Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 29

“Gaan . . . maak dissipels”

“Gaan . . . maak dissipels”

“Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.” – MATT. 28:19.

LIED 60 Dit kan hul red

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Wat is die belangrikste werk van die Christengemeente volgens Jesus se opdrag in Matteus 28:18-20? (b) Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

NADAT Jesus opgewek is, het hy met sy apostels afgespreek om hulle by ’n berg te ontmoet. Hulle moes seker baie opgewonde gewees het toe hulle daar bymekaarkom (Matt. 28:16). Dit was miskien by hierdie geleentheid dat “hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn” het (1 Kor. 15:6). Hoekom het Jesus sy dissipels gevra om daar bymekaar te kom? Om hulle ’n opwindende opdrag te gee: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.” – Lees Matteus 28:18-20.

2 Die dissipels wat Jesus se woorde gehoor het, het deel van die eerste-eeuse Christengemeente geword. Die belangrikste werk van daardie Christengemeente was om meer dissipels van Christus te maak. * Vandag is daar tienduisende ware Christengemeentes regoor die wêreld en hulle het nog steeds dieselfde belangrike werk. In hierdie artikel sal ons vier vrae bespreek: Hoekom is dit so belangrik om dissipels te maak? Wat behels dit? Kan elke Christen help om dissipels te maak? En hoekom moet ons geduldig wees wanneer ons hierdie werk doen?

HOEKOM IS DIT SO BELANGRIK OM DISSIPELS TE MAAK?

3. Hoekom is dit volgens Johannes 14:6 en 17:3 so belangrik om dissipels te maak?

3 Hoekom is dit so belangrik om dissipels te maak? Want slegs dissipels van Christus kan God se vriende wees. En dié wat Christus navolg, verbeter hulle lewe nou en hulle het die hoop om in die toekoms vir ewig te lewe. (Lees Johannes 14:6; 17:3.) Jesus het ons beslis ’n belangrike verantwoordelikheid gegee, maar ons doen nie hierdie werk op ons eie nie. Die apostel Paulus het oor homself en sekere van sy mede-aanbidders geskryf: “Ons is God se medewerkers” (1 Kor. 3:9). Dit is beslis ’n groot voorreg wat Jehovah en Christus aan onvolmaakte mense gegee het!

4. Wat kan ons uit die ondervinding van Ivan en Matilde leer?

4 Die dissipelmaakwerk kan ons baie gelukkig maak. Kyk na die voorbeeld van Ivan en sy vrou, Matilde, in Colombia. Hulle het vir ’n jong man met die naam Davier getuig. Hy het vir hulle gesê: “Ek wil veranderinge in my lewe maak, maar ek kan nie.” Davier was ’n bokser wat dwelms gebruik het, te veel gedrink het en saam met sy meisie, Erika, gebly het. Ivan verduidelik: “Ons het hom in sy afgeleë dorpie begin besoek en moes ure lank met ons fietse op modderige paaie daarheen ry. Nadat Erika veranderinge in Davier se gedrag en gesindheid gesien het, het sy ook die Bybel begin studeer.” Met verloop van tyd het Davier nie meer dwelms gebruik nie en het hy opgehou drink en boks. Hy het ook met Erika getrou. Matilde sê: “Toe Davier en Erika in 2016 gedoop is, het ons onthou dat Davier altyd gesê het: ‘Ek wil verander, maar ek kan nie.’ Ons kon ons trane nie keer nie.” Dit maak ons beslis baie gelukkig wanneer ons mense help om dissipels van Christus te word.

WAT BEHELS DIT OM DISSIPELS TE MAAK?

5. Wat is die eerste stap wat ons moet doen om dissipels te maak?

5 Die eerste stap wat ons moet doen om dissipels te maak, is om te “soek” na dié wat die regte hartstoestand het (Matt. 10:11). Ons bewys dat ons werklik Jehovah se Getuies is deur vir almal te getuig wat ons ontmoet. En ons bewys dat ons ware Christene is deur gehoorsaam te wees aan Christus se bevel om te preek.

6. Wat kan ons help om suksesvol in die bediening te wees?

6 Party mense wil graag Bybelwaarhede leer, maar aan die begin lyk dit dalk of baie van die mense wat ons ontmoet, nie belangstel nie. Ons moet dalk hulle belangstelling wek. Om suksesvol in die bediening te wees moet ons goed voorberei. Kies spesifieke onderwerpe waarin mense heel moontlik sal belangstel. Beplan dan hoe jy die onderwerp sal inlei.

7. Hoe kan jy ’n gesprek met iemand begin, en hoekom dink jy is dit belangrik om te luister en respek te betoon?

7 Byvoorbeeld, jy kan ’n huisbewoner dalk vra: “Sal jy omgee as ek jou opinie oor iets vra? Vandag het mense regoor die wêreld baie van dieselfde probleme as wat ons het. Dink jy dat ’n wêreldregering die wêreld se probleme kan oplos?” Dan kan jy Daniël 2:44 bespreek. Of jy kan vir iemand vra: “Wat dink jy is die beste manier om kinders te leer om goeie maniere te hê? Ek sal graag wil hoor wat jy dink.” Bespreek dan Deuteronomium 6:6, 7. Watter onderwerp jy ook al kies, dink aan die mense wat na jou sal luister. Dink aan hoe hulle sal baat vind by wat die Bybel werklik leer. Wanneer jy met hulle praat, is dit belangrik dat jy na hulle luister en hulle beskouing respekteer. Op hierdie manier sal jy hulle beter verstaan, en die kanse is groter dat hulle na jou sal luister.

8. Hoekom moet ons aanhou om herbesoeke te doen?

8 Jy moet ’n persoon dalk ’n hele paar keer besoek voordat hy besluit om die Bybel te studeer, en dit kan baie tyd en moeite verg. Hoekom? Omdat mense dalk nie beskikbaar is wanneer ons hulle weer besoek nie. Jy moet dalk ook ’n hele paar keer teruggaan voordat die huisbewoner op sy gemak is met jou en bereid sal wees om ’n Bybelstudie te aanvaar. Onthou, ’n plant sal waarskynlik groei as dit gereeld water kry. Net so sal ’n belangstellende se liefde vir Jehovah en Christus waarskynlik groei as ons gereeld God se Woord met daardie persoon bespreek.

KAN ELKE CHRISTEN HELP OM DISSIPELS TE MAAK?

Getuies regoor die wêreld help om na verdienstelikes te soek (Sien paragraaf 9-10) *

9-10. Hoekom kan ons sê dat elke Christenbedienaar help om opregtes van hart te vind?

9 Elke Christenbedienaar help om opregtes van hart te vind. Ons kan hierdie werk vergelyk met mense wat na ’n verlore kind soek. Hoe so? Kyk na die werklike ondervinding van ’n driejarige seuntjie wat weggeraak het. Omtrent 500 mense het gehelp om na hom te soek. Uiteindelik, omtrent 20 uur nadat die kind weggeraak het, het ’n vrywilliger die seuntjie in ’n mielieland gekry. Daardie vrywilliger wou nie hê dat mense hom moes prys omdat hy die seun gevind het nie. Hy het gesê: “Honderde mense het saamgewerk om hom te vind.”

10 Baie mense is soos daardie kind. Hulle voel verlore. Hulle het geen hoop nie, maar hulle wil gehelp word (Ef. 2:12). Omtrent agt miljoen van ons is betrokke by die werk om hierdie verdienstelikes te vind. Jy vind dalk nie persoonlik iemand met wie jy die Bybel kan studeer nie. Maar ander verkondigers wat in dieselfde gebied as jy werk, vind dalk iemand wat die waarheid uit God se Woord wil leer. Wanneer ’n broer of suster iemand vind wat ’n dissipel van Christus word, het elkeen wat met die soekwerk gehelp het, goeie rede om bly te wees.

11. Op watter ander maniere kan jy help om dissipels te maak, al het jy nie ’n Bybelstudie nie?

11 Selfs al het jy nie op die oomblik ’n Bybelstudie nie, kan jy op ander maniere help om dissipels te maak. Byvoorbeeld, jy kan nuwelinge verwelkom en met hulle vriende maak wanneer hulle na die Koninkryksaal kom. Op hierdie manier kan jy hulle oortuig dat liefde ons as ware Christene identifiseer (Joh. 13:34, 35). Die antwoorde wat jy by die vergaderinge gee, al is dit kort, kan nuwelinge leer om hulle oortuigings op ’n opregte en respekvolle manier uit te druk. Jy kan ook saam met ’n nuwe verkondiger velddiens doen en hom help om die Bybel te gebruik om met mense te redeneer. Op hierdie manier sal jy hom leer om Christus na te volg. – Luk. 10:25-28.

12. Het ons spesiale vermoëns nodig om dissipels te maak? Verduidelik.

12 Ons moenie dink dat ons spesiale vermoëns nodig het om ander te leer om dissipels van Jesus te wees nie. Hoekom nie? Kyk na die voorbeeld van Faustina, wat in Bolivia woon. Toe sy met Jehovah se Getuies begin assosieer, kon sy nie lees nie. Sedert daardie tyd het sy geleer om ’n bietjie te lees. Sy is nou gedoop en sy hou baie daarvan om ander te leer. Gewoonlik hou sy vyf Bybelstudies elke week. Al kan Faustina nie so goed lees soos die meeste van haar studente nie, het sy al ses mense gehelp om tot doop te vorder. – Luk. 10:21.

13. Watter seëninge kan ons in die dissipelmaakwerk geniet, selfs al is ons baie besig?

13 Baie Christene is baie besig en sien om na belangrike verantwoordelikhede. Maar hulle maak nog steeds tyd om Bybelstudies te hou, en dit maak hulle baie gelukkig. Kyk na die voorbeeld van Melanie wat in Alaska gewoon het. Sy was ’n enkelouer met ’n agtjarige dogtertjie. Sy het ook ’n voltydse werk gehad en het gehelp om na een van haar ouers wat kanker gehad het, om te sien. Melanie was die enigste Getuie in haar afgeleë dorpie. Sy het gewoonlik vir krag gebid om in die koue te gaan preek omdat sy regtig iemand wou vind met wie sy die Bybel kon studeer. Uiteindelik het sy Sara ontmoet, wat baie bly was om te leer dat God ’n persoonlike naam het. Met verloop van tyd het Sara ’n Bybelstudie aanvaar. Melanie sê: “Vrydagaande was ek gewoonlik doodmoeg, maar ek en my dogter het baie daarby baat gevind om uit te gaan en daardie studie te hou. Ons het dit geniet om navorsing oor Sara se vrae te doen, en ons was so bly om te sien dat sy Jehovah se vriend word.” Sara was moedig en het teenstand verduur, haar kerk verlaat en is gedoop.

HOEKOM GEDULD NODIG IS OM DISSIPELS TE MAAK

14. (a) Hoe is die dissipelmaakwerk soos visvang? (b) Watter uitwerking het Paulus se woorde in 2 Timoteus 4:1, 2 op jou?

14 Selfs al lyk dit of jy nie baie suksesvol in jou bediening is nie, moet jy nie ophou hoop om potensiële dissipels te vind nie. Onthou dat Jesus die dissipelmaakwerk met visvang vergelyk het. Vissermanne moet dalk ure lank werk voordat hulle enige vis vang. Dikwels werk hulle laat in die aand of vroeg in die oggend en partykeer moet hulle lang afstande vaar (Luk. 5:5). Net so moet party Christene ure lank geduldig op verskillende tye en op verskillende plekke “visvang”. Hoekom? Sodat hulle meer mense kan ontmoet. Dié wat ekstra moeite doen, word dikwels beloon wanneer hulle mense ontmoet wat in ons boodskap belangstel. Kan jy op ’n tyd van die dag probeer preek wanneer jy mense waarskynlik sal ontmoet of by ’n plek waar jy hulle waarskynlik sal vind? – Lees 2 Timoteus 4:1, 2.

Wees geduldig terwyl jy jou studente help om geestelike vordering te maak (Sien paragraaf 15-16) *

15. Hoekom moet ons geduldig wees wanneer ons Bybelstudies hou?

15 Hoekom moet ons geduldig wees wanneer ons Bybelstudies hou? Een rede is omdat ons nie net die student moet help om Bybelleringe te leer ken en lief te kry nie. Ons moet die student ook help om die Outeur van die Bybel, Jehovah, te leer ken en lief te kry. Ons moet ’n student leer wat Jesus van sy dissipels vereis en ons moet die student help om te leer hoe om as ’n ware Christen te lewe. Ons moet hom geduldig help terwyl hy hard probeer om Bybelbeginsels toe te pas. Party kan hulle denke en gewoontes in net ’n paar maande verander; ander het meer tyd nodig.

16. Wat het jy uit Raúl se ondervinding geleer?

16 ’n Sendeling in Peru het ’n ondervinding gehad wat wys hoekom dit goed is om geduldig te wees. Die sendeling sê: “Ek het twee boeke met ’n Bybelstudent met die naam Raúl gestudeer. Maar hy het nog steeds moeilike uitdagings in sy lewe gehad. Hy het baie probleme in sy huwelik gehad, hy het gevloek, en sy kinders het min respek vir hom gehad. Hy het die vergaderinge gereeld bygewoon, en daarom het ek aangehou om hom te besoek om hom en sy gesin te help. Meer as drie jaar nadat ek hom ontmoet het, het hy gekwalifiseer om gedoop te word.”

17. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Jesus het gesê: “Gaan . . . maak dissipels van mense van al die nasies.” Om hierdie opdrag uit te voer, moet ons dikwels met mense praat wie se denke baie anders is as ons s’n, insluitende met dié wat nie aan enige godsdiensorganisasie behoort nie of wat dalk nie glo dat God bestaan nie. Die volgende artikel bespreek hoe ons die goeie nuus kan bekend maak aan mense met verskillende agtergronde.

LIED 68 Saai die Koninkryksaad

^ par. 5 Die belangrikste werk wat die Christengemeente moet doen, is om mense te help om dissipels van Christus te word. Hierdie artikel bespreek praktiese voorstelle wat ons sal help om hierdie werk te doen.

^ par. 2 WAT DIT BETEKEN: Dissipels van Christus leer nie net wat Jesus aan ander geleer het nie. Hulle pas die dinge toe wat hulle leer. Hulle probeer Jesus se voetstappe, of voorbeeld, noukeurig navolg. – 1 Pet. 2:21.

^ par. 52 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Man wat met vakansie gaan, aanvaar lektuur by Getuies by ’n lughawe. Later, terwyl hy in die dorp rondloop, sien hy ander Getuies wat openbare getuieniswerk doen. Wanneer hy weer by die huis is, besoek verkondigers hom.

^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENTE: Dieselfde man aanvaar ’n Bybelstudie. Uiteindelik kwalifiseer hy om gedoop te word.