Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 10

Wat keer my om gedoop te word?

Wat keer my om gedoop te word?

“Hulle het albei in die water afgeklim, Filippus sowel as die eunug; en hy het hom gedoop.” – HAND. 8:38.

LIED 52 Christelike toewyding

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het Adam en Eva verloor, en wat was die gevolg?

WIE dink jy moet die standaard stel vir wat goed en sleg is? Toe Adam en Eva die vrug geëet het van die boom van die kennis van goed en kwaad, het hulle dit duidelik gemaak dat hulle Jehovah en sy standaarde nie vertrou nie. Hulle het besluit om hulle eie standaarde te stel vir wat goed en sleg is (Gen. 3:22). Maar dink aan wat hulle verloor het. Hulle het hulle vriendskap met Jehovah verloor. Hulle het ook die geleentheid verloor om vir ewig te lewe, en hulle het sonde en die dood aan hulle kinders oorgedra (Rom. 5:12). Adam en Eva se besluit het baie pyn en hartseer veroorsaak.

Nadat die Etiopiese eunug geloof in Jesus gestel het, wou hy so gou as moontlik gedoop word (Sien paragraaf 2-3)

2-3. (a) Hoe het die Etiopiese eunug gereageer toe Filippus vir hom gepreek het? (b) Watter seëninge kry ons as ons gedoop word, en watter vrae sal ons bespreek?

2 Vergelyk die manier hoe Adam en Eva opgetree het met hoe die Etiopiese eunug gereageer het toe Filippus vir hom gepreek het. Die eunug was so dankbaar vir wat Jehovah en Jesus vir hom gedoen het dat hy hom onmiddellik laat doop het (Hand. 8:34-38). Wanneer ons ons aan God toewy en, soos die eunug, gedoop word, maak ons dit duidelik dat ons dankbaar is vir wat Jehovah en Jesus vir ons gedoen het. Ons wys ook dat ons Jehovah vertrou en erken dat hy die een is wat die standaard moet stel vir wat goed en sleg is.

3 Dink net aan die seëninge wat ons kry wanneer ons Jehovah dien! Byvoorbeeld, ons kan daarna uitsien om uiteindelik alles te kry wat Adam en Eva verloor het, insluitende die geleentheid om vir ewig te lewe. Jehovah vergewe ons foute en gee ons ’n skoon gewete omdat ons geloof in Jesus Christus het (Matt. 20:28; Hand. 10:43). Ons word ook deel van Jehovah se familie van goedgekeurde knegte met ’n wonderlike toekoms wat op ons wag (Joh. 10:14-16; Rom. 8:20, 21). Maar ten spyte van hierdie wonderlike voordele het party wat Jehovah leer ken het, nog nie die Etiopiese eunug se voorbeeld gevolg nie. Wat keer hulle dalk om gedoop te word? En hoe kan hulle hierdie uitdagings oorkom?

UITDAGINGS WAT KEER DAT PARTY GEDOOP WORD

Uitdagings wat jou dalk keer om gedoop te word

Te min selfvertroue (Sien paragraaf 4-5) *

4-5. Watter uitdagings het ’n jong man met die naam Avery en ’n jong vrou met die naam Hannah gehad?

4 Te min selfvertroue. Avery se ouers is Getuies. Sy pa het ’n uitstekende reputasie as ’n liefdevolle pa en ’n bekwame ouer man. Maar daar was iets wat Avery teruggehou het om gedoop te word. Wat was dit? Hy het gedink dat hy nooit so goed soos sy pa kon wees nie. Hy het ook gedink dat hy nie die verantwoordelikhede kon hanteer wat hy dalk in die toekoms sou kry nie. “Ek was bekommerd dat hulle my sou vra om in die openbaar te bid, om toesprake te hou of om by ’n velddiensreëling die leiding te neem”, het hy gesê.

5 Hannah, wat 18 jaar oud is, het baie min selfvertroue gehad. Sy is grootgemaak deur ouers wat Jehovah dien. Maar sy het nog steeds getwyfel of sy volgens Jehovah se standaarde kon lewe. Hoekom? Hannah het ’n baie lae selfbeeld ontwikkel. Partykeer het sy so sleg gevoel dat sy haarself opsetlik seergemaak het, wat dinge net vererger het. Sy het gesê: “Ek het vir niemand gesê wat ek gedoen het nie, nie eers vir my ouers nie, en ek het gedink dat Jehovah my nooit sou wou hê nie as gevolg van wat ek aan myself gedoen het.”

Die invloed van vriende (Sien paragraaf 6) *

6. Wat het Vanessa gekeer om gedoop te word?

6 Die invloed van vriende. Vanessa, wat 22 jaar oud is, sê: “Ek het ’n baie goeie vriendin gehad wat ek amper tien jaar lank geken het.” Maar Vanessa se vriendin wat nie ’n Getuie is nie, het haar nie gehelp om haar doelwit te bereik om gedoop te word nie. Dit het Vanessa baie seergemaak. Sy sê: “Dit is vir my moeilik om vriende te maak, en ek was bekommerd dat as ek die vriendskap beëindig, ek nooit weer ’n goeie vriendin sou hê nie.”

Vrees vir mislukking (Sien paragraaf 7) *

7. Waarvoor was ’n jong vrou met die naam Makayla bang, en hoekom?

7 Vrees vir mislukking. Makayla was vyf jaar oud toe haar broer uitgesit is. Terwyl sy grootgeword het, het sy gesien watter uitwerking haar broer se optrede op haar ouers gehad het. Makayla sê: “Ek was bang dat as ek gedoop word, ek ’n fout sou maak, uitgesit sou word en selfs meer hartseer vir my ouers sou veroorsaak.”

Vrees vir teenstand (Sien paragraaf 8) *

8. Waarvoor was ’n jong man met die naam Miles bang?

8 Vrees vir teenstand. Miles se pa en stiefma dien Jehovah, maar sy ma is nie ’n Getuie nie. Miles sê: “Ek het 18 jaar lank by my ma gebly, en ek was bang om vir haar te sê dat ek gedoop wou word. Ek het gesien hoe sy gereageer het toe my pa ’n Getuie word. Ek was bang dat sy die lewe vir my moeilik sou maak.”

HOE KAN JY DIE UITDAGINGS OORKOM?

9. Wat sal waarskynlik gebeur wanneer jy leer hoe liefdevol en geduldig Jehovah is?

9 Adam en Eva het gekies om Jehovah nie te dien nie omdat hulle nie ’n sterk liefde vir hom ontwikkel het nie. Maar Jehovah het hulle nog steeds toegelaat om lank genoeg te lewe om kinders te hê en self te besluit hoe hulle hulle kinders wou grootmaak. Die gevolge van Adam en Eva se besluit om onafhanklik van Jehovah te wees, het duidelik gewys hoe dwaas hulle was. Hulle oudste seun het sy onskuldige broer vermoor, en mettertyd het mense meer en meer gewelddadig en selfsugtig geword (Gen. 4:8; 6:11-13). Maar Jehovah het alreeds ’n manier gehad om Adam en Eva se kinders wat hom wil dien, te red (Joh. 6:38-40, 57, 58). Terwyl jy meer leer oor hoe geduldig en liefdevol Jehovah is, sal jou liefde vir hom waarskynlik sterker word. Jy sal nie Adam en Eva se slegte voorbeeld wil navolg nie. Jy sal eerder jouself aan Jehovah wil toewy.

Hoe jy hierdie uitdagings kan oorkom

(Sien paragraaf 9-10) *

10. Hoe kan dit jou help om Jehovah te dien as jy oor Psalm 19:7 nadink?

10 Hou aan om oor Jehovah te leer. Hoe meer jy oor Jehovah leer, hoe meer vertroue sal jy hê dat jy getrou aan hom kan wees. Avery, wat vroeër genoem is, sê: “Ek het meer selfvertroue opgebou deur te lees en na te dink oor die belofte in Psalm 19:7.” (Lees.) Toe Avery sien hoe Jehovah hierdie belofte nakom, het sy liefde vir God sterker geword. Liefde bou nie net ons selfvertroue op nie, maar dit help ons ook om op Jehovah te fokus en op wat hy wil hê. Hannah, wat vroeër genoem is, sê: “My persoonlike Bybellees en studie het my help besef dat wanneer ek myself seermaak, ek ook vir Jehovah seermaak” (1 Pet. 5:7). Hannah het ’n ‘dader van God se woord geword’ (Jak. 1:22). Hoe het dit haar gehelp? Sy sê: “Toe ek sien hoe dit my gehelp het om Jehovah te gehoorsaam, het ek ’n sterk liefde vir hom ontwikkel. Nou is ek seker dat Jehovah my altyd sal help wanneer ek sy hulp nodig het.” Hannah kon die sterk gevoel oorkom om haarself seer te maak. Sy het haarself aan Jehovah toegewy en is gedoop.

(Sien paragraaf 11) *

11. Wat het Vanessa gedoen om goeie vriende te maak, en wat kan ons daaruit leer?

11 Kies jou vriende wyslik. Vanessa, wat vroeër genoem is, het uiteindelik besef dat haar vriendin haar terughou om Jehovah te dien, en daarom het sy die vriendskap beëindig. Maar Vanessa het selfs meer gedoen. Sy het hard gewerk om nuwe vriende binne die gemeente te maak. Sy sê dat die voorbeeld wat Noag en sy familie gestel het, haar baie gehelp het. “Hulle was omring deur mense wat nie vir Jehovah lief was nie,” sê sy, “maar hulle het goeie assosiasie met mekaar geniet.” Nadat Vanessa gedoop is, het sy begin pionier. Nou sê sy: “Dit het my gehelp om nie net goeie vriende in my eie gemeente te maak nie, maar ook in ander gemeentes.” Jy kan ook goeie vriende maak deur soveel as moontlik te doen in die werk wat Jehovah ons gegee het. – Matt. 24:14.

(Sien paragraaf 12-15) *

12. Watter soort vrees het Adam en Eva nie gehad nie, en wat was die gevolge?

12 Leer om die regte soort vrees te hê. Party soorte vrees is goed vir ons. Ons moet byvoorbeeld ’n vrees hê om enigiets te doen wat Jehovah se hart sal seermaak (Ps. 111:10). As Adam en Eva hierdie soort vrees ontwikkel het, sou hulle nie teen Jehovah in opstand gekom het nie. Maar hulle het in opstand gekom. Nadat hulle dit gedoen het, is hulle oë geopen deurdat hulle besef het dat hulle sondaars is. Hulle kon net sonde en die dood aan hulle kinders oordra. Aangesien hulle hulle toestand verstaan het, het hulle skaam geword omdat hulle naak was en het hulle hulleself bedek. – Gen. 3:7, 21.

13-14. (a) Hoekom moet ons nie ’n buitengewone vrees vir die dood hê nie, volgens 1 Petrus 3:21? (b) Watter redes het ons om Jehovah lief te hê?

13 Alhoewel ons ’n gesonde vrees vir Jehovah moet hê, hoef ons nie ’n buitengewone vrees vir die dood te hê nie. Jehovah het dit vir ons moontlik gemaak om vir ewig te lewe. As ons gesondig het maar opreg berouvol is, sal Jehovah ons foute vergewe. Hy sal ons vergewe omdat ons geloof het in die losprysoffer van sy Seun. Een van die belangrikste maniere hoe ons wys dat ons geloof het, is deur ons lewe aan God toe te wy en gedoop te word. – Lees 1 Petrus 3:21.

14 Ons het baie redes om Jehovah lief te hê. Hy gee nie net vir ons die goeie dinge wat ons elke dag geniet nie, maar hy leer ons ook die waarheid oor homself en sy voornemens (Joh. 8:31, 32). Hy het ons die Christengemeente gegee om ons te help en ondersteun. Hy help ons met ons probleme, en hy gee ons die hoop om in die toekoms vir ewig onder volmaakte toestande te lewe (Ps. 68:19; Op. 21:3, 4). Wanneer ons nadink oor hoe baie Jehovah alreeds gedoen het om te wys dat hy ons liefhet, versterk dit ons liefde vir hom. En wanneer ons Jehovah liefhet, leer ons om die regte soort vrees te hê – ’n vrees om die Een seer te maak vir wie ons baie lief geword het.

15. Hoe het Makayla haar vrees vir mislukking oorkom?

15 Makayla, wat vroeër genoem is, het haar vrees vir mislukking oorkom toe sy verstaan het hoe vergewensgesind Jehovah is. Sy sê: “Ek het besef dat ons almal onvolmaak is en foute gaan maak. Maar ek het ook begin verstaan dat Jehovah ons liefhet en ons sal vergewe op grond van die losprys.” Haar liefde vir Jehovah het haar gemotiveer om haarself aan hom toe te wy en gedoop te word.

(Sien paragraaf 16) *

16. Hoe is Miles gehelp om sy vrees vir teenstand te oorkom?

16 Miles, wat bang was dat sy ma sy besluit om gedoop te word sou teëstaan, het die kringopsiener se raad gevra. “Hy het ook in ’n huis grootgeword waar net een ouer ’n Getuie is”, sê Miles. “Hy het my gehelp om te dink aan wat ek vir my ma kon sê om haar te oortuig dat dit my besluit is om gedoop te word en dat my pa my nie forseer om dit te doen nie.” Miles se ma was nie gelukkig met sy besluit nie. Hy moes toe uiteindelik uit die huis trek, maar hy het by sy besluit gebly. Hy sê: “Dit het my hart geraak om te leer oor al die goeie dinge wat Jehovah vir my gedoen het. Toe ek diep nagedink het oor die losprysoffer van Jesus, het ek begin besef hoe lief Jehovah vir my is. Dit het my gemotiveer om myself aan Jehovah toe te wy en gedoop te word.”

BLY BY JOU BESLUIT

Ons kan wys dat ons waardeer wat God vir ons gedoen het (Sien paragraaf 17)

17. Watter geleentheid het ons?

17 Toe Eva die vrug van daardie boom in Eden geëet het, het sy teen haar Vader in opstand gekom. Toe Adam ook van die vrug geëet het, het hy gewys dat hy glad nie die goeie dinge waardeer het wat Jehovah vir hom gedoen het nie. Ons almal het die geleentheid om te wys dat ons nie saamstem met die besluit wat Adam en Eva geneem het nie. Deur gedoop te word, wys ons vir Jehovah dat ons glo dat hy die gesag het om vir ons die standaard te stel vir wat reg en verkeerd is. Ons bewys dat ons lief is vir ons Vader en hom vertrou.

18. Hoe kan jy suksesvol wees in jou diens aan Jehovah?

18 Die uitdaging wat ons het nadat ons gedoop is, is om elke dag volgens Jehovah se standaarde te lewe, nie ons eie nie. Miljoene van God se knegte lewe op hierdie manier. Jy kan soos hulle wees as jy aanhou om God se Woord, die Bybel, beter te verstaan, as jy gereeld met jou broers en susters assosieer en as jy ywerig vir ander vertel wat jy oor jou liefdevolle Vader geleer het (Heb. 10:24, 25). Wanneer jy besluite neem, moet jy luister na die raad wat Jehovah jou deur sy Woord en sy organisasie gee (Jes. 30:21). Dan sal alles wat jy doen suksesvol wees. – Spr. 16:3, 20.

19. Wat moet jy altyd in gedagte hou, en hoekom?

19 As jy altyd in gedagte hou hoeveel jy by Jehovah se leiding baat vind, sal jou liefde vir hom en sy standaarde sterker word. Dan kan niks wat Satan jou aanbied jou van Jehovah se diens af weglok nie. Sien jouself ’n duisend jaar van nou af. Jy sal terugkyk op jou besluit om gedoop te word as die beste besluit wat jy ooit gemaak het!

LIED 28 Verkry Jehovah se vriendskap

^ par. 5 Die belangrikste besluit wat jy ooit sal maak, is om te besluit of jy gedoop sal word of nie. Hoekom is hierdie besluit so belangrik? Hierdie vraag sal in die artikel beantwoord word. Dit sal ook dié wat daaraan dink om gedoop te word, help om uitdagings te oorkom wat hulle dalk terughou.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: Selfvertroue: ’n Jong man is senuweeagtig om by die vergadering te antwoord.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENT: Vriende: ’n Jong Getuie wat saam met ’n vriendin is wat Jehovah nie dien nie, is skaam wanneer sy ander Getuies sien.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: Mislukking: ’n Jong meisie is bekommerd dat sy ook iets verkeerds sal doen nadat haar broer uitgesit is en die huis verlaat.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: Teenstand: ’n Seun is senuweeagtig om voor sy ongelowige ma te bid.

^ par. 65 BESKRYWING VAN PRENT: Selfvertroue: ’n Jong man verbeter sy persoonlike studie.

^ par. 67 BESKRYWING VAN PRENT: Vriende: ’n Jong Getuie leer om daarop trots te wees om ’n Getuie te wees.

^ par. 69 BESKRYWING VAN PRENT: Mislukking: ’n Jong meisie maak die waarheid haar eie en word gedoop.

^ par. 71 BESKRYWING VAN PRENT: Teenstand: ’n Seun verduidelik moedig vir sy ongelowige ma sy oortuigings.