Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 1

”Gaan dus en maak dissipels”

”Gaan dus en maak dissipels”

ONS JAARTEKS VIR 2020: “Gaan dus en maak dissipels . . . , en doop hulle.” – MATT. 28:19.

LIED 79 Leer hulle om standvastig te bly

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wat sê ’n engel vir die vrouens by Jesus se graf, en watter instruksies gee Jesus self vir hulle?

 DIT is vroeg in die oggend op 16 Nisan 33 HJ. Party vrouens wat God liefhet, is baie hartseer terwyl hulle op pad is na die graf. Meer as 36 uur vroeër is die liggaam van die Here Jesus Christus daar neergelê. Toe hulle by die graf aankom om speserye en lekkerruik-olies aan die liggaam te smeer, is hulle verbaas om te sien dat die graf leeg is! ’n Engel sê vir die dissipels dat Jesus uit die dood opgestaan het en sê verder: “Hy gaan voor julle uit na Galilea, en julle sal hom daar sien.” – Matt. 28:1-7; Luk. 23:56; 24:10.

2 Nadat hulle die graf verlaat, verskyn Jesus self aan hulle en gee vir hulle die volgende instruksie: “Gaan vertel my broers, sodat hulle na Galilea kan gaan, en daar sal hulle my sien” (Matt. 28:10). Jesus moet sekerlik baie belangrike instruksies hê om vir sy dissipels te gee, want hierdie vergadering is die eerste ding wat hy ná sy opstanding reël!

AAN WIE IS DIE OPDRAG GEGEE OM DISSIPELS TE MAAK?

Toe Jesus naˊ sy opstanding met die apostels en ander in Galilea bymekaargekom het, het hy vir hulle die instruksie gegee om te ‘gaan en dissipels_cnt_1.jpg(Sien paragraaf 3-4)

3-4. Hoekom kan ons sê dat die opdrag in Matteus 28:19, 20 nie net aan die apostels gegee is nie? (Sien prent op voorblad.)

3 Lees Matteus 28:16-20. By die vergadering wat Jesus gereël het, het hy gepraat van die belangrike werk wat sy dissipels gedurende die eerste eeu sou doen – dieselfde werk wat ons vandag doen. Jesus het gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het.”

4 Jesus wil hê dat al sy volgelinge moet preek. Hy het hierdie opdrag nie net aan sy 11 getroue apostels gegee nie. Hoe weet ons dit? Was die apostels die enigste mense wat op die berg in Galilea was toe die opdrag om dissipels te maak gegee is? Onthou dat die engel vir die vrouens gesê het: “Julle sal hom daar [in Galilea] sien.” So getroue vrouens was waarskynlik ook by hierdie vergadering. Maar dit is nie al nie. Die apostel Paulus sê dat Jesus “aan meer as 500 broers op dieselfde tyd verskyn” het (1 Kor. 15:6). Waar?

5. Wat leer ons uit 1 Korintiërs 15:6?

5 Ons het goeie redes om te glo dat Paulus na die vergadering in Galilea verwys het wat beskryf word in Matteus hoofstuk 28. Watter redes? Eerstens, die meeste van Jesus se dissipels was Galileërs. So ’n berg in Galilea – eerder as ’n private huis in Jerusalem – sou ’n beter plek wees vir ’n groot groep mense om bymekaar te kom. Tweedens, ná Jesus se opstanding het hy alreeds saam met sy 11 apostels in ’n private huis in Jerusalem bymekaargekom. As Jesus net vir sy apostels die instruksie wou gee om te preek en dissipels te maak, kon hy dit in Jerusalem doen, in plaas daarvan om vir hulle, die vrouens en ander te vra om hom in Galilea te ontmoet. – Luk. 24:33, 36.

6. Hoe wys Matteus 28:20 dat die opdrag om dissipels te maak op ons dag van toepassing is, en hoe word hierdie opdrag gehoorsaam?

6 Kyk na ’n derde belangrike rede. Jesus se opdrag om dissipels te maak was nie net vir Christene in die eerste eeu nie. Hoe weet ons dit? Jesus het sy instruksies aan sy volgelinge afgesluit met die woorde: “Ek is met julle al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel” (Matt. 28:20). Baie mense is vandag besig om dissipels te maak, net soos Jesus gesê het. Dink net daaraan! Amper 300 000 mense word elke jaar as een van Jehovah se Getuies gedoop en word dissipels van Jesus Christus!

7. Wat sal ons nou bespreek, en hoekom?

7 Baie wat die Bybel studeer, maak vordering en word gedoop. Maar party wat die Bybel studeer, huiwer dalk om dissipels te word. Hulle geniet hulle studie, maar hulle vorder nie tot doop nie. As jy besig is om die Bybel met iemand te studeer, is ons seker dat jy jou student wil help om toe te pas wat hy leer en om ’n dissipel van Christus te word. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe ons ons student se hart kan bereik en hoe ons hom kan help om geestelik te groei. Hoekom moet ons hierdie onderwerp bespreek? Want die een of ander tyd moet ons dalk besluit of ons moet aanhou met die studie of nie.

PROBEER OM DIE HART TE BEREIK

8. Hoekom kan dit soms moeilik wees om die hart te bereik?

8 Jehovah wil hê dat mense hom moet dien omdat hulle hom liefhet. Ons wil graag ons studente help verstaan dat Jehovah vir hulle as individue omgee en dat hy hulle baie liefhet. Ons wil hulle help om Jehovah te sien as “’n vader van vaderlose kinders en ’n beskermer van weduwees” (Ps. 68:5). Wanneer jou studente besef hoe lief God vir hulle is, sal hulle waarskynlik vir hom ook lief begin word. Vir party studente is dit dalk moeilik om Jehovah as ’n liefdevolle Pa te beskou omdat hulle eie pa nie liefde aan hulle betoon het nie (2 Tim. 3:1, 3). So terwyl jy die studie hou, moet jy Jehovah se pragtige eienskappe beklemtoon. Help jou studente om te verstaan dat ons liefdevolle God wil hê dat hulle vir ewig moet lewe, en hy is gereed om hulle te help om daardie doelwit te bereik. Wat kan ons nog doen?

9-10. Watter publikasies moet ons gebruik wanneer ons ’n Bybelstudie hou, en hoekom hierdie boeke?

9 Gebruik die boeke “Wat kan die Bybel ons leer?” en “Hoe om in God se liefde te bly”. Hierdie publikasies is spesiaal ontwerp om ons te help om die harte van ons studente te bereik. Hoofstuk 1 van die Leer ons-boek beantwoord byvoorbeeld die volgende vrae: Gee God vir ons om of is hy wreed?, Hoe voel God wanneer mense swaarkry? en Kan jy Jehovah se vriend wees? Wat van die Bly in God se liefde-boek? Hierdie publikasie sal die student help om te verstaan hoe Bybelbeginsels sy lewe kan verbeter en hom nader aan Jehovah sal bring. Selfs al het jy reeds hierdie publikasies met ander studeer, moet jy goed voorberei vir elke studie en in gedagte hou wat elke student nodig het.

10 Maar sê nou die student stel belang in ’n onderwerp wat bespreek word in ’n publikasie wat nie deel is van die Gereedskapskissie vir Onderrigting nie. Miskien kan jy hom vra om daardie publikasie op sy eie te lees sodat jy kan aangaan met die studie in een van die voorgestelde Bybelstudiehulpe wat nou net genoem is.

Begin die studie met gebed (Sien paragraaf 11)

11. Wanneer moet ons begin om die studie met gebed oop te maak en af te sluit, en hoe kan ons die student help om te verstaan hoekom dit belangrik is?

11 Begin die studie met gebed. Oor die algemeen is dit goed om die studie so gou as moontlik met gebed oop te maak en af te sluit, gewoonlik binne die eerste paar weke nadat jy ’n gereelde studie begin het. Ons moet die student help besef dat ons net God se Woord kan verstaan as God se gees ons help. Party Bybelonderrigters verduidelik hoekom ons by die studie bid deur Jakobus 1:5 te lees, wat sê: “As een van julle dan wysheid nodig het, moet hy aanhou om God te vra.” Die studiehouer vra dan vir die student: “Hoe kan ons God vir wysheid vra?” Die student sal waarskynlik saamstem dat ons tot God moet bid.

12. Hoe kan ons Psalm 139:2-4 gebruik om ’n student te help om sy gebede te verbeter?

12 Leer jou student hoe om te bid. Verseker hom dat Jehovah sy opregte gebede wil hoor. Verduidelik vir hom dat ons in ons persoonlike gebede uit die hart met Jehovah kan praat en vir hom dinge kan vertel wat ons dalk nie vir ander wil vertel nie. Jehovah weet in elk geval wat ons diepste gedagtes is. (Lees Psalm 139:2-4.) Ons kan ons student ook aanmoedig om God te vra om hom te help om sy verkeerde denke te verander en slegte gewoontes te oorkom. Sê byvoorbeeld iemand met wie jy al lank studeer, hou daarvan om ’n sekere vakansiedag te vier wat Christene nie moet vier nie. Hy weet dat dit verkeerd is, maar hy geniet sekere dinge wat deel is van die viering. Moedig hom aan om vir Jehovah te vertel presies hoe hy voel en om Jehovah te smeek om hom te help om net lief te wees vir wat God liefhet. – Ps. 97:10.

Nooi jou Bybelstudie om die vergaderinge by te woon (Sien paragraaf 13)

13. (a) Hoekom moet ons ons studente nooi om so gou as moontlik die vergaderinge by te woon? (b) Hoe kan ons ’n student help om by die Koninkryksaal op sy gemak te voel?

13 Nooi jou Bybelstudent om die vergaderinge so gou as moontlik by te woon. Wat jou student by die Christelike vergaderinge hoor en sien, kan sy hart raak en hom help om vordering te maak. Wys vir hom die video Wat gebeur by ’n Koninkryksaal? en nooi hom om saam met jou te gaan. Sê vir hom dat jy vervoer sal reël as dit moontlik is. Dit is ’n goeie idee om verskillende verkondigers saam met jou na die studie te neem. Op hierdie manier sal jou student ander in die gemeente leer ken en sal hy gemakliker voel wanneer hy ons vergaderinge bywoon.

HELP JOU STUDENT OM GEESTELIK TE GROEI

14. Wat kan ’n student help om geestelik te groei?

14 Ons wil graag ons Bybelstudent help om geestelik te groei (Ef. 4:13). Wanneer iemand instem om die Bybel te studeer, stel hy dalk net belang in hoe die studie hom persoonlik kan help. Maar wanneer sy liefde vir Jehovah begin groei, sal hy waarskynlik begin dink aan hoe hy ander kan help, insluitende dié wat alreeds deel is van die gemeente (Matt. 22:37-39). Wanneer die tyd reg is, moet ons nie huiwer om vir hom te vertel van die voorreg om die Koninkrykswerk finansieel te ondersteun nie.

Leer jou student wat om te doen wanneer daar probleme is (Sien paragraaf 15)

15. Hoe kan ons ons Bybelstudent help om die regte ding te doen wanneer daar probleme is?

15 Leer jou Bybelstudent wat om te doen wanneer daar probleme is. Sê byvoorbeeld jou student wat ’n ongedoopte verkondiger is, vertel vir jou dat iemand in die gemeente hom kwaad gemaak het. In plaas daarvan om kant te kies, verduidelik vir hom wat die Bybel sê hy moet doen. Hy kan of die broer vergewe of, as hy nie daarvan kan vergeet nie, liefdevol met die broer praat met die doel om sy ‘broer te wen’. (Vergelyk Matteus 18:15.) Help jou student om voor te berei wat hy gaan sê. Wys hom hoe om die JW Library®-app, die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies en jw.org® te gebruik sodat hy kan leer hoe om die situasie op praktiese maniere te hanteer. Hoe meer opleiding hy ontvang voordat hy gedoop word, hoe beter sal hy met ander in die gemeente oor die weg kom nadat hy gedoop is.

16. Hoekom is dit goed om ander verkondigers te nooi om saam met jou na die studie te gaan?

16 Nooi ander in die gemeente – en die kringopsiener wanneer hy die gemeente besoek – om saam met jou na die studie te gaan. Hoekom? Behalwe vir die redes wat ons vroeër genoem het, kan ander verkondigers jou student dalk help op maniere wat jy hom nie kan help nie. Sê byvoorbeeld jou student het probeer om op te hou rook, maar hy kry dit net nie reg nie. Nooi ’n Getuie wat dit reggekry het om op te hou rook, miskien nadat hy ’n hele paar keer probeer het om op te hou, om saam met jou na die studie te gaan. Jou broer kan dalk goeie raad gee wat jou student moet hoor. As jy nie gemaklik voel om die studie voor ’n ervare broer te hou nie, kan jy die broer vra om die studie te hou. Wat ook al die geval is, maak gebruik van ander se ervaring. Onthou, ons doel is om ons student te help om geestelik te groei.

MOET EK DIE STUDIE BEËINDIG?

17-18. Wat moet jy in gedagte hou wanneer jy besluit of jy ’n studie moet beëindig?

17 As jou Bybelstudent nie veranderinge in sy lewe maak nie, moet jy jou die een of ander tyd afvra: ‘Moet ek die studie beëindig?’ Voordat jy ’n besluit maak, moet jy aan die persoon se vermoëns dink. Dit vat vir party langer om vordering te maak as ander. Vra jou af: ‘Maak my student teen ’n redelike pas vordering vir sy omstandighede?’ ‘Is hy besig om die dinge wat hy leer “te gehoorsaam”, of toe te pas?’ (Matt. 28:20). Dit is oukei vir ’n student om stadig vordering te maak, maar hy moet vordering maak.

18 Maar wat as iemand met wie ons al lank studeer, nie wys dat hy die studie waardeer nie? Dink aan hierdie scenario: Jou student het die Leer ons-boek voltooi en miskien selfs met die Bly in God se liefde-boek begin, maar hy het nog nie een keer die vergaderinge bygewoon nie – nie eers die Gedenkmaal nie! En hy kanselleer dikwels die studie vir sommer enige rede. As dit die geval is met jou student, sal dit goed wees as jy ’n reguit en eerlike gesprek met hom het. *

19. As dit lyk asof iemand nie sy Bybelstudie waardeer nie, wat kan jy dalk vir hom sê, en waaraan moet jy dink?

19 Jy kan begin deur vir hom te vra: ‘Wat dink jy sal dit vir jou moeilik maak om een van Jehovah se Getuies te word?’ Die student antwoord dalk: ‘Ek gee nie om om die Bybel te studeer nie, maar ek sal nooit een van Jehovah se Getuies word nie!’ As dit is hoe hy voel nadat hy al ’n tyd lank studeer, is daar enige rede om met die studie aan te gaan? Of dalk sê die student vir die eerste keer hoekom hy nie vordering maak nie. Miskien voel hy dat hy nooit van huis tot huis sal kan preek nie. Noudat jy weet hoe hy voel, sal jy in ’n beter posisie wees om hom te help.

Moenie met iemand studeer wat nie vordering maak nie (Sien paragraaf 20)

20. Hoe kan Handelinge 13:48 ons help om te besluit of ons met ’n studie moet aanhou of nie?

20 Ongelukkig is party studente soos die Israeliete in Esegiël se dag. Jehovah het van die Israeliete gepraat toe hy vir Esegiël gesê het: “Kyk! Jy is vir hulle soos ’n romantiese liefdeslied, wat deur iemand met ’n pragtige stem gesing word en wat mooi op ’n snaarinstrument gespeel word. Hulle sal jou woorde hoor, maar niemand sal doen wat jy sê nie” (Eseg. 33:32). Dit is dalk vir ons moeilik om vir iemand te sê dat ons nie meer met hom gaan studeer nie. Maar “die oorblywende tyd is kort” (1 Kor. 7:29). Eerder as om die Bybel te studeer met iemand wat nie vordering maak nie, moet ons iemand vind wat wys dat hy die “regte gesindheid vir die ewige lewe” het. – Lees Handelinge 13:48.

Daar is dalk ander in jou gebied wat bid om gehelp te word (Sien paragraaf 20)

21. Wat is ons jaarteks vir 2020, en hoekom is dit gepas?

21 Gedurende 2020 sal ons jaarteks ons help om beter daarin te word om dissipels te maak. Dit sluit party van die woorde in wat Jesus gedurende daardie belangrike vergadering op ’n berg in Galilea gesê het: “Gaan dus en maak dissipels . . . , en doop hulle.” – Matt. 28:19.

Mag ons vasbeslote wees om beter daarin te word om dissipels te maak en ons studente te help om gedoop te word (Sien paragraaf 21)

LIED 70 Soek dié wat dit waardig is

^ par. 5 Ons jaarteks vir 2020 moedig ons aan om ‘dissipels te maak’. Al Jehovah se knegte moet hierdie opdrag gehoorsaam. Hoe kan ons ons Bybelstudente se harte bereik sodat hulle dissipels van Christus word? Hierdie artikel sal wys hoe ons ons Bybelstudente kan help om nader aan Jehovah te kom. Ons gaan ook sien hoe om te besluit of ons met die studie moet aanhou of nie.

^ par. 18 Kyk na die video Hoe om onproduktiewe Bybelstudies te beëindig op JW Broadcasting®.