Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 17

“Ek noem julle vriende”

“Ek noem julle vriende”

“Ek noem julle vriende, want ek het julle alles vertel wat ek by my Vader gehoor het.” – JOH. 15:15.

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat moet jy doen om ’n sterk vriendskap met iemand te hê?

 DIE eerste ding wat ’n mens gewoonlik moet doen om ’n sterk vriendskap met iemand te hê, is om tyd met daardie persoon te spandeer. Wanneer julle met mekaar praat oor wat julle dink en julle gevoelens met mekaar deel, word julle vriende. Maar partykeer is dit nie so maklik om ’n goeie vriend van Jesus te word nie. Hoekom nie?

2. Wat is die eerste ding wat dit vir ons moeilik maak om Jesus se vriende te wees?

2 Die eerste ding wat dit vir ons moeilik maak om Jesus se vriende te wees, is dat ons nie persoonlik vir Jesus ontmoet het nie. Baie Christene in die eerste eeu het hom ook nie persoonlik ontmoet nie. Maar die apostel Petrus het gesê: “Al het julle hom nooit gesien nie, is julle lief vir hom. Al sien julle hom ook nie nou nie, beoefen julle geloof in hom” (1 Pet. 1:8). So dit is moontlik om ’n goeie vriend van Jesus te word, al het ons hom nie persoonlik ontmoet nie.

3. Wat is die tweede ding wat dit vir ons moeilik maak om Jesus se vriende te wees?

3 Die tweede ding wat dit vir ons moeilik maak om Jesus se vriende te wees, is die feit dat ons nie met Jesus kan praat nie. Wanneer ons bid, praat ons met Jehovah. Dit is waar dat ons in Jesus se naam bid, maar ons praat nie direk met hom nie. Om die waarheid te sê, Jesus wil nie hê dat ons tot hom moet bid nie. Hoekom nie? Omdat gebed deel van aanbidding is, en net Jehovah moet aanbid word (Matt. 4:10). Maar ons kan nog steeds wys dat ons lief is vir Jesus.

4. Wat is die derde ding wat dit vir ons moeilik maak om Jesus se vriende te wees, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Die derde ding wat dit vir ons moeilik maak om Jesus se vriende te wees, is die feit dat Jesus in die hemel is, so ons kan nie letterlik tyd met hom spandeer nie. Maar ons kan nog steeds Jesus goed leer ken, al is ons nie by hom nie. Ons sal na vier dinge kyk wat ons kan doen wat ons vriendskap met hom sal versterk. Maar kom ons kyk eers hoekom dit belangrik is om ’n goeie vriend van Christus te word.

HOEKOM MOET ONS JESUS SE VRIENDE WORD?

5. Hoekom moet ons vriende met Jesus wees? (Sien ook die vensters “ Vriendskap met Jesus lei tot vriendskap met Jehovah” en “ Die regte beskouing van Jesus se rol”.)

5 Ons moet Jesus se vriende wees as ons ’n goeie verhouding met Jehovah wil hê. Hoekom? Kyk na net twee redes. Eerstens, Jesus het vir sy dissipels gesê: “Die Vader self is lief vir julle, omdat julle my liefgehad het” (Joh. 16:27). Hy het ook gesê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Joh. 14:6). Om te probeer om Jehovah se vriend te wees sonder om ’n goeie vriend van Jesus te wees, is soos om te probeer om in ’n gebou in te gaan sonder om die deur te gebruik. Jesus het ’n soortgelyke illustrasie gebruik toe hy homself beskryf het as “die deur vir die skape” (Joh. 10:7). Tweedens, Jesus het sy Vader se eienskappe volmaak nagevolg. Hy het vir sy dissipels gesê: “Enigiemand wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Joh. 14:9). So ’n belangrike manier om Jehovah te leer ken is deur meer van Jesus se lewe te leer. Hoe meer ons oor Jesus leer, hoe meer sal ons hom liefkry. En hoe sterker ons vriendskap met Jesus word, hoe sterker sal ons liefde vir sy Vader word.

6. Wat is nog ’n rede hoekom ons ’n verhouding met Jesus moet hê? Verduidelik.

6 Ons moet ’n verhouding met Jesus hê as ons wil hê dat ons gebede beantwoord moet word. Dit beteken dat ons meer moet doen as om net die woorde “in Jesus se naam” in ons gebede te gebruik. Ons moet verstaan hoe Jehovah Jesus gebruik om ons gebede te beantwoord. Jesus het vir die apostels gesê: “Enigiets wat julle in my naam vra, sal ek doen” (Joh. 14:13). Al is Jehovah die een wat na ons gebede luister en dit beantwoord, het hy vir Jesus die gesag gegee om Sy besluite uit te voer (Matt. 28:18). So voordat God ons gebede beantwoord, kyk hy of ons die raad toegepas het wat Jesus ons gegee het. Jesus het byvoorbeeld gesê: “As julle mense vir hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe, maar as julle mense nie vir hulle oortredings vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie vir julle oortredings vergewe nie” (Matt. 6:14, 15). Dit is baie belangrik dat ons ander op dieselfde liefdevolle manier behandel as wat Jehovah en Jesus ons behandel!

7. Wie geniet die voordele van Jesus se losprysoffer?

7 Net dié wat ’n goeie verhouding met Jesus het, sal die voordele van sy losprysoffer geniet. Hoe weet ons dit? Jesus het gesê dat hy “sy lewe vir sy vriende [sou] gee” (Joh. 15:13). Getroue mense wat gelewe het voordat Jesus aarde toe gekom het, sal hom moet leer ken en liefkry. Manne en vroue soos Abraham, Sara, Moses en Ragab sal opgewek word, maar selfs hierdie regverdige knegte van Jehovah sal vriende van Jesus moet word om die ewige lewe te kry. – Joh. 17:3; Hand. 24:15; Heb. 11:8-12, 24-26, 31.

8-9. Wat sal ons volgens Johannes 15:4, 5 kan doen as ons Jesus se vriende is, en hoekom is dit belangrik?

8 Ons geniet dit om saam met Jesus te werk om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Toe Jesus op die aarde was, was hy ’n onderrigter. En vandat hy teruggegaan het hemel toe, het Jesus, as hoof van die gemeente, aangehou om die predikings- en onderrigtingswerk te lei. Hy sien en waardeer wat jy doen om soveel mense as moontlik te help om hom en sy Vader te leer ken. Die feit is, die enigste manier hoe ons hierdie werk kan doen, is met die hulp van Jehovah en Jesus. – Lees Johannes 15:4, 5.

9 God se woord wys duidelik dat ons vir Jesus lief moet wees en vir hom moet lief bly as ons Jehovah gelukkig wil maak. So kom ons kyk na vier dinge wat ons kan doen om Jesus se vriende te word.

HOE ONS JESUS SE VRIEND KAN WORD

Jy kan Jesus se vriend word deur (1) hom beter te leer ken, (2) soos hy te dink en te doen wat hy sou doen, (3) Christus se broers te ondersteun en (4) die reëlings van die gemeente te ondersteun (Sien paragraaf 10-14) *

10. Wat is die eerste ding wat ons moet doen om ’n vriendskap met Jesus te hê?

10 (1) Leer Jesus ken. Ons kan dit doen deur die Bybelboeke Matteus, Markus, Lukas en Johannes te lees. Terwyl ons nadink oor Bybelverslae van Jesus se lewe, help dit ons om Jesus lief te kry en te respekteer omdat hy mense liefdevol behandel het. Byvoorbeeld, alhoewel hy sy dissipels se Meester was, het hy hulle nie soos slawe behandel nie. Hy het eerder sy gedagtes en gevoelens met hulle gedeel (Joh. 15:15). Toe hulle hartseer was, was Jesus ook hartseer en het hy saam met hulle gehuil (Joh. 11:32-36). Selfs Jesus se vyande kon sien dat dié wat sy boodskap aanvaar het, sy vriende geword het (Matt. 11:19). Wanneer ons Jesus navolg in die manier waarop hy sy dissipels behandel het, sal ons verhoudings met ander verbeter, sal ons meer tevrede en gelukkiger voel en sal ons Christus selfs meer liefhê en respekteer.

11. Wat is die tweede ding wat ons moet doen om Jesus se vriend te word, en hoekom is dit belangrik?

11 (2) Dink soos Jesus en doen wat hy sou doen. Hoe beter ons sy denke leer ken en hoe meer ons soos hy begin dink, hoe sterker sal ons vriendskap met hom word (1 Kor. 2:16). Hoe kan ons Jesus navolg? Kyk na net een voorbeeld. Jesus het nie sy eie voordeel gesoek nie; dit was vir hom belangriker om ander te help (Matt. 20:28; Rom. 15:1-3). Omdat hy op hierdie manier gedink het, was hy selfopofferend en het hy ander vergewe. Hy het nie maklik kwaad geraak vir wat ander oor hom gesê het nie (Joh. 1:46, 47). En hy het nie toegelaat dat ’n fout wat iemand in die verlede gemaak het, ’n invloed het op hoe hy oor daardie persoon voel nie (1 Tim. 1:12-14). Jesus het gesê: “Almal [sal] weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het” (Joh. 13:35). Vra jou af: ‘Volg ek Jesus se voorbeeld na deur alles te doen wat ek kan om vrede met my broers en susters te hê?’

12. Wat is die derde ding wat ons moet doen om Jesus se vriend te word, en hoe kan ons dit doen?

12 (3) Ondersteun Christus se broers. Wanneer ons iets vir Jesus se gesalfde broers doen, is dit vir Jesus asof ons dit vir hom doen (Matt. 25:34-40). Die belangrikste manier hoe ons die gesalfdes ondersteun, is deur ons bes te doen om te preek en ander te leer, soos Jesus vir ons gesê het om te doen (Matt. 28:19, 20; Hand. 10:42). Net met die hulp van die “ander skape” kan Christus se broers die predikingswerk doen wat nou regoor die wêreld gedoen word (Joh. 10:16). As jy deel is van die ander skape, wys jy elke keer wanneer jy aan die predikingswerk deelneem, dat jy nie net lief is vir Christus se broers nie, maar ook vir Jesus.

13. Hoe kan ons Jesus se raad in Lukas 16:9 toepas?

13 Ons maak ook vriende met Jehovah en Jesus deur geld by te dra om die werk te ondersteun wat hulle rig. (Lees Lukas 16:9.) Ons kan byvoorbeeld tot die wêreldwye werk bydra. Hierdie geld word gebruik om te help met die verkondiging van die goeie nuus in afgeleë gebiede, om Koninkryksale en soortgelyke geboue te bou en in stand te hou en om diegene te help wat deur ’n ramp getref is. Ons kan ook ons eie gemeente finansieel ondersteun en persone help wat ons weet hulp nodig het (Spr. 19:17). Ons kan Christus se broers op hierdie maniere ondersteun.

14. Wat is die vierde ding wat ons volgens Efesiërs 4:15, 16 moet doen om Jesus se vriend te word?

14 (4) Ondersteun die reëlings van die Christengemeente. Ons versterk ons vriendskap met Jesus as die hoof van die gemeente wanneer ons saamwerk met dié wat hy aangestel het om vir ons te sorg. (Lees Efesiërs 4:15, 16.) Byvoorbeeld, ons probeer om seker te maak dat al die Koninkryksale op die beste manier moontlik gebruik word. Dit is hoekom party gemeentes saamgesmelt het en gebiedsgrense aangepas is. Op hierdie manier spaar die organisasie baie geld. Maar as gevolg hiervan moes party verkondigers by nuwe omstandighede aanpas. Hierdie getroue verkondigers het dalk baie jare lank in ’n sekere gemeente gedien en het dalk goeie vriende geword met die broers en susters daar. Maar nou word hulle gevra om in ’n ander gemeente te dien. Jesus is baie bly wanneer hy sien dat hierdie getroue dissipels met hierdie reëling saamwerk!

JESUS SE VRIENDE VIR EWIG

15. Hoe sal ons vriendskap met Jesus in die toekoms beter word?

15 Persone wat met heilige gees gesalf is, het die hoop om vir ewig saam met Jesus te wees en saam met hom in God se Koninkryk te regeer. Hulle sal saam met Christus wees – hulle sal hom sien, met hom praat en tyd saam met hom spandeer (Joh. 14:2, 3). Persone met die aardse hoop sal ook Jesus se liefde en aandag ontvang. Alhoewel hulle Jesus nie sal sien nie, sal hulle verhouding met hom al hoe sterker word terwyl hulle die lewe geniet wat Jehovah en Jesus vir hulle moontlik maak. – Jes. 9:6, 7.

16. Watter seëninge ontvang ons omdat ons Jesus se vriende is?

16 Wanneer ons Jesus se uitnodiging aanvaar om sy vriende te word, ontvang ons baie seëninge. Byvoorbeeld, ons ervaar nou sy liefde en ondersteuning. Ons het die geleentheid om vir ewig te lewe. En die belangrikste is, as ons ’n vriendskap met Jesus het, sal ons die kosbaarste vriendskap ontvang – ’n sterk persoonlike verhouding met Jesus se Vader, Jehovah. Wat ’n voorreg is dit tog om Jesus se vriende genoem te word!

LIED 17 ‘Ek wil, ja’

^ par. 5 Die apostels het ’n paar jaar lank tyd met Jesus spandeer en met hom gewerk, en hulle het goeie vriende geword. Jesus wil ook hê dat ons sy vriende moet wees. Maar dit is nie so maklik vir ons om sy vriende te wees as wat dit vir sy apostels was nie. In hierdie artikel sal ons ’n paar dinge bespreek wat dit vir ons moeilik maak om Jesus se vriende te wees. Ons gaan ook bespreek wat ons kan doen om ’n goeie vriend van Jesus te word en te bly.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENT: (1) Ons kan gedurende gesinsaanbidding oor Jesus se lewe en bediening leer. (2) Ons kan hard werk in die gemeente om vrede met ons broers en susters te hê. (3) Ons kan Christus se broers ondersteun deur ons bes in die bediening te doen. (4) Ons kan saamwerk met die ouermanne se besluite wanneer gemeentes saamsmelt.