Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

“Hier is ons! Stuur ons!”

“Hier is ons! Stuur ons!”

WIL jy graag meer in jou bediening doen deur te gaan na waar daar meer verkondigers nodig is, dalk na ’n ander land? Indien wel, kan jy dalk baie leer uit die ondervinding van broer en suster Bergame.

Jack en Marie-Line is al vanaf 1988 saam in die voltydse diens. Hulle is bekend daarvoor dat hulle goed by hulle omstandighede kan aanpas en het baie toewysings in Guadeloupe en in Frans-Guiana aanvaar. Albei plekke is nou onder die toesig van die takkantoor in Frankryk. Kom ons vra Jack en Marie-Line ’n paar vrae.

Hoekom het julle met die voltydse diens begin?

Marie-Line: Terwyl ek in Guadeloupe grootgeword het, het ek gereeld die hele dag lank saam met my ma gepreek, wat ’n ywerige Getuie was. Ek is lief vir mense, so toe ek in 1985 skool klaargemaak het, het ek begin pionier.

Jack: Toe ek klein was, was ek altyd saam met voltydse dienaars wat lief was vir die bediening. Ek het gewoonlik gedurende skoolvakansies hulppionierdiens gedoen. Soms het ons oor naweke met die bus gegaan om saam met die pioniers in hulle gebied te werk. Ons het heeldag gepreek en dan het ons see toe gegaan. Daardie dae was baie lekker!

Kort nadat ek en Marie-Line in 1988 getrou het, het ek vir myself gesê: ‘Daar is niks wat ons terughou nie, so hoekom doen ons nie meer in die bediening nie?’ Ek het saam met Marie-Line begin pionier. ’n Jaar later, nadat ons die pionierskool bygewoon het, is ons as spesiale pioniers aangestel. Voordat ons genooi is om na Frans-Guiana te trek, het ons baie toewysings in Guadeloupe gehad wat ons geniet het.

Oor die jare het julle toewysings al baie verander. Wat het julle gehelp om by nuwe omstandighede aan te pas? 

Marie-Line: Die broers by Bethel in Frans-Guiana het geweet dat ons gunstelingteks Jesaja 6:8 is. So wanneer hulle ons gebel het, het hulle dikwels begin deur grapperig te sê: “Onthou julle wat julle gunstelingteks is?” Ons het geweet dat dit beteken dat ons toewysing sou verander, en daarom het ons gesê: “Hier is ons! Stuur ons!”

Ons vergelyk nie ons nuwe toewysing met ons ou toewysings nie, want dan sal ons dalk nie ons nuwe toewysing geniet nie. Ons probeer ook om vriende te maak met die broers en susters in ons nuwe toewysing.

Jack: In die verlede wou party broers en susters nie hê dat ons moes weggaan nie, en daarom het hulle ons probeer oortuig om te bly. Maar toe ons Guadeloupe verlaat het, het een broer ons aan Jesus se woorde in Matteus 13:38 herinner: “Die landery is die wêreld.” So wanneer ons toewysing verander, herinner ons onsself daaraan dat ons nog steeds in dieselfde landery dien, maak nie saak waar ons is nie. Die belangrikste is dat ons ’n gebied het waar ons vir mense kan preek!

Wanneer ons in ’n nuwe gebied aankom, sien ons dat die mense heel gelukkig is om daar te bly. So ons probeer om soos hulle te lewe. Die kos is dalk anders, maar ons eet wat hulle eet en drink wat hulle drink, terwyl ons seker maak dat als skoon is. Ons probeer om positiewe dinge te sê oor elke toewysing.

Marie-Line: Ons leer ook baie by die plaaslike broers en susters. Ek onthou toe ons die eerste keer in Frans-Guiana aangekom het. Dit het baie hard gereën, so ons het gedink dat ons moes wag totdat dit ophou reën voordat ons kon gaan preek. Maar toe vra ’n suster vir my: “Sal ons gaan?” Ek was verbaas, en toe vra ek: “Hoe?” Sy het toe geantwoord: “Vat jou sambreel, en ons sal op ons fietse gaan.” So ek het geleer hoe om ’n sambreel vas te hou terwyl ek fiets ry. As ek dit nie geleer het nie, sou ek nooit gedurende die reënseisoen gepreek het nie!

Julle het al omtrent 15 keer getrek. Het julle enige raad vir ander?

Marie-Line: Dit kan ’n uitdaging wees om te trek. Maar dit is nog steeds belangrik om ’n plekkie te kry waar jy tuis sal voel nadat jy klaar velddiens gedoen het.

Jack: Ek verf gewoonlik die binnekant van ons huis. As die broers by die tak geweet het dat ons dalk nie lank sou bly nie, het hulle soms gesê: “Jack, los maar hierdie keer die verfwerk!”

Marie-Line is ’n uitstekende pakker! Sy sit alles in bokse en skryf daarop “badkamer”, “slaapkamer”, “kombuis”, ensovoorts. So wanneer ons by ons nuwe huis aankom, is dit makliker om die bokse in die kamers te sit waar dit hoort. Sy maak ’n lys van wat in elke boks is sodat ons maklik kan vind wat ons nodig het.

Marie-Line: Omdat ons geleer het om goed georganiseerd te wees, kan ons sommer dadelik velddiens begin doen.

Hoe skeduleer julle julle tyd sodat julle julle “bediening ten volle [kan] uitvoer”? – 2 Tim. 4:5.

Marie-Line: Maandae rus ons en berei ons vir die vergaderinge voor. Van Dinsdae af gaan ons uit in velddiens.

Jack: Alhoewel ons ’n sekere hoeveelheid ure moet doen, fokus ons nie daarop nie. Die bediening is die belangrikste ding in ons lewe. Vandat ons die huis verlaat totdat ons terugkom, probeer ons om met almal te praat wat ons ontmoet.

Marie-Line: Wanneer ons byvoorbeeld ’n piekniek hou, vat ek gewoonlik pamflette saam met my. Party mense kom na ons toe en vra ons vir publikasies, selfs al het ons nie vir hulle gesê dat ons Jehovah se Getuies is nie. Daarom is ons versigtig oor wat ons aantrek en hoe ons optree. Mense sien sulke dinge raak.

Jack: Ons getuig ook deur goeie bure te wees. Ek tel papiere op, maak die vullisdrom leeg en hark die blare in ons tuin bymekaar. Ons bure sien dit raak en vra soms: “Het jy dalk ’n Bybel vir my?”

Julle het dikwels in afgeleë gebiede gepreek. Het julle enige spesiale ondervindinge wat julle met ons wil deel?

Jack: Dis moeilik om by party gebiede in Guiana uit te kom. Ons moet dikwels 600 kilometer per week op slegte paaie reis. Ons sal nooit ons besoek aan St. Élie, in die Amasonewoud, vergeet nie. Ons het ’n veldvoertuig en ’n kano gebruik, en dit het ons ’n hele paar uur geneem om daar uit te kom. Baie mense wat daar gebly het, was mynwerkers. Omdat hulle dankbaar was vir ons publikasies, het party vir ons klein stukkies goud as ’n bydrae gegee! Saans het ons een van die organisasies se video’s gespeel. Baie mense het gekom.

Marie-Line: Jack is onlangs gevra om die Gedenkmaaltoespraak in Camopi te gee. Ons moes vier ure lank met ’n kano op die Oyapock-rivier reis om daar uit te kom. Dit was ’n opwindende ondervinding.

Jack: Waar die rivier laag was, het die waters vinniger gevloei, en dit was nogal gevaarlik. Dit was indrukwekkend om te sien hoe die sterk waters al hoe nader kom. Die persoon wat die boot bestuur, moet weet wat hy doen. Maar dit was ’n wonderlike ondervinding. Alhoewel daar net 6 Getuies was, het omtrent 50 mense die Gedenkmaal bygewoon, insluitende ’n paar Amerindiane!

Marie-Line: Jongmense kan ook sulke wonderlike ondervindinge hê as hulle meer in Jehovah se diens wil doen. Jy moet op Jehovah vertrou in sulke omstandighede, en jou geloof word versterk. Ons sien gereeld hoe Jehovah ons help.

Julle het ’n hele paar tale geleer. Is dit vir julle maklik om tale te leer?

Jack: Glad nie. Ek het hierdie tale geleer omdat dit nodig was. Ek moes die Wagtoring-studie in Sranantongo * hou nog voordat ek ’n Bybelleesgedeelte gedoen het! Ek het ’n broer gevra hoe ek gedoen het. Hy het geantwoord: “Soms het ons nie party woorde verstaan nie, maar dit was baie goed.” Die kinders het my baie gehelp. Wanneer ek ’n fout gemaak het, het die kinders iets gesê, maar die grootmense het niks gesê nie. Ek het baie by die jongmense geleer.

Marie-Line: In een gebied het ek Bybelstudies in Frans, Portugees en Sranantongo gehad. ’n Suster het voorgestel dat ek met die moeilikste taal begin en met die een eindig wat ek die beste ken. Ek het gou besef hoe wys hierdie raad is.

Eendag het ek ’n Bybelstudie in Sranantongo gehou, en ’n tweede een in Portugees. Toe ek met die tweede studie begin het, het die suster vir my gesê: “Marie-Line, ek dink daar is dalk ’n probleem!” Ek het besef dat ek met ’n Brasiliaanse vrou Sranantongo praat in plaas van Portugees!

Die mense saam met wie julle gedien het, is baie lief vir julle. Hoe het julle sulke goeie vriende met die broers en susters geword?

Jack: Spreuke 11:25 sê: “Die vrygewige persoon sal voorspoedig wees.” Ons spandeer graag tyd met ander en doen dingetjies vir hulle. Wanneer dit gekom het by die herstelwerk van die Koninkryksaal, het party gesê: “Laat die verkondigers dit doen.” Maar ek het gesê: “Wel, ek is ook ’n verkondiger. So as daar werk gedoen moet word, wil ek daar wees.” Alhoewel ons almal ’n bietjie tyd vir onsself nodig het, herinner ons ons gereeld daaraan dat dit ons nie moet keer om goeie dinge vir ander te doen nie.

Marie-Line: Ons probeer om te wys dat ons in elkeen van ons broers en susters belangstel. Op hierdie manier weet ons wanneer hulle iemand nodig het om na hulle kinders te kyk of hulle by die skool te gaan haal. Ons kan dan ons dinge so reël sodat ons beskikbaar is om te help. So word ons goeie vriende en is ons reg om te help wanneer hulle ons nodig het.

Hoe is julle geseën omdat julle gaan dien het waar daar hulp nodig is?

Jack: Ons het baie seëninge ontvang omdat ons in die voltydse diens is. Ons het gereeld die geleentheid gehad om in die natuur te wees en Jehovah se skepping te geniet. Alhoewel daar baie uitdagings is, is ons nie bekommerd nie, want ons weet dat God se volk ons ondersteun waar ons ook al gaan.

Toe ek ’n jong man was, was ek in die tronk in Frans-Guiana omdat ek nie ’n soldaat wou wees nie. Ek het nooit gedink dat ek eendag weer sou teruggaan as ’n sendeling en toegelaat sou word om in die tronke te preek nie. Jehovah het ons baie geseën!

Marie-Line: Dit maak my die gelukkigste om van myself aan ander te gee. Ons is bly om in Jehovah se diens te wees. Dit het ook ons huwelik sterker gemaak. Soms vra Jack of ons ’n paartjie wat aanmoediging nodig het, kan oornooi vir ete. Dikwels sê ek: “Ek het presies dieselfde gedink!” Dit gebeur baie dat ons dieselfde dink.

Jack: Ek is onlangs met prostaatkanker gediagnoseer. Alhoewel Marie-Line nie daarvan hou om dit te hoor nie, het ek vir haar gesê: “Liefie, as ek môre sou sterf, sal dit nie ‘op ’n goeie ouderdom’ wees nie. Maar ek sal tevrede sterf, want ek weet dat ek my lewe gebruik het om iets waardevols te doen – om Jehovah te dien.” – Gen. 25:8.

Marie-Line: Jehovah het ons toewysings gegee wat ons nooit verwag het nie en ons toegelaat om dinge te doen wat ons nooit gedink het ons sou kon doen nie. Ons lewe is regtig gevul met goeie dinge. Ons sal enige plek gaan waar Jehovah se organisasie ons vra om te gaan, want ons vertrou ten volle dat Jehovah ons altyd sal help!

^ par. 32 Sranantongo is ’n mengsel van Engels, Nederlands, Portugees en Afrikatale wat oorspronklik deur slawe gepraat was.