het enige idee watter uitwerking jou brief op ons gehad het nie. Ek kan nie genoeg dankie sê of selfs beskryf hoe baie dit vir ons beteken het nie. Ek het gister jou brief seker meer as 20 keer gelees. Ek kon nie glo hoe liefdevol en vertroostend dit was nie. Dankie uit die diepte van ons hart.” Ons kan beslis goeie resultate hê wanneer ons probeer verstaan hoe mense voel wat ly en hulle dan probeer help.

BEHOU ’N GEBALANSEERDE BESKOUING VAN JOU ROL

18. Watter gebalanseerde beskouing wil ons behou, volgens 1 Korintiërs 3:6, 7?

18 Ons wil natuurlik ’n gebalanseerde beskouing van ons rol in die bediening behou. Ons help ander om oor God te leer, maar ons speel nie die belangrikste rol nie. (Lees 1 Korintiërs 3:6, 7.) Jehovah is die een wat mense na hom toe trek (Joh. 6:44). Op die einde van die dag sal elke persoon se reaksie op die goeie nuus afhang van wat in sy hart is (Matt. 13:4-8). Onthou dat die meeste mense nie na Jesus se boodskap geluister het nie – en hy was die grootste Onderrigter wat nog ooit gelewe het! Daarom moet ons glad nie mismoedig raak as die meeste mense vir wie ons probeer help, nie na ons boodskap wil luister nie.

19. Watter goeie resultate sal ons hê wanneer ons meegevoel in die bediening betoon?

19 Ons sal goeie resultate hê wanneer ons meegevoel in die bediening betoon. Ons sal ons predikingswerk meer geniet. Ons sal gelukkiger wees omdat ons aan ander gee. En ons maak dit makliker vir dié “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het om die goeie nuus te aanvaar (Hand. 13:48). Laat ons dan, “solank ons die geleentheid het, . . . aan almal goed doen” (Gal. 6:10). Dan sal ons gelukkig wees omdat ons heerlikheid aan ons hemelse Vader gee. – Matt. 5:16.

LIED 64 Neem vreugdevol deel aan die oeswerk

^ par. 5 Wanneer ons meegevoel betoon, kan dit ons gelukkiger maak en kan ons selfs beter resultate in die bediening hê. Hoekom is dit so? In hierdie artikel gaan ons kyk wat ons uit Jesus se voorbeeld kan leer. Ons gaan ook na vier spesifieke maniere kyk hoe ons meegevoel kan betoon teenoor dié wat ons in die predikingswerk ontmoet.

^ par. 5 WAT DIT BETEKEN: In hierdie konteks beteken innige jammerte om medelye te hê vir iemand wat ly of wat sleg behandel is. Sulke gevoelens kan ’n persoon beweeg om te doen wat hy ook al kan om mense te help.

^ par. 8 Sien die artikel “Volg die Gulde Reël in jou bediening” in Die Wagtoring van 15 Mei 2014.