Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 11

Is jy reg om gedoop te word?

Is jy reg om gedoop te word?

“Doop . . . red julle.” – 1 PET. 3:21.

LIED 28 Verkry Jehovah se vriendskap

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat moet ’n persoon doen voordat hy ’n huis begin bou?

 DINK aan ’n persoon wat besluit om ’n huis te bou. Hy weet watter tipe huis hy wil bou. Moet hy onmiddellik boumateriaal gaan koop en begin bou? Nee. Voordat hy begin bou, is daar iets belangriks wat hy moet doen – hy moet eers uitvind hoeveel dit gaan kos om die huis te bou. Hoekom? Want hy moet weet of hy genoeg geld het om die huis klaar te maak. As hy voor die tyd die koste mooi bereken, is dit meer waarskynlik dat hy die huis klaar sal bou.

2. Waaroor moet jy volgens Lukas 14:27-30 mooi nadink voordat jy gedoop word?

2 Het jou liefde en waardering vir Jehovah jou daaraan laat dink om gedoop te word? Indien wel, is jy in dieselfde bootjie as die man wat die huis wil bou. Hoekom kan ons so sê? Kyk na Jesus se woorde in Lukas 14:27-30. (Lees.) Jesus het gesê wat dit beteken om sy dissipel te wees. Om sy volgeling te wees, moet ons bereid wees om “die koste” te aanvaar wat daarby betrokke is – die uitdagings en die opofferings (Luk. 9:23-26; 12:51-53). So voordat jy gedoop word, moet jy mooi nadink oor wat daarby betrokke is om ’n dissipel van Christus te wees. Dan sal jy goed voorbereid wees om God getrou te bly dien as ’n gedoopte Christen.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Is dit die moeite werd om ’n gedoopte dissipel van Christus te word? Natuurlik is dit! Iemand wat gedoop word, sal baie seëninge ontvang – nou en in die toekoms. Kom ons bespreek ’n paar belangrike vrae oor doop. Dit sal jou help om die vraag te beantwoord: “Is ek reg om gedoop te word?”

WAT JY OOR TOEWYDING EN DOOP MOET WEET

4. (a) Wat beteken dit om jouself aan Jehovah toe te wy? (b) Wat beteken dit volgens Matteus 16:24 om op te hou om vir jouself te lewe?

4 Wat beteken dit om jouself aan Jehovah toe te wy? Voordat jy gedoop kan word, moet jy eers jouself toewy. Wanneer jy jou aan Jehovah toewy, praat jy uit die hart met hom in gebed en sê jy vir hom dat jy jou lewe sal gebruik om hom vir ewig te dien. Toewyding aan God beteken dat jy “ophou om vir [jouself] te lewe”. (Lees Matteus 16:24.) Jy behoort nou aan Jehovah, en dit is ’n baie groot voorreg (Rom. 14:8). Jy sê vir hom dat van nou af is jy nie meer gefokus op wat jy wil hê nie, maar dat sy diens die belangrikste ding in jou lewe is. Jou toewyding is ’n ernstige belofte wat jy aan God maak. Jehovah forseer ons nie om so ’n belofte te maak nie. Maar wanneer ons dit doen, verwag hy dat ons ons belofte hou. – Ps. 116:12, 14.

5. Wat is die verskil tussen toewyding en doop?

5 Wat is die verskil tussen toewyding en doop? Jou toewyding is persoonlik en privaat; dit is tussen jou en Jehovah. Doop gebeur voor mense, gewoonlik by ’n byeenkoms of ’n streekbyeenkoms. Wanneer jy gedoop word, wys jy vir mense dat jy alreeds jouself aan Jehovah toegewy het. * Jou doop wys vir mense dat jy lief is vir Jehovah jou God met jou hele hart, siel, verstand en al jou krag en dat jy besluit het om hom vir ewig te dien. – Mark. 12:30.

6-7. Wat is twee redes volgens 1 Petrus 3:18-22 hoekom ons gedoop moet word?

6 Is dit regtig nodig om gedoop te word? Dink aan die woorde in 1 Petrus 3:18-22. (Lees.) Net soos die ark gewys het dat Noag geloof in God het, wys jou doop vir mense dat jy jou aan Jehovah toegewy het. Maar is dit regtig nodig om gedoop te word? Ja dit is. Petrus het gesê hoekom dit nodig is. Eerstens, dit red jou. Doop kan ons red as ons deur ons dade gewys het dat ons geloof in Jesus het en glo dat hy vir ons gesterf het, dat hy tot hemelse lewe opgewek is en dat hy nou “aan God se regterhand” is.

7 Tweedens, doop lei tot ’n “goeie gewete”. Wanneer ons ons aan God toewy en gedoop word, is dit die begin van ’n spesiale verhouding met hom. Omdat ons opreg berou getoon het en geloof het in die losprys, vergewe God ons sondes. En daarom kan ons ’n goeie gewete voor hom hê.

8. Wat moet die hoofrede wees hoekom jy gedoop wil word?

8 Wat moet die hoofrede wees hoekom jy gedoop wil word? Omdat jy die Bybel goed studeer het, het jy baie oor Jehovah geleer – sy persoonlikheid en sy manier van dinge doen. Wat jy oor hom geleer het, het jou hart diep geraak en het gemaak dat jy hom baie liefhet. Jou liefde vir Jehovah moet die hoofrede wees hoekom jy gedoop wil word.

9. Wat beteken dit om in die naam van die Vader en die Seun en die heilige gees gedoop te word soos genoem word in Matteus 28:19, 20?

9 Nog ’n rede hoekom jy besluit om gedoop te word, is omdat jy geleer het wat die Bybel sê en dit glo. Dink aan wat Jesus gesê het toe hy die opdrag gegee het om dissipels te maak. (Lees Matteus 28:19, 20.) Volgens Jesus moet persone wat gedoop word dit “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” doen. Wat beteken dit? Jy moet met jou hele hart glo wat die Bybel sê oor Jehovah; sy Seun, Jesus; en die heilige gees. Hierdie waarhede is baie kragtig en kan jou hart diep raak (Heb. 4:12). Kom ons bespreek ’n paar van hulle.

10-11. Watter waarhede oor die Vader het jy geleer en aanvaar?

10 Dink terug aan toe jy hierdie waarhede oor die Vader geleer het: Sy ‘naam is Jehovah,’ hy is “die Allerhoogste oor die hele aarde” en hy alleen is “die ware God” (Ps. 83:18; Jes. 37:16). Hy is ons Skepper, en “redding behoort aan Jehovah” (Ps. 3:8; 36:9). Hy het gereël dat ons gered word van sonde en die dood en hy het ons die hoop gegee om vir ewig te lewe (Joh. 17:3). Jou toewyding en doop sal wys dat jy een van Jehovah se Getuies is (Jes. 43:10-12). Jy sal deel wees van ’n wêreldwye familie van aanbidders wat trots daarop is om God se naam te dra en ander daarvan te vertel. – Ps. 86:12.

11 Dit is ’n baie groot voorreg om te verstaan wat die Bybel oor die Vader leer! Wanneer jy hierdie kosbare waarhede aanvaar, sal jou hart jou beweeg om jou aan Jehovah toe te wy en gedoop te word.

12-13. Watter waarhede oor die Seun het jy geleer en aanvaar?

12 Hoe het jy gevoel toe jy die volgende waarhede oor die Seun geleer het? Jesus is die tweede belangrikste persoon in die heelal. Hy was bereid om sy lewe vir ons as ’n losprys te gee. Wanneer ons deur ons dade wys dat ons geloof in die losprys het, kan ons sondes vergewe word, kan ons Jehovah se vriend word en kan ons die ewige lewe kry (Joh. 3:16). Jesus is ons Hoëpriester. Hy wil ons help om die voordele van die losprys te geniet en om ’n goeie verhouding met God te hê (Heb. 4:15; 7:24, 25). As Koning van God se Koninkryk sal Jehovah hom gebruik om Sy naam te heilig, om ’n einde te bring aan goddeloosheid en om in die komende Paradys seëninge te bring wat nooit sal ophou nie (Matt. 6:9, 10; Op. 11:15). Ons moet Jesus se voorbeeld volg (1 Pet. 2:21). Hy het ’n voorbeeld vir ons gestel deur sy lewe te gebruik om God se wil te doen. – Joh. 4:34.

13 Wanneer jy aanvaar wat die Bybel oor Jesus leer, word jy lief vir God se dierbare Seun. Hierdie liefde motiveer jou om jou lewe te gebruik om God se wil te doen, net soos Jesus gedoen het. En daarom wil jy baie graag jouself aan Jehovah toewy en gedoop word.

14-15. Watter waarhede oor die heilige gees het jy geleer en aanvaar?

14 Wat het jy gedink toe jy die volgende waarhede oor die heilige gees geleer het? Dit is nie ’n persoon nie, maar God se werkende krag. Jehovah het die heilige gees gebruik om manne die leiding te gee oor wat om in die Bybel te skryf, en die gees help ons om te verstaan en toe te pas wat ons daarin lees (Joh. 14:26; 2 Pet. 1:21). Deur middel van sy gees gee Jehovah ons die “krag wat bo die normale is” (2 Kor. 4:7). Die gees help ons om die goeie nuus te verkondig, teen versoekings te stry, ontmoediging te hanteer en probleme te oorkom. Dit help ons om die pragtige eienskappe te openbaar wat deel is van “die vrug van die gees” (Gal. 5:22). God gee graag sy gees aan persone wat op hom vertrou en opreg daarvoor vra. – Luk. 11:13.

15 Dit vertroos ons baie om te weet dat Jehovah se aanbidders op die heilige gees kan vertrou om hulle te help om God te dien! Wanneer jy die waarhede aanvaar wat jy oor die heilige gees geleer het, sal jy ’n sterk begeerte hê om jouself aan God toe te wy en gedoop te word.

16. Wat het ons sover geleer?

16 Jou besluit om jou aan God toe te wy en gedoop te word, is baie belangrik. Soos ons geleer het, moet jy bereid wees om die koste te aanvaar wat daarby betrokke is – die uitdagings en die opofferings. Maar die seëninge is baie meer as die opofferings. Doop kan jou red en dit gee jou ’n goeie gewete voor God. Die hoofrede hoekom jy besluit om gedoop te word, is omdat jy lief is vir Jehovah God. Jy moet ook met jou hele hart die waarhede glo wat jy geleer het oor die Vader, die Seun en die heilige gees. Nadat jy gedink het oor wat ons sover bespreek het, hoe sal jy die volgende vraag beantwoord: “Is ek reg om gedoop te word?”

WAT JY MOET DOEN VOORDAT JY GEDOOP WORD

17. Wat is van die dinge wat jy moet doen voordat jy gedoop word?

17 As jy voel dat jy reg is om gedoop te word, het jy heel moontlik al ’n hele paar dinge gedoen om ’n goeie verhouding met Jehovah op te bou. * Omdat jy die Bybel gereeld studeer, het jy baie oor Jehovah en Jesus geleer. Jy het geloof opgebou (Heb. 11:6). Jy vertrou heeltemal op Jehovah se beloftes in die Bybel, en jy is oortuig dat jou geloof in Jesus se offerande jou van sonde en die dood kan red. Jy het berou oor jou sondes; jy voel baie jammer oor die verkeerde dinge wat jy gedoen het en jy het Jehovah gevra om jou te vergewe. Jy het jou lewe omgedraai; jy het opgehou om slegte dinge te doen en jy het op ’n manier begin lewe wat God se hart bly maak (Hand. 3:19). Jy wil graag ander van jou geloof vertel. Jy het gekwalifiseer om ’n ongedoopte verkondiger te word en jy het saam met die gemeente begin preek (Matt. 24:14). Jehovah is trots op jou omdat jy hierdie belangrike dinge gedoen het. Jy het sy hart baie bly gemaak. – Spr. 27:11.

18. Wat moet jy nog doen voordat jy gedoop kan word?

18 Voordat jy gedoop kan word, is daar ’n paar ander dinge wat jy moet doen. Soos ons vroeër geleer het, moet jy jou aan God toewy. Bid uit die hart tot hom wanneer jy alleen is, en belowe hom dat jy jou lewe sal gebruik om sy wil te doen (1 Pet. 4:2). Sê dan vir die koördineerder van die liggaam van ouermanne dat jy gedoop wil word. Hy sal ’n paar ouermanne vra om jou te besoek. Moet asseblief nie bang wees oor hierdie besoeke nie. Hierdie liefdevolle broers ken jou moontlik alreeds en is baie lief vir jou. Hulle sal die basiese Bybelleringe wat jy geleer het, met jou hersien. Hulle wil seker maak dat jy hierdie leringe verstaan en dat jy besef hoe belangrik toewyding en doop is. As hulle saamstem dat jy gereed is, sal hulle vir jou sê dat jy by die volgende byeenkoms of streekbyeenkoms gedoop kan word.

WAT JY MOET DOEN NADAT JY GEDOOP IS

19-20. Wat moet jy doen nadat jy gedoop is, en hoe kan jy dit doen?

19 Wat moet jy doen nadat jy gedoop is? * Onthou dat toewyding ’n ernstige belofte is en dat Jehovah verwag dat jy dit moet hou. So nadat jy gedoop is, moet jy doen wat jy belowe het. Hoe kan jy dit doen?

20 Bly na aan jou gemeente. As ’n gedoopte Christen is jy nou deel van ’n “gemeenskap van broers” (1 Pet. 2:17). Jou broers en susters in die gemeente is jou geestelike familie. As jy die vergaderinge gereeld bywoon, sal jy jou vriendskappe met hulle versterk. Lees elke dag God se Woord en dink daaroor na (Ps. 1:1, 2). Nadat jy ’n gedeelte in die Bybel gelees het, neem die tyd om diep na te dink oor wat jy gelees het. Dan sal die woorde jou hart bereik. “Bid aanhoudend” (Matt. 26:41). Jou opregte gebede sal jou nader aan Jehovah bring. “Hou aan . . . om eers die Koninkryk . . . te soek” (Matt. 6:33). Jy kan dit doen deur die predikingswerk ’n belangrike deel van jou lewe te maak. Deur gereeld aan die bediening deel te neem, sal jy jou geloof sterk hou en kan jy ander help om op die pad na die ewige lewe te kom. – 1 Tim. 4:16.

21. Watter seëninge sal jy ontvang wanneer jy gedoop word?

21 Die besluit om jou aan Jehovah toe te wy en gedoop te word, is die belangrikste besluit wat jy ooit sal maak. Daar is wel ’n prys om te betaal. Maar is dit die moeite werd? Absoluut! Enige probleme wat ons in hierdie wêreld het, “duur net ’n kort rukkie en is lig” (2 Kor. 4:17). Maar wanneer jy gedoop word, sal jy nou ’n beter lewe hê en sal jy die “werklike lewe” kry wat kom (1 Tim. 6:19). So dink asseblief mooi en bid oor die antwoord op hierdie vraag: “Is ek reg om gedoop te word?”

LIED 50 My toewydingsgebed

^ par. 5 Dink jy daaraan om gedoop te word? Indien wel, is hierdie artikel spesiaal geskryf met jou in gedagte. Ons gaan ’n paar belangrike vrae oor hierdie belangrike onderwerp bespreek. Jou antwoorde op hierdie vrae sal jou help om te besluit of jy reg is om gedoop te word.

^ par. 19 As jy nog nie die boeke Wat kan die Bybel ons leer? en Hoe om in God se liefde te bly klaar studeer het nie, moet jy aanhou om met ’n Bybelonderrigter te studeer totdat jy klaar is met al twee boeke.