Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 18

‘Voltooi die wedloop’

‘Voltooi die wedloop’

“Ek het die wedloop voltooi.” – 2 TIM. 4:7.

LIED 129 Ons sal volhard

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat moet ons almal doen?

 SAL jy in ’n wedloop wil hardloop wat jy weet moeilik is, veral as jy siek is of moeg voel? Waarskynlik nie. Maar die apostel Paulus het gesê dat alle ware Christene in ’n wedloop is (Heb. 12:1). En ons almal, jonk of oud, vol energie of moeg, moet tot die einde toe volhard as ons die prys wil hê wat Jehovah ons aanbied. – Matt. 24:13.

2. Hoekom het Paulus volgens 2 Timoteus 4:7, 8 vryheid van spraak gehad?

2 Paulus het vryheid van spraak gehad omdat hy self “die wedloop voltooi” het. (Lees 2 Timoteus 4:7, 8.) Maar wat is hierdie wedloop waarvan Paulus gepraat het?

WAT IS DIE WEDLOOP?

3. Wat is die wedloop waarvan Paulus gepraat het?

3 Paulus het soms oor dinge geskryf wat tydens die spele in eertydse Griekeland gebeur het om belangrike lesse aan ander te leer (1 Kor. 9:25-27; 2 Tim. 2:5). Hy het die lewe van ’n Christen ’n hele paar keer met ’n wedloop vergelyk (1 Kor. 9:24; Gal. 2:2; Fil. 2:16). ’n Persoon begin om in hierdie “wedloop” te hardloop wanneer hy hom aan Jehovah toewy en gedoop word (1 Pet. 3:21). Hy voltooi die wedloop wanneer Jehovah hom die prys van die ewige lewe gee. – Matt. 25:31-34, 46; 2 Tim. 4:8.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Watter ooreenkomste is daar tussen ’n wedloop en om as ’n Christen te lewe? Daar is ’n hele paar ooreenkomste. Kom ons kyk na drie van hulle. Eerstens, ons moet op die regte pad bly; tweedens, ons moet op die eindstreep fokus; en derdens, ons moet aanhou hardloop selfs al het ons probleme.

BLY OP DIE REGTE PAD

Ons almal moet op die pad na die ewige lewe bly (Sien paragraaf 5-7) *

5. Op watter pad moet ons bly, en hoekom?

5 Vir hardlopers om ’n prys in ’n letterlike wedloop te kry, moet hulle op ’n spesifieke pad bly. Net so moet ons die lewe van ’n Christen lei as ons die prys van die ewige lewe wil ontvang (Hand. 20:24; 1 Pet. 2:21). Maar Satan en dié wat sy voorbeeld volg, wil hê dat ons ’n ander keuse moet maak; hulle wil hê dat ons hulle “lewenswyse” moet volg, of saam met hulle moet hardloop (1 Pet. 4:4). Hulle spot die manier waarop ons lewe en hulle sê dat hulle manier van lewe beter is. Maar dit is nie waar nie. – 2 Pet. 2:19.

6. Wat leer jy uit Brian se voorbeeld?

6 Enigiemand wat saam met dié hardloop wat deur Satan se wêreld beïnvloed is, vind gou uit dat die pad wat hulle gekies het nie na vryheid lei nie, maar na slawerny (Rom. 6:16). Kyk wat met Brian gebeur het. Sy ouers het hom aangemoedig om die lewe van ’n Christen te kies. Maar toe hy ’n tiener was, het hy gewonder of hierdie lewe hom gelukkig sou maak. Brian het besluit om saam met dié te hardloop wat volgens Satan se standaarde lewe. Hy sê: “Ek het destyds nie besef dat die sogenaamde vryheid wat ek begeer het, my in die kloue van verslawing sou laat beland nie. . . . Mettertyd het ek dwelms en alkohol begin misbruik en ’n onsedelike lewe begin lei. Oor die volgende paar jaar het ek ook met sterker dwelms begin eksperimenteer en aan baie van hierdie dwelms verslaaf geraak. . . . Ek [het] dwelms begin verkoop om geld in die hande te kry.” Brian het uiteindelik besluit om volgens Jehovah se standaarde te lewe. Hy het die regte pad gekies en is in 2001 gedoop. Hy is nou regtig gelukkig omdat hy die lewe van ’n Christen lei. *

7. Watter twee paaie is daar om van te kies volgens Matteus 7:13, 14?

7 Dit is so belangrik dat ons die regte pad kies! Satan wil nie hê dat ons op die pad moet hardloop “wat na die lewe lei” nie. Hy wil hê dat ons op die breë pad moet wees waarop die meeste mense in hierdie wêreld is. Baie mense hou van hierdie pad, en dit is maklik om op te reis. Maar dit ‘lei na vernietiging’. (Lees Matteus 7:13, 14.) Ons moet op Jehovah vertrou en na hom luister as ons op die regte pad wil bly en nie afgelei wil word nie.

BLY GEFOKUS EN MOENIE STRUIKEL NIE

Ons moet gefokus bly en nie ander laat struikel nie (Sien paragraaf 8-12) *

8. Wat doen ’n hardloper as hy struikel?

8 Persone in ’n wedloop fokus op die pad wat reg voor hulle is sodat hulle nie struikel nie. Maar hulle kan dalk per ongeluk deur ’n ander hardloper gestruikel word of in ’n gat trap. As hulle wel val, staan hulle weer op en hou hulle aan hardloop. Hulle fokus nie op wat hulle laat struikel het nie, maar op die eindstreep en die prys wat hulle wil wen.

9. Wat moet ons doen as ons struikel?

9 In ons wedloop sal ons dalk baie keer struikel deur verkeerde dinge te sê of te doen. Of dié wat saam met ons hardloop, doen dalk iets wat ons seermaak. Ons moenie verbaas wees as dit gebeur nie. Ons is almal onvolmaak en ons almal hardloop op dieselfde smal pad na die lewe. So ons gaan die een of ander tyd teen mekaar “stamp”. Paulus het erken dat ons mekaar soms ‘’n rede sal gee om te kla’ (Kol. 3:13). Maar eerder as om te fokus op wat ons laat struikel het, kom ons fokus op die prys wat voor ons is. As ons wel struikel, kom ons kies om op te staan en aan te hou hardloop. As ons kwaad word en weier om op te staan, sal ons nie die wedloop voltooi en die prys kry nie. En ons sal heel moontlik ’n struikelblok word vir ander wat op die smal pad na die lewe probeer hardloop.

10. Hoe kan ons dit vermy om “’n struikelblok” vir ander te word?

10 Daar is nog ’n manier hoe ons dit kan vermy om “’n struikelblok” te word vir dié wat saam met ons hardloop. Ons kan toelaat dat hulle dinge op hulle manier doen wanneer dit moontlik is eerder as om altyd dinge op ons manier te wil doen (Rom. 14:13, 19-21; 1 Kor. 8:9, 13). Op hierdie belangrike manier is ons nie soos die hardlopers in ’n letterlike wedloop nie. Hulle kompeteer met mekaar en elke hardloper wil die prys vir homself wen. Hierdie hardlopers dink meestal net aan wat hulle sal help om die wedloop te wen. So hulle probeer dalk om die ander hardlopers uit die pad uit te stamp sodat hulle voor kan wees. Maar ons kompeteer nie met mekaar nie (Gal. 5:26; 6:4). Ons doelwit is om soveel mense as moontlik te help om saam met ons die wedloop te voltooi en die prys van die lewe te kry. So ons probeer om Paulus se geïnspireerde raad toe te pas om “nie net aan [ons] eie belange [te] dink nie, maar ook aan die belange van ander”. – Fil. 2:4.

11. Waarop fokus ’n hardloper, en hoekom?

11 Hardlopers in ’n letterlike wedloop fokus nie net op die pad reg voor hulle nie, maar ook op die eindstreep. Selfs al kan hulle nie die eindstreep met hulle letterlike oog sien nie, kan hulle in hulle verbeelding sien hoe hulle oor die eindstreep gaan en die prys kry. Hulle bly gemotiveerd deur heeltyd aan die prys te dink.

12. Watter liefdevolle belofte het Jehovah gemaak?

12 In die wedloop wat ons hardloop, het Jehovah sy volk liefdevol belowe dat hy hulle sal beloon as hulle die wedloop voltooi – met ewige lewe in die hemel of op ’n paradysaarde. Hierdie beloning word in die Bybel beskryf sodat ons ons kan voorstel hoe wonderlik ons lewe sal wees. Hoe meer ons dink aan die toekoms wat Jehovah ons belowe het, hoe meer vasbeslote sal ons wees om nie toe te laat dat enigiets ons permanent laat struikel nie.

HOU AAN HARDLOOP, AL IS DIT MOEILIK

Ons wil aanhou hardloop in die wedloop van die lewe, al het ons probleme (Sien paragraaf 13-20) *

13. Wat het ons wat letterlike hardlopers nie het nie?

13 Die hardlopers in die Griekse spele het probleme gehad wat hulle moes oorkom, soos moegheid en pyn. Maar hulle kon net staat maak op hulle eie krag en opleiding. Net soos daardie hardlopers kry ons ook opleiding om ons te leer hoe om in die wedloop van die lewe te hardloop. Maar ons het iets wat letterlike hardlopers nie het nie. Ons kan krag van Jehovah kry, en daar is geen einde aan die hoeveelheid krag wat hy ons kan gee nie. As ons op Jehovah vertrou, belowe hy nie net om ons op te lei nie, maar ook om ons sterk te maak! – 1 Pet. 5:10.

14. Hoe help 2 Korintiërs 12:9, 10 ons om probleme te hanteer?

14 Paulus het baie probleme gehad. Hy is deur ander beledig en vervolg. Hy het ook soms swak gevoel en ’n probleem gehad waarmee hy gesukkel het, iets wat hy “’n doring in die vlees” genoem het (2 Kor. 12:7). Maar hy het nie hierdie probleme as ’n rede gesien om op te gee nie. Hy het dit eerder as ’n geleentheid gesien om op Jehovah te vertrou. (Lees 2 Korintiërs 12:9, 10.) Omdat Paulus hierdie gesindheid gehad het, het Jehovah hom deur al sy probleme gehelp.

15. Wat sal ons ondervind as ons Paulus navolg?

15 Dalk word ons ook vir ons geloof beledig of vervolg. Dalk sukkel ons ook met slegte gesondheid of miskien is ons gereeld moeg. Maar as ons Paulus navolg, kan hierdie probleme ’n geleentheid word om Jehovah se liefdevolle ondersteuning te ondervind.

16. Wat kan jy doen selfs al is jou gesondheid nie so goed nie?

16 Is jy bedlêend of in ’n rolstoel? Is jou bene nie meer so sterk nie of kan jy nie meer so goed sien nie? As dit die geval is, kan jy daarvan seker wees dat jy saam met dié kan hardloop wat jonk en gesond is! Baie ouer persone en persone wat nie meer so gesond is nie, hardloop op die pad na die lewe. Hulle kan dit nie in hulle eie krag doen nie. Hulle kry krag van Jehovah deur na Christelike vergaderinge oor die telefoon te luister of deur na video-opnames van die vergaderinge te kyk. En hulle neem deel aan die dissipelmaakwerk deur vir dokters, verpleegsters en familielede te getuig.

17. Hoe voel Jehovah oor persone wat fisies swak is?

17 As jy nie alles vir Jehovah kan doen wat jy graag wil nie, moet jy nie mismoedig word en dink dat jy te swak is om op die pad na die lewe te hardloop nie. Jehovah is lief vir jou omdat jy geloof in hom het en vir al die dinge wat jy oor die jare vir hom gedoen het. Jy het nou meer as ooit tevore sy hulp nodig, en hy sal jou nie verlaat nie (Ps. 9:10). Hy sal eerder al hoe nader aan jou kom. Kyk wat ’n suster gesê het wat ernstige gesondheidsprobleme het: “Omdat ek al hoe meer gesondheidsprobleme het, het ek minder geleenthede om die waarheid met ander te deel. Maar selfs al kan ek net ’n bietjie doen, weet ek dat dit Jehovah se hart bly maak, en dit maak my gelukkig.” Wanneer jy mismoedig voel, onthou dat jy nie alleen is nie. Dink aan Paulus se voorbeeld en sy aanmoedigende woorde: “Ek [is] bly oor swakhede, . . . want wanneer ek swak is, dan is ek sterk.” – 2 Kor. 12:10.

18. Met watter baie moeilike probleem sukkel party?

18 Party wat op die pad na die lewe hardloop, het ’n ander probleem. Hulle het probleme wat ander nie kan sien of dalk nie verstaan nie. Byvoorbeeld, hulle sukkel dalk met depressie of hulle is oorweldig met gevoelens van angs. Hoekom is dit ’n baie moeilike probleem vir hierdie dierbare knegte van Jehovah? Want wanneer ’n persoon se arm gebreek is of hy in ’n rolstoel is, kan mense dit sien en wil hulle hom dalk help. Maar wanneer persone ’n emosionele of verstandelike siekte het, lyk dit dalk nie of daar enigiets fout is met hulle nie. Hulle probleem is net so ernstig soos iemand wat ’n gebreekte arm of been het. Maar omdat ander nie kan sien waardeur hulle gaan nie, kry hulle dalk nie die liefde en ondersteuning wat hulle nodig het nie.

19. Wat leer ons uit die voorbeeld van Mefiboset?

19 As jy enige beperkings het en voel dat mense jou nie verstaan nie, kan die voorbeeld van Mefiboset jou aanmoedig (2 Sam. 4:4). Hy was gebreklik, en koning Dawid het ’n verkeerde opinie oor hom gehad en het hom onregverdig behandel. Dit was nie Mefiboset se skuld dat hierdie dinge met hom gebeur het nie. Maar hy het nie toegelaat dat hierdie dinge hom bitter maak nie, hy was dankbaar vir die goeie dinge in sy lewe. Hy was dankbaar vir die liefdevolle manier waarop Dawid hom in die verlede behandel het (2 Sam. 9:6-10). So toe Dawid ’n verkeerde opinie oor hom gehad het en hom onregverdig behandel het, het hy probeer om die hele situasie te verstaan. Hy het nie toegelaat dat Dawid se fout hom bitter maak nie. En hy het nie Jehovah blameer vir wat Dawid gedoen het nie. Mefiboset het gefokus op wat hy kon doen om Jehovah se aangestelde koning te ondersteun (2 Sam. 16:1-4; 19:24-30). Jehovah het Mefiboset se uitstekende voorbeeld in Sy Woord laat neerskryf sodat ons daaruit kan leer. – Rom. 15:4.

20. Watter uitwerking kan angstigheid op party hê, maar waarvan kan hulle seker wees?

20 Party broers en susters is baie angstig, en daarom voel hulle baie senuweeagtig en selfbewus in alledaagse situasies wanneer hulle tussen ander mense is. Dit is miskien vir hulle moeilik om tussen ’n klomp mense te wees, maar hulle hou aan om gemeentelike vergaderinge, byeenkomste en streekbyeenkomste by te woon. Dit is vir hulle moeilik om met vreemdelinge te praat, maar tog praat hulle met ander wanneer hulle velddiens doen. As dit is hoe jy voel, wees verseker dat jy nie alleen is nie. Baie mense voel soos jy voel. Onthou dat dit Jehovah se hart bly maak wanneer jy jou bes probeer. Die feit dat jy nie opgegee het nie, bewys dat hy jou seën en jou die krag gee wat jy nodig het (Fil. 4:6, 7; 1 Pet. 5:7). * As jy Jehovah dien al het jy fisiese of emosionele beperkings, kan jy daarvan seker wees dat jy Jehovah se hart bly maak.

21. Wat sal ons almal met Jehovah se hulp kan doen?

21 Gelukkig is daar verskille tussen ’n letterlike wedloop en die een waarvan Paulus gepraat het. In ’n letterlike wedloop in Bybeltye het net een persoon die prys gewen. Maar almal wat getrou aanhou om die lewe van ’n Christen te lei, sal die prys van die ewige lewe kry (Joh. 3:16). En in ’n letterlike wedloop moes al die hardlopers fiks wees, anders sou hulle nie die wedloop kon wen nie. Maar baie van ons het nie goeie gesondheid nie, tog gee ons nie op nie (2 Kor. 4:16). Met Jehovah se hulp sal ons almal die wedloop voltooi!

LIED 144 Hou jou oë op die prys!

^ par. 5 Baie van Jehovah se knegte gaan deur moeilike tye omdat hulle ouer word of ’n siekte het wat hulle swak laat voel. En ons almal voel soms moeg. So die gedagte om in ’n wedloop te hardloop, klink dalk soos iets vreesliks. Hierdie artikel bespreek hoe ons almal kan hardloop sonder om op te gee en hoe ons die wedloop van die lewe kan wen waarvan die apostel Paulus gepraat het.

^ par. 6 Sien die artikel “Die Bybel verander lewens” in Die Wagtoring van 1 Januarie 2013.

^ par. 20 Sien die Mei 2019-program op jw.org® vir meer praktiese voorstelle oor hoe om angstigheid te hanteer en vir ondervindinge van dié wat dit suksesvol hanteer. Kyk onder BIBLIOTEEK > JW BROADCASTING®.

^ par. 63 BESKRYWING VAN PRENT: Hierdie ouer broer bly op die regte pad deur besig te bly in die bediening.

^ par. 65 BESKRYWING VAN PRENT: Ons kan ander laat struikel deur daarop aan te dring dat hulle meer alkohol drink of deur self te veel te drink.

^ par. 67 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer bly in die wedloop deur vir sy versorgers te getuig, al is hy bedlêend.