Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 47

Lesse wat ons uit die boek Levitikus kan leer

Lesse wat ons uit die boek Levitikus kan leer

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig.” – 2 TIM. 3:16.

LIED 98 Die Skrif – Deur God geïnspireer

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoekom moet Christene in die boek Levitikus belangstel?

DIE apostel Paulus het sy jong vriend Timoteus daaraan herinner dat ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is en nuttig is’ (2 Tim. 3:16). Dit sluit die boek Levitikus in. Hoe beskou jy hierdie Bybelboek? Party sien dit dalk as ’n boek met ’n lys reëls wat nie op ons dag van toepassing is nie, maar dit is nie hoe ware Christene dit beskou nie.

2 Alhoewel Levitikus omtrent 3 500 jaar gelede geskryf is, het Jehovah dit bewaar sodat ons daaruit kan leer (Rom. 15:4). Ons moet in die boek Levitikus belangstel omdat dit ons help om te verstaan hoe Jehovah dink en hoe hy oor sekere dinge voel. Daar is eintlik baie lesse wat ons uit hierdie geïnspireerde boek kan leer. Kom ons bespreek vier van hierdie lesse.

HOE ONS JEHOVAH SE GOEDKEURING KRY

3. Hoekom is offerandes op die jaarlikse Versoendag geoffer?

3 Les een: As ons wil hê dat Jehovah ons offerandes moet aanvaar, moet ons sy goedkeuring hê. Elke jaar op die Versoendag het die nasie Israel bymekaargekom en diereofferandes geoffer. Hierdie offerandes het die Israeliete daaraan herinner dat hulle van sonde gereinig moes word! Maar voordat die hoëpriester enige offerbloed op daardie dag in die Allerheiligste gebring het, moes hy eers iets anders doen, iets wat belangriker was as die vergifnis van die nasie se sondes.

(Sien paragraaf 4) *

4. Wat het die hoëpriester volgens Levitikus 16:12, 13 gedoen wanneer hy die eerste keer op die Versoendag in die Allerheiligste ingegaan het? (Sien prent op voorblad.)

4 Lees Levitikus 16:12, 13. Stel jou voor wat op die Versoendag gebeur: Die hoëpriester gaan in die tabernakel. Dit is die eerste van drie kere dat hy op daardie dag in die Allerheiligste moet ingaan. In die een hand hou hy ’n houer met reukwerk en in die ander ’n goue vuurbak met brandende kole. Hy staan stil voor die gordyn wat voor die ingang van die Allerheiligste hang. Met diep respek gaan hy in die Allerheiligste en staan hy voor die verbondsark. In ’n figuurlike sin staan hy voor Jehovah God! Nou gooi die priester die heilige reukwerk op die brandende kole, en ’n lekker reuk vul die kamer. * Later sal hy weer in die Allerheiligste ingaan met die bloed van die sondoffers. Let op dat hy eers die reukwerk brand voordat hy die bloed van die sondoffers offer.

5. Wat kan ons leer uit die gebruik van reukwerk op die Versoendag?

5 Wat kan ons leer uit die gebruik van reukwerk op die Versoendag? Die Bybel wys dat die gebede van Jehovah se getroue aanbidders soos reukwerk is (Ps. 141:2; Op. 5:8). Onthou dat die priester die reukwerk met diep respek voor Jehovah gebring het. Net so wanneer ons tot Jehovah bid, doen ons dit met diep respek. Ons is baie dankbaar dat die Skepper van die heelal ons toelaat om nader aan hom te kom en om met hom in gebed te praat, net soos ’n pa met sy kind sal doen (Jak. 4:8). Hy aanvaar ons as sy vriende! (Ps. 25:14). Ons waardeer hierdie voorreg so baie dat ons hom nooit wil teleurstel nie.

6. Wat kan ons leer uit die feit dat die hoëpriester eers die reukwerk gebrand het voordat hy die offerandes geoffer het?

6 Onthou dat die hoëpriester eers die reukwerk moes brand voordat hy die offerandes kon offer. Op hierdie manier het hy seker gemaak dat hy God se goedkeuring sou hê wanneer hy die offerandes offer. Wat kan ons hieruit leer? Toe Jesus op die aarde was, moes hy iets belangriks gedoen het – iets belangriker as om die mensdom van redding te voorsien – voordat hy sy lewe as ’n offerande kon gee. Wat moes hy doen? Hy moes Jehovah lojaal gehoorsaam gedurende sy lewe op aarde sodat Jehovah sy offerande sou aanvaar. Op hierdie manier sou Jesus bewys dat om dinge op Jehovah se manier te doen, die regte manier is om te lewe. Jesus sou bewys dat sy Vader se soewereiniteit, of manier van regeer, regverdig is.

7. Hoekom het Jesus se lewe op aarde sy Vader gelukkig gemaak?

7 Regdeur Jesus se lewe op aarde het hy Jehovah se regverdige standaarde volmaak gehoorsaam. Geen versoeking of beproewing, en selfs nie eers die feit dat hy geweet het dat hy op ’n pynlike manier doodgemaak sou word, kon hom keer om sy Vader se manier van regeer te verdedig nie (Fil. 2:8). Toe Jesus deur moeilike tye gegaan het, het hy gebid met “sterk uitroepe en trane” (Heb. 5:7). Sy opregte gebede het gewys dat hy lojaal was aan Jehovah en dit het hom selfs meer vasbeslote gemaak om gehoorsaam te wees. Jesus se gebede was soos lekkerruik-reukwerk vir Jehovah. Jesus se lewe op aarde het sy Vader baie gelukkig gemaak en het Sy manier van regeer, regverdig.

8. Hoe kan ons Jesus navolg?

8 Ons kan Jesus navolg deur ons bes te doen om Jehovah te gehoorsaam en getrou aan hom te wees. Wanneer ons deur moeilike tye gaan, bid ons uit die hart tot Jehovah vir sy hulp omdat ons hom gelukkig wil maak. Op hierdie manier wys ons dat ons Jehovah se manier van regeer, ondersteun. Ons besef dat Jehovah nie ons gebede sal aanvaar as ons besig is met dinge wat hy haat nie. Maar as ons volgens Jehovah se standaarde lewe, kan ons die vertroue hê dat ons opregte gebede soos lekkerruik-reukwerk vir hom sal wees. En ons kan seker wees dat ons lojale gehoorsaamheid ons hemelse Vader gelukkig maak. – Spr. 27:11.

ONS DIEN JEHOVAH OMDAT ONS DANKBAAR TEENOOR HOM IS EN HOM LIEFHET

(Sien paragraaf 9) *

9. Hoekom was gemeenskapsoffers geoffer?

9 Les twee: Ons dien Jehovah omdat ons dankbaar teenoor hom is. Om dit te beklemtoon, kom ons bespreek die gemeenskapsoffers, nog ’n belangrike deel van ware aanbidding in eertydse Israel. * In die boek Levitikus leer ons dat ’n Israeliet ’n gemeenskapsoffer kon offer as ’n teken van sy dankbaarheid (Lev. 7:11-13, 16-18). Hy het hierdie offerande gemaak, nie omdat hy dit moes doen nie, maar omdat hy dit wou doen. So dit was ’n vrywillige offerande wat ’n persoon gemaak het omdat hy lief is vir sy God, Jehovah. Die persoon wat die offerande gemaak het, sy gesin en die priesters sou die vleis van die dier eet wat geoffer is. Maar sekere dele van die dier was net vir Jehovah geoffer. Watter dele?

(Sien paragraaf 10) *

10. Wat leer die gemeenskapsoffers wat in Levitikus 3:6, 12, 14-16 beskryf word, ons oor waarom Jesus sy Vader se wil doen?

10 Les drie: Ons gee Jehovah ons bes omdat ons hom liefhet. Jehovah het die vet as die beste deel van ’n dier beskou. Hy het ook gesê dat party dele van die dier, insluitende sy niere, spesiale waarde gehad het. (Lees Levitikus 3:6, 12, 14-16.) So Jehovah was veral gelukkig wanneer ’n Israeliet daardie dele van ’n dier en die vet vrywillig aan hom geoffer het. Die Israeliet wat hierdie soort offerande gemaak het, het gewys dat hy God sy heel beste wou gee. Net so het Jesus sy heel beste gewillig aan Jehovah geoffer deur Hom heelhartig uit liefde te dien (Joh. 14:31). Dit het Jesus gelukkig gemaak om God se wil te doen; hy het God se wet baie liefgehad (Ps. 40:8). Dit moes Jehovah baie bly gemaak het om te sien hoe Jesus hom so gewillig dien!

Ons gee Jehovah ons bes omdat ons hom liefhet (Sien paragraafs 11-12) *

11. Hoe is ons diens soos daardie gemeenskapsoffers, en hoe kan dit ons vertroos?

11 Ons diens aan Jehovah is soos daardie gemeenskapsoffers omdat ons hom op hierdie manier wys hoe ons oor hom voel. Ons gee Jehovah ons bes en ons doen dit omdat ons hom met ons hele hart liefhet. Hoe gelukkig moet dit Jehovah tog maak om te sien dat miljoene gewillige aanbidders hom dien omdat hulle hom en sy manier van dinge doen, liefhet! Dit kan ons vertroos as ons in gedagte hou dat Jehovah sien en waardeer nie net dit wat ons doen nie, maar ook hoekom ons dit doen. As jy byvoorbeeld oud is en nie meer soveel kan doen as wat jy graag wil nie, kan jy seker wees dat Jehovah verstaan. Jy voel dalk dat jy nie baie vir Jehovah kan doen nie, maar hy sien die liefde wat jou motiveer om te doen wat jy kan. Dit maak hom bly om jou beste te aanvaar.

12. Hoe het Jehovah oor gemeenskapsoffers gevoel, en hoe kan dit ons aanmoedig?

12 Wat kan ons uit die gemeenskapsoffers leer? Terwyl die vuur die beste dele van die dier verbrand het, het rook opgegaan en dit het Jehovah gelukkig gemaak. So jy kan seker wees dat dit Jehovah ook gelukkig maak wanneer jy gewillig is om jou bes te doen om hom te dien (Kol. 3:23). Stel jou voor hoe bly jy Jehovah se hart maak. Dit maak nie saak of jy baie of min vir Jehovah doen nie, wat jy wel vir hom doen, is vir hom baie kosbaar en hy sal dit vir altyd onthou. – Matt. 6:20; Heb. 6:10.

JEHOVAH SEËN SY ORGANISASIE

13. Hoe het Jehovah volgens Levitikus 9:23, 24 gewys dat hy die priesterdom goedkeur?

13 Les vier: Jehovah seën die aardse deel van sy organisasie. Dink aan wat in 1512 VHJ gebeur het toe die tabernakel aan die onderkant van die berg Sinai opgerig is (Eks. 40:17). Moses het die seremonie gelei toe Aäron en sy seuns as priesters aangestel is. Die nasie Israel het bymekaargekom om te sien hoe die priesters hulle eerste diereofferandes maak (Lev. 9:1-5). Hoe het Jehovah gewys dat hy die nuut aangestelde priesterdom goedkeur? Terwyl Aäron en Moses die volk geseën het, het Jehovah vuur uit die hemel gestuur om die res van die offerande op die altaar te verbrand. – Lees Levitikus 9:23, 24.

14. Hoekom is die feit dat Jehovah die Aäronitiese priesterskap goedgekeur het, vir ons belangrik?

14 Wat het die vuur uit die hemel by die aanstelling van die hoëpriester gewys? Dit het gewys dat Jehovah die Aäronitiese priesterskap ten volle ondersteun. Toe die Israeliete hierdie duidelike bewys sien dat Jehovah die priesters ondersteun, het hulle goeie rede gehad om hulle volle ondersteuning aan die priesters te gee. Hoekom is dit vir ons belangrik? Want die priesterdom in Israel was ’n skadu van ’n groter en belangriker priesterdom. Christus, die grotere Hoëpriester, het ’n koninklike priesterdom van 144 000, wat saam met hom in die hemel sal regeer. – Heb. 4:14; 8:3-5; 10:1.

Jehovah seën en lei sy organisasie. Ons doen alles wat ons kan om dit te ondersteun (Sien paragraafs 15-17) *

15-16. Hoe het Jehovah gewys dat hy “die getroue en verstandige slaaf” goedkeur?

15 In 1919 het Jesus ’n klein groepie gesalfde broers as “die getroue en verstandige slaaf” aangestel. Hierdie slaaf neem die leiding in die predikingswerk en gee Christus se volgelinge “voedsel op die regte tyd” (Matt. 24:45). Sien ons duidelike bewyse dat God die getroue en verstandige slaaf goedkeur?

16 Satan en sy ondersteuners probeer hard om die werk van die getroue slaaf stop te sit. As die slaaf nie Jehovah se hulp gehad het nie, sou dit onmoontlik wees om hierdie werk te doen. Ten spyte van twee wêreld oorloë, genadelose vervolging, wêreldwye ekonomiese probleme en onregverdige behandeling, hou die getroue en verstandige slaaf aan om geestelike voedsel vir Christus se volgelinge op aarde te voorsien. Dink aan die oorvloed geestelike voedsel wat vandag gratis in meer as 900 tale beskikbaar is! Dit is ’n duidelike bewys dat God die slaaf ondersteun. Nog ’n bewys van Jehovah se seën is die predikingswerk. Die goeie nuus word werklik “in die hele bewoonde aarde verkondig” (Matt. 24:14). Ons kan duidelik sien dat Jehovah sy organisasie lei en dit help om suksesvol te wees.

17. Hoe kan ons wys dat ons die organisasie wat Jehovah gebruik, ondersteun?

17 Ons kan ons gerus afvra: ‘Is ek dankbaar om deel te wees van die aardse deel van Jehovah se organisasie?’ Jehovah het ons bewyse gegee wat net so oortuigend is soos die letterlike vuur wat uit die hemel gekom het, in die dae van Moses en Aäron. Ons het beslis baie om voor dankbaar te wees (1 Tess. 5:18, 19). Hoe kan ons wys dat ons die organisasie wat Jehovah gebruik, ondersteun? Deur die Bybelse raad toe te pas wat ons in ons publikasies, by ons vergaderinge, byeenkomste en streekbyeenkomste kry. Ons kan ook wys dat ons die organisasie ondersteun deur soveel as moontlik in die predikings- en onderrigtingswerk te doen. – 1 Kor. 15:58.

18. Wat is jy vasbeslote om te doen?

18 Kom ons wees vasbeslote om die lesse wat ons uit die boek Levitikus geleer het, toe te pas. Kom ons verkry Jehovah se goedkeuring sodat hy ons offerandes sal aanvaar. Kom ons dien Jehovah omdat ons dankbaar is teenoor hom. Kom ons hou aan om Jehovah ons bes te gee omdat ons hom liefhet met ons hele hart. En kom ons doen alles wat ons kan om die organisasie te ondersteun wat hy vandag seën. Deur al hierdie dinge te doen, kan ons Jehovah wys dat ons die voorreg waardeer om hom as sy Getuies te dien!

LIED 96 God se boek – ’n Ware skat

^ par. 5 In die boek Levitikus is daar wette wat Jehovah aan eertydse Israel gegee het. Omdat ons Christene is, is ons nie meer onder hierdie wette nie, maar dit kan ons nog steeds help. In hierdie artikel sal ons belangrike lesse bespreek wat ons uit die boek Levitikus kan leer.

^ par. 4 Die reukwerk wat by die tabernakel gebrand is, was as iets heiligs beskou, en in eertydse Israel was dit net in die aanbidding van Jehovah gebruik (Eks. 30:34-38). Daar is geen bewyse dat die eerste-eeuse Christene reukwerk as deel van hulle aanbidding gebrand het nie.

^ par. 9 Vir meer inligting oor gemeenskapsoffers, sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bl. 526.

^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENT: Op die Versoendag het die Israelitiese hoëpriester die Allerheiligste binnegegaan met reukwerk en brandende vuurkole om die plek met ’n aangename reuk te vul. Later het hy weer in die Allerheiligste gegaan met die bloed van die sondoffers

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Israeliet gee ’n skaap aan ’n priester as ’n gemeenskapsoffer om te wys hoe dankbaar hy en sy gesin teenoor Jehovah is.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENT: Gedurende Jesus se bediening op aarde het hy gewys dat hy baie lief is vir Jehovah deur sy gebooie te gehoorsaam en deur sy volgelinge te help om dit ook te gehoorsaam.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: Alhoewel ’n bejaarde suster nie meer so baie kan doen nie, gee sy haar bes aan Jehovah deur briewe te skryf om vir ander te getuig.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENTE: In Februarie 2019 het broer Gerrit Lösch van die Bestuursliggaam die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling in Duits vrygestel aan ’n dankbare en entoesiastiese gehoor. Vandag is verkondigers in Duitsland, soos hierdie twee susters, bly om die nuwe Bybel wat vrygestel is, in die bediening te gebruik.