Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 18

Liefde en geregtigheid in die Christengemeente

Liefde en geregtigheid in die Christengemeente

“Hou aan om mekaar se laste te dra, en vervul só die wet van die Christus.” – GAL. 6:2.

LIED 12 Groot God, Jehovah

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Van watter twee dinge kan ons seker wees?

JEHOVAH GOD het sy aanbidders lief. Hy het hulle nog altyd liefgehad en sal hulle altyd liefhê. Hy is ook lief vir geregtigheid (Ps. 33:5). Daarom kan ons van twee dinge seker wees: (1) Dit maak Jehovah baie seer wanneer sy knegte onregverdig behandel word. (2) Hy sal ’n einde maak aan ongeregtigheid en dié straf wat sy knegte onregverdig behandel. In die eerste artikel in hierdie reeks * het ons geleer dat die Wet wat God deur Moses aan Israel gegee het, op liefde gebaseer was. Dit het geregtigheid bevorder – geregtigheid vir almal, veral vir dié wat hulleself nie kon beskerm nie (Deut. 10:18). Daardie Wet wys dat Jehovah baie besorg is oor sy aanbidders.

2. Watter vrae sal ons beantwoord?

2 Die Wet van Moses het in 33 HJ geëindig toe die Christengemeente gestig is. Sou dit beteken dat Christene nie meer die beskerming sou hê van ’n wet wat op liefde gebaseer is en geregtigheid bevorder nie? Glad nie! Christene het ’n nuwe wet gehad, die wet van die Christus. In hierdie artikel sal ons eers bespreek wat hierdie wet is. Dan sal ons die volgende vrae beantwoord: Hoekom kan ons sê dat hierdie wet op liefde gebaseer is? Hoekom kan ons sê dat dit geregtigheid bevorder? Hoe moet dié met gesag ander volgens hierdie wet behandel?

WAT IS “DIE WET VAN DIE CHRISTUS”?

3. Wat sluit “die wet van die Christus” volgens Galasiërs 6:2 in?

3 Lees Galasiërs 6:2. Christene is onder “die wet van die Christus”. Jesus het nie vir sy volgelinge ’n lys wette neergeskryf nie, maar hy het wel vir hulle instruksies, bevele en beginsels gegee waarvolgens hulle moes lewe. “Die wet van die Christus” sluit alles in wat Jesus mense geleer het. Die volgende paragrawe sal ons help om hierdie wet beter te verstaan.

4-5. Op watter maniere het Jesus ander geleer, en wanneer het hy hulle geleer?

4 Op watter maniere het Jesus ander geleer? Eerstens, hy het mense geleer deur wat hy gesê het. Sy woorde was kragtig omdat hy mense geleer het wat die waarheid oor God is, vir hulle gesê het wat die ware betekenis van die lewe is en vir hulle gewys het dat God se Koninkryk die enigste oplossing is vir die mensdom se probleme (Luk. 24:19). Jesus het ander ook deur middel van sy voorbeeld geleer. Die manier waarop hy gelewe het, het vir sy volgelinge gewys hoe hulle moes lewe. – Joh. 13:15.

5 Wanneer het Jesus ander geleer? Hy het mense gedurende sy bediening op die aarde geleer (Matt. 4:23). Hy het ook sy volgelinge geleer kort nadat hy opgewek is. Byvoorbeeld, hy het aan ’n groep dissipels verskyn – dalk meer as 500 – en hulle die bevel gegee om ‘dissipels te maak’ (Matt. 28:19, 20; 1 Kor. 15:6). As hoof van die gemeente het Jesus aangehou om vir sy dissipels instruksies te gee nadat hy na die hemel teruggekeer het. In ongeveer 96 HJ het Christus byvoorbeeld vir die apostel Johannes gesê om die gesalfde Christene aan te moedig en vir hulle raad te gee. – Kol. 1:18; Op. 1:1.

6-7. (a) Waar is Jesus se leringe opgeteken? (b) Hoe gehoorsaam ons die wet van die Christus?

6 Waar is Jesus se leringe opgeteken? Die vier Evangelies bevat baie van die dinge wat Jesus gesê en gedoen het toe hy op die aarde was. Die res van die Christelike Griekse Geskrifte help ons ook om Jesus se beskouing van dinge te verstaan omdat dié wat dit geskryf het, deur heilige gees geïnspireer is en die “denke van Christus” gehad het. – 1 Kor. 2:16.

7 Lesse: Jesus se leringe help ons in alle aspekte van ons lewe. Daarom het die wet van die Christus ’n invloed op wat ons doen by die huis, by die werk of skool en in die gemeente. Ons leer hierdie wet deur die Christelike Griekse Geskrifte te lees en daaroor na te dink. Ons gehoorsaam hierdie wet wanneer ons die instruksies, bevele en beginsels in daardie boeke van die Bybel gehoorsaam. Wanneer ons gehoorsaam is aan die wet van die Christus, is ons gehoorsaam aan ons liefdevolle God, Jehovah, omdat alles wat Jesus mense geleer het, van Jehovah af kom. – Joh. 8:28.

’N WET WAT OP LIEFDE GEBASEER IS

8. Waarop is die wet van die Christus gebaseer?

8 ’n Huis wat goed gebou is en ’n stewige fondament het, laat dié wat daarin bly, veilig voel. Net so kan ’n goeie wet wat ’n stewige fondament het dié wat daarvolgens lewe, veilig laat voel. Die wet van die Christus het die beste fondament. Dit is gebaseer op liefde. Hoekom kan ons so sê?

Wanneer ons ander liefdevol behandel, gehoorsaam ons “die wet van die Christus” (Sien paragraaf 9-14) *

9-10. Watter voorbeelde wys dat Jesus deur liefde gemotiveer is, en hoe kan ons hom navolg?

9 Eerstens, Jesus het alles wat hy gedoen het, uit liefde gedoen. Innige jammerte, of tere medelye, is ’n bewys van liefde. Sulke innige jammerte het Jesus gemotiveer om die skares te leer, die siekes te genees, dié wat honger was, kos te gee en die dooies op te wek (Matt. 14:14; 15:32-38; Mark. 6:34; Luk. 7:11-15). Al het hierdie dinge baie van Jesus se tyd en energie vereis, was hy bereid om ander se behoeftes bo sy eie te stel. Die belangrikste manier hoe Jesus sy liefde gewys het, was deur sy lewe vir ander op te offer. – Joh. 15:13.

10 Lesse: Ons kan Jesus navolg deur ander se behoeftes bo ons eie te stel. Ons kan hom ook navolg deur te leer om tere medelye vir die mense in ons gebied te hê. Wanneer sulke tere medelye ons motiveer om die goeie nuus te verkondig en dit aan ander te leer, gehoorsaam ons die wet van die Christus.

11-12. (a) Wat wys dat Jehovah baie besorg is oor ons? (b) Hoe kan ons Jehovah se liefde navolg?

11 Tweedens, Jesus het sy Vader se liefde geopenbaar. Gedurende Jesus se bediening het hy gewys dat Jehovah baie besorg is oor sy aanbidders. Een van die dinge wat Jesus byvoorbeeld vir mense geleer het, is dat elkeen van ons kosbaar is vir ons hemelse Vader (Matt. 10:31). Jehovah is gretig om ’n verlore skaap terug te verwelkom wat berouvol is en na die gemeente terugkom (Luk. 15:7, 10). Jehovah het gewys dat hy ons liefhet deur sy Seun as ’n losprys vir ons te gee. – Joh. 3:16.

12 Lesse: Hoe kan ons Jehovah se liefde navolg? (Ef. 5:1, 2). Ons beskou elkeen van ons broers en susters as kosbaar, en ons is baie bly om “’n verlore skaap” terug te verwelkom wat na Jehovah terugkeer (Ps. 119:176). Ons wys dat ons lief is vir ons broers en susters deur ons tyd en energie te gebruik om hulle te help, veral wanneer hulle ons hulp nodig het (1 Joh. 3:17). Wanneer ons ander liefdevol behandel, gehoorsaam ons die wet van die Christus.

13-14. (a) Wat het Jesus volgens Johannes 13:34, 35 sy volgelinge beveel om te doen, en hoekom is dit ’n nuwe gebod? (b) Hoe wys ons dat ons gehoorsaam is aan hierdie nuwe gebod?

13 Derdens, Jesus het sy volgelinge beveel om selfopofferende liefde te betoon. (Lees Johannes 13:34, 35.) Dit is ’n nuwe gebod omdat ons ’n soort liefde moet hê wat nie ’n vereiste was onder die Wet wat God aan Israel gegee het nie: Ons moet ons broers en susters liefhê soos Jesus ons liefgehad het. Dit vereis selfopofferende liefde. * Ons moet ons broers en susters selfs meer as onsself liefhê. Ons moet so lief wees vir hulle dat ons selfs bereid sal wees om ons lewe vir hulle te gee, net soos Jesus vir ons gedoen het.

14 Lesse: Hoe wys ons dat ons gehoorsaam is aan die nuwe gebod? Deur opofferings vir ons broers en susters te maak. Ons is nie net bereid om die grootste opoffering – om ons lewe op te offer – te maak nie, maar ook om kleiner opofferings te maak. Byvoorbeeld, wanneer ons gereeld uit ons pad gaan om ’n ouer broer of suster vir ’n vergadering op te tel, of wanneer ons bereid is om iets op te gee om ’n persoon vir wie ons lief is, bly te maak of wanneer ons ons verlof gebruik om te help wanneer daar ’n ramp is, gehoorsaam ons die wet van die Christus. Ons help ook om ons gemeente ’n plek te maak waar elke persoon veilig kan voel.

’N WET WAT GEREGTIGHEID BEVORDER

15-17. (a) Hoe het Jesus se dade gewys hoe hy geregtigheid beskou het? (b) Hoe kan ons Jesus navolg?

15 “Geregtigheid”, soos dit in die Bybel gebruik word, beteken basies om te doen wat in God se oë reg is en om dit te doen sonder om partydig te wees. Hoekom kan ons sê dat die wet van die Christus geregtigheid bevorder?

Jesus het vrouens liefdevol en met respek behandel, insluitende dié op wie ander neergekyk het (Sien paragraaf 16) *

16 Eerstens, kyk hoe Jesus se dade gewys het hoe hy geregtigheid beskou het. Toe Jesus op die aarde was, het Joodse godsdiensleiers nie-Jode gehaat, op gewone Jode neergekyk en geen respek vir vrouens gehad nie. Maar Jesus was regverdig en het almal onpartydig behandel. Hy het nie-Jode aanvaar wat geloof in hom gehad het (Matt. 8:5-10, 13). Hy het vir almal gepreek, ryk en arm (Matt. 11:5; Luk. 19:2, 9). Hy het vrouens nooit wreed of sleg behandel nie. Hy het vrouens eerder liefdevol en met respek behandel, insluitende dié op wie ander neergekyk het. – Luk. 7:37-39, 44-50.

17 Lesse: Ons kan Jesus navolg deur ander onpartydig te behandel en deur vir almal te preek wat wil luister – maak nie saak of hulle ryk of arm is of aan watter godsdiens hulle behoort nie. Christenmans volg sy voorbeeld na deur vrouens met respek te behandel. Wanneer ons hierdie dinge doen, gehoorsaam ons die wet van die Christus.

18-19. Wat het Jesus mense oor geregtigheid geleer, en watter lesse leer ons daaruit?

18 Tweedens, kyk wat Jesus mense oor geregtigheid geleer het. Hy het sy volgelinge beginsels geleer wat hulle sou help om ander regverdig te behandel. Dink byvoorbeeld aan die Goue Reël (Matt. 7:12). Ons almal wil regverdig behandel word. Daarom moet ons ander regverdig behandel. As ons dit doen, sal hulle ons dalk ook regverdig behandel. Maar wat as ons onregverdig behandel is? Jesus het ook sy volgelinge geleer om die vertroue te hê dat Jehovah “reg [sal] laat geskied aan [dié] wat dag en nag tot hom roep” (Luk. 18:6, 7). Hierdie woorde is ’n belofte: Ons regverdige God is bewus van die beproewinge wat ons in hierdie laaste dae deurmaak, en hy sal sorg dat ons op sy vasgestelde tyd regverdig behandel word. – 2 Tess. 1:6.

19 Lesse: Wanneer ons die beginsels toepas wat Jesus ons geleer het, sal ons ander regverdig behandel. En as ons onregverdig behandel is in Satan se wêreld, vertroos dit ons om te weet dat Jehovah sal sorg dat ons regverdig behandel word.

HOE MOET DIÉ MET GESAG ANDER BEHANDEL?

20-21. (a) Hoe moet dié met gesag ander behandel? (b) Hoe kan ’n man selfopofferende liefde aan sy vrou betoon, en hoe moet ’n pa sy kinders behandel?

20 Hoe moet dié met gesag ander volgens die wet van die Christus behandel? Omdat hierdie wet op liefde gebaseer is, moet dié wat gesag oor ander het, hulle liefdevol en met respek behandel. Hulle moet onthou dat Christus wil hê dat ons liefde moet betoon in alles wat ons doen.

21 In die gesin. ’n Man moet sy vrou liefhê, “net soos die Christus ook die gemeente” liefhet (Ef. 5:25, 28, 29). ’n Man moet Christus se selfopofferende liefde navolg deur sy vrou se behoeftes en belange bo sy eie te stel. Dit kan vir party mans moeilik wees om sulke liefde te betoon. Hulle het dalk in ’n omgewing grootgeword waarin mense nie mekaar regverdig en liefdevol behandel het nie. Dit kan dalk vir hulle moeilik wees om hierdie slegte gewoontes af te leer, maar hulle moet hierdie veranderinge maak as hulle die wet van die Christus wil gehoorsaam. ’n Man wat selfopofferende liefde betoon, sal die respek van sy vrou verkry. ’n Pa wat sy kinders werklik liefhet, sal hulle nooit seermaak deur wat hy doen of sê nie (Ef. 4:31). Hy wys eerder dat hy hulle liefhet en goedkeur, en dit laat hulle veilig voel. As ’n pa dit doen, verkry hy die liefde en vertroue van sy kinders.

22. Aan wie behoort die “skape” volgens 1 Petrus 5:1-3, en hoe moet hulle behandel word?

22 In die gemeente. Ouer manne moet onthou dat die “skape” nie aan hulle behoort nie. (Joh. 10:16; lees 1 Petrus 5:1-3.) Die uitdrukkings “kudde van God” en “God se erfenis” herinner ouer manne daaraan dat die skape aan Jehovah behoort. Hy wil hê dat sy skape met liefde en teerheid behandel moet word (1 Tess. 2:7, 8). Ouer manne wat hulle verantwoordelikheid as herders liefdevol uitvoer, maak Jehovah se hart bly. Sulke ouer manne verkry die liefde en respek van hulle broers en susters.

23-24. (a) Watter verantwoordelikheid het ouer manne wanneer iemand in die gemeente ernstig gesondig het? (b) Wat hou ouer manne in gedagte wanneer hulle sulke sake hanteer?

23 Watter verantwoordelikheid het ouer manne wanneer iemand in die gemeente ernstig gesondig het? Hulle het nie dieselfde verantwoordelikheid as wat regters en ouer manne gehad het wat onder die Wet was wat God aan Israel gegee het nie. Onder hierdie Wet het aangestelde manne nie net geestelike sake hanteer nie, maar ook sake in verband met ’n misdaad of geskille tussen mense. Maar onder die wet van die Christus moet ouer manne slegs die geestelike sy van die saak hanteer wanneer iemand gesondig het. Hulle erken dat sekulêre owerhede gesag van God gekry het om sake in verband met ’n misdaad te hanteer of wanneer daar geskille tussen mense was. Dit sluit die gesag in om mense te straf deur hulle te beboet of tronk toe te stuur. – Rom. 13:1-4.

24 Wat moet ouer manne doen wanneer iemand in die gemeente ernstig gesondig het? Hulle gebruik die Bybel om die saak te ondersoek en ’n besluit te neem. Hulle hou in gedagte dat die wet van die Christus op liefde gebaseer is. Liefde beweeg die ouer manne om oor die volgende te dink: Wat moet gedoen word om enigiemand in die gemeente te help wat deur die oortreding seergemaak is? Wanneer dit kom by die oortreder beweeg liefde die ouer manne om te vra: Is hy berouvol? Kan ons hom help om sy verhouding met Jehovah te herstel?

25. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

25 Ons is baie dankbaar om onder die wet van die Christus te wees! Wanneer ons almal hard werk om dit te gehoorsaam, help ons om die gemeente ’n plek te maak waar elkeen geliefd en veilig kan voel en dat hy of sy waardeer word. Maar ons lewe nog steeds in ’n wêreld waar “goddelose mense” al hoe slegter word (2 Tim. 3:13). Ons moet waaksaam bly. Hoe kan die Christengemeente Jehovah se geregtigheid navolg wanneer ’n kind seksueel gemolesteer is? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.

LIED 15 Loof God se Eersgeborene!

^ par. 5 Hierdie artikel en die volgende twee artikels is deel van ’n reeks wat bespreek hoekom ons die vertroue kan hê dat Jehovah ’n God van liefde en geregtigheid is. Hy wil hê dat sy knegte regverdig behandel moet word, en hy vertroos dié wat onregverdig behandel is in hierdie goddelose wêreld.

^ par. 1 Sien die artikel “Liefde en geregtigheid in eertydse Israel” in Die Wagtoring van Februarie 2019.

^ par. 13 WAT DIT BETEKEN: Selfopofferende liefde motiveer ons om ander se behoeftes en belange bo ons eie te stel. Ons is bereid om iets op te offer om ander te help.

^ par. 61 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus sien ’n weduwee wat treur oor haar enigste seun wat gesterf het. Jesus voel innig jammer vir haar en wek die jong man op.

^ par. 63 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus eet ’n maaltyd in die huis van ’n Fariseër met die naam Simon. ’n Vrou, moontlik ’n prostituut, het so pas Jesus se voete met haar trane gewas, dit met haar hare drooggemaak en olie daarop gegooi. Simon keur nie die vrou se dade goed nie, maar Jesus verdedig haar.