Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 20

Wie is vandag “die koning van die noorde”?

Wie is vandag “die koning van die noorde”?

“Hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.” – DAN. 11:45.

LIED 95 Die lig word helderder

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

 ONS het nou meer bewyse as ooit tevore dat ons aan die einde van die laaste dae van hierdie wêreld lewe. Jehovah en Jesus Christus sal binnekort alle regerings vernietig wat die Koninkryk teëstaan. Voordat dit gebeur, sal die koning van die noorde en die koning van die suide aanhou om teen mekaar en teen God se volk te veg.

2 In hierdie artikel gaan ons die profesie in Daniël 11:40–12:1 bespreek. Ons sal sien wie vandag die koning van die noorde is en bespreek hoekom ons kalm kan bly en vertroue kan hê dat Jehovah ons sal red maak nie saak wat gebeur nie.

’N NUWE KONING VAN DIE NOORDE

3-4. Wie is vandag die koning van die noorde? Verduidelik.

3 Nadat die Sowjetunie in 1991 ineengestort het, het God se volk in daardie groot gebied ’n tyd lank vryheid gehad. Daniël beskryf hierdie vryheid as “’n bietjie hulp” (Dan. 11:34). As gevolg hiervan kon hulle vryelik preek, en kort voor lank was daar honderdduisende verkondigers in die lande wat voorheen deel van die Sowjetunie was. Maar ná ’n hele paar jaar het Rusland en die lande wat hom ondersteun, die koning van die noorde geword. Soos ons in die vorige artikel bespreek het, moet ’n regering drie dinge doen om as die koning van die noorde of as die koning van die suide geïdentifiseer te word: (1) Hy moet ’n direkte invloed op God se volk hê, (2) hy moet wys deur dit wat hy doen dat hy ’n vyand van Jehovah en sy volk is en (3) hy moet met die ander koning kompeteer.

4 Hier is die redes hoekom ons kan sê dat Rusland en die lande wat hom ondersteun, vandag die koning van die noorde is. (1) Hulle het ’n direkte invloed op God se volk. Hulle het die predikingswerk verbied en hulle vervolg honderdduisende broers en susters wat in lande bly wat onder hulle beheer is. (2) Hierdie dinge wys dat hulle Jehovah en sy volk haat. (3) Hulle kompeteer met die koning van die suide, wat Brittanje en die Verenigde State is. Kom ons kyk wat Rusland en die lande wat hom ondersteun, gedoen het en hoekom dit bewys dat hulle die koning van die noorde is.

DIE KONING VAN DIE NOORDE EN DIE KONING VAN DIE SUIDE HOU AAN OM MET MEKAAR TE KOMPETEER

5. Wat word in Daniël 11:40-43 beskryf?

5 Lees Daniël 11:40-43. Hierdie deel van die profesie beskryf die tyd van die einde. Dit beskryf hoe die koning van die noorde en die koning van die suide met mekaar kompeteer. Daniël het voorspel dat die koning van die suide in die tyd van die einde met die koning van die noorde “in ’n stotery” betrokke sou raak, of “met die horings teen hom [sou] stoot”. – Dan 11:40; vtn.

6. Watter bewyse is daar dat die twee konings in ’n stotery betrokke is?

6 Die koning van die noorde en die koning van die suide veg teen mekaar omdat elkeen van hulle die magtigste regering in die wêreld wil wees. Byvoorbeeld, dink aan wat ná die Tweede Wêreldoorlog gebeur het toe die Sowjetunie en sy ondersteuners beheer oor ’n groot deel van Europa gekry het. Dit het die koning van die suide gedwing om ’n internasionale militêre bondgenootskap met ander lande te vorm, wat bekend staan as NAVO. Die koning van die noorde en die koning van die suide spandeer ook baie geld om die magtigste leërmag bymekaar te maak. Hulle het ook teen mekaar geveg deur mekaar se vyande in oorloë in Afrika, Asië en Latyns-Amerika te ondersteun. In onlangse jare het Rusland en sy ondersteuners al hoe meer invloed regoor die wêreld gekry. Hulle gebruik ook rekenaars om teen die koning van die suide te veg. Die konings het mekaar daarvan beskuldig dat hulle rekenaarprogramme gebruik om mekaar se ekonomiese en politieke stelsels te beskadig. En soos Daniël voorspel het, hou die koning van die noorde aan om God se volk aan te val. – Dan. 11:41.

DIE KONING VAN DIE NOORDE GAAN IN “DIE PRAGTIGE LAND” IN

7. Wat is “die Pragtige Land”?

7 Daniël 11:41 sê dat die koning van die noorde “in die Pragtige Land [sal] ingaan”. Wat is hierdie land? In die ou tyd was die land van Israel “die mooiste van al die lande” (Eseg. 20:6). Maar wat daardie land veral spesiaal gemaak het, is die feit dat die mense daar Jehovah aanbid het. Vanaf Pinkster 33 HJ is daardie “land” nie meer ’n letterlike plek op die aarde nie. Dit kan nie ’n letterlike plek wees nie, want Jehovah se volk is regoor die wêreld versprei. Vandag is “die Pragtige Land” eerder die bedrywighede van Jehovah se volk, wat dinge insluit soos hulle aanbidding van Jehovah deur middel van vergaderinge en velddiens.

8. Hoe het die koning van die noorde in “die Pragtige Land” ingegaan?

8 In die laaste dae het die koning van die noorde ’n hele paar keer in “die Pragtige Land” ingegaan. Byvoorbeeld, toe Nazi-Duitsland die koning van die noorde was, het daardie koning veral gedurende die Tweede Wêreldoorlog in “die Pragtige Land” ingegaan deur God se knegte te vervolg en dood te maak. Ná die Tweede Wêreldoorlog toe die Sowjetunie die koning van die noorde geword het, het daardie koning in “die Pragtige Land” ingegaan deur God se volk te vervolg en hulle te forseer om weg van hulle huise af te trek.

9. Hoe het Rusland en sy ondersteuners in onlangse jare in “die Pragtige Land” ingegaan?

9 In onlangse jare het Rusland en sy ondersteuners ook in “die Pragtige Land” ingegaan. Hoe? In 2017 het Rusland die werk van Jehovah se volk verbied en party van ons broers en susters in die tronk gegooi. Rusland het ook ons publikasies verbied, insluitende die Nuwe Wêreld-vertaling. Hulle het ook ons takkantoor in Rusland afgevat, sowel as Koninkryksale en Byeenkomssale. Nadat hierdie dinge gebeur het, het die Bestuursliggaam in 2018 gesê dat Rusland en sy ondersteuners die koning van die noorde is. Maar selfs wanneer Jehovah se volk wreed vervolg word, weier hulle om teen die regering te veg of om dit te probeer verander. Hulle volg eerder die Bybel se raad om te bid vir “almal wat ’n hoë posisie het,” veral wanneer sulke persone besluite maak wat ’n uitwerking op godsdiensvryheid kan hê. – 1 Tim 2:1, 2.

SAL DIE KONING VAN DIE NOORDE DIE KONING VAN DIE SUIDE VERNIETIG?

10. Sal die koning van die noorde die koning van die suide vernietig? Verduidelik.

10 Die profesie in Daniël 11:40-45 praat meestal van die koning van die noorde en wat hy doen. Beteken dit dat hy die koning van die suide sal vernietig? Nee. Die koning van die suide sal nog steeds “lewend” wees wanneer Jehovah en Jesus alle menseregerings by die oorlog van Armageddon vernietig (Op. 19:20). Hoekom kan ons so seker wees? Kyk wat die profesieë in Daniël en Openbaring wys.

By Armageddon sal God se Koninkryk, wat met ’n klip vergelyk word, ’n einde bring aan menseregerings, wat hier deur ’n groot beeld voorgestel word (Sien paragraaf 11)

11. Wat wys die profesie in Daniël 2:43-45? (Sien prent op voorblad.)

11 Lees Daniël 2:43-45. Die profeet Daniël beskryf menseregerings wat ’n uitwerking op God se volk gehad het. Hulle word beskryf as die verskillende dele van ’n groot metaalbeeld. Die laaste van hierdie menseregerings word beskryf as die beeld se voete wat gemaak is van yster gemeng met klei. Die voete verteenwoordig Brittanje en die Verenigde State. Hierdie profesie wys dat Brittanje en die Verenigde State nog steeds sal regeer wanneer God se Koninkryk al die menseregerings vernietig.

12. Wie word deur die sewende kop van die wilde dier verteenwoordig, en hoekom is dit belangrik om te weet?

12 Die apostel Johannes praat ook van wêreldregerings wat oor Jehovah se volk regeer het. Johannes beskryf hierdie regerings as ’n wilde dier met sewe koppe. Die sewende kop van hierdie dier verteenwoordig Brittanje en die Verenigde State. Dit is belangrik, want dit is die laaste kop van die dier. Die sewende kop van hierdie dier sal nog steeds regeer wanneer Christus en sy hemelse leërmag die kop saam met die res van die dier vernietig. * – Op. 13:1, 2; 17:13, 14.

WAT SAL DIE KONING VAN DIE NOORDE BINNEKORT DOEN?

13-14. Wie is “Gog van die land Magog,” en wat sal dalk veroorsaak dat hy God se volk aanval?

13 Esegiël het ’n profesie neergeskryf wat vir ons sê wat dalk sal gebeur voordat die koning van die noorde en die koning van die suide vernietig word. Dit lyk asof die profesie in Esegiël 38:10-23; Daniël 2:43-45; 11:44–12:1 en Openbaring 16:13-16, 21 dieselfde tydperk en gebeure beskryf. As dit waar is, lyk dit asof die volgende gaan gebeur.

14 Die een of ander tyd ná die begin van die groot verdrukking sal “die konings van die hele aarde” bymekaarkom om ’n groep nasies te vorm (Op. 16:13, 14; 19:19). Die Bybel beskryf hierdie groep nasies as “Gog van die land Magog” (Eseg. 38:2). Hierdie groep nasies sal God se volk aanval en probeer om hulle heeltemal te vernietig. Wat sal veroorsaak dat hulle God se volk aanval? In ’n profesie oor hierdie tyd het die apostel Johannes gesê dat verskriklike groot haelstene God se vyande sal tref. Hierdie haelstene verteenwoordig dalk ’n sterk oordeelsboodskap wat deur Jehovah se volk verkondig sal word. Dit kan wees dat hierdie boodskap veroorsaak dat Gog van Magog God se volk aanval om hulle heeltemal te vernietig. – Op. 16:21

15-16. (a) Waarna verwys Daniël 11:44, 45 dalk? (b) Wat gebeur met die koning van die noorde en die res van Gog van Magog?

15 Hierdie sterk boodskap en die finale aanval deur God se vyande is dalk dieselfde gebeure wat in Daniël 11:44, 45 beskryf word. (Lees). Hier sê Daniël dat “berigte uit die ooste en uit die noorde” die koning van die noorde ontstel, wat met “groot woede” uitgaan. Die koning van die noorde is daarop uit “om baie te vernietig”. Dit lyk asof die “baie” waarvan gepraat word Jehovah se volk is. * Hier beskryf Daniël dalk die finale aanval op God se volk.

16 Hierdie aanval deur die koning van die noorde, saam met die res van die wêreld se regerings, sal veroorsaak dat die Almagtige God baie kwaad word, en dan sal die oorlog van Armageddon begin (Op. 16:14, 16). In daardie tyd sal die koning van die noorde, saam met die res van die nasies wat deel is van Gog van Magog, vernietig word, en “daar sal vir hom geen helper wees nie”. – Dan. 11:45.

By die oorlog van Armageddon sal Jesus Christus en sy hemelse leërmag Satan se goddelose wêreld vernietig en God se volk red (Sien paragraaf 17)

17. Wie is Migael “die groot prins” wat in Daniël 12:1 genoem word, en wat doen hy?

17 Die volgende vers in Daniël se verslag gee meer details oor hoe die koning van die noorde en die lande wat hom ondersteun, vernietig sal word en hoe ons gered sal word. (Lees Daniël 12:1.) Wat beteken hierdie vers? Migael is ’n ander naam vir ons heersende Koning, Christus Jesus. Vanaf 1914 toe sy Koninkryk in die hemel opgerig is, ‘staan hy tot voordeel van God se volk’. Binnekort sal hy “opstaan”, of sy vyande vernietig, by die oorlog van Armageddon. Hierdie oorlog sal die laaste gebeurtenis wees wat Daniël as die ergste “moeilike tyd” in die geskiedenis beskryf. Johannes se profesie in Openbaring noem die tyd net voor hierdie oorlog “die groot verdrukking”. – Op. 6:2; 7:14.

SAL JOU NAAM “IN DIE BOEK OPGESKRYF” WORD?

18. Hoekom kan ons kalm bly, maak nie saak wat in die toekoms gebeur nie?

18 Daniël en Johannes sê dat Jehovah en Jesus hulle knegte gedurende die groot verdrukking sal red. So ons kan kalm bly, maak nie saak wat gebeur nie. Daniël sê dat dié wat oorleef, se name “in die boek opgeskryf” sal word (Dan. 12:1). Hoe kry ons ons name in daardie boek? Ons moet wys dat ons geloof het in Jesus, die Lam van God (Joh. 1:29). Ons moet ons aan God toewy en gedoop word (1 Pet. 3:21). En ons moet wys dat ons God se Koninkryk ondersteun deur alles te doen wat ons kan om ander te help om van Jehovah te leer.

19. Wat moet ons nou doen, en hoekom?

19 Nou is die tyd om ons vertroue te versterk in Jehovah en in sy organisasie van lojale knegte. Nou is die tyd om God se Koninkryk te ondersteun. As ons dit doen, sal ons gered word wanneer die koning van die noorde en die koning van die suide deur God se Koninkryk vernietig word.

LIED 149 ’n Oorwinningslied

^ par. 5 Wie is vandag “die koning van die noorde”, en hoe sal hy vernietig word? Die antwoorde op hierdie vrae kan ons geloof versterk en ons help om gereed te wees vir wat binnekort, gedurende die groot verdrukking, sal gebeur.