Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 9

Laat Jehovah jou help om kalm te wees

Laat Jehovah jou help om kalm te wees

“Toe sorge my oorweldig het, het u my vertroos en gekalmeer.” – PS. 94:19.

LIED 44 Gebed van die bedrukte

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat kan veroorsaak dat ons angstig word, en watter uitwerking kan dit op ons hê?

 WAS jy al ooit baie angstig oor iets? * Miskien voel jy angstig omdat iemand iets gesê of gedoen het wat jou seergemaak het. Of miskien is jy angstig oor iets wat jy gesê of gedoen het. Byvoorbeeld, jy het miskien ’n fout gemaak en jy is bekommerd dat Jehovah jou nooit sal vergewe nie. En nog erger, omdat jy oorweldig is met angs, glo jy dalk dat jy te min geloof het en dat jy ’n slegte persoon is. Maar is dit waar?

2. Watter voorbeelde in die Bybel wys dat ons nie te min geloof het as ons angstig is nie?

2 Kyk na ’n paar voorbeelde in die Bybel. Hanna, wat die ma van die profeet Samuel geword het, was ’n vrou met sterk geloof. Maar tog het sy baie angstig geword toe iemand in haar gesin haar sleg behandel het (1 Sam. 1:7). Die apostel Paulus het sterk geloof gehad, maar hy was baie “besorg . . . oor al die gemeentes” (2 Kor. 11:28). Koning Dawid se geloof was so sterk dat Jehovah hom baie liefgehad het (Hand. 13:22). Maar Dawid het nog steeds foute gemaak wat veroorsaak het dat hy baie angstig gevoel het (Ps. 38:4). Jehovah het elkeen van hulle vertroos en gehelp om kalm te wees. Kom ons kyk wat ons uit hulle voorbeelde kan leer.

WAT ONS UIT GETROUE HANNA SE VOORBEELD LEER

3. Hoe kan ander se woorde veroorsaak dat ons angstig word?

3 Wanneer ander op ’n lelike manier met ons praat of ons sleg behandel, kan dit veroorsaak dat ons angstig word. Dit is veral waar as die een wat ons seergemaak het, ’n goeie vriend of familielid is. Ons is dalk bekommerd dat ons ons goeie verhouding met daardie persoon verloor het. Soms maak iemand ons seer deur iets te sê sonder om te dink, en dit kan voel asof ons met ’n swaard gesteek is! (Spr. 12:18). Of iemand sê iets wat hulle weet ons sal seermaak. Dit is wat met ’n jong suster gebeur het. Sy sê: “’n Paar jaar gelede het iemand wat ek gedink het ’n goeie vriend is, leuens van my aanlyn versprei. Ek was seergemaak en het angstig gevoel. Ek kon net nie verstaan hoekom sy my so in die rug sou steek nie.” As jy deur ’n goeie vriend of familielid seergemaak is, kan jy baie uit Hanna se voorbeeld leer.

4. Watter moeilike probleme het Hanna gehad?

4 Hanna het moeilike probleme gehad. Sy kon vir jare nie kinders kry nie (1 Sam. 1:2). In die Israelitiese kultuur is daar geglo dat ’n vrou wat nie kinders kon kry nie, deur God vervloek is. So Hanna het baie vernederd gevoel (Gen. 30:1, 2). En daar was iets wat Hanna se lewe selfs moeiliker gemaak het. Haar man was ook getroud met ’n ander vrou, Peninna, by wie hy kinders gehad het. Peninna was ook jaloers op Hanna en “het haar heeltyd uitgetart om haar te ontstel” (1 Sam. 1:6). Hanna was eers baie hartseer oor haar situasie. Sy was so ontsteld “dat sy gehuil het en nie geëet het nie”. Sy was “bitter hartseer” (1 Sam. 1:7, 10). Hoe het Hanna vertroosting gevind?

5. Hoe het gebed Hanna gehelp?

5 Hanna het haar hart voor Jehovah in gebed uitgestort. Nadat sy gebid het, het sy haar situasie aan die hoëpriester Eli verduidelik. Hy het toe vir haar gesê: “Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou gee wat jy van hom gevra het.” Wat het toe gebeur? Hanna “het weggegaan en geëet, en sy was nie meer hartseer nie” (1 Sam. 1:17, 18). Gebed het Hanna gehelp om haar vrede terug te kry.

Hoe kan ons soos Hanna ons innerlike vrede terugkry en behou? (Sien paragraaf 6-10)

6. Watter lesse oor gebed leer ons uit Hanna se voorbeeld en uit Filippense 4:6, 7?

6 Ons kan ons vrede terugkry as ons aanhou bid. Hanna het lank in gebed met haar hemelse Vader gepraat (1 Sam. 1:12). Ons kan ook lank met Jehovah praat oor die dinge wat ons bekommerd en bang maak, asook oor ons swakhede. Ons gebede hoef nie soos ’n mooi gedig te wees of perfek te wees nie. Soms sal ons selfs huil wanneer ons met Jehovah praat oor die dinge wat ons hartseer maak. Tog word Jehovah nooit moeg om na ons te luister nie. Maar ons moenie net oor ons probleme bid nie, ons moet ook die raad in Filippense 4:6, 7 onthou. (Lees.) Paulus het spesifiek genoem dat ons in ons gebede vir Jehovah moet dankie sê. Ons het so baie dinge waarvoor ons vir Jehovah dankie kan sê. Ons kan byvoorbeeld vir hom dankie sê vir die geskenk van lewe, vir sy skeppingswerke, vir sy lojale liefde en vir die wonderlike hoop wat hy ons gegee het. Wat kan ons nog uit Hanna se voorbeeld leer?

7. Wat het Hanna en haar man gereeld gedoen?

7 Al het Hanna probleme gehad, het sy gereeld saam met haar man na Jehovah se plek van aanbidding in Silo gegaan (1 Sam. 1:1-5). Dit was terwyl Hanna by die tabernakel was dat die hoëpriester Eli haar aangemoedig het deur te sê dat hy hoop dat Jehovah haar gebed sal beantwoord. – 1 Sam. 1:9, 17.

8. Hoe kan vergaderinge ons help? Verduidelik.

8 Ons kan ons vrede terugkry as ons aanhou om ons gemeentelike vergaderinge by te woon. Aan die begin van ons vergaderinge bid en vra die broer gewoonlik vir Jehovah se gees om met ons te wees. Vrede is deel van die vrug van hierdie gees (Gal. 5:22). Wanneer ons die vergaderinge bywoon al is ons onder stres, gee ons Jehovah en ons broers en susters die geleentheid om ons aan te moedig en om ons te help om ons innerlike vrede terug te kry. Gebed en vergaderinge is belangrike maniere wat Jehovah gebruik om ons te help om kalm te wees (Heb. 10:24, 25). Kom ons kyk na nog ’n les wat ons uit Hanna se voorbeeld kan leer.

9. Wat omtrent Hanna se situasie het nie verander nie, maar wat het wel?

9 Die oorsaak van Hanna se probleme het nie onmiddellik weggegaan nie. Toe Hanna terug huis toe gegaan het nadat sy by die tabernakel was, moes sy nog steeds in dieselfde huis as Peninna woon. En die Bybel sê nie dat Peninna se gesindheid verander het nie. So Hanna moes moontlik aanhou om Peninna se skerp woorde te verduur. Maar sy kon haar innerlike vrede terugkry en behou. Onthou dat Hanna nie meer bekommerd was nadat sy die saak in Jehovah se hande gelos het nie. Sy het Jehovah toegelaat om haar te vertroos en te kalmeer. Later het Jehovah haar geseën met kinders van haar eie! – 1 Sam. 1:19, 20; 2:21.

10. Wat leer ons uit Hanna se voorbeeld?

10 Ons kan ons vrede terugkry al gaan die oorsaak van ons probleme nie weg nie. Selfs al bid ons baie en woon ons gereeld die vergaderinge by, gaan party van ons probleme dalk nie weg nie. Maar ons leer uit Hanna se voorbeeld dat niks Jehovah kan keer om ons angstige hart te kalmeer nie. Jehovah sal ons nooit vergeet nie en hy sal ons beloon vir ons getrouheid. – Heb. 11:6.

WAT ONS UIT DIE APOSTEL PAULUS SE VOORBEELD LEER

11. Watter redes het Paulus gehad om angstig te voel?

11 Paulus het baie redes gehad om angstig te voel. Byvoorbeeld, omdat hy lief was vir sy broers en susters, was hy baie bekommerd oor die probleme wat hulle gehad het (2 Kor. 2:4; 11:28). In Paulus se toewysing as ’n apostel, was daar baie teenstanders wat hom geslaan en in die tronk gegooi het. Hy moes ook deur baie moeilike tye gaan wat hom angstig gemaak het, soos om soms “min te hê” (Fil. 4:12). En as ons dink aan die feit dat hy ten minste drie keer in sy lewe skipbreuk gely het, kan ons ons net voorstel hoe angstig hy moes gewees het wanneer hy per skip moes reis (2 Kor. 11:23-27). Wat het Paulus gehelp toe hy angstig geword het?

12. Wat het Paulus gehelp om minder angstig te wees?

12 Paulus was bekommerd wanneer sy broers en susters probleme gehad het, maar hy het nie probeer om al hulle probleme op sy eie op te los nie. Paulus het geweet dat hy nie alles op sy eie kon doen nie. Hy het ander gevra om hom te help om vir die gemeente om te sien. Hy het byvoorbeeld vir betroubare manne soos Timoteus en Titus baie verantwoordelikhede gegee. Die werk wat hierdie broers gedoen het, het Paulus ongetwyfeld gehelp om minder angstig te wees. – Fil. 2:19, 20; Tit. 1:1, 4, 5.

Hoe kan ons soos die apostel Paulus keer dat angs ons oorweldig? (Sien paragraaf 13-15)

13. Hoe kan ouermanne Paulus navolg?

13 Vra ander om jou te help. Vandag is daar baie liefdevolle ouermanne wat, net soos Paulus, bekommerd is oor broers en susters in die gemeente wat probleme het. Maar daar is net soveel wat ’n ouerman kan doen. As hy erken dat hy nie alles op sy eie kan doen nie, sal hy ander gekwalifiseerde manne vra om hom te help en jong manne oplei om na God se skapies om te sien. – 2 Tim. 2:2.

14. Waaroor was Paulus nie bekommerd nie, en wat kan ons uit sy voorbeeld leer?

14 Erken dat jy vertroosting nodig het. Paulus was nederig, en daarom het hy geweet dat hy die aanmoediging van sy vriende nodig het. Die feit dat hy erken het dat hy deur ander vertroos was, wys dat hy nie bekommerd was dat ander dalk sou dink dat hy swak is nie. In Paulus se brief aan Filemon het hy gesê: “Toe ek van jou liefde hoor, het dit my baie bly gemaak en my vertroos” (Filem. 7). Paulus het ’n hele paar ander broers en susters genoem wat hom baie aangemoedig het toe hy deur moeilike tye gegaan het (Kol. 4:7-11). Wanneer ons nederig erken dat ons aanmoediging nodig het, sal ons broers en susters ons met graagte die ondersteuning gee wat ons nodig het.

15. Wat het Paulus gedoen toe hy in ’n stresvolle situasie was?

15 Vertrou op God se Woord. Paulus het geweet dat God se Woord hom kan vertroos (Rom. 15:4). Dit sou hom ook die wysheid gee om deur moeilike tye te kom (2 Tim. 3:15, 16). Toe Paulus vir die tweede keer in Rome in die tronk was, het hy gedink dat hy binnekort sou sterf. Wat het Paulus gedoen toe hy deur hierdie stresvolle situasie gegaan het? Hy het vir Timoteus gevra om so gou as moontlik na hom toe te kom en “die boekrolle” te bring (2 Tim. 4:6, 7, 9, 13). Hoekom? Omdat daardie boekrolle waarskynlik gedeeltes van die Hebreeuse Geskrifte was wat Paulus in sy persoonlike Bybelstudie kon gebruik. Wanneer ons Paulus navolg deur God se Woord gereeld te studeer, sal Jehovah sy Woord gebruik om ons te help om kalm te wees – maak nie saak watter probleme ons het nie.

WAT ONS UIT KONING DAWID SE VOORBEELD LEER

Soos in die geval van koning Dawid, wat kan ons help as ons ’n ernstige fout maak? (Sien paragraaf 16-19)

16. Hoe het Dawid gevoel toe hy ’n ernstige fout gemaak het?

16 Dawid se gewete het hom gepla omdat hy ’n ernstige fout gemaak het. Hy het egbreuk gepleeg met Batseba, gereël dat haar man doodgemaak word en probeer om dit wat hy gedoen het, weg te steek (2 Sam. 12:9). Dawid het eers sy gewete geïgnoreer. Maar dit het sy verhouding met Jehovah beskadig en het hom baie angstig en selfs siek gemaak (Ps. 32:3, 4). Wat het Dawid gehelp om die angstigheid te hanteer wat hy vir homself veroorsaak het, en wat kan ons help as ons ’n ernstige fout maak?

17. Hoe wys Psalm 51:1-4 dat Dawid regtig jammer was oor wat hy gedoen het?

17 Bid en vra Jehovah om jou te vergewe. Dawid het later tot Jehovah gebid. Hy was baie jammer oor wat hy gedoen het en het vir Jehovah alles vertel. (Lees Psalm 51:1-4.) Dit het hom gehelp om weer kalm en gelukkig te wees (Ps. 32:1, 2, 4, 5). As jy ’n ernstige fout gemaak het, moet jy dit nie probeer wegsteek nie. Bid eerder en sê vir Jehovah wat jy gedoen het. Dit sal jou help om kalm te wees en om nie meer so skuldig te voel nie. Maar as jy jou verhouding met Jehovah wil herstel, moet jy meer doen as om net te bid.

18. Hoe het Dawid op dissipline gereageer?

18 Aanvaar dissipline. Toe Jehovah die profeet Natan gestuur het om met Dawid oor sy sonde te praat, het Dawid nie verskonings probeer maak of gesê dat dit wat hy gedoen het, nie so erg was nie. Hy het onmiddellik erken dat hy nie net teen Batseba se man gesondig het nie, maar dat hy veral teen Jehovah gesondig het. Dawid het Jehovah se dissipline aanvaar, en Jehovah het hom vergewe (2 Sam. 12:10-14). As ons ’n ernstige fout gemaak het, moet ons met dié praat wat Jehovah aangestel het om as herders oor ons toesig te hou (Jak. 5:14, 15). En ons moenie verskonings probeer maak nie. Hoe gouer ons die dissipline wat ons gekry het, aanvaar en toepas, hoe gouer sal ons ons vrede terugkry en weer gelukkig wees.

19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

19 Wees vasbeslote om nie weer dieselfde foute te maak nie. Koning Dawid het geweet dat hy Jehovah se hulp nodig gehad het as hy nie weer dieselfde foute wou maak nie (Ps. 51:7, 10, 12). Nadat Jehovah Dawid vergewe het, was Dawid vasbeslote om verkeerde gedagtes te vermy. Dit het hom gehelp om weer sy innerlike vrede terug te kry.

20. Hoe kan ons wys dat ons Jehovah se vergifnis waardeer?

20 Ons wys dat ons Jehovah se vergifnis waardeer wanneer ons daarvoor bid, dissipline aanvaar en hard werk om nie weer dieselfde foute te maak nie. Wanneer ons hierdie dinge doen, sal ons ons innerlike vrede terugkry. James, ’n broer wat ’n ernstige fout gemaak het, het gesien dat dit waar is. Hy sê: “Toe ek vir die ouermanne sê wat ek gedoen het, het dit gevoel asof ’n berg van my skouers af is. Ek het begin om my innerlike vrede terug te kry.” Hoe aanmoedigend is dit tog om te weet dat “Jehovah naby dié [is] wie se hart gebreek is. Hy red dié wat mismoedig is”! – Ps. 34:18.

21. Hoe kan ons toelaat dat Jehovah ons help om kalm te wees?

21 Terwyl die einde van hierdie laaste dae al hoe nader kom, sal daar al hoe meer dinge wees wat ons angstig maak. Wanneer jy angstig voel, moet jy so gou as moontlik Jehovah vra om jou te help. Studeer die Bybel deeglik. Leer uit die voorbeelde van Hanna, Paulus en Dawid. Vra jou hemelse Vader om jou te help om te sien hoekom jy angstig is (Ps. 139:23). Laat Jehovah toe om jou te help met jou probleme, veral dié waaroor jy min of geen beheer het nie. As jy dit doen, kan jy soos die psalmis wees wat vir Jehovah gesing het: “Toe sorge my oorweldig het, het u my vertroos en gekalmeer.” – Ps. 94:19.  

LIED 4 “Jehovah is my Herder”

^ par. 5 Ons almal voel soms angstig oor die probleme wat ons het. Hierdie artikel bespreek drie van Jehovah se knegte in die Bybel wat soms baie angstig was. Dit bespreek ook hoe Jehovah elkeen van hulle vertroos het en gehelp het om kalm te wees.

^ par. 1 WAT DIT BETEKEN: Angstigheid is ’n gevoel van senuweeagtigheid of bekommernis. Dit kan veroorsaak word deur finansiële probleme, gesondheidsprobleme, gesinsprobleme of persoonlike probleme. Ons voel ook dalk angstig oor foute wat ons in die verlede gemaak het of oor probleme wat ons miskien in die toekoms sal hê.