Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 2

Jy kan “’n bron van groot vertroosting” wees

Jy kan “’n bron van groot vertroosting” wees

“Hulle is my medewerkers vir die Koninkryk van God, en hulle het vir my ’n bron van groot vertroosting geword.” – KOL. 4:11.

LIED 90 Bemoedig mekaar

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter stresvolle situasies ervaar baie getroue knegte van Jehovah?

 REGOOR die wêreld ervaar baie knegte van Jehovah moeilike, selfs stresvolle, situasies. Sien jy dit in jou gemeente? Party Christene het ’n ernstige siekte of het ’n geliefde in die dood verloor. Ander is baie hartseer omdat ’n familielid of ’n goeie vriend Jehovah ophou dien het. En ander kry swaar as gevolg van ’n natuurramp. Al hierdie broers en susters het vertroosting nodig. Hoe kan ons hulle help?

2. Hoekom het die apostel Paulus partykeer vertroosting nodig gehad?

2 Die apostel Paulus se lewe was meer as een keer in gevaar (2 Kor. 11:23-28). Hy het ook “’n doring in die vlees” gehad, moontlik die een of ander gesondheidsprobleem (2 Kor. 12:7). En hy was ook teleurgesteld toe Demas, ’n broer wat saam met hom gewerk het, hom verlaat het “omdat hy lief [was] vir hierdie wêreld” (2 Tim. 4:10). Paulus was ’n moedige geesgesalfde Christen wat ander onselfsugtig gehelp het, maar selfs hy het soms mismoedig gevoel. – Rom. 9:1, 2.

3. By wie het Paulus vertroosting en ondersteuning gekry?

3 Paulus het die vertroosting en ondersteuning gekry wat hy nodig gehad het. Hoe? Jehovah het sekerlik Sy heilige gees gebruik om hom te versterk (2 Kor. 4:7; Fil. 4:13). Jehovah het ook ander Christene gebruik om hom te vertroos. Paulus het party van sy broers wat saam met hom gewerk het, beskryf as “’n bron van groot vertroosting” (Kol. 4:11). Van die name wat hy genoem het, was Aristargus, Tigikus en Markus. Hulle het Paulus versterk en hom gehelp om te volhard. Watter eienskappe het hierdie drie Christene gehelp om sulke goeie vertroosters te wees? Hoe kan ons hulle goeie voorbeeld navolg terwyl ons probeer om mekaar te vertroos en aan te moedig?

LOJAAL SOOS ARISTARGUS

Net soos Aristargus kan ons ’n lojale vriend wees deur gedurende “moeilike tye” na aan ons broers en susters te bly (Sien paragraaf 4-5) *

4. Hoe het Aristargus gewys dat hy ’n lojale vriend van Paulus was?

4 Aristargus, ’n Christen van Tessalonika wat ’n Masedoniër was, het gewys dat hy ’n lojale vriend van Paulus is. Ons lees die eerste keer van Aristargus toe Paulus op sy derde sendingreis na Efese gegaan het. Terwyl hy saam met Paulus was, het ’n groep mense hom gevange geneem (Hand. 19:28). Toe hy uiteindelik vrygelaat is, het hy nie gevlug om weg van die gevaar af te kom nie, hy het eerder lojaal by Paulus gebly. ’n Paar maande later, in Griekeland, was Aristargus nog steeds saam met Paulus, selfs al het teenstanders aanhou dreig om Paulus dood te maak (Hand. 20:2-4). Toe Paulus in omtrent 58 HJ na Rome as ’n gevangene gestuur is, het Aristargus saam met hom op die lang reis gegaan, en saam het hulle skipbreuk gely (Hand. 27:1, 2, 41). Nadat hulle in Rome aangekom het, was hy blykbaar ’n tyd lank saam met Paulus in die tronk (Kol. 4:10). Geen wonder Paulus het so aangemoedig en vertroos gevoel deur so ’n lojale vriend nie!

5. Hoe kan ons volgens Spreuke 17:17 ’n lojale vriend wees?

5 Net soos Aristargus kan ons ’n lojale vriend wees deur nie net gedurende goeie tye na aan ons broers en susters te bly nie, maar ook gedurende “moeilike tye”. (Lees Spreuke 17:17.) Selfs nadat ’n broer of suster deur ’n moeilike tyd gegaan het, het hulle dalk nog steeds vertroosting nodig. Frances, * wat albei haar ouers binne drie maande aan kanker verloor het, sê: “Ek dink moeilike situasies het nog lank ná die tyd ’n uitwerking op ons. En ek waardeer lojale vriende wat in gedagte hou dat ek nog steeds in pyn is, selfs al het my ouers al ’n rukkie gelede gesterf.”

6. Wat sal lojaliteit ons beweeg om te doen?

6 Lojale vriende maak opofferings om hulle broers en susters te help. ’n Broer met die naam Peter is byvoorbeeld met ’n dodelike siekte gediagnoseer. Sy vrou, Kathryn, sê: “’n Paartjie in ons gemeente het ons na die afspraak geneem waar ons van Peter se siekte uitgevind het. Hulle het daar en dan besluit dat hulle nie sou toelaat dat ons alleen deur hierdie pynlike situasie gaan nie, en hulle was nog altyd daar wanneer ons hulle nodig gehad het.” Hoe vertroostend is dit tog dat ons ware vriende het wat ons kan help wanneer ons deur moeilike tye gaan!

BETROUBAAR SOOS TIGIKUS

Net soos Tigikus kan ons ’n betroubare vriend wees wanneer ander met probleme sukkel (Sien paragraaf 7-9) *

7-8. Hoe het Tigikus volgens Kolossense 4:7-9 bewys dat hy betroubaar is?

7 Tigikus, ’n Christen van die Romeinse landstreek Asië, was ’n betroubare vriend van Paulus (Hand. 20:4). Paulus het in omtrent 55 HJ gereël dat geld bymekaargemaak word om Christene in Judea te help. Hy het dalk toegelaat dat Tigikus met hierdie belangrike toewysing help (2 Kor. 8:18-20). Later toe Paulus vir die eerste keer in Rome in die tronk was, was Tigikus sy persoonlike boodskapper. Hy het Paulus se briewe en aanmoedigende boodskappe aan die gemeentes in Asië oorgedra. – Kol. 4:7-9.

8 Tigikus het Paulus se betroubare vriend gebly (Tit. 3:12). Nie alle Christene in daardie tyd was so betroubaar soos Tigikus nie. Toe Paulus in omtrent 65 HJ vir die tweede keer in die tronk was, het hy geskryf dat baie Christenmans in die provinsie Asië nie met hom wou assosieer nie, moontlik omdat hulle bang was dat hulle vervolg sou word (2 Tim. 1:15). Maar Paulus kon op Tigikus staatmaak en het hom nog ’n toewysing gegee (2 Tim. 4:12). Paulus het dit sekerlik waardeer om so ’n goeie vriend soos Tigikus te hê.

9. Hoe kan ons Tigikus navolg?

9 Ons kan Tigikus navolg deur ’n betroubare vriend te wees. Ons belowe byvoorbeeld nie net dat ons ons broers en susters sal help nie, maar ons doen ook praktiese dinge om hulle te help (Matt. 5:37; Luk. 16:10). Wanneer dié wat hulp nodig het, weet dat hulle op ons kan staatmaak, voel hulle werklik vertroos. ’n Suster verduidelik hoekom. Sy sê: “Jy voel gerus omdat jy weet dat die persoon wat hulp aangebied het, daar sal wees om te doen wat hy belowe het.”

10. By wie kan dié wat deur ’n moeilike tyd gaan, vertroosting kry volgens Spreuke 18:24?

10 Dié wat deur ’n moeilike tyd gaan of teleurstelling ondervind, kan vertroosting kry deur met ’n vriend te praat wat hulle kan vertrou. (Lees Spreuke 18:24.) Bijay was baie teleurgesteld toe sy seun uitgesit is. Hy sê: “Ek moes my gevoelens deel met iemand wat ek kon vertrou.” Carlos het ’n kosbare voorreg in die gemeente verloor omdat hy ’n fout gemaak het. Hy sê: “Ek het ’n ‘veilige plek’ nodig gehad waar ek vry kon voel om my gevoelens te deel sonder om geoordeel te word.” Die ouermanne was vir Carlos hierdie veilige plek. Hulle het hom gehelp om sy probleem te oorkom. Hy was ook vertroos omdat hy geweet het dat die ouermanne vir niemand sou sê wat hy hulle vertel het nie.

11. Hoe kan ons ’n goeie vriend wees op wie ander kan vertrou?

11 Om ’n goeie vriend te wees op wie ander kan vertrou, moet ons leer om geduldig te wees. Toe Zhanna se man haar gelos het, het sy vertroosting gekry deur haar gevoelens met goeie vriende te deel. Sy sê: “Hulle het geduldig na my geluister alhoewel ek waarskynlik dieselfde ding oor en oor gesê het.” Jy kan ook ’n goeie vriend wees deur ’n goeie luisteraar te wees.

DIEN ANDER SOOS MARKUS

Markus se liefdevolle hulp het Paulus gehelp om te volhard, en ons kan ons broers en susters in tye van nood help (Sien paragraaf 12-14) *

12. Wie was Markus, en hoe het hy gewys dat hy ander wou dien?

12 Markus was ’n Joodse Christen van Jerusalem. Sy neef Barnabas was ’n welbekende sendeling (Kol. 4:10). Markus se familie het blykbaar baie geld gehad, maar hy het nie materiële dinge eerste in sy lewe gestel nie. Markus het regdeur sy lewe gewys dat hy ander wou dien, en dit het hom gelukkig gemaak. Markus het byvoorbeeld op verskillende tye saam met die apostel Paulus en die apostel Petrus gedien terwyl hulle hulle verantwoordelikhede nagekom het. Hy het moontlik vir hulle kos gekoop, plek gevind om te bly en soortgelyke dinge gedoen (Hand. 13:2-5; 1 Pet. 5:13). Paulus het Markus beskryf as een van sy “medewerkers vir die Koninkryk van God” en as “’n bron van groot vertroosting” vir hom. – Kol. 4:10, 11.

13. Hoe wys 2 Timoteus 4:11 dat Paulus Markus se getroue diens waardeer het?

13 Markus het een van Paulus se goeie vriende geword. Toe Paulus in omtrent 65 HJ vir die laaste keer in Rome in die tronk was, het hy ’n tweede brief aan Timoteus geskryf. In daardie brief het Paulus vir Timoteus gevra om na Rome te kom en om Markus saam te bring (2 Tim. 4:11). Paulus het ongetwyfeld Markus se getroue diens waardeer, en daarom het hy gevra dat Markus gedurende hierdie belangrike tyd saam met hom moet wees. Markus het Paulus op praktiese maniere gehelp. Hy het dalk seker gemaak dat hy kos of skryfbehoeftes het. Die ondersteuning en aanmoediging wat Paulus ontvang het, het hom waarskynlik gehelp om te volhard gedurende die dae voor hy doodgemaak sou word.

14-15. Wat kan Matteus 7:12 ons leer oor hoe om ander op praktiese maniere te help?

14 Lees Matteus 7:12. Wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan, waardeer ons beslis dié wat aanbied om ons op praktiese maniere te help! Ryan, wie se pa onverwags in ’n tragiese ongeluk gesterf het, sê: “Wanneer ons deur ʼn moeilike tyd gaan, lyk dinge wat ons gewoonlik elke dag doen, onmoontlik. Praktiese hulp – selfs al is dit iets kleins – kan baie help.”

15 As ons oplettend is, sal ons heel waarskynlik praktiese maniere kry om ander te help. ’n Suster het byvoorbeeld vir Peter en Kathryn, wat vroeër genoem is, gehelp om by al hulle doktersafsprake te kom. Peter en Kathryn kon nie meer bestuur nie, en daarom het die suster ’n rooster opgestel sodat broers en susters in die gemeente beurte kon maak om hulle te vervoer. Het hierdie reëling gehelp? Kathryn sê: “Ons het gevoel asof ’n berg van ons skouers af is.” Hou altyd in gedagte dat jy ander kan vertroos selfs wanneer jy klein dingetjies doen om te help.

16. Watter belangrike les oor hoe om ander te vertroos leer ons uit Markus se voorbeeld?

16 Die eerste-eeuse dissipel Markus was sekerlik ’n besige Christen. Hy het belangrike dinge gehad wat hy vir Jehovah moes doen, en dit het ingesluit dat hy die Evangelie skryf wat sy naam dra. Maar Markus het tyd gemaak om Paulus te vertroos, en Paulus het geweet dat hy Markus kon vra om hom te help. Toe iemand in Angela se familie vermoor is, was sy dankbaar vir dié wat bereid was om haar te vertroos. Sy sê: “Wanneer vriende regtig wil help, is hulle maklik om mee te praat. Hulle is nie huiwerig of bang om te help nie.” Ons kan ons afvra: ‘Ken mense my as iemand wat bereid is om my broers en susters op praktiese maniere te vertroos?’

VASBESLOTE OM ANDER TE VERTROOS

17. Hoe kan dit ons motiveer om ander te vertroos as ons nadink oor 2 Korintiërs 1:3, 4?

17 Ons hoef nie ver te soek om broers en susters te vind wat vertroosting nodig het nie. Ons kan selfs dieselfde aanmoedigende gedagtes deel wat ander gebruik het om ons te vertroos. Nino, ’n suster wat haar ouma in die dood verloor het, sê: “Jehovah kan ons gebruik om ander te vertroos as ons toelaat dat hy ons gebruik.” (Lees 2 Korintiërs 1:3, 4.) Frances, wat vroeër genoem is, sê: “Die woorde in 2 Korintiërs 1:4 is waar. Ons kan ander vertroos met die vertroosting wat ons ontvang.”

18. (a) Hoekom is party dalk bang om ander te vertroos? (b) Hoe kan ons dit regkry om goeie vertroosters te wees? Gee ’n voorbeeld.

18 Ons moet na maniere soek om ander te vertroos, al is ons bang. Ons is dalk bang omdat ons nie weet wat om te sê of wat om te doen wanneer iemand deur ’n moeilike tyd gaan nie. ’n Ouerman met die naam Paul onthou die moeite wat ander gedoen het nadat sy pa gesterf het. Hy sê: “Ek kon sien dat dit nie vir hulle maklik was om na my toe te kom en met my te praat nie. Hulle het nie geweet wat om te sê nie. Maar ek het dit nog steeds waardeer dat hulle my graag wou vertroos en ondersteun.” Net so het ’n broer met die naam Tajon, wat ’n kragtige aardbewing oorleef het, gesê: “Ek onthou regtig nie elke boodskap wat die mense vir my in die dae ná die aardbewing gestuur het nie, maar ek onthou dat hulle genoeg omgegee het om uit te vind of ek veilig is.” Ons kan dit regkry om goeie vertroosters te wees as ons wys dat ons omgee.

19. Hoekom is jy vasbeslote om “’n bron van groot vertroosting” te wees?

19 Terwyl ons al hoe nader aan die einde van hierdie stelsel kom, sal wêreldtoestande erger word en die lewe moeiliker word (2 Tim. 3:13). En omdat ons onvolmaak is en aanhou foute maak, sal ons aanhou om vertroosting nodig te hê. Een van die redes hoekom die apostel Paulus tot die einde van sy lewe getrou kon volhard, is omdat broers en susters hom vertroos het. Laat ons lojaal soos Aristargus en betroubaar soos Tigikus wees en laat ons gewillig wees om ander te dien soos Markus. Deur dit te doen, kan ons ons broers en susters help om Jehovah getrou te bly dien. – 1 Tess. 3:2, 3.

^ par. 5 Die apostel Paulus het baie moeilike tye in sy lewe deurgemaak. Gedurende hierdie moeilike tye het party broers hom baie vertroos. Ons gaan na drie spesifieke eienskappe kyk wat hierdie broers goeie vertroosters gemaak het. Ons gaan ook kyk hoe ons hulle voorbeeld op praktiese maniere kan navolg.

^ par. 5 Van die name in hierdie artikel is verander.

LIED 111 Ons redes tot vreugde

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENTE: Aristargus en Paulus het saam skipbreuk gely

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENTE: Paulus het Tigikus vertrou om sy briewe aan die gemeentes oor te dra.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENTE: Markus het Paulus op praktiese maniere gehelp.