Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 40

Bly besig gedurende die laaste van “die laaste dae”

Bly besig gedurende die laaste van “die laaste dae”

“Word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd baie het om in die werk van die Here te doen.” – 1 KOR. 15:58.

LIED 58 Op soek na vriende van vrede

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat oortuig ons dat ons in “die laaste dae” lewe?

AS JY ná 1914 gebore is, lewe jy al jou hele lewe lank in “die laaste dae” van hierdie wêreld (2 Tim. 3:1). Ons almal het al van die dinge gehoor wat Jesus gesê het in ons tyd sal gebeur. Dit sluit in oorloë, voedseltekorte, aardbewings, pessiektes, ’n toename in wetteloosheid en die vervolging van Jehovah se volk (Matt. 24:3, 7-9, 12; Luk. 21:10-12). Ons sien ook hoe mense se gedrag ooreenstem met wat Paulus voorspel het. (Sien die venster “ Hoe mense vandag is”.) As aanbidders van Jehovah is ons oortuig dat ons gedurende “die einde van die dae” lewe. – Miga 4:1.

2. Op watter vrae het ons antwoorde nodig?

2 Omdat daar sedert 1914 so baie tyd verbygegaan het, kan ons seker wees dat ons in die laaste van “die laaste dae” lewe. Aangesien die einde so naby is, moet ons weet wat die antwoorde op die volgende belangrike vrae is: Wat sal aan die einde van “die laaste dae” gebeur? En wat wil Jehovah hê moet ons doen terwyl ons vir daardie gebeure wag?

WAT SAL AAN DIE EINDE VAN “DIE LAASTE DAE” GEBEUR?

3. Watter aankondiging sal die nasies maak volgens die profesie in 1 Tessalonisense 5:1-3?

3 Lees 1 Tessalonisense 5:1-3. Paulus praat van “Jehovah se dag”. In hierdie konteks verwys dit na die tydperk wat begin met die aanval op “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, en eindig met Armageddon (Op. 16:14, 16; 17:5). Kort voordat daardie “dag” begin, sal die nasies aankondig dat daar “Vrede en veiligheid!” is. Wêreldleiers gebruik soms soortgelyke uitdrukkings wanneer hulle praat oor die verbetering van verhoudings tussen nasies. * Maar die aankondiging van “vrede en veiligheid” wat in die Bybel beskryf word, sal anders wees. Hoekom? Wanneer dit gebeur, sal mense dink dat wêreldleiers dit reggekry het om die wêreld ’n veiliger plek te maak. Maar in werklikheid sal dit die begin van die “groot verdrukking” wees en “skielike vernietiging” sal oor hulle kom. – Matt. 24:21.

Moenie mislei word deur die nasies se aankondiging van “vrede en veiligheid” nie (Sien paragraaf 3-6) *

4. (a) Wat weet ons nie oor die aankondiging van “vrede en veiligheid” nie? (b) Wat weet ons alreeds oor daardie aankondiging?

4 Ons weet ’n paar dinge oor die aankondiging van “vrede en veiligheid”. Maar daar is ander dinge wat ons nie weet nie. Ons weet nie wat sal veroorsaak dat wêreldleiers hierdie aankondiging maak of hoe die aankondiging gemaak sal word nie. En ons weet nie of dit net een aankondiging of ’n reeks aankondigings sal wees nie. Maar wat ook al gebeur, ons weet die volgende: Ons moenie deur hierdie aankondiging mislei word en begin dink dat wêreldleiers wêreldvrede kan bring nie. Dit is eerder die aankondiging wat in die Bybel voorspel is waarvoor ons op die uitkyk moet wees. Dit is die teken dat “Jehovah se dag” binnekort sal begin!

5. Hoe help 1 Tessalonisense 5:4-6 ons om gereed te wees vir “Jehovah se dag”?

5 Lees 1 Tessalonisense 5:4-6. Paulus se woorde wys vir ons wat ons moet doen om gereed te wees vir “Jehovah se dag”. Ons moenie “voortslaap soos die res nie”. Ons moet “wakker” bly en oplettend wees. Ons wil byvoorbeeld seker maak dat ons neutraal bly deur nooit betrokke te raak by die wêreld se politieke sake nie. As ons wel betrokke raak, kan ons “deel van die wêreld” word (Joh. 15:19). Ons weet dat net God se Koninkryk wêreldvrede kan bring.

6. Wat wil ons ander help om te doen, en hoekom?

6 Ons wil natuurlik wakker bly, maar ons wil ander ook help om wakker te word deur hulle te leer wat die Bybel voorspel het in die wêreld sal gebeur. Ons moet onthou dat dit te laat sal wees vir mense om Jehovah te begin dien wanneer die groot verdrukking begin. Dit is waarom ons predikingswerk so dringend is! *

BLY BESIG MET DIE PREDIKINGSWERK

Wanneer ons preek, wys ons dat net God se Koninkryk die wêreld werklik veilig kan maak (Sien paragraaf 7-9)

7. Wat verwag Jehovah van ons?

7 In die kort tydjie wat oorbly voordat “Jehovah se dag” begin, verwag hy dat ons besig bly met die predikingswerk. Ons moet seker maak dat ons “baie het om in die werk van die Here te doen” (1 Kor. 15:58). Jesus het voorspel wat ons sou doen. Toe hy gepraat het van al die belangrike dinge wat in die laaste dae sou gebeur, het hy gesê: “Ook moet die goeie nuus eers in al die nasies verkondig word” (Mark. 13:4, 8, 10; Matt. 24:14). Dink net daaraan: Elke keer wanneer jy velddiens doen, help jy om hierdie Bybelprofesie te vervul!

8. Hoe weet ons dat die Koninkrykspredikingswerk nog steeds vooruitgang maak?

8 Hoe het die Koninkrykspredikingswerk vooruitgang gemaak? Elke jaar hoor meer en meer mense die Koninkryksboodskap. Dink byvoorbeeld aan hoe die aantal Koninkryksverkondigers in hierdie laaste dae wêreldwyd vermeerder het. In 1914 was daar 5 155 verkondigers in 43 lande. Vandag is daar omtrent 8,5 miljoen verkondigers in 240 lande! Maar ons het nog steeds baie werk om te doen. Ons moet aanhou om God se Koninkryk te verkondig as die enigste hoop vir die mensdom se probleme. – Ps. 145:11-13.

9. Hoekom moet ons aanhou om die Koninkryksboodskap te verkondig?

9 Ons Koninkrykspredikingswerk sal nie eindig totdat Jehovah so sê nie. Hoeveel tyd is daar nog oor vir mense om Jehovah God en Jesus Christus te leer ken? (Joh. 17:3). Ons weet nie. Maar ons weet wel dat enigiemand wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, op die goeie nuus kan reageer totdat die groot verdrukking begin (Hand. 13:48). Hoe kan ons hierdie mense help voordat dit te laat is?

10. Watter hulp gee Jehovah ons om ander die waarheid te leer?

10 Deur middel van Jehovah se organisasie gee hy ons alles wat ons nodig het om mense die waarheid te leer. Byvoorbeeld, elke week kry ons opleiding by die Lewe en Bediening-vergadering. Hierdie vergadering help ons om te weet wat om te sê wanneer ons eerste besoek en herbesoeke doen. En dit leer ons hoe om Bybelstudies te hou. Jehovah se organisasie het ook vir ons die hulpmiddele in ons Gereedskapskissie vir Onderrigting gegee. Hierdie hulpmiddele help ons om . . .

  • gesprekke te begin,

  • belangstelling te wek,

  • mense te motiveer om meer te wil leer,

  • mense die waarheid te leer tydens Bybelstudies en

  • om belangstellendes te nooi om ons webwerf en ons Koninkryksaal te besoek.

Dit is natuurlik nie genoeg om net hierdie hulpmiddele te hê nie. Ons moet dit ook gebruik. * Nadat jy byvoorbeeld ’n lekker gesprek met iemand gehad het wat belangstel, kan jy hom ’n pamflet of ’n tydskrif gee sodat hy verder kan lees totdat jy weer met hom kontak kan maak. Dit is ons persoonlike verantwoordelikheid om elke maand besig te bly met die Koninkrykspredikingswerk.

11. Hoekom is die Aanlyn Bybelstudielesse beskikbaar gemaak?

11 Nog ’n voorbeeld van hoe Jehovah mense help om die waarheid te leer, is die Aanlyn Bybelstudielesse op jw.org®. Hoekom is hierdie lesse beskikbaar gemaak? Elke maand gaan duisende mense regoor die wêreld op die Internet om te soek na Bybellesse. Die lesse op ons webwerf kan hierdie mense die waarheid oor God se Woord leer. Party mense met wie jy praat, huiwer dalk om ’n persoonlike Bybelstudie te aanvaar. As dit die geval is, wys vir hulle hierdie deel op ons webwerf of stuur vir hulle ’n skakel na die lesse. *

12. Wat kan ’n persoon leer wanneer hy die Aanlyn Bybelstudielesse studeer?

12 Ons Aanlyn Bybelstudielesse bespreek die volgende onderwerpe: “Die Bybel en sy Outeur”, “Die Bybel se hoofkarakters” en “Die Bybel se boodskap van hoop”. Wanneer ’n persoon die onderwerpe studeer, sal hy die volgende leer:

  • Hoe die Bybel ’n persoon kan help

  • Wie Jehovah, Jesus en die engele is

  • Hoekom God mense geskep het

  • Hoekom daar slegtheid en swaarkry is

Hierdie lesse bespreek ook hoe Jehovah . . . 

  • ’n einde sal bring aan swaarkry en die dood,

  • die dooies weer sal laat lewe en

  • hoe hy menseregerings met sy Koninkryk sal vervang.

13. Vervang die aanlyn lesse die Bybelstudiereëling? Verduidelik.

13 Die aanlyn lesse vervang nie die Bybelstudiereëling nie. Jesus het ons die voorreg gegee om dissipels te maak. Ons hoop dat belangstellendes deur die aanlyn lesse sal gaan, daarvan sal hou en meer sal wil leer. Dalk sal hulle dan ’n Bybelstudie aanvaar. Aan die einde van elke les word die belangstellende genooi om te vra dat ’n persoonlike onderrigter die Bybel met hom studeer. Elke dag vra gemiddeld meer as 230 mense van regoor die wêreld ’n Bybelstudie aan deur middel van ons webwerf! Dit is baie belangrik om persoonlik deur iemand onderrig te word!

DOEN JOU BES OM DISSIPELS TE MAAK

14. Wat wil ons graag volgens Jesus se instruksies in Matteus 28:19, 20 doen, en hoekom?

14 Lees Matteus 28:19, 20. Wanneer ons Bybelstudies hou, moet ons ons bes doen om ‘dissipels te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat Jesus beveel het’. Ons moet mense help verstaan hoe belangrik dit vir hulle is om hulle standpunt in te neem vir Jehovah en sy Koninkryk. Dit beteken dat ons mense probeer aanspoor om die waarheid hulle eie te maak deur toe te pas wat hulle leer, hulle lewe aan Jehovah toe te wy en gedoop te word. Slegs dan sal hulle Jehovah se dag oorleef. – 1 Pet. 3:21.

15. Wat kan ons nie bekostig om te doen nie, en hoekom nie?

15 Soos ons vroeër genoem het, is daar baie min tyd oor voordat hierdie wêreld vernietig sal word. Daarom kan ons nie bekostig om aan te hou om die Bybel te studeer met mense wat nie van plan is om dissipels van Christus te word nie (1 Kor. 9:26). Ons werk is dringend! Daar is nog baie mense wat die Koninkryksboodskap moet hoor voordat dit te laat is.

BLY WEG VAN VALSE GODSDIENS

16. Wat moet ons almal doen volgens Openbaring 18:2, 4, 5, 8? (Sien ook voetnoot.)

16 Lees Openbaring 18:2, 4, 5, 8Hierdie verse beklemtoon nog iets wat Jehovah van sy knegte verwag. Alle ware Christene moet seker maak dat hulle heeltemal wegbly van Babilon die Grote. ’n Bybelstudent was dalk ’n lid van ’n valse godsdiens voordat hy die waarheid geleer het. Hy het dalk die dienste bygewoon en deelgeneem aan die aktiwiteite. Of hy het dalk bydraes aan hierdie godsdiens gemaak. Voordat ’n Bybelstudent as ’n ongedoopte verkondiger goedgekeur kan word, moet hy alle bande met valse godsdiens verbreek. Hy moet ’n brief skryf aan enige kerk of godsdiensorganisasie wat deel is van valse godsdiens om te sê dat hy nie meer ’n lid daarvan is nie. *

17. Watter soort werk moet ’n Christen vermy, en hoekom?

17 ’n Ware Christen moet seker maak dat sy werk niks te doen het met Babilon die Grote nie (2 Kor. 6:14-17). Hy sal byvoorbeeld nie ’n werknemer van ’n kerk wees nie. En ’n Christen wat vir ’n ander besigheid werk sal ook nie groot projekte aanpak by ’n fasiliteit wat valse godsdiens bevorder nie. En as hy sy eie besigheid het, sal hy definitief nie werk probeer kry of kontrakwerk aanvaar vir enige deel van Babilon die Grote nie. Hoekom voel ons so sterk hieroor? Omdat ons nie enige deel wil hê aan die valse leringe en gebruike van valse godsdiens wat in God se oë onrein is nie. – Jes. 52:11. *

18. Hoe het ’n broer by Bybelbeginsels gebly?

18 Jare gelede is ’n ouerman wat sy eie besigheid gehad het, gevra om ’n klein werkie te aanvaar. ’n Kontrakteur het hom gevra om houtwerk te doen by ’n kerk in die dorp waar hy gewoon het. Die kontrakteur het geweet dat die broer gesê het dat hy nie aan kerke sal werk nie. Maar hierdie keer was die kontrakteur desperaat om iemand te kry om die werk te doen. Maar die broer het by Bybelbeginsels gebly en geweier om die werk te doen. ’n Week later het die plaaslike koerant ’n foto gewys van ’n ander houtwerker wat besig was om ’n kruis aan die kerk te hang. As ons broer nie by Bybelbeginsels gebly het nie en die werk aanvaar het, kon dit dalk sy foto in die koerant gewees het. Dink net watter skade dit aan sy reputasie onder sy broers en susters sou gedoen het! En dink net hoe Jehovah daaroor sou gevoel het.

WAT HET ONS GELEER?

19-20. (a) Wat het ons sover geleer? (b) Wat moet ons nog leer?

19 Volgens die Bybel is die nasies se aankondiging van “vrede en veiligheid” die volgende belangrike profesie wat vervul sal word. Maar volgens wat Jehovah ons geleer het, weet ons dat die nasies dit nie sal regkry om ware en blywende vrede te bring nie. Wat moet ons doen voordat daardie aankondiging gemaak word en skielike vernietiging oor die wêreld kom? Jehovah wil hê dat ons besig moet bly met die verkondiging van die Koninkryksboodskap en ons bes moet doen om meer dissipels te maak. En ons moet ook heeltemal wegbly van valse godsdiens. Dit beteken ook dat ons sal ophou om ’n lid van Babilon die Grote te wees en werk sal vermy wat te doen het met valse godsdiensorganisasies.

20 Daar is ander dinge wat gedurende die laaste van “die laaste dae” sal gebeur. Daar is ook ander dinge wat Jehovah wil hê ons moet doen. Wat is hierdie dinge, en hoe kan ons onsself voorberei vir alles wat binnekort sal gebeur? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

LIED 71 Ons is die Heer se leërmag!

^ par. 5 Ons verwag dat die nasies binnekort sal aankondig dat hulle dit reggekry het om “vrede en veiligheid” op die aarde te bring. Dit sal die teken wees dat die groot verdrukking binnekort sal begin. Wat wil Jehovah hê moet ons doen totdat daardie aankondiging gemaak word? Hierdie artikel sal ons help om die antwoord op hierdie vraag te kry.

^ par. 3 Op die Verenigde Nasies se webwerf beweer hulle byvoorbeeld dat hulle “internasionale vrede handhaaf”.

^ par. 6 Sien die artikel “God se oordele – Gee hy altyd genoeg waarskuwing?” in hierdie nommer.

^ par. 10 Vir meer inligting oor hoe om die hulpmiddele in die Gereedskapskissie vir Onderrigting te gebruik, sien die artikel “Leer die waarheid aan ander” in Die Wagtoring van Oktober 2018.

^ par. 11 Hierdie lesse is op die oomblik beskikbaar in Engels en Portugees en later sal dit ook in ander tale beskikbaar wees.

^ par. 16 Ons moet ook organisasies vermy soos jeugkampe of sportfasiliteite wat verbind is aan valse godsdiens, soos die YMCA (Christelike Jongmannevereniging) en die YWCA (Christelike Vereniging vir Jong Dames). Al beweer hierdie organisasies dat hulle nie godsdienstig is nie, bevorder hulle in werklikheid godsdiensidees en doelwitte.

^ par. 17 Vir meer inligting oor die skriftuurlike beskouing van werk wat met godsdiensorganisasies te doen het, sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 April 1999.

^ par. 83 BESKRYWING VAN PRENTE: Mense by ’n koffiewinkel is almal geïnteresseerd in die nuus oor ’n aankondiging van “vrede en veiligheid”. ’n Getuiepaartjie wat rus gedurende velddiens, word nie mislei deur hierdie aankondiging nie.