Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 11

Luister na Jehovah se stem

Luister na Jehovah se stem

“Dit is my Seun . . . Luister na hom.” – MATT. 17:5.

LIED 89 Luister en doen wat God sê

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Hoe het Jehovah met mense gekommunikeer? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

JEHOVAH hou baie daarvan om met ons te kommunikeer. In die verlede het hy profete, engele en sy Seun, Christus Jesus, gebruik om sy gedagtes aan ons oor te dra (Amos 3:7; Gal. 3:19; Op. 1:1). Vandag kommunikeer hy met ons deur middel van sy Woord, die Bybel. Hy het dit vir ons gegee sodat ons kan leer hoe hy dink en sy weë kan verstaan.

2 Toe Jesus op die aarde was, het Jehovah by drie geleenthede uit die hemel gepraat. Kom ons kyk na wat Jehovah gesê het, wat ons uit sy woorde kan leer en hoe ons kan baat vind by wat hy gesê het.

“JY IS MY SEUN, DIE GELIEFDE”

3. Volgens Markus 1:9-11, wat het Jehovah gesê toe Jesus gedoop is, en watter belangrike feite het daardie woorde bevestig?

3 Die eerste geleentheid toe Jehovah uit die hemel gepraat het, is in Markus 1:9-11 opgeteken. (Lees.) Hy het gesê: “Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur.” Dit moes sekerlik Jesus se hart geraak het om te hoor hoe sy Vader vir hom sê dat hy hom liefhet en goedkeur! Jehovah se woorde het drie belangrike feite oor Jesus bevestig. Eerstens, Jesus is sy Seun. Tweedens, Jehovah is lief vir sy Seun. En derdens, Jehovah het sy Seun goedgekeur. Kom ons ondersoek hierdie drie feite.

4. Hoe het Jesus se verhouding met God verander toe hy gedoop is?

4 “Jy is my Seun.” Met hierdie woorde het Jehovah gewys dat sy verhouding met sy geliefde Seun, Jesus, verander het. Terwyl Jesus in die hemel was, was hy ’n geesseun van God. Maar toe hy gedoop is, is hy met heilige gees gesalf. Op daardie stadium het God aangedui dat Jesus as Sy gesalfde Seun die hoop gehad het om na die hemel terug te keer om God se aangestelde Koning en Hoëpriester te word (Luk. 1:31-33; Heb. 1:8, 9; 2:17). Daarom het sy Vader goeie rede gehad om by sy doop te sê: “Jy is my Seun.” – Luk. 3:22.

Ons floreer wanneer ons geprys en aangemoedig word (Sien paragraaf 5) *

5. Hoe kan ons Jehovah navolg in die manier waarop ons liefde betoon en ander aanmoedig?

5 “Jy is . . . die geliefde.” Die manier waarop Jehovah liefde aan sy Seun betoon het en hom goedgekeur het, herinner ons daaraan om na geleenthede te soek om ander aan te moedig (Joh. 5:20). Ons floreer wanneer iemand vir wie ons omgee, wys dat hulle ons liefhet en ons prys vir die goeie dinge wat ons doen. Net so het ons broers en susters in die gemeente en ons gesin ons liefde en aanmoediging nodig. Wanneer ons ander prys, versterk ons hulle geloof en help ons hulle om Jehovah lojaal te dien. Ouers moet veral hulle kinders aanmoedig. Wanneer ouers hulle kinders opreg prys en hulle met liefde behandel, help hulle hulle kinders om te floreer.

6. Hoekom kan ons vertroue in Jesus Christus hê?

6 “Ek het jou goedgekeur.” Hierdie woorde wys dat Jehovah die vertroue gehad het dat Jesus getrou sy Vader se wil sou doen. Jehovah het sulke vertroue in sy Seun, en daarom kan ons ook die volle vertroue hê dat Jesus al Jehovah se beloftes getrou sal vervul (2 Kor. 1:20). Wanneer ons oor Jesus se voorbeeld nadink, maak dit ons selfs meer vasbeslote om by hom te leer en sy voorbeeld na te volg. Jehovah het ook die vertroue dat sy knegte, as ’n groep, voort sal gaan om by sy Seun te leer. – 1 Pet. 2:21.

“LUISTER NA HOM”

7. Volgens Matteus 17:1-5, by watter geleentheid het Jehovah uit die hemel gepraat, en wat het hy gesê?

7 Lees Matteus 17:1-5. Die tweede keer toe Jehovah uit die hemel gepraat het, was toe Jesus “van gedaante verander” het. Jesus het vir Petrus, Jakobus en Johannes genooi om saam met hom teen ’n hoë berg op te gaan. Terwyl hulle daar was, het hulle ’n buitengewone visioen gesien. Jesus se gesig het helder geskyn en sy klere het geglinster. Twee figure, wat Moses en Elia afgebeeld het, het met Jesus begin praat oor sy komende dood en opstanding. Alhoewel die drie apostels “deur die slaap oorval” is, het hulle hierdie wonderlike visioen gesien toe hulle heeltemal wakker geword het (Luk. 9:29-32). ’n Helder wolk het toe oor hulle gekom, en hulle het ’n stem uit die wolk gehoor – God se stem! Net soos by Jesus se doop, het Jehovah gewys dat hy sy Seun goedkeur en hom liefhet deur te sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het.” Maar hierdie keer het Jehovah bygevoeg: “Luister na hom.”

8. Watter uitwerking het die visioen op Jesus en sy dissipels gehad?

8 Die visioen het ’n voorskou gegee van Jesus se toekomstige heerlikheid en mag as Koning van God se Koninkryk. Hierdie visioen moes Christus sekerlik aangemoedig en ook versterk het vir die lyding en pynlike dood wat hy sou deurmaak. Die visioen het ook die dissipels se geloof versterk. Dit het hulle gehelp om voorbereid te wees vir die beproewinge wat hulle sou ondervind en die harde werk wat hulle moes doen. Omtrent 30 jaar later het die apostel Petrus na die visioen verwys waarin Jesus van gedaante verander het. Dit het gewys dat hy die visioen nog goed kon onthou. – 2 Pet. 1:16-18.

9. Watter praktiese raad het Jesus vir sy dissipels gegee?

9 “Luister na hom.” Jehovah het dit duidelik gemaak dat hy wil hê dat ons na sy Seun se woorde moet luister en dit moet gehoorsaam. Wat het Jesus gesê toe hy op die aarde was? Hy het baie dinge gesê wat belangrik is! Byvoorbeeld, hy het sy volgelinge op ’n liefdevolle manier geleer hoe om die goeie nuus te verkondig, en hy het hulle meer as een keer daaraan herinner om aan te hou waak (Matt. 24:42; 28:19, 20). Hy het hulle ook aangespoor om hulle kragtig in te span, en hy het hulle aangemoedig om nie op te gee nie (Luk. 13:24). Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit is dat sy volgelinge mekaar moet liefhê, verenig moet bly en sy gebooie moet gehoorsaam (Joh. 15:10, 12, 13). Jesus het beslis praktiese raad vir sy dissipels gegee! Hierdie raad is vandag nog net so belangrik as wat dit was toe Jesus dit gegee het.

10-11. Hoe kan ons wys dat ons na Jesus luister?

10 Jesus het gesê: “Elkeen wat aan die kant van die waarheid is, luister na my stem” (Joh. 18:37). Ons wys dat ons na sy stem luister wanneer ons “[aanhou] om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe” (Kol. 3:13; Luk. 17:3, 4). Ons wys ook dat ons na sy stem luister deur ywerig die goeie nuus “in gunstige tye” en “in moeilike tye” te verkondig. – 2 Tim. 4:2.

11 Jesus het gesê: “My skape luister na my stem” (Joh. 10:27). Christus se volgelinge wys dat hulle na Jesus luister deur nie net na sy woorde te luister nie, maar ook deur te doen wat hy sê. Hulle aandag word nie afgelei deur die “sorge van die lewe” nie (Luk. 21:34). Om Jesus se gebooie te gehoorsaam is vir hulle baie belangrik, selfs wanneer hulle deur moeilike tye gaan. Baie van ons broers en susters verduur swaar beproewinge, insluitende aanvalle deur teenstanders, uiterste armoede en natuurrampe. Maar maak nie saak wat met hulle gebeur nie, hulle bly getrou aan Jehovah. Jesus gee vir hulle die volgende versekering: “Hy wat my gebooie het en hulle bewaar, dit is hy wat my liefhet. En hy wat my liefhet, hóm sal my Vader liefhê.” – Joh. 14:21.

Ons bediening help ons om gefokus te bly (Sien paragraaf 12) *

12. Wat is nog ’n manier hoe ons kan wys dat ons na Jesus luister?

12 Hier is nog ’n manier hoe ons kan wys dat ons na Jesus luister: deur ons samewerking te gee aan dié wat hy aangestel het om die leiding onder ons te neem (Heb. 13:7, 17). God se organisasie het in onlangse jare baie aanpassings gemaak. Ons het nuwe hulpmiddele en metodes vir velddiens gekry, die struktuur van ons vergadering in die week het verander, asook die manier hoe ons Koninkryksale bou, herstel en in stand hou. Ons is baie dankbaar vir hierdie liefdevolle en goeie leiding wat die organisasie vir ons gee! Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons sal seën as ons die instruksies volg wat die organisasie ons gee.

13. Hoe help dit ons om na Jesus te luister?

13 Ons vind daarby baat wanneer ons na al die dinge luister wat Jesus ons geleer het. Jesus het sy dissipels verseker dat sy leringe hulle sou verkwik. Hy het gesê: “Julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matt. 11:28-30). God se Woord, wat die vier Evangelieverslae van Jesus se lewe en bediening insluit, verkwik ons, versterk ons geestelik en maak ons wys (Ps. 19:7; 23:3). Jesus het gesê: “Gelukkig is . . . dié wat die woord van God hoor en dit nakom!” – Luk. 11:28.

‘EK SAL MY NAAM VERHEERLIK’

14-15. (a) Wanneer het Jehovah vir die derde keer uit die hemel gepraat, volgens Johannes 12:27, 28? (b) Hoekom sou Jehovah se woorde Jesus vertroos en versterk het?

14 Lees Johannes 12:27, 28. Die Evangelie van Johannes noem ’n derde geleentheid waar Jehovah uit die hemel gepraat het. ’n Paar dae voor sy dood was Jesus in Jerusalem om sy laaste Pasga te vier. Hy het gesê: “My siel [is] verontrus.” Toe het hy gebid: “Vader, verheerlik u naam.” Sy Vader het toe uit die hemel geantwoord en gesê: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik.”

15 Jesus was angstig as gevolg van die groot verantwoordelikheid wat hy gehad het om aan Jehovah getrou te bly. Jesus het geweet dat hy erg geslaan sou word en ’n wrede dood sou sterf (Matt. 26:38). Wat vir Jesus die belangrikste was, was om sy Vader se naam te verheerlik. Jesus was beskuldig van godslastering, en hy was bekommerd dat sy dood oneer op God se naam sou bring. Jehovah se woorde moes Jesus beslis gerusgestel het! Hy kon daarvan seker wees dat Jehovah se naam verheerlik sou word. Sy Vader se woorde moes Jesus baie vertroos en versterk het vir die lyding wat hy sou deurmaak. Al was Jesus dalk die enigste een wat op daardie stadium verstaan het wat sy Vader bedoel het, het Jehovah seker gemaak dat Sy woorde vir ons almal opgeteken word. – Joh. 12:29, 30.

Jehovah sal sy naam verheerlik en sy volk red (Sien paragraaf 16) *

16. Hoekom is ons soms bekommerd oor die oneer wat op God se naam gebring word?

16 Net soos Jesus is ons ook dalk bekommerd oor die oneer wat op Jehovah se naam gebring word. Miskien word ons, net soos Jesus, onregverdig behandel. Of miskien is ons ontsteld omdat teenstanders valse stories oor ons versprei. Ons dink miskien oor die oneer wat hierdie stories op Jehovah se naam en sy organisasie bring. Op sulke tye is Jehovah se woorde vir ons ’n groot vertroosting. Ons hoef nie baie angstig te wees nie. Ons kan daarvan seker wees dat “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, [ons] harte en [ons] verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus [sal] bewaak” (Fil. 4:6, 7). Jehovah sal sy naam altyd verheerlik. Hy sal deur middel van die Koninkryk ’n einde maak aan al die pyn en hartseer wat Satan en sy wêreld vir Sy getroue knegte veroorsaak. – Ps. 94:22, 23; Jes. 65:17.

VIND VANDAG BAAT BY JEHOVAH SE STEM

17. Hoe praat Jehovah vandag met ons, volgens Jesaja 30:21?

17 Vandag praat Jehovah nog steeds met ons. (Lees Jesaja 30:21.) Dit is waar dat God nie vandag uit die hemel met ons praat nie. Maar hy het wel vir ons sy geskrewe Woord, die Bybel, gegee waarin hy vir ons instruksies gee. Jehovah se gees beweeg ook “die getroue bestuurder” om aan te hou om Sy knegte van voedsel te voorsien (Luk. 12:42). Ons het beslis ’n oorvloed geestelike voedsel wat in gedrukte vorm en ook aanlyn beskikbaar is, asook baie video’s en oudio-publikasies!

18. Hoe versterk Jehovah se woorde jou geloof, en hoe gee dit jou meer moed?

18 Kom ons hou die woorde in gedagte wat Jehovah gesê het toe sy Seun op die aarde was. Mag God se eie woorde, soos dit in die Bybel opgeteken is, ons die vertroue gee dat Jehovah alles onder beheer het en dat hy ’n einde gaan maak aan al die pyn en hartseer wat Satan en sy goddelose wêreld vir ons veroorsaak. En mag ons vasbeslote wees om aandagtig na Jehovah se stem te luister. As ons dit doen, sal ons kan volhard ongeag watter probleme ons nou het of in die toekoms sal ondervind. Die Bybel herinner ons: “Julle het volharding nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte kan ontvang.” – Heb. 10:36.

LIED 4 “Jehovah is my Herder”

^ par. 5 Toe Jesus op die aarde was, het Jehovah by drie geleenthede uit die hemel gepraat. Jehovah het by een van hierdie geleenthede Christus se dissipels aangespoor om na sy Seun te luister. Vandag praat Jehovah met ons deur middel van sy geskrewe Woord, wat die leringe van Jesus insluit, asook deur middel van sy organisasie. Hierdie artikel gaan ons help om te sien hoe ons daarby kan baat vind as ons na Jehovah en Jesus luister.

^ par. 52 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouer man sien hoe ’n bedieningskneg help om die Koninkryksaal skoon te maak en ook by die lektuurtoonbank werk. Die ouer man prys hom daarvoor.

^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Paartjie in Sierra Leone gee vir ’n plaaslike visserman ’n uitnodiging na die vergadering.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: Getuies in ’n land waar die werk verbied is, kom in ’n private huis bymekaar. Hulle het gewone klere aan sodat hulle nie te veel aandag trek nie.