Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 34

Hoe om gelukkig te wees in ’n nuwe toewysing

Hoe om gelukkig te wees in ’n nuwe toewysing

“God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het [nie].” – HEB. 6:10.

LIED 38 Hy maak jou sterk

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-3. Wat is party van die redes waarom voltydse dienaars se toewysings soms moet verander?

“NADAT ons 21 wonderlike jare in ons sendingtoewysing was, het al vier ons ouers sieklik geword,” sê Robert en Mary Jo. “Ons het glad nie omgegee om hulle te versorg nie. Maar dit was baie hartseer om die plek te verlaat waar ons harte was.”

2 “Toe ons uitvind dat ons as gevolg van ons gesondheid nie kon teruggaan na ons toewysing nie, het ons baie gehuil,” vertel William en Terrie. “Ons droom om Jehovah in die buiteland te dien, was daarmee heen.”

3 “Ons het geweet dat ons vervolgers die takkantoor waar ek gedien het, wou toemaak,” sê Aleksei. “Maar dit was nog steeds ’n skok toe dit gebeur het en ons Bethel moes verlaat.”

4. Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Baie voltydse dienaars, insluitende Betheliete, het ook nuwe toewysings ontvang. * Dit kan vir getroue broers en susters moeilik wees om die toewysing waarvoor hulle so lief is, te verlaat. Wat kan hulle help om hierdie verandering te hanteer? Hoe kan jy hulle help? Die antwoorde op hierdie vrae kan ons almal help om veranderinge in ons lewe te hanteer.

HOE OM ’N VERANDERING TE HANTEER

Hoekom kan dit vir voltydse bedienaars moeilik wees om ’n toewysing te verlaat? (Sien paragraaf 5) *

5. Watter uitwerking kan dit op ons hê wanneer ons toewysing verander?

5 Of ons nou in die veld of by Bethel dien, ons kan baie lief word vir die mense en die plek waar ons dien. Ons is baie hartseer as ons om die een of ander rede moet weggaan. Ons verlang na dié wat agterbly en ons is bekommerd oor hulle, veral as ons moes weggaan as gevolg van vervolging (Matt. 10:23; 2 Kor. 11:28, 29). En om ’n nuwe toewysing te kry – of selfs om terug te gaan huis toe – kan dikwels beteken dat ons by ’n nuwe kultuur moet aanpas, en dit kan baie moeilik wees. “Ons was nie meer gewoond aan ons eie kultuur nie of selfs om in ons eie taal te preek nie,” sê Robert en Mary Jo. “Dit het gevoel asof ons nie meer inpas nie.” Party wat ’n nuwe toewysing ontvang, het dalk skielik onverwagte uitgawes. Hulle kan onseker en mismoedig voel. Wat kan hulle help?

Dit is noodsaaklik dat ons na aan Jehovah bly en op hom vertrou (Sien paragraaf 6-7) *

6. Hoe kan ons na aan Jehovah bly?

6 Bly na aan Jehovah (Jak. 4:8). Hoe kan ons dit doen? Deur te vertrou dat hy die “Hoorder van die gebed” is (Ps. 65:2). “Stort julle hart voor hom uit,” sê Psalm 62:8. Jehovah kan “oneindig meer . . . doen as alles wat ons vra of wat ons ons [kan] voorstel” (Ef. 3:20). Jehovah gee ons nie net waarvoor ons bid nie – hy gee ons soveel meer. Hy help ons dalk met ons probleme op ’n manier wat ons nooit verwag het nie.

7. (a) Wat sal ons help om na aan Jehovah te bly? (b) Wat sal volgens Hebreërs 6:10-12 die gevolg wees as ons Jehovah getrou bly dien?

7 As ons na aan Jehovah wil bly, moet ons die Bybel elke dag lees en daaroor nadink. ’n Broer wat ’n sendeling was, sê: “Bly by jou skedule van gesinsaanbidding en berei voor vir elke vergadering, net soos jy in jou vorige toewysing gedoen het.” En hou aan om in jou nuwe gemeente ’n volle aandeel te hê in die verkondiging van die goeie nuus. Jehovah onthou dié wat hom getrou bly dien, selfs al kan hulle nie meer doen wat hulle voorheen gedoen het nie. – Lees Hebreërs 6:10-12.

8. Hoe kan die woorde in 1 Johannes 2:15-17 jou help om jou lewe eenvoudig te hou?

8 Hou jou lewe eenvoudig. Moenie toelaat dat die bekommernisse van Satan se wêreld jou geestelike bedrywighede “verstik” nie (Matt. 13:22). Die wêreld of selfs vriende en familielede met goeie bedoelings kan druk op ons plaas om finansiële sekuriteit in Satan se wêreld te soek, maar ons moet hierdie druk weerstaan. (Lees 1 Johannes 2:15-17.) Vertrou op Jehovah, wat belowe dat hy “op die regte tyd” in al ons geestelike, emosionele en materiële behoeftes sal voorsien. – Heb. 4:16; 13:5, 6.

9. Hoekom is dit volgens Spreuke 22:3, 7 belangrik om onnodige skuld te vermy, en wat kan ons help om wyse besluite te neem?

9 Vermy onnodige skuld. (Lees Spreuke 22:3, 7.) Dit kan baie duur wees om te trek, en dit is maklik om skuld te maak. Vermy skuld deur nie dinge op krediet te koop wat jy nie regtig nodig het nie. Wanneer ons onder emosionele druk is, soos wanneer ons vir ’n geliefde sorg wat siek is, kan dit moeilik wees om te besluit hoeveel skuld om te maak. In sulke situasies moet jy onthou dat “gebed en smeking” jou kan help om wyse besluite te neem. Jehovah kan ons gebede beantwoord deur ons die vrede te gee wat ons ‘harte en verstandelike vermoëns sal bewaak’, en dit sal ons help om kalm te bly sodat ons goeie besluite kan neem. – Fil. 4:6, 7; 1 Pet. 5:7.

10. Hoe kan ons nuwe vriende maak?

10 Behou goeie verhoudings. Praat met goeie vriende oor hoe jy voel en oor wat jy deurmaak, veral met dié wat dalk soortgelyke vreugdes en uitdagings gehad het. Dit kan jou help om beter te voel (Pred. 4:9, 10). Vriende wat jy in jou vorige toewysing gemaak het, sal jou vriende bly. Nou moet jy nuwe vriende in jou nuwe toewysing maak. Onthou, om ’n vriend te hê moet jy ’n vriend wees. Hoe kan jy nuwe vriende maak? Vertel ander van die wonderlike ondervindinge wat jy in Jehovah se diens gehad het sodat hulle kan sien hoe gelukkig jy is. Party in die gemeente sal dalk nie verstaan hoekom jy so entoesiasties oor voltydse diens is nie, maar ander sal dalk meer wil weet en goeie vriende van jou word. Maar moenie heeltyd oor jouself praat nie, of oor die dinge wat jy in Jehovah se diens gedoen het en ook nie oor jou negatiewe gevoelens nie.

11. Hoe kan jy sorg dat jou huwelik gelukkig bly?

11 As jy jou toewysing moes verlaat as gevolg van jou maat se gesondheid, moet jy hom of haar nie daarvoor blameer nie. Of as jy die een is wat gesondheidsprobleme gehad het, moet jy nie skuldig voel en dink dat jy jou maat teleurgestel het nie. Onthou, julle is “een vlees” en julle het voor Jehovah belowe om vir mekaar te sorg, maak nie saak wat gebeur nie (Matt. 19:5, 6). As julle ’n toewysing verlaat het as gevolg van ’n onbeplande swangerskap, moet julle seker maak dat julle kind weet dat hy belangriker is as wat julle toewysing was. Verseker julle kind dat julle hom as “’n beloning” van God beskou (Ps. 127:3-5). Vertel hom ook van die wonderlike ondervindinge wat julle in julle toewysing gehad het. Dit kan julle kind motiveer om sy lewe in Jehovah se vreugdevolle diens te gebruik, net soos julle gedoen het.

HOE ANDER KAN HELP

12. (a) Hoe kan ons dié in die voltydse diens help om in hulle toewysings te bly? (b) Hoe kan ons hulle help om by hulle nuwe toewysing aan te pas?

12 Dit is goed om te sien dat baie gemeentes en individue doen wat hulle kan om dié in die voltydse diens te help om in hulle toewysings te bly. Hulle doen dit deur hulle aan te moedig of hulle finansieel te ondersteun. Hulle kan ook vir hulle dinge gee wat hulle nodig het of hulle help om vir hulle familielede wat ver weg bly, te sorg (Gal. 6:2). As voltydse bedienaars ’n nuwe toewysing ontvang en na jou gemeente gestuur word, moet jy nie dink dat hulle ’n ander toewysing gekry het omdat hulle misluk het of iets verkeerds gedoen het nie. * Help hulle eerder om by hulle nuwe toewysing aan te pas. Verwelkom hulle en prys hulle vir die werk wat hulle gedoen het, selfs al kan hulle op die oomblik nie so baie doen nie as gevolg van swak gesondheid. Leer ken hulle. Leer uit al hulle kennis, opleiding en ondervinding.

13. Hoe kan ons dié help wat ’n nuwe toewysing ontvang het?

13 Aan die begin sal dié wat ’n nuwe toewysing ontvang het, dalk julle hulp nodig hê om blyplek te kry, sowel as vervoer, werk of ander dinge wat hulle nodig het. Hulle het dalk inligting nodig oor alledaagse dinge, soos om belasting te betaal en om versekering te kry. Maar wat hulle die nodigste het, is dat ons hulle omstandighede moet probeer verstaan eerder as om hulle jammer te kry. Hulle sukkel dalk met hulle gesondheid of hulle familielede het gesondheidsprobleme. Hulle treur dalk oor die dood van ’n geliefde. * En al sê hulle niks nie, is hulle dalk hartseer omdat hulle verlang na hulle geestelike familie in hulle vorige toewysing. Dit kan tyd neem om deur sulke diep en dikwels gemengde gevoelens te werk.

14. Hoe het plaaslike verkondigers ’n suster gehelp om by haar nuwe toewysing aan te pas?

14 Intussen kan julle ondersteuning en voorbeeld hulle help om aan te pas. “In my vorige toewysing het ek elke dag Bybelstudies gehou,” sê ’n suster wat jare lank in ’n ander land gedien het. “In my nuwe toewysing was dit moeilik om selfs net die geleentheid te kry om die Bybel oop te maak of om ’n video in die bediening te wys. Maar die plaaslike verkondigers het my gevra om saam met hulle na hulle herbesoeke en studies te gaan. Toe ek sien hoe hierdie ywerige en moedige broers en susters progressiewe Bybelstudies hou, het dit my gehelp om meer positief te wees. Ek het geleer om gesprekke in die nuwe gebied te begin. Al hierdie dinge het my gehelp om weer gelukkig te wees.”

HOU AAN OM JOU BES TE DOEN!

Soek na maniere om jou bediening uit te brei in die gebied waar jy bly (Sien paragraaf 15-16) *

15. Hoe kan jy suksesvol wees in jou nuwe toewysing?

15 Jy kan suksesvol wees in jou nuwe toewysing. Moenie dink dat jy misluk het of dat jy nie meer so waardevol is nie omdat jou toewysing verander het. Probeer om Jehovah se hand in jou lewe te sien en hou aan preek. Volg die voorbeeld van die getroue Christene in die eerste eeu. Waar hulle ook al was, hulle het “deur die land gegaan en die goeie nuus van die woord bekend gemaak” (Hand. 8:1, 4). As jy aanhou preek, sal jy dalk goeie resultate sien. Pioniers wat byvoorbeeld uit ’n land verban is, het na ’n buurland getrek waar daar meer verkondigers nodig was wat hulle taal gepraat het. Binne net ’n paar maande is groepe gevorm wat vinnig gegroei het.

16. Hoe kan jy gelukkig wees in ’n nuwe toewysing?

16 “Die vreugde van Jehovah is julle vesting” (Neh. 8:10). Ons verhouding met Jehovah moet ons grootste bron van geluk wees, nie ons toewysing nie, maak nie saak hoe lief ons daarvoor is nie. Ons moet dus na aan Jehovah bly en op hom vertrou vir wysheid, leiding en ondersteuning. Onthou dat jy lief geword het vir jou vorige toewysing omdat jy jou bes gedoen het om die mense daar te help. Doen ook jou bes in jou nuwe toewysing en jy sal sien hoe Jehovah jou help om ook hiervoor lief te word. – Pred. 7:10.

17. Wat moet ons omtrent ons huidige toewysing onthou?

17 Ons moet onthou dat ons diens aan Jehovah permanent is, maar ons huidige toewysing is tydelik. In die nuwe wêreld sal ons almal dalk ’n nuwe toewysing kry. Aleksei, wat aan die begin genoem is, glo dat sy huidige ondervindinge hom hiervoor voorberei. “Ek het nog altyd geweet dat Jehovah en die nuwe wêreld ’n werklikheid is, maar om die een of ander rede het dit gevoel of hulle ’n bietjie ver weg is,” sê Aleksei. “Nou is Jehovah reg voor my en die nuwe wêreld die volgende bestemming op my reis” (Hand. 2:25). Ongeag wat ons toewysing is, ons moet aanhou om na aan Jehovah te bly. Hy sal ons nooit verlaat nie, maar hy sal ons help om vreugde te vind in wat ons ook al in sy diens kan doen – waar dit ook al mag wees. – Jes. 41:13.

LIED 90 Bemoedig mekaar

^ par. 5 Soms moet broers en susters in die voltydse diens hulle toewysing verlaat of hulle ontvang dalk ’n nuwe toewysing. Hierdie artikel bespreek die uitdagings wat hulle ondervind en wat hulle kan help om by hulle nuwe omstandighede aan te pas. Dit bespreek ook wat ander kan doen om hulle aan te moedig en te ondersteun, asook beginsels wat ons almal kan help om veranderinge te hanteer.

^ par. 4 Toe baie broers met verantwoordelike toewysings ’n sekere ouderdom bereik, moes ook hulle hierdie verantwoordelikhede aan jonger broers oorgee. Sien die artikels “Ouer Christene – Jehovah waardeer julle lojaliteit” in Die Wagtoring van September 2018 en “Behou innerlike vrede, al verander jou omstandighede” in Die Wagtoring van Oktober 2018.

^ par. 12 Die ouermanne in die gemeente waar hulle gedien het, moet so gou as moontlik ’n bekendstellingsbrief skryf sodat hulle kan aanhou om as ’n pionier, ’n ouerman of as ’n bedieningskneg te dien.

^ par. 13 Sien die reeks “Hulp vir dié wat treur” in die Ontwaak! nr. 3 2018.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Paartjie wat hulle sendingtoewysing in die buiteland moet verlaat, is baie hartseer wanneer hulle vir hulle gemeente totsiens sê.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENTE: Dieselfde paartjie is terug in hulle tuisland en hulle bid aanhoudend tot Jehovah om hulle met hulle uitdagings te help.

^ par. 61 BESKRYWING VAN PRENTE: Met Jehovah se hulp is die paartjie terug in die voltydse diens. Hulle gebruik die taal wat hulle as sendelinge geleer het om die goeie nuus te verkondig aan immigrante in hulle nuwe gemeente se gebied.