Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sagmoedigheid – Hoe help dit ons?

Sagmoedigheid – Hoe help dit ons?

Sara * sê: “Ek is ’n skaam persoon en ek het nie baie selfvertroue nie, so ek voel ongemaklik wanneer ek om mense is wat ’n sterk en aggressiewe persoonlikheid het. Maar ek voel gemaklik wanneer ek om mense is wat sagmoedig en nederig is. Ek kan vir sulke persone sê hoe ek voel en met hulle oor my probleme praat. My beste vriende is so.”

Wat Sara gesê het, wys dat ander ons vriende wil wees as ons sagmoedig is. As jy sagmoedig is, maak jy ook Jehovah se hart bly. Sy Woord sê vir ons dat ons ‘sagmoedigheid moet betoon’ (Kol. 3:12). Wat is sagmoedigheid? Hoe het Jesus gewys dat hy sagmoedig is? En hoe kan hierdie eienskap ons gelukkiger maak?

WAT IS SAGMOEDIGHEID?

’n Sagmoedige persoon is vreedsaam. ’n Sagmoedige persoon behandel ander op ’n sagte, liefdevolle manier en bly kalm wanneer irriterende dinge met hom gebeur.

Sagmoedigheid is ’n teken van innerlike krag. Die Griekse woord vir “sagmoedigheid” was gebruik om ’n wilde perd te beskryf wat mak gemaak is. Die perd is nog steeds sterk, maar hy is geleer om sy krag te beheer. Net so wanneer ons sagmoedig is, beheer ons ons onvolmaakte neigings en behou ons die vrede met ander.

Ons dink dalk: ‘Ek het nie ’n sagmoedige persoonlikheid nie.’ Ons lewe in ’n wêreld waar mense baie aggressief en ongeduldig is, so dit is dalk vir ons moeilik om sagmoedig te wees (Rom. 7:19). Dit is duidelik dat ons ons moet inspan om sagmoedig te wees, maar Jehovah se heilige gees sal ons help om dit te doen en om nie op te gee nie (Gal. 5:22, 23). Hoekom moet ons die moeite doen om sagmoedig te wees?

Sagmoedigheid is ’n eienskap wat ander na jou toe aantrek. Net soos Sara hou ons daarvan om saam met sagmoedige mense te wees. Jesus is ’n uitstekende voorbeeld van sagmoedigheid en goedheid (2 Kor. 10:1). Selfs kinders wat hom skaars geken het, wou na aan hom wees. – Mark. 10:13-16.

Sagmoedigheid beskerm ons en die mense om ons. As ons sagmoedig is, sal ons nie gou kwaad word of met woede reageer nie (Spr. 16:32). Ons vermy skuldgevoelens, want ons sal nie ander seermaak nie – veral nie mense vir wie ons lief is nie. En sagmoedigheid beskerm die mense om ons omdat ons ons gevoelens en dade beheer en hulle nie seermaak nie.

DIE VOLMAAKTE VOORBEELD VAN SAGMOEDIGHEID

Al het Jesus groot verantwoordelikhede en ’n besige skedule gehad, was hy saggeaard teenoor alle mense. Baie mense in Jesus se dag het gesukkel en het ’n swaar las gedra, en hulle het nuwe krag nodig gehad. Dit moes hulle baie vertroos het toe Jesus gesê het: “Kom na my toe, . . . want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry”! – Matt. 11:28, 29.

Hoe kan ons leer om sagmoedig soos Jesus te wees? Ons studeer God se Woord om te leer hoe Jesus ander mense behandel het en hoe hy moeilike situasies hanteer het. Wanneer ons dan in ’n situasie is wat ons sagmoedigheid toets, sal ons hard probeer om te doen wat Jesus sou doen (1 Pet. 2:21). Kyk na drie dinge wat Jesus gehelp het om sagmoedig te wees.

Jesus was nederig van hart. Jesus het gesê dat hy “saggeaard en nederig van hart” is (Matt. 11:29). Die Bybel noem hierdie twee eienskappe saam omdat sagmoedigheid en nederigheid hand aan hand gaan (Ef. 4:1-3). Hoekom is dit die geval?

Nederigheid help ons om onsself nie te ernstig op te neem nie of om nie oorsensitief te wees nie. Hoe het Jesus gereageer toe mense hom onregverdig daarvan beskuldig het dat hy “’n vraat” is en “aan wyn verslaaf is”? Hy het gewys dat dit nie waar is nie deur die manier waarop hy gelewe het. Omdat hy nederig was, het hy op ’n sagmoedige manier vir hulle gesê dat ‘wysheid deur sy resultate reg bewys word’. – Matt. 11:19.

As iemand iets leliks sê oor jou ras, geslag of agtergrond, hoekom probeer jy nie om op ’n sagmoedige manier te reageer nie? Peter, ’n Christenouerman in Suid-Afrika, sê: “Wanneer iemand iets sê wat my irriteer, dink ek: ‘Hoe sou Jesus gereageer het?’” Hy sê verder: “Ek het geleer om myself nie te ernstig op te neem nie.”

Jesus het geweet dat mense onvolmaak is. Jesus se dissipels wou doen wat reg is, maar omdat hulle onvolmaak was, het hulle dit nie altyd reggekry nie. Byvoorbeeld, die aand voor Jesus se dood het Petrus, Jakobus en Johannes nie vir hom die emosionele ondersteuning gegee waarvoor hy gevra het nie. Jesus het gewys dat hy verstaan hoekom hulle aan die slaap geraak het toe hy gesê het: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:40, 41). Omdat Jesus verstaan het dat sy apostels onvolmaak is, het hy nie geïrriteerd geword nie.

Mandy is ’n suster wat te veel van ander verwag het, maar nou probeer sy hard om Jesus se voorbeeld van sagmoedigheid na te volg. Sy sê: “Ek probeer om in gedagte te hou dat almal onvolmaak is en om, net soos Jehovah, die goeie in ander te sien.” Kan Jesus se liefdevolle beskouing van mense se swakhede jou help om ander op ’n sagmoedige manier te behandel?

Jesus het sake in Jehovah se hande gelos. Toe Jesus op die aarde was, het hy toegelaat dat mense hom onregverdig behandel. Mense het hom misverstaan, gehaat en wreed mishandel. Maar hy het saggeaard gebly omdat hy “die saak oorgelaat [het] aan die Een wat regverdig oordeel” (1 Pet. 2:23). Jesus het geweet dat sy hemelse Vader vir hom sou sorg en op die regte tyd dié sou straf wat hom onregverdig behandel het.

As ons kwaad word omdat ons onregverdig behandel word en iets daaromtrent wil doen, kan ons maklik oorreageer en dinge erger maak. Dit is hoekom die Bybel ons herinner: “’n Mens se woede lei nie tot God se regverdigheid nie” (Jak. 1:20). Al het ons rede om kwaad te wees, kan die feit dat ons onvolmaak is, veroorsaak dat ons op ’n verkeerde manier reageer.

Cathy, ’n suster in Duitsland, het geglo: ‘As jy nie jouself verdedig nie, sal niemand dit vir jou doen nie.’ Maar toe sy geleer het om op Jehovah te vertrou, het haar gesindheid verander. Sy sê: “Nou hoef ek nie altyd gereed te wees om myself te verdedig nie. Ek kan op ’n sagmoedige manier reageer omdat ek weet dat Jehovah alles onder beheer het.” As jy al ooit onregverdig behandel is, sal dit jou help om sagmoedig te bly as jy Jesus se voorbeeld navolg deur op God te vertrou.

“GELUKKIG IS DIÉ WAT SAGGEAARD IS”

Hoe kan sagmoedigheid ons in moeilike situasies help?

Jesus het gewys dat dit belangrik is om sagmoedig te wees as ons gelukkig wil wees. Hy het gesê: “Gelukkig is dié wat saggeaard is” (Matt. 5:5). Kyk hoe sagmoedigheid ons in die volgende situasies kan help.

Sagmoedigheid help om stres in ’n huwelik te verminder. Robert, ’n broer van Australië, erken: “Ek het baie dinge vir my vrou gesê wat ek nie bedoel het nie en wat haar seergemaak het. Maar wanneer jy iets sê terwyl jy kwaad is, kan jy dit nie weer terugvat nie. Ek het so sleg gevoel toe ek sien hoe seer ek haar gemaak het.”

“Ons almal struikel dikwels” in wat ons sê, en wanneer ons dinge sê sonder om te dink, kan dit probleme in die huwelik veroorsaak (Jak. 3:2). In sulke situasies kan sagmoedigheid ons help om kalm te bly en om ons tong te beheer. – Spr. 17:27.

Robert het hard daaraan gewerk om kalm te wees en selfbeheersing te hê. Wat was die resultaat? Hy sê: “Nou, wanneer ek en my vrou nie oor iets saamstem nie, probeer ek om mooi te luister, om op ’n sagmoedige manier te praat en om nie myself toe te laat om kwaad te word nie. My verhouding met my vrou is soveel beter.”

Sagmoedigheid help ons om beter met ander oor die weg te kom. Persone wat gou kwaad word, het nie baie vriende nie. Maar sagmoedigheid help ons om “die verenigende band van vrede te bewaar” (Ef. 4:2, 3). Cathy, wat vroeër aangehaal is, sê: “Sagmoedigheid help my om die tyd te geniet wat ek met ander spandeer, selfs al is dit moeilik om met party mense oor die weg te kom.”

Sagmoedigheid gee ons innerlike vrede. Die Bybel verbind “die wysheid van bo” met sagmoedigheid en vrede (Jak. 3:13, 17). ’n Sagmoedige persoon het “’n kalm hart” (Spr. 14:30). Martin, wat hard gewerk het om sagmoedig te wees, sê: “Nou dring ek nie altyd daarop aan dat dinge op my manier gedoen word nie, en ek het nou meer innerlike vrede en ek is gelukkiger.”

Dit is waar dat ons dalk hard moet werk om sagmoedig te wees. Een broer sê: “Om eerlik te wees, soms word ek nog steeds verskriklik kwaad.” Maar Jehovah, die een wat ons aanmoedig om sagmoedig te wees, sal ons hiermee help (Jes. 41:10; 1 Tim. 6:11). Hy kan ons “opleiding voltooi”; hy kan ons “sterk maak” (1 Pet. 5:10). Mettertyd kan ons, soos die apostel Paulus, “die sagmoedigheid en goedheid van die Christus” navolg. – 2 Kor. 10:1.

^ par. 2 Party name is verander.