Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 6

Jehovah, ons liefdevolle Vader, is baie lief vir ons

Jehovah, ons liefdevolle Vader, is baie lief vir ons

“Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader’.” – MATT. 6:9.

LIED 135 God se liefdevolle versoek: “Wees wys, my seun”

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat moes iemand doen as hy met die koning van Persië wou praat?

 STEL jou voor dat jy in Persië woon, omtrent 2 500 jaar gelede. Jy wil graag met die koning van die land oor iets praat, daarom gaan jy na die koninklike stad Susan. Jy sal nie eers daaraan dink om met die koning te praat sonder om eers sy toestemming te kry nie. As jy dit sou doen, kan jy dalk jou lewe verloor! – Est. 4:11.

2. Hoe wil Jehovah hê moet ons voel wanneer ons met hom wil praat?

2 Ons is so dankbaar dat Jehovah nie soos daardie Persiese koning is nie! Jehovah is baie magtiger en belangriker as enige menseheerser, en tog nooi hy ons om enige tyd met hom te praat. Hy wil nie hê dat ons bang moet wees om met hom te praat nie. Alhoewel Jehovah byvoorbeeld sulke hoë titels het soos Groot Skepper, Almagtige en Soewereine Heer, wil hy hê dat ons die liefdevolle term “Vader” moet gebruik wanneer ons met hom praat (Matt. 6:9). Dit maak ons baie gelukkig om te weet dat Jehovah wil hê dat ons so na aan hom moet voel!

3. Hoekom kan ons Jehovah “Vader” noem, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ons kan Jehovah “Vader” noem, want hy het vir ons lewe gegee (Ps. 36:9). Omdat hy ons Vader is, het ons die verantwoordelikheid om gehoorsaam aan hom te wees. Wanneer ons doen wat hy van ons vra, sal ons wonderlike seëninge ontvang (Heb. 12:9). Hierdie seëninge sluit die ewige lewe in, of dit nou in die hemel of op die aarde is. Ons geniet nou ook seëninge. Hierdie artikel sal bespreek hoe Jehovah nou soos ’n liefdevolle Pa is en hoekom ons seker kan wees dat hy ons nooit in die toekoms sal verlaat nie. Maar kom ons kyk eers hoekom ons die vertroue kan hê dat ons hemelse Vader ons baie liefhet en vir ons omgee.

JEHOVAH IS ’N LIEFDEVOLLE VADER WAT VIR ONS OMGEE

Jehovah wil na aan ons wees, net soos ’n liefdevolle pa na aan sy kinders wil wees (Sien paragraaf 4)

4. Hoekom is dit vir party moeilik om Jehovah as hulle Vader te sien?

4 Is dit vir jou moeilik om aan God te dink as jou Vader? Party voel dat hulle klein en onbelangrik is in vergelyking met Jehovah. Hulle twyfel dat God die Almagtige vir hulle persoonlik omgee. Maar ons liefdevolle Vader wil nie hê dat ons so moet voel nie. Hy het vir ons lewe gegee en wil hê dat ons ’n verhouding met hom moet hê. Nadat die apostel Paulus hierdie waarheid genoem het, het hy vir sy luisteraars in Atene verduidelik dat Jehovah “nie ver van elkeen van ons af [is] nie” (Hand. 17:24-29). God wil hê dat ons na hom toe moet gaan net soos ’n kind maklik na ’n liefdevolle ouer sal gaan wat vir hom omgee.

5. Wat leer ons uit die ondervinding van ’n Christensuster?

5 Ander vind dit dalk moeilik om Jehovah as hulle Vader te sien omdat hulle eie pa min of geen liefde vir hulle gegee het nie. Kyk na wat een Christensuster sê: “My pa was baie wreed. Toe ek die Bybel begin studeer het, was dit vir my moeilik om na aan ’n hemelse Vader te voel. Maar nadat ek Jehovah leer ken het, het dit alles verander.” Voel jy ook so? Indien wel, kan jy daarvan seker wees dat dit vir jou ook moontlik is om Jehovah as die heel beste Vader te sien.

6. Hoe help Jehovah ons volgens Matteus 11:27 om hom as ons liefdevolle Vader te sien?

6 Jehovah het Jesus se woorde en dade in die Bybel laat opteken, en wanneer ons dit lees, help dit ons om Hom as ’n liefdevolle Vader te sien. (Lees Matteus 11:27.) Jesus het sy Vader se persoonlikheid so volmaak nagevolg dat hy kon sê: “Enigiemand wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Joh. 14:9). Jesus het dikwels na Jehovah verwys as ’n Vader. In die vier Evangelies alleen het Jesus die term “Vader” omtrent 165 keer gebruik toe hy na Jehovah verwys het. Hoekom het Jesus so baie oor Jehovah gepraat? Een rede is sodat mense daarvan oortuig kan wees dat Jehovah ’n liefdevolle Vader is. – Joh. 17:25, 26.

7. Wat leer ons oor Jehovah uit die manier waarop hy sy Seun behandel het?

7 Kyk na wat ons oor Jehovah kan leer uit die manier waarop hy sy Seun, Jesus, behandel het. Jehovah het altyd na Jesus se gebede geluister. Maar hy het nie net daarna geluister nie, hy het dit ook beantwoord (Joh. 11:41, 42). Maak nie saak watter moeilike situasies Jesus gehad het nie, hy het altyd sy Vader se liefde en ondersteuning gevoel. – Luk. 22:42, 43.

8. Op watter maniere het Jehovah vir Jesus gesorg?

8 Jesus het erken dat sy Vader vir hom lewe gegee het en dat sy lewe van sy Vader afhang toe hy gesê het: “Ek [lewe] weens die Vader” (Joh. 6:57). Jesus het heeltemal op Jehovah vertrou, en Jehovah het hom gegee wat hy nodig gehad het om aan die lewe te bly. Maar die belangrikste is dat Jehovah Jesus gehelp het om getrou aan Hom te bly. – Matt. 4:4.

9. Hoe het Jehovah gewys dat hy vir Jesus ’n liefdevolle Vader is wat vir hom omgee?

9 As ’n liefdevolle Vader het Jehovah seker gemaak dat Jesus weet dat hy Sy ondersteuning het (Matt. 26:53; Joh. 8:16). Alhoewel Jehovah Jesus nie beskerm het teen alles wat hom kon seermaak nie, het Hy hom gehelp om deur moeilike situasies te kom. Jesus het geweet dat enige slegte dinge wat met hom sou gebeur, net tydelik sou wees (Heb. 12:2). Jehovah het gewys dat hy vir Jesus omgee deur na hom te luister, vir hom te sorg, hom op te lei en hom te ondersteun (Joh. 5:20; 8:28). Kom ons kyk nou hoe ons hemelse Vader op soortgelyke maniere vir ons omgee.

HOE ONS LIEFDEVOLLE VADER VIR ONS OMGEE

’n Liefdevolle pa (1) luister na sy kinders, (2) sorg vir sy kinders, (3) lei sy kinders op en (4) beskerm sy kinders. Ons liefdevolle hemelse Vader gee op soortgelyke maniere vir ons om (Sien paragraaf 10-15) *

10. Hoe wys Jehovah volgens Psalm 66:19, 20 dat hy vir ons lief is?

10 Jehovah luister na ons gebede. (Lees Psalm 66:19, 20.) Hy wil nie hê dat ons ons gebede moet beperk nie; hy moedig ons aan om gereeld te bid (1 Tess. 5:17). Ons kan enige tyd tot ons God bid, maak nie saak waar ons is nie. Hy is nooit te besig om na ons te luister nie; hy is altyd daar en luister graag na ons gebede. Wanneer ons besef dat Jehovah na ons gebede luister, voel ons nader aan hom. “Ek is lief vir Jehovah,” het die psalmis gesê, “want hy hoor my stem.” – Ps. 116:1.

11. Hoe beantwoord Jehovah ons gebede?

11 Ons Vader luister nie net na ons gebede nie, maar hy beantwoord dit ook. Die apostel Johannes verseker ons dat God “ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Joh. 5:14, 15). Maar Jehovah sal dalk nie ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag nie. Hy weet wat die beste vir ons is, en daarom sal sy antwoord soms nee wees. Of hy wil hê dat ons moet wag. – 2 Kor. 12:7-9.

12-13. Op watter maniere sorg ons hemelse Vader vir ons?

12 Jehovah sorg vir ons. Hy doen wat hy van alle pa’s verwag (1 Tim. 5:8). Hy gee vir sy kinders wat hulle nodig het om aan die lewe te bly. Hy wil nie hê dat ons bekommerd moet wees oor wat ons gaan eet, wat ons gaan aantrek of waar ons gaan bly nie (Matt. 6:32, 33; 7:11). As ’n liefdevolle ouer het Jehovah ook seker gemaak dat ons in die toekoms alles sal hê wat ons nodig het.

13 Maar die belangrikste is dat Jehovah ons gee wat ons nodig het om ’n goeie verhouding met hom te hê. Deur sy Woord het hy vir ons die waarheid geleer oor homself, sy wil, die doel van die lewe en die toekoms. Hy het gewys dat hy persoonlik in ons belangstel toe ons die waarheid begin leer het. Hy het ons ouers of iemand anders gebruik om ons te help om hom te leer ken. En hy hou aan om ons te help om sy vriende te wees deur middel van liefdevolle ouermanne en ander broers en susters wat sterk in die waarheid is. Ons word ook deur Jehovah by ons gemeentelike vergaderinge saam met ons broers en susters onderrig. Op hierdie en op ander maniere wys Jehovah dat hy soos ’n pa in elkeen van ons belangstel. – Ps. 32:8.

14. Hoekom lei Jehovah ons op, en hoe doen hy dit?

14 Jehovah lei ons op. Anders as Jesus, is ons nie volmaak nie. So as deel van ons opleiding dissiplineer ons liefdevolle Vader ons wanneer dit nodig is. Sy Woord herinner ons: “Jehovah dissiplineer dié wat hy liefhet” (Heb. 12:6, 7). Hy doen dit op baie maniere. Byvoorbeeld, ons lees dalk iets in die Bybel of hoor iets by die vergaderinge wat ons laat besef dat ons ons denke of dade moet verander. Of dalk gee die ouermanne vir ons die hulp wat ons nodig het. Maar dit maak nie saak hoe Jehovah ons dissiplineer nie, hy doen dit altyd uit liefde. – Jer. 30:11.

15. Op watter maniere beskerm Jehovah ons?

15 Jehovah ondersteun ons wanneer ons deur moeilike tye gaan. Net soos ’n liefdevolle pa sy kinders ondersteun wanneer hulle deur moeilike tye gaan, ondersteun ons hemelse Vader ons gedurende moeilike tye. Hy gee ons sy heilige gees om ons te beskerm teen enigiets wat ons verhouding met hom kan beskadig (Luk. 11:13). Jehovah help ons ook wanneer ons mismoedig is. Hy gee ons byvoorbeeld ’n wonderlike hoop. Hierdie hoop vir die toekoms help ons om deur moeilike tye te kom. Dink hieraan: Dit maak nie saak watter slegte dinge met ons gebeur nie, ons liefdevolle Vader sal enige gevolge daarvan wegvat asof dit nooit gebeur het nie. Enige probleme wat ons nou het, is net tydelik, maar die seëninge wat Jehovah gee, is vir ewig. – 2 Kor. 4:16-18.

ONS VADER SAL ONS NOOIT VERLAAT NIE

16. Wat het gebeur toe Adam ongehoorsaam was aan sy liefdevolle Vader?

16 Ons kan bewyse van Jehovah se liefde vir ons sien wanneer ons dink aan wat hy gedoen het toe Adam ongehoorsaam aan hom was. Toe Adam ongehoorsaam was aan sy hemelse Vader, het hy sy plek in Jehovah se gelukkige gesin verloor – vir hom en vir sy nakomelinge (Rom. 5:12; 7:14). Maar Jehovah het iets gedoen om Adam se nakomelinge te help.

17. Wat het Jehovah gedoen onmiddellik nadat Adam ongehoorsaam was?

17 Jehovah het Adam gestraf, maar hy het belowe om Adam se nakomelinge te help. Hy het onmiddellik belowe dat gehoorsame mense weer deel van sy gesin sou word (Gen. 3:15; Rom. 8:20, 21). Jehovah het dit moontlik gemaak deur middel van die losprysoffer van sy geliefde Seun, Jesus. Deur sy Seun vir ons te gee, het Jehovah gewys hoe baie hy ons liefhet. – Joh. 3:16.

As ons van God weggedwaal het maar berouvol is, is ons liefdevolle Vader gereed en bereid om ons terug te verwelkom (Sien paragraaf 18)

18. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah ons as sy kinders wil hê, selfs al het ons van hom af weggedwaal?

18 Al is ons onvolmaak, wil Jehovah ons in sy gesin hê, en hy beskou ons nooit as ’n las nie. Ons sal hom dalk teleurstel of miskien vir ’n rukkie afdwaal, maar Jehovah hoop altyd dat ons na hom toe sal terugkom. Jesus het gewys hoe lief Jehovah vir sy kinders is deur die storie van die verlore seun te vertel (Luk. 15:11-32). Die pa in hierdie illustrasie het nooit opgehou hoop dat sy seun sou terugkom nie. Toe die seun terug huis toe gegaan het, het die pa hom met ope arms terugverwelkom. As ons van Jehovah af weggedwaal het maar berouvol is, kan ons seker wees dat ons liefdevolle Vader gereed en bereid is om ons terug te verwelkom.

19. Hoe sal Jehovah die skade herstel wat deur Adam veroorsaak is?

19 Ons Vader sal al die skade herstel wat deur Adam veroorsaak is. Nadat Adam ongehoorsaam was, het Jehovah besluit om 144 000 mense aan te neem wat saam met sy Seun in die hemel as konings en priesters sal dien. Jesus en sy medeheersers sal in die nuwe wêreld gehoorsame mense help om volmaak te word. God sal vir dié wat ná ’n finale toets van gehoorsaamheid getrou bly, ewige lewe gee. Ons Vader sal dan gelukkig wees om te sien hoe die aarde vol van sy volmaakte seuns en dogters is. Dit sal beslis ’n wonderlike tyd wees!

20. Op watter maniere het Jehovah gewys dat hy ons baie liefhet, en wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 Jehovah het gewys dat hy ons baie liefhet. Hy is die heel beste Vader. Hy luister na ons gebede. Hy gee ons ook wat ons nodig het om aan die lewe te bly en wat ons nodig het om ’n goeie verhouding met hom te hê. Hy lei ons op en ondersteun ons. Hy sal ook wonderlike dinge vir ons in die toekoms doen. Dit maak ons baie bly om te weet dat ons Vader vir ons lief is en vir ons omgee! In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ons, as sy kinders, kan wys dat ons sy liefde waardeer.

LIED 108 God se lojale liefde

^ par. 5 Ons sien Jehovah dikwels as ons Skepper en Soewereine Heerser. Maar ons het goeie redes om hom te sien as ’n liefdevolle Vader wat vir ons omgee. Hierdie artikel sal hierdie redes bespreek. Ons sal ook leer hoekom ons daarvan seker kan wees dat Jehovah ons nooit sal verlaat nie.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENTE: In elke prent sien ons ’n pa met sy kind: ’n pa luister aandagtig na sy seun, ’n pa sorg vir sy dogtertjie, ’n pa lei sy seun op en ’n pa vertroos sy seun. Jehovah se hand in die agtergrond herinner ons daaraan dat hy op soortgelyke maniere vir ons omgee.