Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 3

Jy is waardevol vir Jehovah jou God!

Jy is waardevol vir Jehovah jou God!

“In ons vernedering [of, hartseer toestand] het hy aan ons gedink.” – PS. 136:23.

LIED 33 Gee jou laste vir Jehovah

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Watter probleme het baie van Jehovah se knegte, en watter uitwerking kan dit op hulle hê?

 DINK aan die volgende drie scenario’s: ’n Jong broer is gediagnoseer met ’n verskriklike siekte. ’n Hardwerkende broer in sy 50’s verloor sy werk en alhoewel hy hard probeer, kry hy nie ’n ander werk nie. ’n Getroue ouer suster kan nie meer so baie in Jehovah se diens doen as wat sy voorheen gedoen het nie.

2 As jy ’n soortgelyke probleem het, voel jy dalk dat jy nie meer waardevol is nie. Hierdie situasies kan jou vreugde wegneem, jou selfrespek vernietig en probleme veroorsaak in jou verhoudings met ander.

3. Hoe beskou Satan en dié wat hom navolg die waarde van menselewe?

3 Hierdie wêreld het Satan se beskouing van menselewe. Satan het nog altyd mense behandel asof hulle geen waarde het nie. Hy was wreed toe hy vir Eva gesê het dat sy vryheid sou hê as sy ongehoorsaam is, alhoewel hy geweet het dat die straf vir ongehoorsaamheid aan God die dood is. Satan het nog altyd die kommersiële, politieke en godsdiensstelsels van hierdie wêreld beheer. Daarom verbaas dit ons nie dat baie besigheidsmanne, politieke en godsdiensleiers ook nie respek vir die waarde van menselewe het nie en nie omgee hoe mense voel nie.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Maar Jehovah wil hê dat ons goed oor onsself moet voel en hy help ons wanneer ons probleme het wat ons waardeloos laat voel (Ps. 136:23; Rom. 12:3). Hierdie artikel sal bespreek hoe Jehovah ons in die volgende situasies kan help: (1) Wanneer ons as gevolg van ’n siekte ly, (2) wanneer ons finansiële probleme het en (3) wanneer die ouderdom ons laat voel asof ons niks waardevols in Jehovah se diens kan doen nie. Maar kom ons kyk eers hoekom elkeen van ons die vertroue kan hê dat ons waardevol vir Jehovah is.

ONS IS WAARDEVOL VIR JEHOVAH

5. Wat oortuig jou dat mense waardevol vir Jehovah is?

5 Alhoewel ons van stof gemaak is, is ons baie meer werd as ’n handjie vol stof (Gen. 2:7). Kom ons kyk na net ’n paar redes hoekom ons weet dat ons waardevol vir Jehovah is. Hy het mense gemaak met die vermoë om sy eienskappe na te volg (Gen. 1:27). Deur dit te doen, het hy mense beter gemaak as enigiets anders wat hy op aarde gemaak het, hy het ons beheer gegee oor die aarde en die diere. – Ps. 8:4-8.

6. Wat is nog ’n bewys dat onvolmaakte mense waardevol vir Jehovah is?

6 Selfs nadat Adam gesondig het, was mense nog steeds waardevol vir Jehovah. Ons is so waardevol vir hom dat hy sy geliefde Seun, Jesus, as ’n losprys vir ons sondes gegee het (1 Joh. 4:9, 10). Deur middel van die losprys, sal Jehovah dié wat as gevolg van Adam se sonde gesterf het, opwek, “die regverdiges en die onregverdiges” (Hand. 24:15). Sy Woord wys dat ons kosbaar vir hom is, maak nie saak of ons siek, arm of oud is nie. – Hand. 10:34, 35.

7. Watter ander redes het Jehovah se knegte om te glo dat hulle waardevol vir hom is?

7 Ons het nog redes om te glo dat ons waardevol vir Jehovah is. Hy het ons na hom toe getrek en gekyk hoe ons op die goeie nuus reageer (Joh. 6:44). Terwyl ons nader aan Jehovah begin kom het, het hy nader aan ons gekom (Jak. 4:8). Jehovah gebruik ook sy tyd en doen moeite om ons te onderrig, en dit wys dat ons waardevol vir hom is. Hy weet watter soort persoon ons nou is en watter soort persoon ons kan word. En hy dissiplineer ons omdat hy ons liefhet (Spr. 3:11, 12). Dit is beslis kragtige bewyse dat ons waardevol vir Jehovah is!

8. Watter uitwerking kan die woorde in Psalm 18:27-29 op ons beskouing van ons probleme hê?

8 Party het gedink dat koning Dawid waardeloos is, maar hy het geweet dat Jehovah hom liefhet en ondersteun. Omdat Dawid dit geweet het, het dit ’n uitwerking gehad op hoe hy sy situasie beskou (2 Sam. 16:5-7). Wanneer ons depressief voel of probleme het, kan Jehovah ons help om dinge anders te sien en om enige uitdaging te oorkom. (Lees Psalm 18:27-29.) Wanneer ons Jehovah se ondersteuning het, kan niks ons keer om hom met vreugde te dien nie (Rom. 8:31). Kom ons kyk nou na daardie drie spesifieke situasies wanneer ons veral moet onthou dat Jehovah ons liefhet en dat ons waardevol vir hom is.

WANNEER ONS AS GEVOLG VAN ’N SIEKTE LY

Wanneer ons Jehovah se geïnspireerde woorde lees, help dit ons om negatiewe emosies te hanteer wat deur ’n siekte veroorsaak word (Sien paragraaf 9-12)

9. Hoe kan ’n siekte dalk ’n uitwerking hê op hoe ons onsself beskou?

9 ’n Siekte kan ons emosies affekteer en ons laat voel asof ons nie meer deur enigiemand gebruik kan word nie. Ons voel dalk skaam wanneer mense sien dat daar iets fout is met ons of wanneer ons op ander moet staatmaak om ons te help. Selfs al weet ander nie dat ons siek is nie, moet ons dalk stry teen gevoelens van skaamte omdat ons nie meer party dinge kan doen wat ons voorheen gedoen het nie. Wanneer ons deur sulke moeilike tye gaan, moedig Jehovah ons aan. Hoe?

10. Wat kan ons help wanneer ons siek is volgens Spreuke 12:25?

10 Wanneer ons siek is, kan “’n goeie woord” ons aanmoedig. (Lees Spreuke 12:25.) In die Bybel het Jehovah goeie woorde laat opteken wat ons daaraan herinner dat ons vir hom saak maak selfs wanneer ons siek is (Ps. 31:19; 41:3). As ons hierdie geïnspireerde woorde oor en oor lees, sal Jehovah ons help om negatiewe emosies te hanteer wat deur ons siekte veroorsaak word.

11. Hoe is ’n broer deur Jehovah gehelp?

11 Kyk na Jorge se ondervinding. As ’n jong man het Jorge ’n verskriklike siekte gekry wat vinnig erger geword het en hom waardeloos laat voel het. Jorge sê: “Ek was nie voorbereid vir hoe die siekte my sou laat voel of die aandag wat ek sou kry as gevolg van die siekte nie. Terwyl die siekte erger geword het, het ek gedink aan hoe my lewe sou verander. Ek was baie hartseer en ek het Jehovah gesmeek om my te help.” Hoe het Jehovah hom gehelp? “Omdat dit vir my moeilik was om te konsentreer, is ek aangemoedig om kort gedeeltes uit Psalms te lees wat wys dat Jehovah vir sy knegte omgee. Ek het daardie paar tekste elke dag gelees, en dit het my baie vertroos. Later het ander begin sien dat ek meer glimlag. Hulle het selfs gesê dat my positiewe gesindheid hulle aanmoedig. Ek het besef dat Jehovah my gebede beantwoord het! Hy het my gehelp om die manier hoe ek oor myself gevoel het, te verander. Ek het begin fokus op wat sy Woord sê oor hoe hy my beskou ten spyte van my siekte.”

12. Wat kan jy doen om deur Jehovah gehelp te word wanneer jy siek is?

12 As jy siek is, kan jy seker wees dat Jehovah weet waardeur jy gaan. Smeek hom om jou te help sodat jy die regte beskouing van jou situasie kan kry. Gebruik dan die Bybel om die goeie woorde te vind wat Jehovah daarin gesit het. Fokus op verse wat wys hoe waardevol Jehovah se knegte vir hom is. As jy dit doen, sal jy sien dat Jehovah goed is teenoor almal wat hom getrou dien. – Ps. 84:11.

WANNEER ONS FINANSIËLE PROBLEME HET

Wanneer ons in gedagte hou dat Jehovah belowe om vir ons te sorg, sal dit ons help wanneer ons sukkel om werk te kry (Sien paragraaf 13-15)

13. Hoe kan ’n gesinshoof dalk voel wanneer hy sy werk verloor?

13 Elke gesinshoof wil sy gesin die basiese dinge gee wat hulle nodig het. Maar sê nou ’n broer verloor sy werk, al het hy niks verkeerds gedoen nie. Hy probeer baie hard om ’n ander werk te kry, maar hy kry nie een nie. Omdat dit met hom gebeur het, voel hy dalk waardeloos. Hoe kan dit hom help as hy op Jehovah se beloftes fokus?

14. Hoekom hou Jehovah sy beloftes?

14 Jehovah hou altyd sy beloftes (Jos. 21:45; 23:14). Daar is baie redes hoekom hy dit doen. Eerstens, sy naam, of reputasie, is op die spel. Jehovah het belowe dat hy vir sy getroue knegte sal sorg en hy voel verplig om hierdie belofte na te kom (Ps. 31:1-3). Jehovah weet ook dat ons hartseer en teleurgesteld sal wees as hy nie vir dié sorg wat deel is van sy gesin nie. Hy belowe om ons te gee wat ons nodig het om te lewe en om hom getrou te dien, en niks sal hom keer om hierdie belofte na te kom nie! – Matt. 6:30-33; 24:45.

15. (a) Watter uitdaging het die eerste-eeuse Christene gehad? (b) Waarvan verseker Psalm 37:18, 19 ons?

15 Wanneer ons dink aan hoekom Jehovah sy beloftes nakom, gee dit ons die versekering dat hy ons sal help wanneer ons finansiële probleme het. Kyk na die voorbeeld van die Christene in die eerste eeu. Toe die gemeente in Jerusalem erg vervolg is, is “almal behalwe die apostels . . . verstrooi” (Hand. 8:1). Dink aan wat dit vir hulle beteken het. Finansiële probleme! Christene het heel moontlik hulle huise en besighede verloor. Nogtans het Jehovah hulle nie in die steek gelaat nie; en hulle het ook nie hulle vreugde verloor nie (Hand. 8:4; Heb. 13:5, 6; Jak. 1:2, 3). Jehovah het hierdie getroue Christene ondersteun en hy sal ons ook ondersteun. – Lees Psalm 37:18, 19.

WANNEER ONS OUD WORD EN NIE MEER BAIE KAN DOEN NIE

Wanneer ons fokus op wat ons kan doen, selfs al is ons oud, verseker dit ons dat ons en ons getroue diens vir Jehovah waardevol is (Sien paragraaf 16-18)

16. Wat kan ons laat wonder of ons aanbidding vir Jehovah waardevol is?

16 Terwyl ons ouer word, begin ons dalk dink dat ons nie baie het om vir Jehovah te gee nie. Koning Dawid het dalk soortgelyke gevoelens gehad terwyl hy ouer geword het (Ps. 71:9). Hoe kan Jehovah ons help?

17. Wat kan ons leer uit die ondervinding van ’n suster met die naam Jheri?

17 Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Jheri. Sy was genooi om ’n opleidingsessie by te woon om die Koninkryksaal in stand te hou, maar sy wou nie gaan nie. Sy het gesê: “Ek is oud, ek is ’n weduwee en ek het nie ’n enkele vaardigheid wat Jehovah kan gebruik nie. Ek is waardeloos.” Die aand voor die opleidingsessie het sy gebid en haar hart voor Jehovah uitgestort. Toe sy die volgende dag by die Koninkryksaal aankom, het sy nog steeds gewonder of sy regtig daar moet wees. Gedurende die program het een van die sprekers beklemtoon dat ons belangrikste vaardigheid ons gewilligheid is om deur Jehovah geleer te word. Jheri vertel: “Ek het gedink: ‘Ek het daardie vaardigheid!’ Toe ek besef dat Jehovah my gebed beantwoord, het ek begin huil. Hy het my verseker dat ek wel iets waardevols het om vir hom te gee en dat hy bereid is om my te leer!” Jheri dink terug en sê: “Toe ek in daardie sessie instap, was ek senuweeagtig, mismoedig en depressief. Maar toe ek daar uitstap, was ek vol vertroue, aangemoedig en het ek waardevol gevoel!”

18. Hoe wys die Bybel dat ons aanbidding nog steeds waardevol vir Jehovah is, al word ons ouer?

18 Terwyl ons ouer word, kan ons seker wees dat Jehovah nog steeds vir ons werk het om te doen (Ps. 92:12-15). Jesus het vir ons geleer dat selfs al lyk die dinge wat ons kan doen vir ons onbelangrik, waardeer Jehovah wat ons ook al in sy diens kan doen (Luk. 21:2-4). So fokus op wat jy kan doen. Jy kan byvoorbeeld oor Jehovah praat, vir jou broers bid en ander aanmoedig om getrou te bly. Jehovah beskou jou as sy medewerker, nie as gevolg van dit wat jy kan doen nie, maar omdat jy gehoorsaam aan hom wil wees. – 1 Kor. 3:5-9.

19. Watter versekering gee Romeine 8:38, 39 ons?

19 Hoe dankbaar is ons tog dat ons Jehovah aanbid, ’n God wat dié wat hom dien, regtig waardeer! Hy het ons gemaak om sy wil te doen, en dit is ware aanbidding wat ons lewe betekenisvol maak (Op. 4:11). Al beskou die wêreld ons as waardeloos, beskou Jehovah ons nie so nie (Heb. 11:16, 38). As ons mismoedig voel as gevolg van siekte, finansiële probleme of die ouderdom, moet ons altyd onthou dat niks ons van die liefde van ons hemelse Vader kan skei nie. – Lees Romeine 8:38, 39.

^ par. 5 Het iets al met jou gebeur wat jou waardeloos laat voel het? Hierdie artikel sal jou herinner aan hoe waardevol jy vir Jehovah is. Dit sal bespreek hoe jy jou selfrespek kan behou maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie.

LIED 30 My Vader, my God en Vriend