Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om jouself te beskerm teen een van Satan se strikke

Hoe om jouself te beskerm teen een van Satan se strikke

TERWYL die eertydse Israeliete gereedgemaak het om die Jordaanrivier oor te steek en die land binne te gaan wat God aan hulle belowe het, het ’n paar mense hulle kom besoek. Die besoekers was uitlandse vrouens wat die mans na ’n fees genooi het. Dit kon soos ’n wonderlike geleentheid geklink het om nuwe vriende te maak, te dans en ’n goeie maaltyd te geniet. Al was hierdie vrouens se gebruike en sedes anders as dié wat die Israeliete in God se Wet geleer het, het party Israelitiese mans dalk gedink: ‘Ons kan dit hanteer. Ons sal versigtig wees.’

Wat het gebeur? Die geïnspireerde verslag sê: “Toe het die volk onsedelike gemeenskap met die dogters van Moab begin hou.” Die vrouens wou eintlik hê dat daardie Israelitiese mans valse gode moes aanbid. En hulle het! Dit is te verstane dat “die toorn van Jehovah . . . teen Israel ontvlam [het]”. – Num. 25:1-3.

Daardie Israeliete het God se Wet op twee maniere verbreek: Hulle het voor valse gode neergebuig en seksuele onsedelikheid gepleeg. Duisende het gesterf as gevolg van hulle ongehoorsaamheid (Eks. 20:4, 5, 14; Deut. 13:6-9). Wat het die pyn van hierdie tragedie erger gemaak? Die tydsberekening. As die mans nie God se Wet verbreek het nie, sou daardie duisende Israeliete die geleentheid gehad het om die Jordaan oor te steek en die Beloofde Land binne te gaan. – Num. 25:5, 9.

Die apostel Paulus het aangaande hierdie gebeurtenisse geskryf: “Hierdie dinge het hulle as voorbeelde bly oorkom, en dit is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het” (1 Kor. 10:7-11). Satan was ongetwyfeld baie bly dat party van daardie Israeliete ernstig gesondig het en as gevolg daarvan nie toegelaat is om die Beloofde Land binne te gaan nie. Hoe wys sal ons tog wees as ons ag slaan op daardie waarskuwing, want ons weet dat dit Satan baie bly sal maak as hy kan keer dat ons God se nuwe wêreld binnegaan!

’N GEVAARLIKE STRIK

Omdat Satan Christene wil vang, gebruik hy taktieke wat hy goed ken en waarmee hy al voorheen suksesvol was. Soos vroeër genoem is, het hy die Israeliete met onsedelikheid gevang. In ons dag is onsedelikheid nog steeds ’n gevaarlike strik. ’n Kragtige manier waarop ons in die strik van onsedelikheid kan trap, is deur pornografie.

Vandag kan mense dikwels na pornografie kyk sonder dat ander daarvan weet. Dekades gelede moes iemand wat na pornografie wou kyk, dalk na ’n bioskoop toe gaan om ongepaste films te kyk of na ’n boekwinkel vir volwassenes om pornografiese boeke te koop. Die skande om in of naby sulke plekke gesien te word, het baie mense waarskynlik daar weggehou. Maar nou kan iemand wat toegang tot die Internet het, by die werk of selfs in ’n geparkeerde kar na pornografie kyk. En in baie lande kan ’n man of ’n vrou na pornografie kyk sonder om ooit die huis te verlaat.

Dit is nie al nie. Elektroniese toestelle het dit makliker gemaak om na pornografie te kyk. Terwyl mense in die straat afloop of op busse en treine ry, kan hulle na onsedelike prente op hulle elektroniese toestelle kyk.

Aangesien dit makliker geword het vir iemand om na pornografie te kyk en om die feit dat hy dit doen weg te steek, benadeel pornografie meer mense vandag as ooit tevore. Baie mense wat na pornografie kyk, doen hulle huwelik skade aan en verloor hulle selfrespek en hulle skoon gewete. En nog erger, hulle stel hulle vriendskap met God in gevaar. Daarom kan ons met goeie rede sê dat pornografie dié benadeel wat daarna kyk. In baie gevalle veroorsaak dit diep emosionele wonde. Hierdie wonde word dalk stadig gesond, maar dit los letsels wat dalk nooit sal weggaan nie.

Maar ons moet onthou dat Jehovah ons teen hierdie sataniese strik kan beskerm. As ons Jehovah se beskerming wil hê, moet ons doen wat die eertydse Israelitiese mans nie gedoen het nie – hom “nougeset gehoorsaam” (Eks. 19:5). Ons moet besef dat God pornografie haat. Hoekom sê ons so?

HAAT DIT SOOS JEHOVAH DIT HAAT

Dink hieraan: Die wette wat God aan die nasie Israel gegee het, was uniek in daardie eertydse wêreld. Net soos ’n muur het God se wette die Israeliete beskerm teen die nasies om hulle en teen hulle walglike gebruike (Deut. 4:6-8). Daardie wette het ’n belangrike waarheid beklemtoon: Jehovah haat seksuele onsedelikheid.

Nadat Jehovah al die onsedelike dinge genoem het wat die nasies om hulle doen, het hy vir die Israeliete gesê: “Soos die land Kanaän doen, waarin ek julle bring, mag julle nie doen nie. . . . Die land [is] onrein, en ek sal straf daaroor bring vir sy oortreding.” In die oë van die heilige God van Israel was die lewenswyse van die Kanaäniete so walglik dat die land waarin hulle gewoon het, onrein geword het. – Lev. 18:3, 25.

Al het Jehovah die Kanaäniete gestraf, was ander mense nog steeds seksueel onsedelik. Meer as 1 500 jaar later het Paulus gesê dat die nasies waaronder die Christene gewoon het, “alle sedelikheidsgevoel verloor het”. Om die waarheid te sê, “hulle [het] hulle aan losbandige gedrag oorgegee om met hebsug elke soort onreinheid te bedryf” (Ef. 4:17-19). Vandag is baie mense ook onsedelik en glad nie skaam daaroor nie. Sover moontlik moet ware aanbidders dit vermy om na die onsedelike bedrywighede van hierdie persone te kyk.

Pornografie is baie disrespekvol teenoor God. Hy het mense na sy beeld gemaak en ons die vermoë gegee om te weet wanneer iets reg of verkeerd is. God het wyslik redelike beperkings op seks geplaas. Hy wou hê dat seks ’n gesonde rol in die huwelik moes speel en dat getroude paartjies dit moes geniet (Gen. 1:26-28; Spr. 5:18, 19). Maar wat doen dié wat pornografie vervaardig of bevorder? Hulle toon absoluut geen respek vir God se sedelike standaarde nie. Ja, mense wat pornografie bevorder, is disrespekvol teenoor Jehovah. God sal dié wat sy standaarde ignoreer deur onsedelike materiaal te vervaardig of te bevorder, oordeel. – Rom. 1:24-27.

Maar wat van mense wat opsetlik na pornografie kyk of dit lees? Party voel dalk dat dit onskuldige vermaak is. Maar hulle is eintlik besig om dié te ondersteun wat Jehovah se standaarde ignoreer. Dit is dalk nie wat hulle bedoel het toe hulle na pornografie begin kyk het nie. Maar die Bybel maak dit duidelik dat aanbidders van die ware God pornografie moet haat. Die Bybel spoor ons aan: “O julle wat Jehovah liefhet, haat die kwaad.” – Ps. 97:10.

Dit kan selfs moeilik wees vir dié wat nie na pornografie wil kyk nie. Ons is onvolmaak en ons moet dalk hard stry om onrein seksuele begeertes te weerstaan. En ons onvolmaakte hart probeer dalk vir ons sê dat dit nie verkeerd is om na pornografie te kyk nie (Jer. 17:9). Maar baie wat Christene geword het, het hierdie stryd gewen. Dit kan baie aanmoedigend wees om dit te weet as pornografie iets is waarmee jy ook sukkel. Let op hoe God se Woord jou kan help om Satan se strik van pornografie te vermy.

MOENIE AAN ONSEDELIKE BEGEERTES BLY DINK NIE

Soos vroeër genoem is, het baie Israeliete nie hulle verkeerde begeertes weerstaan nie, en dit het slegte gevolge gehad. Dieselfde kan vandag gebeur. Jesus se halfbroer Jakobus het die gevaar beskryf: “Elkeen word . . . deur sy eie begeerte meegesleep en verlok. . . . Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde” (Jak. 1:14, 15). As iemand toelaat dat ’n onsedelike begeerte in sy hart groei, sal hy heel waarskynlik sondig. Daarom moet ons ontslae raak van onsedelike gedagtes en nie daaraan bly dink nie.

As jy vind dat jy aan onsedelike dinge bly dink, moet jy onmiddellik iets daaromtrent doen. Jesus het gesê: “As jou hand of jou voet jou dan laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou af weg. . . . En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg” (Matt. 18:8, 9). Jesus het nie bedoel dat ons ons liggaam moet vermink nie. Hy het ’n illustrasie gebruik om te wys dat dit belangrik is om die oorsaak van struikeling te verwyder – vinnig en met beslistheid. Hoe kan ons hierdie raad toepas wanneer dit kom by pornografie?

As jy op pornografie afkom, moet jy nie dink dat jy dit kan hanteer nie. Kyk onmiddellik weg. Skakel die televisie onmiddellik af. Sit die rekenaar of elektroniese toestel onmiddellik af. Dink aan rein dinge. As jy dit doen, sal dit jou help om jou denke te beheer eerder as om toe te laat dat verkeerde begeertes jou beheer.

WAT KAN ONS DOEN AS ONS BLY DINK AAN PORNOGRAFIE WAT ONS VOORHEEN GEKYK HET?

Sê nou jy het dit reggekry om nie meer na pornografie te kyk nie, maar soms onthou jy wat jy gesien het? Iemand kan vir ’n lang tyd sukkel om pornografiese prente of gedagtes te vergeet. Hierdie herinneringe kan sonder waarskuwing terugkom. As dit gebeur, kan ons in die versoeking kom om iets onreins te doen, soos om te masturbeer. Wees dus bewus daarvan dat sulke gedagtes by jou kan opkom, en wees gereed om daarteen te stry.

Wees meer vasbeslote om jou gedagtes en dade in ooreenstemming met Jehovah se wil te bring. Wees soos die apostel Paulus, wat bereid was om ‘sy liggaam te kasty en dit as ’n slaaf te lei’ (1 Kor. 9:27). Moenie ’n slaaf word van onrein begeertes nie. “Word verander deur [jou] verstand te hervorm, dat [jy] kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:2). Onthou: Om in ooreenstemming met God se wil te dink en op te tree, is baie bevredigender as om sondige begeertes te gehoorsaam.

Om in ooreenstemming met God se wil te dink en op te tree, is baie bevredigender as om sondige begeertes te gehoorsaam

Probeer om sekere Bybelverse te memoriseer. Wanneer verkeerde gedagtes by jou opkom, moet jy jouself forseer om aan hierdie tekste te dink. Tekste soos Psalm 119:37; Jesaja 52:11; Matteus 5:28; Efesiërs 5:3; Kolossense 3:5 en 1 Tessalonisense 4:4-8 sal jou help om Jehovah se beskouing van pornografie te hê en te verstaan wat hy van jou verwag.

Sê nou jy voel soms dat jy dit nie kan weerstaan om na onsedelike dinge te kyk of daaraan te dink nie? Volg die voetstappe van ons Voorbeeld, Jesus, noukeurig na (1 Pet. 2:21). Nadat Jesus gedoop is, het Satan hom aanhou versoek. Wat het Jesus gedoen? Hy het aangehou om hom te weerstaan. Hy het die een teks na die ander gebruik toe hy Satan se versoekings weerstaan het. Hy het gesê: “Gaan weg, Satan!”, en Satan het van hom af weggegaan. Net soos Jesus, moet jy ook nooit ophou om die Duiwel te weerstaan nie (Matt. 4:1-11). Satan en sy wêreld sal aanhou om jou verstand met onsedelike gedagtes te probeer vul, maar moenie ophou om hom te weerstaan nie. Jy kan die stryd teen pornografie wen. Met Jehovah se hulp kan jy jou vyand oorwin.

BID TOT JEHOVAH EN WEES GEHOORSAAM AAN HOM

Hou aan om Jehovah in gebed te vra om jou te help. Paulus het gesê: “Laat julle versoeke . . . by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Fil. 4:6, 7). Die vrede van God sal jou help in die stryd teen sonde. As jy nader aan Jehovah kom, “sal [hy] nader aan [jou] kom.” – Jak. 4:8.

Die beste beskerming teen enige gevaar is om na aan die Soewerein van die heelal te wees. Jesus het gesê: “Die heerser van die wêreld [Satan] kom. En hy het geen houvas op my nie” (Joh. 14:30). Hoekom het Jesus hierdie vertroue gehad? Hy het eenkeer verduidelik: “Hy wat my gestuur het, is met my; hy het my nie aan myself oorgelaat nie, omdat ek altyd die dinge doen wat hom behaag” (Joh. 8:29). As jy die dinge doen wat Jehovah behaag, kan jy daarvan seker wees dat hy jou ook nooit sal verlaat nie. Vermy die strik van pornografie, en Satan sal geen houvas op jou hê nie.