Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 16

Luister, leer en wys dat jy meegevoel het

Luister, leer en wys dat jy meegevoel het

“Hou op om te oordeel volgens wat julle sien, maar oordeel met ’n regverdige oordeel.” – JOH. 7:24.

LIED 101 Werk eensgesind saam

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter vertroostende waarheid leer ons in die Bybel oor Jehovah?

 SAL jy daarvan hou as mense jou oordeel as gevolg van jou velkleur, die vorm van jou gesig of jou liggaamsbou? Waarskynlik nie. Hoe vertroostend is dit dan tog om te weet dat Jehovah ons nie oordeel volgens die uiterlike nie! Toe Samuel byvoorbeeld na Isai se seuns gekyk het, het hy nie gesien wat Jehovah gesien het nie. Jehovah het vir Samuel gesê dat een van Isai se seuns koning van Israel sou word. Maar watter een? Toe Samuel Isai se oudste seun, Eliab, gesien het, het hy gesê: “Dit is vir seker die gesalfde van Jehovah wat hier staan.” Eliab het soos ’n koning gelyk. “Maar Jehovah het vir Samuel gesê: ‘Moenie na sy voorkoms en sy lengte kyk nie, want ek het hom verwerp.’” Wat is die les? Jehovah het verder gesê: “Mense sien net die uiterlike, maar Jehovah sien wat in die hart is.” – 1 Sam. 16:1, 6, 7.

2. Hoekom moet ons volgens Johannes 7:24 nie ’n persoon oordeel volgens wat ons sien nie? Gee ’n voorbeeld.

2 Omdat ons onvolmaak is, is ons almal geneig om ander te oordeel volgens wat ons sien. (Lees Johannes 7:24.) Maar ons leer baie min van ’n persoon deur net na hom te kyk. Byvoorbeeld, selfs ’n briljante dokter met baie ondervinding kan nie baie omtrent sy pasiënt leer deur net na hom te kyk nie. Hy moet mooi luister na sy pasiënt as hy wil uitvind watter gesondheidsprobleme hy in die verlede gehad het, hoe hy oor sy situasie voel of watter simptome hy het. Die dokter sal dalk selfs X-strale laat neem om te kyk wat binne die pasiënt se liggaam aangaan. Anders kan die dokter die pasiënt die verkeerde behandeling gee. Net so kan ons nie ons broers en susters heeltemal verstaan deur net na die uiterlike te kyk nie. Ons moet probeer verstaan watter soort persoon hulle regtig is. Ons kan natuurlik nie harte lees nie, so ons sal ander nooit regtig kan verstaan soos Jehovah hulle verstaan nie. Maar ons kan ons bes doen om Jehovah na te volg. Hoe?

3. Hoe sal die Bybelverslae in hierdie artikel ons help om Jehovah na te volg?

3 Hoe behandel Jehovah sy aanbidders? Hy luister na hulle. Hy hou in gedagte wat hulle agtergrond en situasie is. En hy wys dat hy meegevoel vir hulle het. Terwyl ons bespreek hoe Jehovah dit vir Jona, Elia, Hagar en Lot gedoen het, kom ons kyk hoe ons Jehovah kan navolg in die manier waarop ons ons broers en susters behandel.

LUISTER MOOI NA ANDER

4. Hoekom het ons dalk ’n negatiewe opinie van Jona?

4 Omdat ons nie alles omtrent Jona se situasie weet nie, kan ons dalk dink dat hy onbetroubaar, selfs dislojaal was. Hy het ’n direkte opdrag van Jehovah gekry om ’n oordeelsboodskap in Nineve te verkondig. Maar eerder as om Jehovah te gehoorsaam, het hy op ’n skip geklim wat in die teenoorgestelde rigting gegaan het, “weg van Jehovah af” (Jona 1:1-3). Sou jy vir Jona nog ’n kans gegee het om Jehovah se opdrag te gehoorsaam? Miskien nie. Maar Jehovah het gedink dat Jona nog ’n kans verdien. – Jona 3:1, 2.

5. Wat leer jy omtrent Jona wanneer jy sy woorde in Jona 2:1, 2, 9 lees?

5 Jona het in sy gebed gewys watter tipe persoon hy regtig is. (Lees Jona 2:1, 2, 9.) Daardie gebed – ongetwyfeld een van Jona se baie gebede – help ons om nie net aan hom te dink as iemand wat weggehardloop het van sy toewysing af nie. Sy woorde wys dat hy nederig en dankbaar was en dat hy Jehovah graag wou gehoorsaam. Geen wonder dat Jehovah nie op Jona se fout gefokus het nie. Hy het eerder sy gebed beantwoord en aangehou om hom as ’n profeet te gebruik!

As ons die feite het, kan dit ons help om meer meegevoel te hê (Sien paragraaf 6) *

6. Hoekom is dit die moeite werd om mooi na ander te luister?

6 Om mooi na ander te luister, moet ons nederig en geduldig wees. Daar is ten minste drie redes hoekom dit die moeite werd is. Eerstens, ons sal minder geneig wees om negatiewe opinies van mense te vorm. Tweedens, ons sal uitvind hoe ons broer voel en hoekom hy sekere dinge doen, en dit sal ons help om meer meegevoel met hom te hê. En derdens, ons kan dalk die persoon help om iets oor homself te leer. Partykeer verstaan ons nie eens ons eie gevoelens totdat ons daaroor praat nie (Spr. 20:5). ’n Ouerman in Asië erken: “Ek onthou dat ek die fout gemaak het om te praat voordat ek geluister het. Ek het vir ’n suster gesê dat sy beter kommentare by die vergadering moet gee. Later het ek uitgevind dat sy sukkel om te lees en dat sy haar moet inspan om ’n antwoord te gee.” Dit is belangrik dat elke ouerman “die feite hoor” voordat hy raad gee! – Spr. 18:13.

7. Wat leer jy uit die manier waarop Jehovah Elia behandel het?

7 Dit is vir party van ons broers en susters moeilik om oor hulle gevoelens te praat as gevolg van hulle agtergrond, kultuur of persoonlikheid. Hoe kan ons dit vir hulle makliker maak om vir ons te sê hoe hulle regtig voel? Onthou hoe Jehovah Elia behandel het toe hy van Isebel gevlug het. Dit het vir Elia baie dae gevat voordat hy vir sy hemelse Vader vertel het hoe hy voel. Jehovah het mooi na hom geluister. Hy het toe vir Elia aangemoedig en vir hom belangrike werk gegee om te doen (1 Kon. 19:1-18). Dit vat dalk vir ons broers en susters lank om gemaklik te voel om met ons te praat, maar eers wanneer hulle dit doen, sal ons kan uitvind hoe hulle regtig voel. As ons Jehovah navolg deur geduldig te wees, sal hulle ons begin vertrou. Dan, wanneer hulle reg is om vir ons te sê hoe hulle voel, moet ons mooi na hulle luister.

LEER KEN JOU BROERS EN SUSTERS

8. Hoe het Jehovah Hagar volgens Genesis 16:7-13 gehelp?

8 Hagar, die diensmeisie van Sarai, het dwaas opgetree nadat sy Abram se vrou geword het. Nadat Hagar swanger geword het, het sy geen respek vir Sarai gehad nie, wat geen kinders van haar eie gehad het nie. Die situasie het so erg geword dat Hagar weggeloop het as gevolg van hoe Sarai haar behandel het (Gen. 16:4-6). Omdat ons onvolmaak is, kan ons dalk dink dat Hagar ’n trotse vrou was wat gekry het wat sy verdien het. Maar dit is nie hoe Jehovah oor Hagar gevoel het nie. Hy het sy engel na haar toe gestuur. Toe die engel haar kry, het hy haar gehelp om haar gesindheid te verander en haar geseën. Hagar het besef dat Jehovah haar dopgehou het en alles omtrent haar situasie geweet het. Sy is beweeg om te sê: “U is ’n God wat sien . . . die Een . . . wat my sien.” – Lees Genesis 16:7-13.

9. Wat het God omtrent Hagar in gedagte gehou?

9 Wat het Jehovah in Hagar gesien? Hy was heeltemal bewus van haar agtergrond en alles waardeur sy gegaan het (Spr. 15:3). Hagar was ’n Egiptenaar wat in ’n Hebreeuse huisgesin gebly het. Het sy soms soos ’n vreemdeling gevoel? Het sy haar familie en tuisland gemis? Sy was nie Abram se enigste vrou nie. ’n Tyd lank het party getroue manne meer as een vrou gehad. Maar dit was nie Jehovah se oorspronklike plan nie (Matt. 19:4-6). So dit verbaas ons nie dat hierdie situasie ernstige probleme veroorsaak het nie, soos jaloesie en haat in die familie. Jehovah het geweet dat dit verkeerd van Hagar was om Sarai disrespekvol te behandel. Maar hy het ook Hagar se gevoelens en omstandighede verstaan, en daarom het hy haar liefdevol behandel.

Leer ken jou broers en susters beter (Sien paragraaf 10-12) *

10. Hoe kan jy jou broers en susters beter leer ken?

10 Ons kan Jehovah navolg deur ons broers en susters te probeer verstaan. Leer ken jou broers en susters beter. Praat met hulle voor en ná die vergaderinge, werk saam met hulle in die bediening, en as dit moontlik is, nooi hulle oor vir ’n ete. Wanneer jy dit doen, vind jy dalk uit dat ’n suster wat onvriendelik lyk, eintlik skaam is, ’n broer wat jy gedink het materialisties is, gasvry is of dat ’n gesin wat gewoonlik laat by die vergaderinge aankom, vervolg word (Job 6:29). Ons moet natuurlik nie ‘in ander mense se sake inmeng’ nie (1 Tim. 5:13). Maar dit is goed om iets oor ons broers en susters en hulle omstandighede te leer. Dit kan ons help om hulle beter te verstaan.

11. Hoekom is dit belangrik dat ouermanne die skapies goed ken?

11 Veral ouermanne moet die agtergrond van die broers en susters onder hulle sorg ken. Kyk na die voorbeeld van ’n broer met die naam Artur wat ’n kringopsiener was. Hy en ’n ander ouerman het ’n suster besoek wat gelyk het of sy haar afsonder. Artur sê: “Ons het uitgevind dat haar man gesterf het kort nadat hulle getrou het. Al was haar lewe baie moeilik, het sy twee dogters grootgemaak wat sterk in die waarheid is. Sy is nou besig om haar sig te verloor en sy sukkel met depressie. Maar haar liefde vir Jehovah en haar geloof in hom bly sterk. Ons het besef dat ons baie uit hierdie suster se goeie voorbeeld kan leer” (Fil. 2:3). Hierdie kringopsiener het Jehovah se voorbeeld nagevolg. Jehovah ken sy skapies en die pyn waardeur hulle gaan (Eks. 3:7). Ouermanne wat die skapies goed ken, is in ’n beter posisie om hulle te help.

12. Hoe het dit Yip Yee gehelp om ’n suster in die gemeente beter te leer ken?

12 Wanneer jy die agtergrond van ’n broer of suster wat jou irriteer beter leer ken, sal jy heel waarskynlik meer empatie vir hom of haar hê. Kyk na ’n voorbeeld. Yip Yee, wat in Asië bly, sê: “’n Suster in my gemeente het baie hard gepraat. Ek het gedink dat sy nie goeie maniere het nie. Maar toe ek saam met haar in die bediening werk, het ek uitgevind dat sy haar ouers gehelp het om vis by ’n mark te verkoop. Sy moes hard praat om mense se aandag te kry sodat hulle by hulle kon koop.” Yip Yee sê verder: “Ek het geleer dat ek moes weet wat my broers en susters se agtergrond is as ek hulle beter wou verstaan.” Jy moet dalk moeite doen om jou broers en susters beter te leer ken. Maar wanneer jy die Bybel se raad volg om jou hart wyd oop te maak, volg jy Jehovah na, wat lief is vir “alle soorte mense”. – 1 Tim. 2:3, 4; 2 Kor. 6:11-13.

WYS DAT JY MEEGEVOEL HET

13. Wat het die engele volgens Genesis 19:15, 16 gedoen toe Lot bly talm het, en hoekom?

13 Op ’n belangrike tyd in Lot se lewe het hy nie dadelik Jehovah se instruksies gehoorsaam nie. Twee engele het Lot besoek en vir hom gesê om sy gesin uit Sodom uit te vat. Hoekom? Hulle het gesê: “Ons gaan hierdie plek vernietig” (Gen. 19:12, 13). Die volgende oggend was Lot en sy gesin nog steeds by die huis. So die engele het Lot weer gewaarsku. Maar “hy [het] bly talm”. Ons dink dalk dat Lot nie omgegee het oor wat Jehovah vir hom gesê het om te doen nie, of dat hy ongehoorsaam was. Maar Jehovah het nie opgehou om hom te probeer red nie. Omdat ‘Jehovah genadig teenoor hom was’, het die engele die gesin by die hand gegryp en hulle uit die stad uitgelei. – Lees Genesis 19:15, 16.

14. Hoekom het Jehovah dalk meegevoel met Lot gehad?

14 Jehovah het dalk meegevoel met Lot gehad vir ’n hele paar redes. Miskien was Lot bang vir die mense buite die stad, en daarom het hy nie dadelik sy huis verlaat nie. Daar was ook ander gevare. Lot het moontlik geweet van die twee konings wat in die asfaltputte in ’n vallei daar naby geval het (Gen. 14:8-12). As ’n man en ’n pa was Lot sekerlik bekommerd oor sy gesin. En Lot was baie ryk, so hy het dalk ’n mooi huis in Sodom gehad (Gen. 13:5, 6). Lot kon natuurlik nie hierdie dinge as ’n verskoning gebruik om nie dadelik aan Jehovah gehoorsaam te wees nie. Maar Jehovah het nie op Lot se fout gefokus nie en het hom as ’n “regverdige man” beskou. – 2 Pet. 2:7, 8.

Deur na ander te luister, kan dit ons help om meer meegevoel vir hulle te hê (Sien paragraaf 15-16) *

15. Eerder as om ’n persoon se optrede te oordeel, wat moet ons doen?

15 Eerder as om ’n persoon se optrede te oordeel, moet jy jou bes doen om te verstaan hoe hy of sy voel. Veronica, ’n suster in Europa, het probeer om dit te doen. Sy vertel: “Daar was een suster wat altyd in ’n slegte bui was. Sy het haar altyd afgesonder. Partykeer was ek bang om met haar te praat. Maar ek het gedink: ‘As ek in haar situasie was, sou ek ’n vriend nodig gehad het.’ So ek het besluit om vir haar te vra hoe sy voel. En sy het haar hart oopgemaak! Nou verstaan ek haar baie beter.”

16. Hoekom moet ons Jehovah vra om ons te help om meegevoel te hê?

16 Die enigste persoon wat ons heeltemal verstaan, is Jehovah (Spr. 15:11). So vra hom om jou te help om ander te sien soos hy hulle sien en om te verstaan hoe om meegevoel te wys. Gebed het ’n suster met die naam Anzhela gehelp om meer meegevoel vir ander te hê. Dit was moeilik om met ’n suster in haar gemeente oor die weg te kom. Anzhela erken: “Dit sou baie maklik gewees het om die suster te kritiseer en haar te vermy. Maar toe het ek Jehovah gevra om my te help om meer meegevoel vir die suster te hê.” Het Jehovah Anzhela se gebed beantwoord? Sy sê verder: “Ons het saam velddiens gedoen en daarna ure lank gesels. Ek het met meegevoel na haar geluister. Nou is ek baie liewer vir haar en ek is vasbeslote om haar te help.”

17. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

17 Jy kan nie kies watter broers en susters jou meegevoel verdien nie. Hulle almal het probleme net soos Jona, Elia, Hagar en Lot gehad het. In sommige gevalle het hulle hulle eie probleme veroorsaak. Maar om die waarheid te sê, ons almal het die een of ander tyd ons eie probleme veroorsaak. So dit is net redelik dat Jehovah vir ons vra om meegevoel met mekaar te hê (1 Pet. 3:8). Wanneer ons gehoorsaam is aan Jehovah, versterk ons die eenheid van ons wonderlike wêreldwye familie wat uit broers en susters van alle agtergronde bestaan. So mag ons vasbeslote wees om te luister, te leer en te wys dat ons meegevoel vir ons broers en susters het.

LIED 87 Kom! Word verkwik

^ par. 5 Omdat ons onvolmaak is, is ons geneig om vinnig opinies te vorm oor mense en die redes waarom hulle dinge doen. Maar Jehovah “sien wat in die hart is” (1 Sam. 16:7). In hierdie artikel gaan ons bespreek hoe hy liefdevol vir Jona, Elia, Hagar en Lot gehelp het. En dit gaan ons help om te sien hoe ons Jehovah kan navolg in die manier waarop ons ons broers en susters behandel.

^ par. 52 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouer broer is geïrriteerd omdat ’n jonger broer laat by die vergadering aankom, maar later vind hy uit dat die broer laat was omdat hy in ’n kar-ongeluk was.

^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENT: Die groepopsiener het eers gedink dat ’n suster onvriendelik is, maar later het hy uitgevind dat sy net skaam en ongemaklik rondom mense was wat sy nie goed geken het nie.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: Toe ’n suster tyd saam met ’n ander suster spandeer het om haar beter te leer ken, het sy uitgevind dat die suster nie buierig en onvriendelik is soos wat sy eers gedink het nie.