Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 44

Bou sterk vriendskappe op voordat die einde kom

Bou sterk vriendskappe op voordat die einde kom

“’n Ware metgesel het te alle tye lief.” – SPR. 17:17.

LIED 101 Werk eensgesind saam

IN HIERDIE ARTIKEL *

Ons gaan goeie vriende gedurende “die groot verdrukking” nodig hê (Sien paragraaf 2) *

1-2. Wat sal ons volgens 1 Petrus 4:7, 8 help om gedurende moeilike tye te volhard?

TERWYL ons nader aan die einde van “die laaste dae” kom, sal ons dalk deur baie moeilike tye gaan (2 Tim. 3:1). Nadat daar byvoorbeeld ’n verkiesing in ’n land in Wes-Afrika was, was mense baie ongelukkig en het daar geweld in die land uitgebreek. Ons broers en susters kon meer as ses maande lank nie vryelik rondbeweeg nie omdat mense rondom hulle geveg het. Wat het hulle deur hierdie moeilike tyd gehelp? Party kon in die huise van broers en susters bly wat in ’n veiliger gebied gewoon het. Een broer het gesê: “In so ’n situasie het ek dit waardeer om vriende rondom my te hê. Ons kon mekaar aanmoedig.”

2 Wanneer die “groot verdrukking” begin, sal ons baie bly wees dat ons goeie vriende het wat lief is vir ons (Op. 7:14). Daarom is dit belangrik dat ons nou al sterk vriendskappe opbou. (Lees 1 Petrus 4:7, 8.) Ons kan baie uit die ondervinding van Jeremia leer, wie se vriende hom gehelp het om deur die moeilike tyd net voor die vernietiging van Jerusalem te kom. * Hoe kan ons Jeremia se voorbeeld navolg?

LEER UIT JEREMIA SE VOORBEELD

3. (a) Wat kon veroorsaak het dat Jeremia hom afsonder? (b) Waarvan het Jeremia sy sekretaris Barug vertel, en waartoe het dit gelei?

3 Jeremia het ten minste 40 jaar lank tussen mense gebly wat dislojaal was, insluitende bure en moontlik ook familielede van sy tuisdorp Anatot (Jer. 11:21; 12:6). Maar hy het hom nie afgesonder nie. Om die waarheid te sê, hy het sy lojale sekretaris van sy gevoelens vertel, en omdat sy gevoelens neergeskryf is, weet ons ook hoe hy gevoel het (Jer. 8:21; 9:1; 20:14-18; 45:1). Ons kan ons net indink hoe die band van liefde tussen Jeremia en Barug sterker geword het en hoe hulle mekaar al hoe meer gerespekteer het terwyl Barug alles neergeskryf het wat met Jeremia gebeur het. – Jer. 20:1, 2; 26:7-11.

4. Wat het Jehovah Jeremia gevra om te doen, en hoe het hierdie toewysing die vriendskap tussen Jeremia en Barug versterk?

4 Jeremia het die Israeliete jare lank moedig gewaarsku oor wat met Jerusalem gaan gebeur (Jer. 25:3). Om mense te beweeg om berou te toon, het Jehovah Jeremia gevra om Sy waarskuwings op ’n boekrol neer te skryf (Jer. 36:1-4). Terwyl Jeremia en Barug saam aan hierdie taak gewerk het wat God hulle gegee het, wat waarskynlik maande lank geneem het, het hulle sekerlik gesprekke gehad wat hulle geloof versterk het.

5. Hoe weet ons dat Barug ’n goeie vriend van Jeremia was?

5 Nadat hulle die boekrol voltooi het, moes Jeremia op sy vriend Barug staatmaak om die boodskap aan die mense oor te dra (Jer. 36:5, 6). Barug het moedig sy gevaarlike toewysing uitgevoer. Kan jy jou net voorstel hoe trots Jeremia moes gewees het toe Barug na die tempelvoorhof gegaan het en gedoen het wat hy gevra is om te doen? (Jer. 36:8-10). Die vorste, of leiers, het gehoor wat Barug gedoen het en hulle het hom beveel om die boekrol hardop vir hulle te lees! (Jer. 36:14, 15). Hulle het besluit om koning Jojakim te vertel wat Jeremia gesê het. En daarom het hulle vir Barug gesê: “Gaan, versteek jou, jy en Jeremia, sodat hoegenaamd niemand sal weet waar julle is nie” (Jer. 36:16-19). Dit was goeie raad!

6. Hoe het Jeremia en Barug gereageer toe hulle teenstand ondervind het?

6 Koning Jojakim het so kwaad geword toe hy hoor wat Jeremia op die boekrol laat neerskryf het dat hy dit verbrand het en beveel het dat Jeremia en Barug gearresteer word. Maar Jeremia was nie bang nie. Hy het nog ’n boekrol geneem, dit vir Barug gegee, en terwyl Jeremia vir Barug gesê het wat Jehovah se boodskap is, het Barug “al die woorde daarop geskryf . . . van die boek wat Jojakim, die koning van Juda, in die vuur verbrand het”. – Jer. 36:26-28, 32.

7. Wat het waarskynlik gebeur terwyl Jeremia en Barug saam gewerk het?

7 Wanneer mense saam deur ’n moeilike tyd gaan, versterk dit gewoonlik hulle vriendskap. Ons kan ons net voorstel hoe Jeremia en Barug meer waardering vir mekaar se eienskappe opgebou het terwyl hulle saam gewerk het om die boekrol te vervang wat goddelose koning Jojakim vernietig het. Hoe help die voorbeeld van hierdie twee getroue manne ons?

GESELS UIT DIE HART

8. Wat keer ons dalk om goeie vriende te maak, en hoekom moet ons nie opgee nie?

8 Dit is dalk vir ons moeilik om met ander oor ons gevoelens te praat omdat iemand ons dalk in die verlede seergemaak het (Spr. 18:19, 24). Of jy voel dalk dat jy nie genoeg tyd en energie het om goeie vriendskappe op te bou nie. Maar ons moenie opgee nie. As ons wil hê dat ons broers ons tydens moeilike tye moet ondersteun, moet ons nou al leer om hulle met ons gevoelens te vertrou. Dit is ’n belangrike stap om goeie vriende te word. – 1 Pet. 1:22.

9. (a) Hoe het Jesus gewys dat hy sy vriende vertrou? (b) Hoe kan dit jou verhoudings met ander versterk as jy uit die hart met hulle gesels? Gee ’n voorbeeld.

9 Jesus het gewys dat hy sy vriende vertrou deur uit die hart met hulle te gesels (Joh. 15:15). Ons kan hom navolg deur ons vriende te vertel oor die dinge wat ons bekommer, ontstel en gelukkig maak. As jy mooi luister wanneer iemand met jou praat, sal jy dalk agterkom dat hulle soortgelyke gedagtes, gevoelens en doelwitte as jy het. Kom ons kyk na die voorbeeld van Cindy, ’n suster in haar 20’s. Sy het vriende gemaak met Marie-Louise, ’n pioniersuster in haar 60’s. Cindy en Marie-Louise doen elke Donderdagoggend saam velddiens en hulle gesels openlik met mekaar oor verskillende dinge. Cindy sê: “Ek geniet dit om uit die hart met my vriende te gesels, want dit help my om hulle te leer ken en beter te verstaan.” Vriendskappe word sterker wanneer persone uit die hart met mekaar gesels. As jy net soos Cindy die eerste stap neem om eerlik en uit die hart met ander te gesels, sal jou vriendskap met hulle waarskynlik sterker word. – Spr. 27:9.

WERK SAAM

Goeie vriende doen saam velddiens (Sien paragraaf 10)

10. Watter goeie dinge volgens Spreuke 27:17 kan gebeur wanneer ons saam met ons broers en susters werk?

10 Soos in die geval van Jeremia en Barug, wanneer ons saam met ons broers en susters werk, sien ons hulle goeie eienskappe, leer ons by hulle en kom ons nader aan hulle. (Lees Spreuke 27:17.) Hoe voel jy byvoorbeeld wanneer jy in die velddiens met jou broer werk en jy sien hoe hy moedig sy geloof verdedig of met oortuiging praat oor Jehovah en sy voorneme? Jy voel heel waarskynlik nader aan hom.

11-12. Gee ’n voorbeeld van hoe dit ons vriendskappe kan versterk as ons velddiens saam met ons broers en susters doen.

11 Kom ons kyk na twee voorbeelde wat wys hoe dit persone nader aan mekaar bring as hulle saam velddiens doen. Adeline, ’n suster wat 23 jaar oud is, het haar vriendin Candice gevra om saam met haar velddiens te doen in ’n gebied waar daar nie gereeld gewerk word nie. Adeline sê: “Ons wou met meer ywer preek en die bediening meer geniet. Ons het albei ’n geestelike inspuiting nodig gehad.” Hoe het dit hulle gehelp om saam te werk? Adeline sê: “Aan die einde van elke dag het ons gesels oor hoe ons gevoel het, hoe die gesprekke wat ons in die veld gehad het ons harte geraak het en hoe ons Jehovah se hand in ons bediening kon sien. Ons albei het hierdie gesprekke baie geniet en het mekaar selfs beter leer ken.”

12 Laïla en Marianne, twee enkel susters van Frankryk, het vyf weke lank in Bangui, die besige hoofstad van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, gaan preek. Laïla sê: “Ek en Marianne het deur moeilike tye gegaan, maar omdat ons oor alles kon gesels en regtig lief is vir mekaar, het ons vriendskap sterker geword. Ek het Marianne selfs meer gerespekteer toe ek sien hoe sy by haar omstandighede aanpas en toe ek haar liefde vir die plaaslike mense en haar ywer in die bediening sien.” Jy hoef nie na ’n ander land te trek om hierdie voordele te geniet nie. Elke keer wanneer jy met ’n broer of suster in jou plaaslike gebied werk, het jy die geleentheid om hulle beter te leer ken en om julle vriendskap te versterk.

FOKUS OP DIE POSITIEWE EN VERGEWE

13. Wat kan dalk gebeur as ons na aan ons vriende werk?

13 Partykeer wanneer ons na aan ons vriende werk, sien ons nie net hulle sterk punte raak nie, maar ook hulle swak punte. Wat kan ons help om nog steeds goeie vriende met hulle te bly ten spyte van hulle foute? Kom ons kyk weer na die voorbeeld van Jeremia. Wat het hom gehelp om die goeie in ander te sien en om nie op hulle foute te fokus nie?

14. Wat het Jeremia oor Jehovah geleer, en hoe het dit hom gehelp?

14 Jeremia het die boek geskryf wat sy naam dra en hy het waarskynlik ook 1 en 2 Konings geskryf. Daardie toewysing het hom ongetwyfeld bewus gemaak van Jehovah se genade teenoor onvolmaakte mense. Byvoorbeeld, hy het geweet dat nadat koning Agab berou getoon het oor sy slegte dade, Jehovah hom nie laat sien het hoe sy hele familie gedurende sy leeftyd vernietig word nie (1 Kon. 21:27-29). Jeremia het ook geweet dat Manasse selfs erger dinge teenoor Jehovah gedoen het. Maar Jehovah het hom nog steeds vergewe toe hy wys dat hy regtig jammer is (2 Kon. 21:16, 17; 2 Kron. 33:10-13). Hierdie verslae moes Jeremia sekerlik gehelp het om God se geduld en genade na te volg in die manier hoe hy sy goeie vriende behandel het. – Ps. 103:8, 9.

15. Hoe het Jeremia Jehovah se geduld nagevolg toe Barug sy fokus begin verloor het?

15 Dink aan hoe Jeremia Barug behandel het toe hy sy fokus tydelik in sy toewysing verloor het. Jeremia het nie gou opgegee nie, hy het Barug eerder gehelp deur vir hom te sê wat God se liefdevolle maar reguit boodskap vir hom is (Jer. 45:1-5). Watter lesse kan ons uit hierdie verslag leer?

Goeie vriende vergewe mekaar maklik (Sien paragraaf 16)

16. Wat moet ons volgens Spreuke 17:9 doen om ons vriendskappe te behou?

16 In werklikheid kan ons nie verwag dat ons broers en susters volmaak moet wees nie. Daarom as ons goeie vriende gemaak het, moet ons hard werk om daardie vriendskappe te behou. As ons vriende ’n fout gemaak het, moet ons hulle dalk liefdevolle maar reguit raad uit God se Woord gee (Ps. 141:5). En as hulle ons seergemaak het, moet ons hulle vergewe. As ons hulle vergewe het, moet ons dit vermy om in die toekoms weer oor hulle foute te praat. (Lees Spreuke 17:9.) Dit is baie belangrik dat ons gedurende hierdie kritieke tye op ons broers en susters se sterk punte fokus en nie op hulle swak punte nie! As ons dit doen, versterk dit ons vriendskappe met hulle, en ons gaan gedurende die groot verdrukking goeie vriende nodig hê.

WYS LOJALE LIEFDE

17. Hoe het die profeet Jeremia gewys dat hy in moeilike tye ’n goeie vriend is?

17 Die profeet Jeremia het gewys dat hy in moeilike tye ’n ware vriend is. Byvoorbeeld, nadat die hofbeampte Ebed-Meleg Jeremia uit ’n modderput gered het, was Ebed-Meleg bang dat die vorste hom sou seermaak. Toe Jeremia daarvan hoor, het hy nie stilgebly en gehoop dat sy vriend die situasie self kan hanteer nie. Alhoewel Jeremia in die tronk was, het hy alles gedoen wat hy kon om Jehovah se vertroostende boodskap met sy vriend Ebed-Meleg te deel. – Jer. 38:7-13; 39:15-18.

Goeie vriende help hulle broers en susters gedurende moeilike tye (Sien paragraaf 18)

18. Wat moet ons volgens Spreuke 17:17 doen as ’n vriend deur ’n moeilike tyd gaan?

18 Ons broers en susters het vandag verskillende uitdagings. Baie kry byvoorbeeld swaar as gevolg van natuurrampe en rampe wat deur mense veroorsaak is. Wanneer dit gebeur, kan party van ons dalk hierdie broers en susters nooi om by ons te kom bly. Ander kan dalk finansieel help. Maar ons almal kan Jehovah vra om ons broers en susters te help. As ons uitvind dat ’n broer of suster mismoedig is, weet ons dalk nie wat om te sê of wat om te doen nie. Maar ons almal het baie om aan te bied. Ons kan byvoorbeeld tyd saam met ons vriend spandeer. Ons kan met simpatie luister wanneer hy praat. En ons kan ons vriend vertroos deur ons gunsteling teks vir hom te lees (Jes. 50:4). Die belangrikste is dat jy daar is vir jou vriende wanneer hulle jou nodig het. – Lees Spreuke 17:17.

19. Hoe sal dit ons in die toekoms help as ons nou sterk vriendskappe opbou?

19 Ons moet vasbeslote wees om nou goeie vriendskappe met ons broers en susters op te bou en dit sterk te hou. Hoekom? Want ons vyande gaan deur middel van leuens verdeeldheid probeer veroorsaak. Hulle gaan probeer om ons teen mekaar te draai. Maar hulle sal dit nie regkry nie. Hulle sal nie ons band van liefde kan breek nie. Niks wat hulle doen, sal die vriendskappe breek wat ons opgebou het nie. Om die waarheid te sê, ons sal nie net hierdie vriendskappe tot aan die einde van hierdie stelsel hê nie, ons sal dit vir ewig hê!

LIED 24 Kom na die berg van Jehovah

^ par. 5 Terwyl die einde nader kom, moet ons ons vriendskappe met ons broers en susters versterk. In hierdie artikel sal ons kyk wat ons uit Jeremia se ondervinding kan leer. Ons gaan ook kyk hoe dit ons sal help om deur moeilike tye te kom as ons nou al sterk vriendskappe opbou.

^ par. 2 Gebeure in die boek Jeremia is nie in chronologiese volgorde nie.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENTE: Hierdie prent wys wat dalk in die toekoms gedurende “die groot verdrukking” kan gebeur. ’n Hele paar broers en susters kom veilig bymekaar by ’n broer se huis. Omdat hulle vriende is, kan hulle mekaar vertroos gedurende hierdie moeilike tyd. Die volgende prente wys dat dieselfde broers en susters sterk vriendskappe opgebou het lank voordat die groot verdrukking begin het.