Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ondersteun God se Koninkryk nou!

Ondersteun God se Koninkryk nou!

Sê nou ’n verwoestende orkaan gaan jou gebied tref. Die regering stuur die volgende dringende waarskuwing uit: “VLUG! GAAN NA ’N VEILIGE PLEK!” Wat moet jy doen? Jy moet na ’n veilige plek toe gaan.

In ’n sekere sin gaan ons almal getref word deur ’n verwoestende “storm”, wat Jesus ’n “groot verdrukking” genoem het (Matteus 24:21). Ons kan nie van hierdie storm af wegkom nie. Maar ons kan iets doen om onsself te beskerm. Wat kan ons doen?

Jesus het die volgende raad in sy Bergpredikasie gegee: “Hou dan aan om eers [God se] Koninkryk en sy regverdigheid te soek” (Matteus 6:33). Hoe doen ons dit?

Soek God se Koninkryk eerste. Dit beteken dat God se Koninkryk vir ons belangriker as enige iets anders moet wees (Matteus 6:25, 32, 33). Hoekom? Want mense kan nie die mensdom se probleme oplos nie. Net God se Koninkryk kan dit regkry.

Soek sy regverdigheid. Ons moet ons bes probeer om volgens God se regverdige wette en beginsels te lewe. Hoekom? Want as ons self besluit wat reg en verkeerd is, sal dit slegte gevolge hê (Spreuke 16:25). Maar wanneer ons volgens God se standaarde lewe, maak ons God gelukkig en sal ons gelukkiger wees. – Jesaja 48:17, 18.

Hou aan om God se Koninkryk en sy regverdigheid eerste te soek. Jesus het gewaarsku dat party se aandag dalk afgelei sal word en dat hulle sal dink dat hulle sekuriteit kan vind deur soveel geld as moontlik te maak. Ander laat dalk toe dat bekommernisse van die lewe hulle so oorweldig dat hulle nie tyd het om God se Koninkryk te soek nie. – Matteus 6:19-21, 25-32.

Maar Jesus het belowe dat dié wat God se Koninkryk ondersteun, nou sal hê wat hulle nodig het en in die toekoms wonderlike seëninge sal geniet. – Matteus 6:33.

Al was God se Koninkryk en sy regverdigheid vir Jesus se dissipels in die eerste eeu belangriker as enige iets anders, het hulle nie die einde van pyn en swaarkry in hulle leeftyd gesien nie. Maar hulle was beskerm. Hoe?

Hulle het volgens God se regverdige standaarde gelewe, en dit het hulle beskerm teen die probleme wat dié gehad het wat geïgnoreer het wat God gesê het. Hulle sterk geloof dat die Koninkryk sou kom, het hulle gehelp selfs toe hulle deur baie moeilike tye in die lewe gegaan het. En God het hulle “die krag wat bo die normale is” gegee sodat hulle hulle probleme kon hanteer. – 2 Korintiërs 4:7-9.

SAL JY GOD SE KONINKRYK EERSTE SOEK?

Christene in die eerste eeu was gehoorsaam aan Jesus se bevel om die Koninkryk die belangrikste ding in hulle lewe te maak. Hulle het die goeie nuus oor die Koninkryk bekend gemaak in hulle deel van die wêreld (Kolossense 1:23). Doen enige iemand dit vandag?

Ja! Jehovah se Getuies besef dat God se Koninkryk binnekort ’n einde aan hierdie wêreldstelsel gaan maak. Daarom doen hulle alles wat hulle kan om te doen wat Jesus gesê het: “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk sal oor die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom.” – Matteus 24:14.

Hoe sal jy op die goeie nuus reageer? Ons moedig jou aan om soos die mense te wees wat in die eerste eeu in die Masedoniese stad Berea gewoon het. Toe die apostel Paulus vir hulle van die goeie nuus van die Koninkryk vertel het, het hulle sy boodskap “gretig aanvaar”. Toe het hulle “die Skrif . . . deeglik ondersoek” om seker te maak dat wat hulle gehoor het die waarheid is, en hulle het toegepas wat hulle geleer het. – Handelinge 17:11, 12.

Jy kan dieselfde doen. As God se Koninkryk en sy regverdigheid vir jou belangriker as enige iets anders is, sal jy nou beskerm word en in die toekoms vir ewig vrede en veiligheid geniet.