Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Ek het baie seëninge ontvang omdat ek by goeie voorbeelde geleer het

Ek het baie seëninge ontvang omdat ek by goeie voorbeelde geleer het

TOE ek jonk was, was dit vir my moeilik om velddiens te doen. Toe ek ouer geword het, het ek toewysings ontvang wat ek nie gedink het ek sou kon doen nie. So kom ek vertel julle van ’n paar goeie voorbeelde wat my gehelp het om my vrese te oorkom en om wonderlike seëninge gedurende my 58 jaar van voltydse diens te geniet.

Ek is in die stad Quebec gebore, in die Franssprekende Kanadese provinsie Quebec. My ouers Louis en Zélia, het my in ’n liefdevolle huis grootgemaak. My pa was ’n stil man en hy was lief vir lees. Ek het daarvan gehou om te skryf en ek het gehoop om eendag ’n joernalis te word.

Toe ek omtrent 12 jaar oud was, het Rodolphe Soucy, een van my pa se werksmaats, saam met ’n vriend ons huis besoek. Hulle was Jehovah se Getuies. Ek het nie baie oor die Getuies geweet nie en ek het nie juis in hulle godsdiens belanggestel nie. Tog was ek baie beïndruk met die liefdevolle en logiese manier waarop hulle ons vrae uit die Bybel beantwoord het. My ouers was ook beïndruk, en daarom het ons ’n Bybelstudie aanvaar.

Gedurende daardie tyd was ek in ’n Katolieke skool. Elke nou en dan het ek met my klasmaats gesels oor wat ek in my Bybelstudie geleer het. Later het die onderwysers, wat priesters was, hiervan uitgevind. In plaas daarvan om die Bybel te gebruik om my verkeerd te bewys, het een van hulle voor die hele klas gesê dat ek opstandig is! Alhoewel dit ’n stresvolle situasie was, was dit ’n goeie ding, want dit het my gehelp om te sien dat die skool se godsdiensleerstellings nie met die Bybel ooreenstem nie. Ek het besef dat ek nie daar behoort nie. Met my ouers se toestemming het ek na ’n ander skool toe gegaan.

HOE EK GELEER HET OM DIE BEDIENING TE GENIET

Ek het aangehou om die Bybel te studeer, maar ek het nie eintlik vordering gemaak nie omdat ek bang was om van huis tot huis te preek. Die Katolieke Kerk het baie invloed gehad en het ons predikingswerk erg teëgestaan. Maurice Duplessis, die politieke leier van Quebec, was ’n baie goeie vriend van die kerk. Met sy ondersteuning, het groepe mense die Getuies lastig geval en selfs aangeval. Daardie tyd moes die Getuies baie moedig wees om te preek.

’n Broer wat my gehelp het om my vrees te oorkom, was John Rae. Hy het die negende klas van die Gileadskool bygewoon. John, wat baie ondervinding gehad het, was sagmoedig, beskeie en ’n mens kon maklik met hom praat. Hy het my amper nooit reguit raad gegee nie, maar ek het baie uit sy goeie voorbeeld geleer. John het gesukkel om Frans te praat, en daarom het ek gereeld saam met hom velddiens gedoen en hom met die taal gehelp. Die tyd wat ek met John spandeer het, het my gehelp om uiteindelik die besluit te neem om een van Jehovah se Getuies te word. Tien jaar nadat ek vir die eerste keer met die Getuies kontak gehad het, is ek op 26 Mei 1951 gedoop.

Die goeie voorbeeld van John Rae (A) het my (B) gehelp om nie meer bang te wees vir die huis-tot-huis-bediening nie

Die meeste verkondigers in ons klein gemeente in die stad Quebec was pioniers. Hulle goeie invloed het my gemotiveer om te pionier. Daardie tyd het ons net die Bybel gebruik wanneer ons van huis tot huis gepreek het. Omdat ons nie lektuur gebruik het wanneer ons gepreek het nie, moes ons leer om die Bybel beter te gebruik. Daarom het ek probeer om Bybelverse goed te leer ken wat my sou help om die waarheid te verdedig. Maar baie het geweier om enige Bybel te lees wat nie deur die Katolieke Kerk goedgekeur is nie.

In 1952 het ek met Simone Patry getrou, ’n getroue suster van die stad Quebec. Ons het na Montreal getrek, en binne ’n jaar is ons geseën met ons dogtertjie, Lise. Alhoewel ek opgehou het om te pionier kort voordat ons getrou het, het ek en Simone probeer om ons lewe eenvoudig te hou sodat ons as ’n gesin so veel as moontlik by die gemeente betrokke kon wees.

Tien jaar het verbygegaan voordat ek weer ernstig daaraan begin dink het om meer in die bediening te doen. In 1962, terwyl ek die maand lange Koninkryksbedieningskool vir ouermanne by die Bethel in Kanada bygewoon het, moes ek ’n kamer deel met ’n broer met die naam Camille Ouellette. Camille se ywer vir die bediening het my regtig beïndruk – veral omdat hy ’n gesin gehad het. Daardie tyd het baie min broers en susters gepionier terwyl hulle kinders grootgemaak het; tog was dit Camille se doelwit. Gedurende ons tyd saam, het hy my aangemoedig om oor my situasie na te dink. Ná net ’n paar maande het ek besef dat ek weer as ’n gewone pionier kan dien. Party het gedink dat dit nie ’n wyse besluit is nie, maar ek het weer begin pionier omdat ek seker was dat Jehovah my sou help.

TERUG NA DIE STAD QUEBEC AS SPESIALE PIONIERS

In 1964 is ek en Simone as spesiale pioniers aangestel in die stad Quebec, waar ons grootgeword het. Ons het vir die volgende paar jaar daar gedien. Teen hierdie tyd was daar minder teenstand, maar party mense het ons nog steeds teëgestaan.

Een Saterdagmiddag is ek gearresteer in Sainte-Marie, ’n klein dorpie naby die stad Quebec. ’n Polisieman het my na die polisiestasie geneem en my in die tronk gegooi omdat ek sonder ’n permit van huis tot huis gepreek het. Later moes ek in die hof voor ’n regter met die naam Baillargeon, ’n intimiderende man, verskyn. Hy het my gevra wie my in die hof gaan verteenwoordig. Toe ek die naam Glen How noem, * ’n welbekende Getuie-regsgeleerde, het hy senuweeagtig uitgeroep: “Ag, nee! Nie hy nie!” Glen How was baie goed daarin om die Getuies wetlik te verdedig, hy het selfs ’n reputasie daarvoor gehad. Dit het nie lank gevat voordat die hof my laat weet het dat daar nie meer ’n aanklag teen my is nie.

Die teenstand teen ons werk in Quebec het dit ook moeilik gemaak om ’n goeie plek te huur waar ons vergaderinge kon hou. Ons klein gemeente kon net ’n ou koue garage kry. Die broers het ’n olie verwarmer gebruik vir ’n bietjie hitte gedurende die bitter koue winters. Ons het dikwels rondom dit bymekaargekom vir ’n paar uur voordat die vergaderinge begin het om mekaar aanmoedigende ondervindinge te vertel.

Dit is wonderlik om die goeie resultate van die predikingswerk oor die jare te sien. In die 1960’s was daar in die gebied van die stad Quebec, die Côte-Nord-streek en die Gaspé-skiereiland, altesaam net ’n paar klein gemeentes. Vandag is daar meer as twee kringe in hierdie gebiede, en die broers kom in pragtige Koninkryksale bymekaar.

’N UITNODIGING NA DIE REISENDE WERK

In 1977 het ek ’n vergadering vir reisende opsieners in Toronto, Kanada, bygewoon

Ek en Simone is in 1970 genooi om in die kringwerk te dien. Toe in 1973 is ons toegewys om streekwerk te doen. Gedurende daardie jare het ek baie by bekwame broers geleer soos Laurier Saumur * en David Splane. * Albei het in die reisende werk gedien. Ná elke byeenkoms het ek en David mekaar voorstelle gegee oor hoe ons ons onderrigting kon verbeter. Ek onthou dat David eenkeer vir my gesê het: “Léonce, ek het jou slottoespraak geniet. Dit was goed, maar ek sou drie toesprake uit al daardie inligting gemaak het!” Ek het die gewoonte gehad om te veel inligting in my toesprake in te sluit. Ek moes leer om minder inligting te gebruik.

Ek het in verskillende stede in die oostelike deel van Kanada gedien

Streekopsieners het die verantwoordelikheid gehad om kringopsieners aan te moedig. Maar baie verkondigers in Quebec het my goed geken. Hulle wou altyd saam met my velddiens doen wanneer ek die kringe besoek het. Alhoewel dit lekker was om saam met hulle velddiens te doen, het ek nie genoeg tyd saam met die kringopsiener spandeer nie. Op een geleentheid het ’n liefdevolle kringopsiener my herinner: “Dit is goed dat jy tyd saam met die broers spandeer, maar moenie vergeet dat hierdie my week is nie. Ek het ook aanmoediging nodig!” Hierdie liefdevolle raad het my gehelp om meer gebalanseerd te wees.

In 1976 het iets onverwags gebeur wat my baie hartseer gemaak het. My dierbare vrou, Simone, het ernstig siek geword en het gesterf. Haar selfopofferende gees en haar liefde vir Jehovah het haar ’n wonderlike maat gemaak. Omdat ek baie tyd in die bediening spandeer het, het dit my gehelp om die hartseer te hanteer, en ek dank Jehovah vir sy liefdevolle ondersteuning gedurende daardie moeilike tyd. Later het ek met Carolyn Elliott getrou, ’n ywerige Engelssprekende pioniersuster wat na Quebec toe gekom het om te dien waar daar hulp nodig is. Mense kan maklik met Carolyn praat en sy stel regtig belang in ander, veral dié wat skaam of eensaam is. Sy het my baie gehelp toe sy saam met my in die reisende werk begin dien het.

’N BAIE BELANGRIKE JAAR

In Januarie 1978 is ek gevra om die instrukteur te wees van die eerste Pionierdiensskool in Quebec. Ek was baie senuweeagtig omdat ek self nog nooit ’n student by die skool was nie en nog nie eers die handboek gesien het nie. So alles was net so nuut vir my soos dit vir die studente was. Gelukkig het die eerste klas wat ek onderrig het, baie ervare pioniers gehad. Alhoewel ek die instrukteur was, het ek baie by die studente geleer!

Later, in 1978, is die “Seëvierende Geloof”-internasionale byeenkoms in Montreal se Olimpiese Stadion gehou. Dit was ons grootste byeenkoms ooit in Quebec, met meer as 80 000 wat dit bygewoon het. Ek is gevra om saam met die streekbyeenkoms se Nuusafdeling te werk. Ek het met baie joernaliste gepraat en ek was opgewonde om te sien dat hulle baie goeie dinge oor ons geskryf het. Meer as 20 uur se onderhoude is op die televisie en radio uitgesaai en honderde artikels is gedruk. ’n Baie groot getuienis is gegee!

’N NUWE TOEWYSING

In 1996 was daar ’n groot verandering in my lewe. Ek het vanaf my doop in die Franssprekende Quebec gedien. Maar toe is ek gevra om in die Engelssprekende streek in die omgewing van Toronto te dien. Ek het nie gedink dat ek dit sou kon doen nie en ek was baie bang om toesprake te gee omdat my Engels nie baie goed was nie. Ek moes meer gereeld bid en meer op Jehovah vertrou.

As ek nou terugkyk, kan ek regtig sê dat die twee jaar wat ek in die omgewing van Toronto gedien het, ’n wonderlike tyd was. Carolyn het my geduldig gehelp om Engels met meer selfvertroue te praat, en die broers het my baie ondersteun en aangemoedig. Ons het sommer gou nuwe vriende gemaak.

Behalwe die ekstra bedrywighede en voorbereidings vir ’n byeenkoms oor ’n naweek, het ek gewoonlik op Vrydagaande omtrent ’n uur lank van huis tot huis velddiens gedoen. Party het dalk gedink: ‘Hoekom sal enigiemand velddiens doen net voor ’n besige byeenkomsnaweek?’ Maar dit het my aangemoedig wanneer ek goeie gesprekke in die bediening gehad het. Selfs nou voel ek baie gelukkiger nadat ek velddiens gedoen het.

In 1998 is ek en Carolyn na Montreal gestuur as spesiale pioniers. Vir ’n hele paar jaar het my toewysing ingesluit dat ek spesiale openbare getuieniswerk reël en saam met die nuusmedia werk om mense se verkeerde idees oor Jehovah se Getuies reg te stel. Nou geniet ek en Carolyn dit om vir buitelanders te preek wat onlangs na Kanada getrek het, en dikwels wil hulle graag meer oor die Bybel leer.

Saam met my vrou, Carolyn

As ek terugdink aan my 68 jaar as ’n gedoopte kneg van Jehovah, voel ek dat hy my regtig geseën het. Ek is baie bly dat ek geleer het om die bediening te geniet en dat ek baie mense kon help om die waarheid te leer. Nadat my dogter, Lise, en haar man hulle kinders grootgemaak het, het hulle as gewone pioniers begin dien. Dit maak my baie bly om te sien dat sy nog steeds ywerig in die bediening is. Ek is veral dankbaar vir broers en susters wie se goeie voorbeeld en wyse raad my gehelp het om my verhouding met Jehovah te versterk en om hom op verskillende maniere te dien. Ek het gevind dat die enigste manier om getrou te bly in ’n toewysing, is om op Jehovah se kragtige heilige gees te vertrou (Ps. 51:11). Ek hou aan om vir Jehovah dankie te sê dat hy my die kosbare voorreg gee om sy naam te loof! – Ps. 54:6.

^ par. 16 Sien W. Glen How se lewensverhaal “Die stryd is nie julle s’n nie, maar God s’n” in die Ontwaak! van 22 April 2000.

^ par. 20 Sien Laurier Saumur se lewensverhaal “Ek het iets gevind wat die moeite werd is om voor te veg” in Die Wagtoring van 15 November 1976.

^ par. 20 David Splane dien as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies.