Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 28

Hou aan om Jehovah te aanbid selfs wanneer ons werk verbied is

Hou aan om Jehovah te aanbid selfs wanneer ons werk verbied is

“Ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” – HAND. 4:19, 20.

LIED 122 Wees standvastig, onbeweeglik!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Hoekom moet dit ons nie verbaas wanneer daar ’n verbod op ons aanbidding geplaas word nie? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

IN 2018 het meer as 223 000 verkondigers van die goeie nuus in lande gebly waar daar ’n verbod of streng beperkings op ons geestelike bedrywighede was. Dit is nie verbasend nie. Soos ons in die vorige artikel geleer het, verwag ware Christene dat hulle vervolg sal word (2 Tim. 3:12). Sekulêre owerhede kan skielik en onverwags ’n verbod plaas op ons aanbidding van ons liefdevolle God, Jehovah, ongeag waar ons bly.

2 As die regering waar jy bly, besluit om ’n verbod te plaas op ons aanbidding van Jehovah, wonder jy dalk oor die volgende: ‘Beteken vervolging dat ons God se goedkeuring verloor het? Sal ’n verbod op ons werk keer dat ons Jehovah aanbid? Moet ek na ’n land trek waar ek God vryelik kan aanbid?’ Ons sal hierdie vrae in hierdie artikel bespreek. Ons sal ook bespreek hoe ons kan aanhou om Jehovah te aanbid wanneer ons werk verbied is en watter strikke ons moet vermy.

BETEKEN VERVOLGING DAT ONS GOD SE GOEDKEURING VERLOOR HET?

3. Hoe is die getroue apostel Paulus volgens 2 Korintiërs 11:23-27 vervolg, en wat leer ons uit sy voorbeeld?

3 As ’n regering ’n verbod op ons aanbidding plaas, kan ons verkeerdelik dink dat ons nie God se goedkeuring het nie. Maar onthou dat vervolging nie beteken dat Jehovah ontevrede is met ons nie. Kom ons kyk byvoorbeeld na die apostel Paulus. Hy het beslis God se goedkeuring gehad. Hy het die voorreg gehad om 14 briewe van die Christelike Griekse Geskrifte te skryf en hy was ’n apostel vir die nasies. Maar tog is hy baie erg vervolg. (Lees 2 Korintiërs 11:23-27.) Ons leer uit die apostel Paulus se ondervinding dat Jehovah toelaat dat sy getroue knegte vervolg word.

4. Hoekom haat die wêreld ons?

4 Jesus het verduidelik hoekom ons teenstand moet verwag. Hy het gesê dat ons gehaat sal word omdat ons geen deel van die wêreld is nie (Joh. 15:18, 19). Vervolging is nie ’n teken dat ons Jehovah se goedkeuring verloor het nie. Dit wys eerder dat ons doen wat reg is!

SAL ’N VERBOD OP ONS WERK KEER DAT ONS JEHOVAH AANBID?

5. Kan blote mense keer dat ons Jehovah aanbid? Verduidelik.

5 Blote mense kan nie die aanbidding van die almagtige God, Jehovah, heeltemal keer nie. Baie het probeer en misluk. Dink aan wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebeur het. Gedurende daardie tyd het regerings in baie lande God se volk hewig vervolg. Die werk van Jehovah se Getuies is nie net deur die Nazi-party in Duitsland verbied nie, maar ook deur regerings in Australië, Kanada en ander lande. Maar kyk wat gebeur het. Toe die oorlog in 1939 begin, was daar wêreldwyd 72 475 verkondigers. Verslae het getoon dat daar teen die einde van die oorlog in 1945, met Jehovah se seën, 156 299 verkondigers was. Die hoeveelheid verkondigers het meer as verdubbel!

6. Watter uitwerking kan teenstand op ons hê in plaas daarvan om ons te intimideer? Gee ’n voorbeeld.

6 In plaas daarvan om ons te intimideer, kan teenstand ons help om meer in Jehovah se diens te doen. Byvoorbeeld, ’n paartjie met ’n jong kind het in ’n land gebly waar die regering besluit het om ’n verbod op ons aanbidding te plaas. In plaas daarvan om bang te word en minder in Jehovah se diens te doen, het die paartjie begin pionier. Die vrou het selfs haar goed betaalde werk gelos om dit te doen. Die man het gesê dat die verbod baie mense nuuskierig gemaak het oor Jehovah se Getuies. As gevolg hiervan was dit vir hom makliker om Bybelstudies te begin. Die verbod het ook ’n positiewe uitwerking op ander gehad. ’n Ouer man in dieselfde land het gesê dat baie broers wat opgehou het om Jehovah te dien, weer vergaderinge begin bywoon het en bedrywig geword het.

7. (a) Wat leer ons uit Levitikus 26:36, 37? (b) Wat sal jy doen as die werk in jou land verbied is?

7 Wanneer ons vyande ’n verbod op ons aanbidding plaas, hoop hulle om ons bang te maak om Jehovah te dien. Hulle sal dalk ook valse stories oor ons versprei, amptenare stuur om ons huise te deursoek, ons hof toe sleep of selfs party van ons in die tronk opsluit. Hulle hoop dat ons bang sal wees omdat hulle dit reggekry het om ’n paar van ons in die tronk te sit. As ons toelaat dat hulle ons bangmaak, kan ons selfs ’n “verbod” op ons eie aanbidding plaas. Ons wil nie soos dié word wat in Levitikus 26:36, 37 beskryf word nie. (Lees.) Ons sal nie toelaat dat vrees veroorsaak dat ons minder of selfs niks in ons diens aan Jehovah doen nie. Ons vertrou ten volle op Jehovah en weier om paniekerig te raak (Jes. 28:16). Ons bid vir Jehovah se leiding. Omdat ons Jehovah se ondersteuning het, weet ons dat selfs die kragtigste menseregering ons nie kan keer om ons God getrou te aanbid nie. – Heb. 13:6.

MOET EK NA ’N ANDER LAND TREK?

8-9. (a) Watter persoonlike besluit sal elke gesinshoof of persoon moet neem? (b) Wat sal ’n persoon help om ’n wyse besluit te neem?

8 As die regering ’n verbod op ons aanbidding plaas in die land waar jy bly, wonder jy dalk of jy na ’n land moet trek waar jy Jehovah vryelik kan dien. Dit is ’n persoonlike besluit wat niemand anders vir jou kan neem nie. Party vind dit dalk nuttig om te kyk wat Christene in die eerste eeu gedoen het toe hulle vervolg is. Nadat vyande Stefanus met klippe doodgegooi het, het die dissipels wat in Jerusalem was, na Judea en Samaria en selfs so ver as Fenisië, Siprus en Antiogië getrek (Matt. 10:23; Hand. 8:1; 11:19). Maar ander kyk dalk na wat die apostel Paulus gedoen het toe die eerste-eeuse Christene weer vervolg is. Hy het besluit om nie weg te trek uit gebiede waar die predikingswerk teëgestaan is nie. Hy het eerder sy lewe in gevaar gestel om die goeie nuus te verkondig en die broers te versterk in stede waar daar hewige vervolging was. – Hand. 14:19-23.

9 Wat leer ons uit hierdie verslae? Elke gesinshoof moet self besluit of sy gesin na ’n ander land sal trek. Voordat hy die besluit neem, moet hy daaroor bid en goed nadink oor sy gesin se omstandighede en die positiewe en negatiewe uitwerking wat dit op hulle kan hê. Wanneer dit by hierdie besluit kom, moet elke Christen “sy eie vrag dra” (Gal. 6:5). Ons moenie ander oordeel vir die besluit wat hulle neem nie.

HOE SAL ONS GOD AANBID WANNEER ONS WERK VERBIED IS?

10. Watter riglyne sal die takkantoor en die ouer manne gee?

10 Hoe kan jy aanhou om Jehovah te dien terwyl die werk verbied is? Die takkantoor sal die plaaslike ouer manne instruksies en praktiese voorstelle gee oor hoe om geestelike voedsel te ontvang, hoe om bymekaar te kom vir aanbidding en hoe om die goeie nuus te verkondig. As die takkantoor nie die ouer manne kan kontak nie, sal die ouer manne jou en almal in die gemeente help om aan te hou om Jehovah te aanbid. Hulle sal riglyne gee wat met die Bybel en ons Christelike publikasies ooreenstem. – Matt. 28:19, 20; Hand. 5:29; Heb. 10:24, 25.

11. Hoekom kan jy daarvan seker wees dat jy geestelike voedsel sal hê, en wat kan jy doen om hierdie geestelike voedsel te beskerm?

11 Jehovah het belowe dat sy knegte genoeg geestelike voedsel sal hê om hulle geloof sterk te hou (Jes. 65:13, 14; Luk. 12:42-44). Daarom kan jy daarvan seker wees dat sy organisasie alles moontlik sal doen om die nodige geestelike voedsel te voorsien. Wat kan jy doen? Wanneer daar ’n verbod op ons werk is, moet jy ’n goeie plek kry waar jy jou Bybel en ander geestelike voedsel wat jy dalk het, kan weg steek. Maak seker dat jy nie sulke kosbare inligting – of dit nou gedruk of elektronies is – op ’n plek sit waar dit maklik gevind kan word nie. Elkeen van ons moet praktiese dinge doen om geestelik sterk te bly.

Omdat Jehovah ons ondersteun, kan ons bymekaarkom vir aanbidding sonder om bang te wees (Sien paragraaf 12) *

12. Hoe kan die ouer manne vergaderinge reël wat nie aandag sal trek nie?

12 Wat van weeklikse vergaderinge vir aanbidding? Die ouer manne sal reël dat jy vergaderinge bywoon op ’n manier wat nie onnodige aandag sal trek nie. Dalk sê hulle dat ons in kleiner groepe moet bymekaarkom, en hulle sal waarskynlik die vergaderingtye en -plekke gereeld verander. Jy kan help om almal veilig te hou deur saggies te praat wanneer jy na die vergaderinge toe gaan of wanneer jy daar weggaan. Jy sal dalk ook minder formeel moet aantrek.

Ons sal nie ophou preek nie, al verbied die regering ons werk (Sien paragraaf 13) *

13. Wat kan ons by ons broers in die voormalige Sowjetunie leer?

13 Wanneer dit by die predikingswerk kom, sal omstandighede verskil van een gebied na ’n ander. Maar ons is lief vir Jehovah en geniet dit om ander van sy Koninkryk te vertel, en daarom sal ons ’n manier vind om te preek (Luk. 8:1; Hand. 4:29). Die geskiedkundige Emily B. Baran het die volgende gesê oor die predikingswerk van Jehovah se Getuies in die voormalige Sowjetunie: “Toe die owerheid vir Jehovah se Getuies sê dat hulle nie in die openbaar oor hulle geloof mag praat nie, het die Getuies met hulle bure, werksmaats en vriende gepraat. Toe hulle as gevolg daarvan in strafkampe beland het, het die Getuies na geleenthede gesoek om met hulle medegevangenes te praat.” Al was daar ’n verbod op die werk in die voormalige Sowjetunie, het ons broers nie ophou preek nie. Mag jy net so vasbeslote wees as die predikingswerk ooit verbied word in die land waar jy woon!

STRIKKE OM TE VERMY

Ons moet weet wanneer om stil te bly (Sien paragraaf 14) *

14. Watter strik kan Psalm 39:1 ons help om te vermy?

14 Wees versigtig wanneer dit kom by wat jy vir ander vertel. Wanneer daar ’n verbod op ons werk is, moet ons weet wanneer “om stil te bly” (Pred. 3:7). Ons moet sensitiewe inligting geheim hou, soos die name van ons broers en susters, waar ons bymekaarkom, hoe ons die predikingswerk doen en hoe ons geestelike voedsel ontvang. Ons sal nie hierdie inligting aan die sekulêre owerheid bekend maak nie, en ook nie aan vriende en familie wat in ons land of ’n ander land woon nie. As ons in hierdie strik trap, sal ons ons broers in gevaar stel. – Lees Psalm 39:1.

15. Wat sal Satan aanhou probeer doen, en hoe kan ons sy strik vermy?

15 Moenie toelaat dat klein probleme ons verdeel nie. Satan weet dat ’n huis wat verdeeld is, nie kan bly staan nie (Mark. 3:24, 25). Hy sal aanhou probeer om ons te verdeel. Op hierdie manier hoop hy dat ons met mekaar sal stry eerder as om teen hom te stry.

16. Watter goeie voorbeeld het suster Gertrud Poetzinger gestel?

16 Selfs volwasse Christene moet versigtig wees om nie in hierdie strik te trap nie. Kyk na die voorbeeld van twee gesalfde susters, Gertrud Poetzinger en Elfriede Löhr. Hulle was saam met ander Christensusters in ’n Nazi-konsentrasiekamp. Gertrud het jaloers geword toe Elfriede aanmoedigende toesprake vir die ander susters in die kamp gehou het. Later het Gertrud skaam gevoel hieroor en Jehovah gesmeek om haar te help. Sy het geskryf: “Ons moet leer om dit te aanvaar wanneer ander bekwamer as ons is of meer verantwoordelikhede het.” Hoe het sy haar jaloesie oorkom? Gertrud het op Elfriede se goeie eienskappe en vriendelike persoonlikheid gefokus. Op hierdie manier het sy en Elfriede weer goeie vriende geword. Hulle altwee het die konsentrasiekamp oorleef en Jehovah getrou gedien totdat hulle hulle aardse loopbaan voltooi het. Ons wil nie toelaat dat enigiets ons verdeel nie, en daarom sal ons hard werk om geskille met ons broers op te los. – Kol. 3:13, 14.

17. Hoekom moet ons altyd die riglyne van Jehovah se organisasie volg?

17 Volg altyd die riglyne van Jehovah se organisasie. As ons die riglyne volg wat ons van betroubare, verantwoordelike broers ontvang, sal ons probleme vermy (1 Pet. 5:5). In ’n land waar daar byvoorbeeld ’n verbod op ons werk geplaas is, het verantwoordelike broers vir die verkondigers gesê om nie gedrukte lektuur by mense in die bediening te laat nie. Maar ’n pionierbroer in hierdie gebied het gedink dat hy beter weet en het lektuur versprei. Wat het gebeur? Kort nadat hy en ’n paar ander broers informele getuieniswerk gedoen het, is hulle deur die polisie ondervra. Blykbaar het die amptenare hulle agtervolg en die lektuur gevind wat die broers versprei het. Wat leer ons uit hierdie ondervinding? Ons moet die riglyne volg, al dink ons dat ons beter weet. Jehovah seën ons altyd wanneer ons saam met die broers werk wat hy aangestel het om die leiding te neem. – Heb. 13:7, 17.

18. Hoekom moet ons nie onnodige reëls maak nie?

18 Moenie onnodige reëls maak nie. As ouer manne onnodige reëls maak, sal hulle die lewe vir ander moeilik maak. Broer Juraj Kaminský vertel wat gebeur het toe die werk in die voormalige Tsjeggo-Slowakye verbied is: “Toe die verantwoordelike broers en baie ouer manne gearresteer is, het party van dié wat die leiding in die gemeentes en kringe geneem het, reëls begin maak oor hoe die verkondigers hulle moet gedra deur ’n lys moets en moenies te maak.” Jehovah het ons nie die gesag gegee om persoonlike besluite vir ander te neem nie. Iemand wat onnodige reëls maak, is nie besig om sy broer te beskerm nie – hy is eerder besig om die meester van sy broer se geloof te probeer word. – 2 Kor. 1:24.

MOENIE OPHOU OM JEHOVAH TE AANBID NIE

19. Hoekom kan ons volgens 2 Kronieke 32:7, 8 moedig wees ten spyte van Satan se pogings?

19 Ons hoofteenstander, Satan die Duiwel, sal nie ophou om Jehovah se getroue knegte te probeer vervolg nie (1 Pet. 5:8; Op. 2:10). Satan en dié wat hom ondersteun, sal probeer om ’n verbod te plaas op ons aanbidding van Jehovah. Maar ons het geen rede om so bang te wees dat ons ophou om Jehovah te dien nie! (Deut. 7:21). Jehovah is aan ons kant en hy sal aanhou om ons te ondersteun, al word ons werk verbied. – Lees 2 Kronieke 32:7, 8.

20. Wat is jy vasbeslote om te doen?

20 Mag ons net so vasbeslote wees soos ons eerste-eeuse broers, wat vir die heersers in hulle dag gesê het: “Of dit regverdig is in God se oë om na julle eerder as na God te luister, moet julle self oordeel. Maar wat ons betref, ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” – Hand. 4:19, 20.

LIED 73 Gee ons vrymoedigheid, Heer

^ par. 5 Wat moet ons doen as die regering ’n verbod plaas op ons aanbidding van Jehovah? Hierdie artikel sal praktiese voorstelle gee oor wat om te doen en wat om te vermy sodat ons kan aanhou om God te aanbid!

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENTE: Al die prente beeld Getuies uit wat in lande dien waar daar beperkings op ons werk is. In hierdie prent hou ’n klein groepie ’n vergadering in ’n broer se stoorkamer.

^ par. 61 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Christensuster (links) wat vriendelik met ’n vrou gesels, soek na ’n geleentheid om oor geestelike dinge te praat.

^ par. 63 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Broer wat deur die polisie ondervra word, weier om vir hulle inligting oor sy gemeente te gee.