Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah waardeer jou “amen”

Jehovah waardeer jou “amen”

JEHOVAH waardeer ons aanbidding. Hy ‘skenk aandag en luister’ na sy knegte, en hy waardeer alles wat ons doen om hom te loof, maak nie saak hoe klein dit is nie (Mal. 3:16). Dink byvoorbeeld aan ’n woord wat ons seker al baie keer gesê het. Hierdie woord is “amen”. Waardeer Jehovah selfs hierdie eenvoudige woord? Ja, beslis! Om uit te vind hoekom, kom ons kyk wat hierdie woord beteken en hoe dit in die Bybel gebruik word.

“DIE HELE VOLK MOET SÊ: ‘AMEN!’”

Die woord “amen” beteken “laat dit so wees” of “beslis”. Dit kom van ’n Hebreeuse grondwoord wat “wees getrou” of “wees betroubaar” beteken. Die woord “amen” is soms in regsake gebruik. Nadat ’n persoon ’n eed afgelê het, sou hy “amen” sê om te bevestig dat wat hy gesê het akkuraat is en dat hy die gevolge van wat hy gesê het, sou aanvaar (Num. 5:22). Wanneer hy in die openbaar “amen” gesê het, sou dit hom meer rede gee om by sy woord te bly. – Neh. 5:13.

’n Uitstekende voorbeeld van hoe die woord “amen” gebruik is, is opgeteken in Deuteronomium hoofstuk 27. Nadat die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het hulle tussen die berg Ebal en die berg Gerisim bymekaargekom om te hoor hoe die Wet hardop gelees word. Hulle moes nie net daarna luister nie, hulle moes ook sê dat hulle die Wet aanvaar. Hulle het dit gedoen deur elke keer “Amen!” te sê wanneer die gevolge van ongehoorsaamheid gelees is (Deut. 27:15-26). Stel jou voor hoe dit moes geklink het toe duisende manne, vroue en kinders hardop “amen” sê! (Jos. 8:30-35). Hulle het sekerlik nooit die woorde vergeet wat hulle daardie dag gesê het nie. En daardie Israeliete het hulle belofte gehou, want die verslag sê: “Israel het Jehovah gedien al die dae van Josua en al die dae van die ouer manne wie se dae tot ná dié van Josua voortgeduur het en wat al die werk van Jehovah geken het wat hy vir Israel gedoen het.” – Jos. 24:31.

Jesus het ook die woord “amen” gebruik om die betroubaarheid van wat gesê is te bevestig, maar hy het dit op ’n unieke manier gedoen. In plaas daarvan om “amen” te sê nadat iemand ’n stelling gemaak het, het Jesus “amen” gesê (wat in Afrikaans as “voorwaar” vertaal word) voordat hy ’n stelling gemaak het om te beklemtoon dat dit waar is. Soms het hy die woord herhaal deur “amen amen” te sê (Matt. 5:18; Joh. 1:51). Op hierdie manier het hy die mense wat na hom geluister het, verseker dat sy woorde die absolute waarheid is. Jesus kon met sulke oortuiging praat omdat hy die een was wat deur God goedgekeur is om al God se beloftes te vervul. – 2 Kor. 1:20; Op. 3:14.

“DIE HELE VOLK HET GESÊ: ‘AMEN!’ EN HET JEHOVAH GELOOF”

Die Israeliete het ook die woord “amen” gebruik wanneer hulle Jehovah geloof het en tot hom gebid het (Neh. 8:6; Ps. 41:13). Deur aan die einde van ’n gebed “amen” te sê, het dié wat geluister het, gewys dat hulle saamstem met dit wat gesê was. Op hierdie manier kon almal ’n deelname hê en die geestelike geleentheid meer geniet. Dit is wat gebeur het toe koning Dawid die Ark van Jehovah na Jerusalem geneem het. Gedurende die feesvieringe wat daarop gevolg het, het hy ’n hartroerende gebed gedoen in die vorm van ’n lied, wat in 1 Kronieke 16:8-36 opgeteken is. Dié wat daar was, was diep geraak deur sy woorde. “Die hele volk het gesê: ‘Amen!’ en het Jehovah geloof.” Ja, hulle was bly om Jehovah saam te dien.

Eerste-eeuse Christene het ook “amen” gesê wanneer hulle Jehovah geloof het. Bybelskrywers het dit dikwels in hulle briewe ingesluit (Rom. 1:25; 16:27; 1 Pet. 4:11). Die boek Openbaring beskryf selfs hoe geesskepsele in die hemel Jehovah verheerlik deur te sê: “Amen! Loof Jah!” (Op. 19:1, 4). Vroeë Christene het gewoonlik by hulle vergaderinge “amen” gesê nadat ’n gebed gedoen is (1 Kor. 14:16). Maar dit was nie ’n woord wat hulle net uit gewoonte moes herhaal nie.

HOEKOM JOU “AMEN” SAAK MAAK

Nadat ons gekyk het na die agtergrond en geskiedenis van die woord “amen”, kan ons sien hoekom dit so ’n betekenisvolle manier is om ’n gebed af te sluit. Wanneer ons dit aan die einde van ons eie gebed sê, wys ons dat ons regtig bedoel wat ons gesê het. En wanneer iemand in die openbaar bid en ons beweeg word om “amen” te sê, selfs in ons hart, wys ons dat ons saamstem met wat gesê is. Kom ons kyk na nog redes hoekom ons “amen” saak maak.

Dit is deel van ons aanbidding en wys dat ons aandag skenk. Ons aanbid Jehovah nie net deur saam te stem met wat in die gebed gesê is nie, maar ook deur ons gedrag gedurende die gebed. Ons begeerte om opreg “amen” te sê, kan ons help om die regte gesindheid te behou en om aandag te skenk aan die gebed.

Dit verenig ons as aanbidders. Gedurende openbare gebede is almal in die gemeente verenig omdat hulle na dieselfde boodskap luister (Hand. 1:14; 12:5). Wanneer ons beweeg word om saam met ons broers en susters “amen” te sê, word ons selfs meer verenig. Deur saam “amen” te sê, of dit nou hardop is of in ons hart, kan dit Jehovah selfs meer motiveer om ons gebed te beantwoord.

Wanneer ons “amen” sê, loof ons Jehovah saam met ons broers en susters

Ons loof Jehovah. Jehovah sien die klein dingetjies raak wat ons doen om hom te aanbid (Luk. 21:2, 3). Hy sien wat ons beweegrede is en wat in ons hart is. Selfs al moet ons oor die telefoon na die vergadering luister, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons nederige “amen” waardeer. Wanneer ons “amen” sê, loof ons Jehovah saam met die broers en susters by die vergadering.

Ons dink miskien dat ons “amen” nie veel beteken nie, maar dit is eintlik baie belangrik. “Met die gebruik van hierdie een woord”, sê een Bybelensiklopedie, kan God se knegte hulle “vertroue, sterk goedkeuring en opregte hoop wat in hulle hart is”, uitspreek. Mag elke “amen” wat ons sê Jehovah se hart bly maak. – Ps. 19:14.