Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 27

Berei nou voor vir vervolging

Berei nou voor vir vervolging

“Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word.” – 2 TIM. 3:12.

LIED 129 Ons sal volhard

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom moet ons voorberei vir vervolging?

DIE aand voordat ons Here Jesus doodgemaak is, het hy gesê dat almal wat kies om sy dissipels te wees, gehaat sal word (Joh. 17:14). Tot nou toe word getroue Christen Getuies van Jehovah vervolg deur dié wat ware aanbidding teëstaan (2 Tim. 3:12). Omdat die einde van hierdie wêreld al hoe nader kom, verwag ons dat ons vyande ons selfs meer sal teëstaan. – Matt. 24:9.

2-3. (a) Wat moet ons omtrent vrees besef? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Hoe kan ons ons nou al voorberei vir vervolging? Ons hoef nie aan al die slegte dinge te probeer dink wat met ons kan gebeur nie. As ons dit doen, kan vrees en angstigheid ons oorweldig. Ons kan toelaat dat denkbeeldige gevare ons oorwin nog voordat ons regtig getoets word (Spr. 12:25; 17:22). Vrees is ’n kragtige wapen wat ons “teenstander, die Duiwel,” teen ons probeer gebruik (1 Pet. 5:8, 9). Wat kan ons nou doen om onsself te versterk?

3 In hierdie artikel sal ons bespreek hoe ons ons verhouding met Jehovah kan versterk en waarom dit noodsaaklik is om dit nou te doen. Ons sal ook bespreek wat ons kan doen om meer moed te hê. En laastens sal ons bespreek wat ons kan doen wanneer teenstanders ons haat.

HOE OM JOU VERHOUDING MET JEHOVAH TE VERSTERK

4. Waarvan moet ons oortuig wees volgens Hebreërs 13:5, 6, en waarom?

4 Wees oortuig daarvan dat Jehovah vir jou lief is en dat hy jou nooit sal verlaat nie. (Lees Hebreërs 13:5, 6.) The Watchtower het jare gelede gesê: “Die persoon wat God die beste ken, sal die meeste op hom vertrou wanneer hy getoets word.” Hoe waar is hierdie woorde tog! As ons vervolging suksesvol wil verduur, moet ons Jehovah met ons hele hart liefhê en ten volle op hom vertrou en nooit twyfel dat hy ons liefhet nie. – Matt. 22:36-38; Jak. 5:11.

5. Wat sal jou help om Jehovah se liefde te ondervind?

5 Lees die Bybel elke dag met die doel om nader aan Jehovah te kom (Jak. 4:8). Terwyl jy lees, moet jy op Jehovah se tere eienskappe fokus. Probeer sy liefde vir jou voel wanneer jy lees oor die dinge wat hy gesê en gedoen het (Eks. 34:6). Party vind dit dalk moeilik om te glo dat God hulle liefhet omdat niemand nog ooit liefde aan hulle betoon het nie. As jy so voel, kan jy elke dag ’n lysie maak van maniere waarop Jehovah medelye en goedhartigheid aan jou betoon het (Ps. 78:38, 39; Rom. 8:32). Wanneer jy aan jou eie ondervindinge dink en peins oor wat jy in God se Woord gelees het, sal jy waarskynlik baie dinge kan neerskryf wat Jehovah vir jou gedoen het. Hoe meer jy waardeer wat Jehovah doen, hoe sterker sal jou verhouding met hom wees. – Ps. 116:1, 2

6. Hoe kan opregte gebed jou volgens Psalm 94:17-19 help?

6 Bid gereeld. Stel jou voor hoe ’n jong seun liefdevol deur sy pa vasgehou word. Die seun voel so veilig dat hy sy pa alles vertel wat daardie dag met hom gebeur het – die goeie en die slegte. Jy kan daardie selfde soort verhouding geniet as jy nader aan Jehovah kom deur elke dag uit jou hart tot hom te bid. (Lees Psalm 94:17-19.) “Stort jou hart uit soos water” wanneer jy tot Jehovah bid, en praat met jou liefdevolle Vader oor al jou vrese en bekommernisse (Klaagl. 2:19). Wat sal dan gebeur? Jy sal “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan,” ondervind, soos die Bybel beskryf (Fil. 4:6, 7). Hoe meer jy op hierdie manier bid, hoe nader sal jy aan Jehovah voel. – Rom. 8:38, 39.

As ons vertroue in Jehovah en sy Koninkryk het, sal ons moedig wees

Stanley Jones se geloof is versterk deur sy kennis van God se Koninkryk (Sien paragraaf 7)

7. Waarom moet jy vas oortuig wees dat die beloftes wat God oor sy Koninkryk maak, waar sal word?

7 Wees vas oortuig dat die seëninge van God se Koninkryk waar sal word (Num. 23:19). As jou geloof in sulke beloftes swak is, sal dit vir Satan en dié onder sy beheer makliker wees om jou bang te maak (Spr. 24:10; Heb. 2:15). Hoe kan jy nou jou vertroue in God se Koninkryk versterk? Doen navorsing oor God se beloftes oor sy Koninkryk en die redes waarom jy oortuig kan wees dat dit waar sal word. Hoe sal dit jou help? Kyk na die voorbeeld van Stanley Jones wat sewe jaar lank in die tronk was vir sy geloof. * Wat het hom gehelp om getrou te volhard? Hy het gesê dat sy geloof sterk was omdat hy kennis van God se Koninkryk gehad het en nooit vir ’n oomblik daaraan getwyfel het nie, en as gevolg daarvan was hy standvastig. As jy sterk geloof in God se beloftes het, sal jy nader aan Jehovah kom en sal jy nie toelaat dat vrees keer dat jy hom dien nie. – Spr. 3:25, 26.

8. Waarvan is ons gesindheid teenoor vergaderinge ’n teken? Verduidelik.

8 Woon Christelike vergaderinge gereeld by. Vergaderinge help ons om nader aan Jehovah te kom. Ons gesindheid teenoor vergaderingbywoning is ’n goeie teken van hoe suksesvol ons vervolging in die toekoms sal verduur (Heb. 10:24, 25). Waarom kan ons dit sê? As ons nou toelaat dat klein struikelblokke keer dat ons vergaderinge bywoon, wat sal in die toekoms gebeur as ons ons lewe in gevaar moet stel om met ons broers en susters bymekaar te kom? Maar as ons vasbeslote is om vergaderinge by te woon, sal ons nie ophou om bymekaar te kom wanneer teenstanders ons probeer keer nie. Dit is nou die tyd om ’n liefde vir ons vergaderinge op te bou. As ons lief is om vergaderinge by te woon, sal geen teenstand, nie eens ’n verbod deur die regering, ons keer om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense nie. – Hand. 5:29.

As jy nou tekste en Koninkryksliedere memoriseer, sal dit jou tydens vervolging help en versterk (Sien paragraaf 9) *

9. Hoe sal dit ons help om voor te berei vir vervolging as ons tekste memoriseer?

9 Memoriseer jou gunstelingtekste (Matt. 13:52). Jy het dalk nie die beste geheue nie, maar Jehovah kan sy kragtige heilige gees gebruik om jou te help om daardie tekste te onthou (Joh. 14:26). Kyk na wat een broer gesê het wat in Oos-Duitsland in die tronk en in alleenopsluiting was: “Wat ’n seën was dit tog dat ek teen daardie tyd honderde tekste uit my kop geken het! Ek kon daardie leë dae vul deur oor verskeie Bybelonderwerpe te peins.” Daardie tekste het ons broer gehelp om na aan Jehovah te bly – en om getrou te volhard.

(Sien paragraaf 10) *

10. Waarom moet ons liedere memoriseer?

10 Memoriseer en sing liedere wat Jehovah loof. Toe Paulus en Silas in Filippi in die tronk was, het hulle geestelike liedere gesing wat hulle uit hulle kop geken het (Hand. 16:25). Hoe het ons broers van die voormalige Sowjetunie wat na Siberië verban is, hulleself op ’n soortgelyke manier versterk? Suster Marija Fedoen vertel: “Ons het al die liedere gesing wat ons in die liedereboek geken het.” Sy het gesê dat daardie liedere hulle almal aangemoedig het en gehelp het om nader aan Jehovah te voel. Voel jy versterk wanneer jy jou gunsteling geestelike liedere sing? Leer dan nou daardie liedere uit jou kop! – Sien die venster “ Maak my moedig”.

HOE OM JOU MOED TE VERSTERK

11-12. (a) Hoekom was Dawid moedig volgens 1 Samuel 17:37, 45-47? (b) Watter belangrike les leer ons uit Dawid se voorbeeld?

11 Jy het moed nodig om vervolging te verduur. Wat kan jy doen as jy voel dat jy nie genoeg moed het nie? Onthou dat ware moed nie afhang van hoe groot of hoe sterk jy is nie, en ook nie van jou vermoëns nie. Dink aan die voorbeeld van jong Dawid toe hy teen Goliat geveg het. In vergelyking met daardie reus was Dawid kleiner, swakker en glad nie goed gewapen nie. Dawid het nie eens ’n swaard gehad nie. Tog het hy baie moed gehad. Dawid het moedig gehardloop om teen daardie arrogante reus te veg.

12 Hoekom het Dawid so baie moed gehad? Hy was vas oortuig dat Jehovah met hom is. (Lees 1 Samuel 17:37, 45-47). Dawid het nie gekonsentreer op hoe groot Goliat in vergelyking met hom was nie. Hy het eerder gekonsentreer op hoe klein Goliat in vergelyking met Jehovah was. Wat leer ons uit hierdie verslag? Ons sal moedig wees as ons die vertroue het dat Jehovah met ons is en as ons oortuig is dat ons teenstanders klein in vergelyking met die Almagtige God is (2 Kron. 20:15; Ps. 16:8). Hoe kan ons ons moed nou versterk – voordat vervolging kom?

13. Hoe kan ons ons moed versterk? Verduidelik.

13 Ons kan nou ons moed versterk deur die goeie nuus van God se Koninkryk in die openbaar te verkondig. Hoekom sê ons so? Want wanneer ons preek, leer dit ons om op Jehovah te vertrou en om nie vir mense bang te wees nie (Spr. 29:25). Net soos ons spiere sterker word wanneer ons oefen, word ons moed versterk wanneer ons van huis tot huis, in openbare plekke, informeel en in besigheidsgebiede preek. As ons nou die moed opbou om te preek, sal ons goed voorbereid wees om aan te hou preek selfs as ons werk verbied word. – 1 Tess. 2:1, 2.

Nancy Yuen het geweier om op te hou om die goeie nuus te verkondig (Sien paragraaf 14)

14-15. Watter lesse kan ons by Nancy Yuen en Walentina Garnofskaja leer?

14 Ons kan baie leer uit die voorbeeld van twee getroue susters wat baie moedig was. Nancy Yuen was skaars langer as 1,5 meter, maar ’n mens kon haar nie sommer intimideer nie. * Sy het geweier om op te hou om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. As gevolg daarvan was sy meer as 20 jaar in die tronk in Kommunistiese China. Die amptenare wat haar ondervra het, het gesê dat sy die hardkoppigste persoon in hulle land is!

Walentina Garnofskaja was vas oortuig dat Jehovah met haar is (Sien paragraaf 15)

15 Walentina Garnofskaja is drie keer in die voormalige Sowjetunie gearresteer en was altesaam 21 jaar lank in die tronk. * Hoekom? Sy was so vasbeslote om aan te hou preek dat die amptenare gesê het dat sy “’n besonder gevaarlike oortreder” is. Hoekom was hierdie twee getroue vroue so moedig? Hulle was vas oortuig dat Jehovah met hulle is.

16. Wat sal ons help om ware moed te hê?

16 Soos ons bespreek het, moet ons nie op ons eie sterk punte en vermoëns fokus as ons ons moed wil versterk nie. Ons moet eerder glo dat Jehovah met ons is en dat hy die een is wat vir ons veg (Deut. 1:29, 30; Sag. 4:6). Dit sal ons help om ware moed te hê.

WAT OM TE DOEN WANNEER MENSE ONS HAAT

17-18. Watter waarskuwing het Jesus ons in Johannes 15:18-21 gegee? Verduidelik.

17 Ons hou daarvan wanneer ander ons respekteer, maar ons moenie dink dat ons niks werd is as mense nie van ons hou nie. Jesus het gesê: “Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en julle smaad en julle naam as goddeloos uitwerp ter wille van die Seun van die mens” (Luk. 6:22). Wat het Jesus bedoel?

18 Jesus het nie bedoel dat Christene dit sou geniet as mense hulle haat nie. Hy was eerder realisties. Ons is geen deel van die wêreld nie. Ons lewe in ooreenstemming met Jesus se leringe en verkondig die boodskap wat hy verkondig het. Daarom haat die wêreld ons. (Lees Johannes 15:18-21.) Ons wil Jehovah gelukkig maak. As mense ons haat omdat ons lief is vir ons Vader, is dit hulle probleem.

19. Hoe kan ons die voorbeeld van die apostels navolg?

19 Moet nooit toelaat dat enigiets wat mense sê of doen, veroorsaak dat jy skaam voel om een van Jehovah se Getuies te wees nie (Miga 4:5). Ons kan leer om nie vir mense bang te wees nie deur te kyk na die voorbeeld wat die apostels in Jerusalem gestel het kort nadat Jesus doodgemaak is. Hulle het geweet hoe baie die Joodse godsdiensleiers hulle haat (Hand. 5:17, 18, 27, 28). Maar hulle het aangehou om elke dag na die tempel te gaan en hulle in die openbaar as dissipels van Jesus te identifiseer (Hand. 5:42). Hulle het nie toegelaat dat vrees in hulle pad staan nie. Ons kan ook ons vrees vir mense oorkom deur onsself gereeld en in die openbaar as Jehovah se Getuies te identifiseer – by die werk, die skool en in die gebied waar ons woon. – Hand. 4:29; Rom. 1:16.

20. Hoekom was die apostels gelukkig, al het mense hulle gehaat?

20 Hoekom was die apostels gelukkig? Hulle het geweet hoekom mense hulle haat en hulle het dit as ’n voorreg beskou om sleg behandel te word omdat hulle Jehovah se wil doen (Luk. 6:23; Hand. 5:41). Die apostel Petrus het later geskryf: “Selfs as julle ter wille van regverdigheid sou ly, is julle gelukkig” (1 Pet. 2:19-21; 3:14). As ons verstaan dat ons gehaat word omdat ons doen wat reg is, sal ons nooit ophou om Jehovah te dien omdat mense ons haat nie.

JY SAL BAAT VIND BY VOORBEREIDING

21-22. (a) Wat het jy besluit om te doen om voor te berei vir vervolging? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Ons weet nie wanneer mense ons sal begin vervolg nie of selfs wanneer die owerhede dalk ons werk sal verbied nie. Maar ons weet wel dat ons nou vir vervolging kan voorberei deur ons verhouding met Jehovah te versterk, deur ons moed te versterk en deur te leer wat om te doen wanneer mense ons haat. As ons onsself nou voorberei, sal dit ons help om in die toekoms getrou te wees.

22 Maar sê nou ons aanbidding word wel verbied? In die volgende artikel sal ons beginsels bespreek wat ons sal help om Jehovah te bly dien selfs wanneer ons werk verbied word.

LIED 118 “Gee ons meer geloof”

^ par. 5 Ons wil nie gehaat word nie. Maar ons almal sal die een of ander tyd vervolg word. Hierdie artikel sal ons help om vervolging moedig te verduur.

^ par. 7 Sien Die Wagtoring, 15 April 1966, bl. 175-179.

^ par. 14 Sien Die Wagtoring van 1 Oktober 1979, bl. 4-7. Sien ook die video Jehovah se naam sal bekend gemaak word op JW Broadcasting®. Kyk onder ONDERHOUDE EN ONDERVINDINGE.

^ par. 15 Sien die Jaarboek van Jehovah se Getuies vir 2008, bl. 191-192.

^ par. 67 BESKRYWING VAN PRENTE: Ouers gebruik flitskaarte gedurende gesinsaanbidding om hulle kinders te help om tekste te memoriseer.

^ par. 70 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Gesin oefen Koninkryksliedere in die kar terwyl hulle op pad is na die vergadering.