Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 14

’n Aanval uit die noorde!

’n Aanval uit die noorde!

“’n . . . Nasie het my land binnegeval.” – JOËL 1:6.

LIED 95 Die lig word helderder

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter studiemetode het broer Russell en ander Bybelstudente gebruik, en hoekom was dit ’n goeie metode?

 MEER as ’n 100 jaar gelede het broer C.T. Russell en sy metgeselle, ’n klein groepie ander studente van God se Woord, begin om bymekaar te kom. Hulle wou sien of hulle kon uitvind wat die Bybel regtig leer oor Jehovah God, Jesus Christus, die toestand van die dooies en die losprys. Hulle studiemetode was eenvoudig. Iemand sou ’n vraag vra, en dan sou die groep elke teks wat met die onderwerp te doen het, ondersoek. Dan sou hulle neerskryf wat hulle uit hulle navorsing geleer het. Jehovah het hierdie manne gehelp om belangrike Bybelwaarhede te verstaan, en hierdie waarhede is vandag nog steeds belangrik vir ons.

2. Wat kan soms veroorsaak dat ons ’n Bybelprofesie verkeerd verstaan?

2 Maar hierdie Bybelstudente het gou besef dat dit moeiliker is om ’n Bybelprofesie te verstaan as om ’n basiese Bybelwaarheid te verstaan. Hoekom is dit so? Een rede is dat Bybelprofesieë gewoonlik beter verstaan word terwyl dit vervul word of nadat dit vervul is. Maar daar is nog ’n rede. Om die profesie reg te verstaan, moet ons gewoonlik na al die dele van die profesie kyk. As ons net op een deel van die profesie fokus en die res ignoreer, kan ons die profesie verkeerd verstaan. Dit lyk of dit die geval is met die profesie in die boek Joël. Kom ons kyk na hierdie profesie en bespreek hoekom ons die manier hoe ons die profesie verstaan, moet verander.

3-4. Hoe het ons die profesie in Joël 2:7-9 tot nou toe verstaan?

3 Lees Joël 2:7-9. Joël voorspel dat ’n swerm sprinkane die land Israel sal verwoes. Met tande en kakebene soos dié van ’n leeu, sal hierdie insekte al die plante van die land Israel opvreet! (Joël 1:4, 6). Vir baie jare het ons verstaan dat hierdie profesie voorspel dat Jehovah se volk sou aanhou preek soos ’n swerm sprinkane wat nie gestop kan word nie. Ons het verstaan dat hierdie werk ’n verwoestende uitwerking op die “land”, of die mense sou hê wat onder die beheer van die godsdiensleiers is. *

4 As ons net Joël 2:7-9 lees, kan dit lyk asof dit die regte verduideliking is. Maar as ons mooi na die hele profesie kyk, sien ons dat ons dit anders moet verstaan. Kom ons kyk na vier redes hoekom dit so is.

VIER REDES VIR ’N AANPASSING

5-6. Watter vraag ontstaan wanneer ons die volgende verse lees: (a) Joël 2:20? (b) Joël 2:25?

5 Eerstens, kyk na Jehovah se belofte in verband met die swerm sprinkane: “Ek sal die een wat uit die noorde kom [die sprinkane], ver van julle af wegdryf” (Joël 2:20). As die sprinkane Jehovah se Getuies verteenwoordig wat Jesus se opdrag gehoorsaam om te preek en dissipels te maak, hoekom sal Jehovah belowe om hulle weg te dryf? (Eseg. 33:7-9; Matt. 28:19, 20). Dit is duidelik dat Jehovah nie sy getroue knegte wegdryf nie, maar eerder iets of iemand wat vyandig teenoor sy volk is.

6 Tweedens, kyk wat Joël 2:25 sê. Daar sê Jehovah: “Ek sal julle vergoed vir die jare waarin julle oeste opgevreet is deur die een swerm sprinkane ná die ander, my groot leërmag wat ek teen julle gestuur het.” Let op dat Jehovah belowe om te “vergoed” vir die skade wat die sprinkane veroorsaak het. As die sprinkane Koninkrykspredikers verteenwoordig, sou dit beteken dat die boodskap wat hulle verkondig, skade veroorsaak. Maar hierdie boodskap red lewens en kan party goddeloses beweeg om berou te toon (Eseg. 33:8, 19). Dit sal ’n baie goeie ding vir hulle wees!

7. Wat help die woord “daarna” in Joël 2:28, 29 ons om te verstaan?

7 Lees Joël 2:28, 29. Kyk na ’n derde rede – die volgorde van gebeure in die profesie. Het jy opgelet dat Jehovah sê: “Daarna sal ek my gees . . . uitstort”; met ander woorde nadat die sprinkane hulle werk klaargemaak het? As die sprinkane verkondigers is van God se Koninkryk, hoekom sou Jehovah sy gees op hulle uitstort nadat hulle hulle predikingswerk klaargemaak het? Die feit is dat sonder die hulp van God se kragtige heilige gees, sou hulle nooit jare lank kon aanhou preek al was hulle teëgestaan en hulle werk verbied nie.

Broer J. F. Rutherford en ander gesalfde knegte wat die leiding geneem het, het moedig God se oordele teen hierdie goddelose wêreld verkondig (Sien paragraaf 8)

8. Wie word deur die sprinkane in Openbaring 9:1-11 verteenwoordig? (Sien prent op voorblad.)

8 Lees Openbaring 9:1-11. Kom ons kyk nou na die vierde rede. Ons het voorheen die swerm sprinkane wat in Joël beskryf word, met ons predikingswerk verbind omdat ’n soortgelyke profesie in Openbaring gevind word. Hierdie profesie beskryf ’n swerm sprinkane wat gesigte het soos dié van mense en wat iets op hulle koppe het “wat soos goue krone” lyk (Op. 9:7). Hulle pynig “die mense [God se vyande] wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie”. Hulle doen dit vyf maande lank; dit is omtrent hoe lank die meeste sprinkane lewe (Op. 9:4, 5). Dit lyk beslis of dit Jehovah se gesalfde knegte beskryf. Hulle verkondig moedig God se oordele teen hierdie goddelose wêreld, en daarom maak dit almal wat hierdie wêreld ondersteun, baie ongemaklik.

9. Watter belangrike verskille is daar tussen die sprinkane wat Joël gesien het en die sprinkane wat Johannes beskryf het?

9 Daar is ’n paar dinge wat in die profesie in Openbaring en in die profesie in Joël genoem word, wat soortgelyk is aan mekaar. Maar daar is belangrike verskille. Dink hieraan: In Joël se profesie verwoes die sprinkane die plantegroei (Joël 1:4, 6, 7). In Johannes se visioen word daar vir die sprinkane gesê “om nie die plantegroei van die aarde . . . te beskadig nie” (Op. 9:4). Die sprinkane wat Joël gesien het, kom uit die noorde (Joël 2:20). Die sprinkane wat Johannes gesien het, kom uit die afgrond (Op. 9:2, 3). Die sprinkane wat Joël beskryf het, word weggedryf. In Openbaring word die sprinkane nie weggedryf nie, maar word toegelaat om hulle werk klaar te maak. Daar is niks in die Bybel wat wys dat Jehovah ongelukkig was met hulle nie. – Sien die venster “ Profesieë oor sprinkane – Soortgelyk maar anders”.

10. Gee ’n voorbeeld uit die Bybel wat wys dat die sprinkane wat deur Joël en deur Johannes beskryf word, verskillende dinge kan verteenwoordig.

10 Die belangrike verskille tussen hierdie twee profesieë help ons om te verstaan dat hulle nie met mekaar verband hou nie. Sê ons nou dat die sprinkane wat deur Joël beskryf word nie dieselfde is as die sprinkane wat in die boek Openbaring beskryf word nie? Ja. In die Bybel kan ’n simbool soms ’n ander betekenis hê afhangende van wat bespreek word. Byvoorbeeld, in Openbaring 5:5 word Jesus “die Leeu uit die stam van Juda” genoem, terwyl die Duiwel as “’n brullende leeu” in 1 Petrus 5:8 beskryf word. Die vier punte wat ons bespreek het, wys dat ons ’n ander verduideliking vir Joël se profesie nodig het. Wat kan dit wees?

WAT BETEKEN DIT?

11. Hoe help Joël 1:6 en 2:1, 8, 11 ons om te verstaan wie die sprinkane is?

11 Wanneer ons ander verse in Joël se profesie ondersoek, sien ons dat die profeet ’n militêre aanval voorspel het (Joël 1:6; 2:1, 8, 11). Jehovah het gesê dat hy sy “groot leërmag” (Babiloniese soldate) sou gebruik om die ongehoorsame Israeliete te straf (Joël 2:25). Dit maak sin dat die Bybel na die leërmag verwys as “die een wat uit die noorde kom,” want die Babiloniërs sou Israel vanuit die noorde aanval (Joël 2:20). Daardie leërmag word vergelyk met ’n swerm sprinkane wat goed georganiseerd is. Joël het die volgende oor hulle gesê: “[Elke soldaat] bly op sy pad. . . . Hulle storm die stad binne, hulle hardloop op die mure. Hulle klim teen die huise op, hulle klim deur die vensters soos ’n dief” (Joël 2:8, 9). Kan jy hierdie prentjie in jou gedagtes sien? Daar is soldate net waar jy kyk. Jy kan nêrens wegkruip nie. Niemand kan van die swaard van die Babiloniërs af wegkom nie!

12. Hoe is Joël se profesie oor die sprinkane vervul?

12 Net soos sprinkane het die Babiloniërs (of, Galdeërs) die stad Jerusalem in 607 VHJ aangeval. Die Bybel sê: ‘Die koning van die Galdeërs wat hulle jong manne met die swaard doodgemaak het, het nie jammer gevoel vir jong manne of maagde, oumense of swakkes nie. God het alles in sy hand gegee. Hy het die huis van die ware God afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die versterkte torings aan die brand gesteek en alles wat van waarde was, verwoes’ (2 Kron. 36:17, 19). Toe die Babiloniërs die land klaar verwoes het, kon die mense net sê: “Dit is ’n verlate plek, sonder mens of dier, en dit is in die hand van die Galdeërs gegee.” – Jer. 32:43.

13. Verduidelik die betekenis van Jeremia 16:16, 18.

13 Omtrent 200 jaar ná Joël se profesie, het Jehovah Jeremia gebruik om iets anders oor hierdie aanval te voorspel. Hy het gesê dat daar deeglik gesoek sou word na die Israeliete wat slegte dinge gedoen het en dat hulle gevang sou word. “‘Kyk, ek laat baie vissermanne kom,’ sê Jehovah, ‘en hulle sal hulle vang. Daarna sal ek baie jagters laat kom, en hulle sal hulle jag op elke berg en elke heuwel en uit die klowe van die kranse. . . . Ek [sal] hulle ten volle terugbetaal vir hulle oortreding en hulle sonde.’” Die onberouvolle Israeliete sou nie die oseane of die woude kon gebruik om weg te kruip van die Babiloniese soldate nie. – Jer. 16:16, 18.

JOËL BRING GOEIE NUUS

14. Wanneer is Joël 2:28, 29 vervul?

14 Op ’n positiewe noot bring Joël nou goeie nuus. Die land sal weer vrugbaar wees (Joël 2:23-26). Dan sal daar die een of ander tyd in die toekoms oorgenoeg geestelike voedsel beskikbaar wees. Jehovah sê: “Ek [sal] my gees op alle soorte mense uitstort, en julle seuns en julle dogters sal profeteer. . . . Ek [sal] my gees selfs op my slawe en slavinne uitstort” (Joël 2:28, 29). God het nie sy gees oor die Israeliete uitgestort direk nadat hulle uit Babilon na hulle tuisland teruggekeer het nie. Dit het eerder honderde jare later by Pinkster 33 HJ gebeur. Hoe weet ons dit?

15. Watter verandering het Petrus aan die woorde in Joël 2:28 gemaak volgens Handelinge 2:16, 17, en wat wys dit?

15 Die apostel Petrus het onder inspirasie Joël 2:28, 29 toegepas op iets wonderliks wat op Pinksterdag gebeur het. Omtrent negeuur daardie oggend het God sy heilige gees uitgestort, en dié wat dit ontvang het, het begin praat “oor die wonderlike dinge van God” (Hand. 2:11). Onder inspirasie het Petrus die woorde van Joël se profesie effens verander toe hy dit aangehaal het. Het jy opgelet watter verandering hy gemaak het? (Lees Handelinge 2:16, 17.) In plaas daarvan dat Petrus die aanhaling met die woord “daarna” begin het, het hy gesê: “En in die laaste dae” – in hierdie geval, die laaste dae van die Joodse stelsel van dinge – sal God se gees “op alle soorte mense” uitgestort word. Dit wys dat daar baie tyd verbygegaan het voordat Joël se profesie vervul is.

16. Watter uitwerking het God se gees op die predikingswerk in die eerste eeu gehad, en wat van vandag?

16 Nadat God sy gees op die Christene in die eerste eeu uitgestort het, het hulle met ’n predikingswerk begin wat later regoor die wêreld gedoen sou word. Teen die tyd dat die apostel Paulus sy brief aan die Kolossense geskryf het, omtrent 61 HJ, kon hy sê dat die goeie nuus verkondig is “in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kol. 1:23). Toe Paulus gepraat het van “die hele skepping”, het hy verwys na die dele van die wêreld waarheen hy en ander kon reis. Met die hulp van Jehovah se kragtige heilige gees het die predikingswerk baie meer in ons dag uitgebrei – “tot aan die eindes van die aarde”! – Hand. 13:47; sien die venster ‘ Ek sal my gees uitstort’.

WAT HET VERANDER?

17. Hoe het die manier hoe ons Joël se profesie oor die sprinkane verstaan, verander?

17 Wat het verander? Ons verstaan die profesie in Joël 2:7-9 nou baie beter. Eenvoudig gestel, hierdie verse verwys nie na ons ywerige predikingswerk nie, maar na die Babiloniese leërmag wat Jerusalem in 607 VHJ aangeval het.

18. Wat omtrent Jehovah se volk het nie verander nie?

18 Wat het nie verander nie? Jehovah se volk hou aan om die goeie nuus van die Koninkryk oral te verkondig en gebruik elke moontlike manier om dit te doen (Matt. 24:14). Geen beperking wat die regering op ons werk sit, kan ons keer om ons opdrag om te preek uit te voer nie. En met Jehovah se seën, doen ons meer as ooit tevore en verkondig ons moedig die goeie nuus van die Koninkryk! Ons hou nederig aan om op Jehovah te vertrou om ons te help om Bybelprofesieë te verstaan omdat ons vertrou dat wanneer die tyd reg is, hy ons “in die hele waarheid [sal] inlei”! – Joh. 16:13.

LIED 97 God se Woord is lewegewend

^ par. 5 Ons het jare lank geglo dat die profesie in Joël hoofstuk 1 en 2 die predikingswerk in ons dag voorspel. Maar daar is vier goeie redes hoekom dit lyk asof daar ’n verandering gemaak moet word in hoe ons hierdie deel van Joël se profesie verstaan. Wat is hierdie redes?

^ par. 3 Sien byvoorbeeld die artikel “Jehovah se wysheid word in die skepping gesien” in Die Wagtoring van 15 April 2009, par. 14-16.