Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 26

“Keer terug na my”

“Keer terug na my”

“Keer terug na my, en ek sal na julle terugkeer.” – MAL. 3:7.

LIED 102 ‘Staan die swakkes by’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe voel Jehovah wanneer een van sy skapies gered word?

 SOOS ons in die vorige artikel bespreek het, vergelyk Jehovah homself met ’n goeie herder wat liefdevol vir elkeen van sy skapies sorg. En hy soek na enigeen wat afgedwaal het. Jehovah het vir die Israeliete gesê wat hom verlaat het: “Keer terug na my, en ek sal na julle terugkeer.” Ons weet dat hy nog steeds dieselfde voel, want hy sê: “Ek verander nie” (Mal. 3:6, 7). Jesus het gesê dat dit Jehovah en die engele baie bly maak wanneer selfs net een van Sy knegte wat afgedwaal het, na Hom toe terugkeer. – Luk. 15:10, 32.

2. Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

2 Kom ons bespreek drie van Jesus se illustrasies wat belangrike lesse leer oor hoe ons persone kan help wat van Jehovah af weggedwaal het. Ons gaan ’n paar spesifieke eienskappe bespreek wat ons nodig het om verlore skapies te help om na hom toe terug te keer. En ons sal sien hoekom dit die moeite werd is om die swakkes te ondersteun.

SOEK NA DIE VERLORE MUNTSTUK

3-4. Hoekom het die vrou in Lukas 15:8-10 so baie moeite gedoen om na die verlore dragma te soek?

3 Ons moet hard werk om persone te vind wat na Jehovah toe wil terugkeer. In ’n illustrasie in die boek Lukas beskryf Jesus hoe ’n vrou na iets waardevols soek wat sy verloor het – ’n dragma-muntstuk. Die belangrikste deel van hierdie illustrasie gaan oor hoeveel moeite sy gedoen het om na die muntstuk te soek. – Lees Lukas 15:8-10.

4 Jesus beskryf hoe ’n vrou gevoel het toe sy ’n waardevolle dragma-muntstuk gevind het wat sy verloor het. In Jesus se dag het party Joodse ma’s blykbaar ’n stel van tien dragma-muntstukke aan ’n dogter op haar troudag gegee. Dalk was die muntstuk deel van so ’n stel. Die vrou dink dat die muntstuk dalk op die vloer geval het. So sy steek ’n lamp aan en soek daarna, maar sy sien niks. Haar olielamp gee haar dalk nie genoeg lig om die klein silwer muntstuk te sien nie. Uiteindelik vee sy die hele huis uit. Daar in die stof wat sy bymekaar gevee het, lê haar waardevolle dragma, wat glinster in die lig van haar lamp. Wat ’n verligting! Sy roep haar vriende en bure om vir hulle die goeie nuus te vertel.

5. Hoekom kan dit dalk moeilik wees om persone wat onbedrywig geword het, te vind?

5 Soos ons in Jesus se illustrasie gesien het, moet ons moeite doen om iets te vind wat ons verloor het. Net so moet ons moeite doen om persone wat onbedrywig geword het, te vind. Hulle het dalk jare gelede opgehou om met ons te assosieer. Hulle het dalk selfs na ’n gebied getrek waar die broers hulle nie ken nie. Maar ons kan seker wees dat daar op hierdie oomblik party van hierdie onbedrywiges is wat graag na Jehovah wil terugkeer. Hulle wil Jehovah weer saam met sy familie van ware aanbidders dien, maar hulle het ons hulp nodig.

6. Hoe kan almal in die gemeente help om na onbedrywiges te soek?

6 Wie kan help om na onbedrywiges te soek? Ons almal – ouermanne, pioniers, familielede, broers en susters in die gemeente – kan help om na onbedrywiges te soek. Het jy ’n vriend of ’n familielid wat onbedrywig geword het? Het jy ’n onbedrywige ontmoet terwyl jy van huis tot huis gepreek het of terwyl jy openbare getuieniswerk gedoen het? Verduidelik vir die persoon dat as hy graag ’n besoek wil hê, jy sy adres of telefoonnommer vir die plaaslike ouermanne sal gee.

7. Wat leer jy uit wat ’n ouerman met die naam Thomas gesê het?

7 Watter praktiese dinge kan veral ouermanne doen om onbedrywiges te vind wat na Jehovah toe wil terugkeer? Kyk wat ’n ouerman met die naam Thomas * gesê het. Hy bly in Spanje en hy het al meer as 40 Getuies gehelp om na die gemeente terug te keer. Thomas sê: “Eers vra ek verskillende broers en susters of hulle weet waar onbedrywige persone nou bly. Of ek vra die verkondigers of hulle van enigeen weet wat nie meer vergaderinge bywoon nie. Die meeste in die gemeente is opgewonde hieroor omdat hulle voel dat hulle help om na hierdie persone te soek. Later, wanneer ek onbedrywige broers en susters besoek, vra ek hulle oor hulle kinders en oor hulle familielede. Party onbedrywiges het hulle kinders na die vergaderinge gebring en hierdie kinders was dalk op die een of ander stadium verkondigers. Hulle kan ook gehelp word om na Jehovah terug te keer.”

BRING JEHOVAH SE VERLORE SEUNS EN DOGTERS TERUG

8. Hoe het die pa in die illustrasie van die verlore seun in Lukas 15:17-24 sy berouvolle seun behandel?

8 Watter eienskappe moet ons hê as ons persone wil help wat na Jehovah toe wil terugkeer? Kyk na ’n paar lesse wat ons kan leer uit Jesus se illustrasie oor die rebelse seun wat die huis verlaat het. (Lees Lukas 15:17-24.) Jesus verduidelik hoe die seun uiteindelik tot sy sinne gekom het en besluit het om terug huis toe te gaan. Die pa het na die seun toe gehardloop en hom ’n stywe drukkie gegee om hom te verseker dat hy hom nog steeds liefhet. Die seun se gewete het hom gepla en hy het gedink dat hy dit nie verdien om soos ’n seun behandel te word nie. Die seun het vir sy pa gesê hoe hy voel, en die pa het meegevoel met hom gehad. Die pa het toe praktiese dinge gedoen om vir die seun te wys dat hy weer welkom is by die huis, nie as ’n gehuurde man nie, maar as ’n geliefde seun. Om dit te bewys, het die pa ’n fees gereël en vir sy berouvolle seun die beste klere gegee om aan te trek.

9. Watter eienskappe moet ons hê om onbedrywiges te help om na Jehovah terug te keer? (Sien die venster “ Hoe om persone te help wat na Jehovah toe wil terugkeer”.)

9 Jehovah is soos die pa in daardie illustrasie. Hy is lief vir ons onbedrywige broers en susters en wil graag hê dat hulle na hom toe moet terugkeer. Deur Jehovah na te volg, kan ons hulle help om terug te keer. Om dit te doen, moet ons geduldig wees, meegevoel hê en wys dat ons hulle liefhet. Hoekom het ons hierdie spesifieke eienskappe nodig en hoe kan ons dit toepas?

10. Hoekom moet ons geduldig wees as ons iemand wil help om weer ’n vriend van Jehovah te wees?

10 Ons moet geduldig wees omdat dit vir ’n persoon tyd neem om weer na Jehovah toe terug te keer. Baie persone wat voorheen onbedrywig was, sê dat die ouermanne en ander in die gemeente hulle ’n hele paar keer moes besoek voordat hulle Jehovah weer begin dien het. ’n Suster met die naam Nancy, van Suidoos-Asië, skryf: “’n Goeie vriend in die gemeente het my baie gehelp. Sy het my soos ’n ouer suster liefgehad. Sy het my herinner aan die goeie tye wat ons in die verlede saam gehad het. Sy het geduldig geluister terwyl ek vir haar gesê het hoe ek voel en sy was nie bang om vir my raad te gee nie. Sy was regtig ’n goeie vriend en sy was altyd gereed om my te help.”

11. Hoekom het ons meegevoel nodig om iemand te help wie se gevoelens seergemaak is?

11 Meegevoel is soos kragtige medisyne; dit kan iemand help wie se gevoelens seergemaak is. Party onbedrywiges is jare gelede deur iemand in die gemeente seergemaak en hulle is nog steeds kwaad vir daardie persoon. Hierdie gevoelens keer hulle om na Jehovah toe terug te keer. Party voel dalk dat hulle onregverdig behandel is. Hulle het dalk iemand nodig wat na hulle sal luister en hulle gevoelens sal verstaan (Jak. 1:19). María, wat onbedrywig was, sê: “Ek het iemand nodig gehad wat na my sou luister, my sou vertroos, my goeie raad sou gee en my sou help.”

12. Gee ’n voorbeeld wat wys hoe Jehovah se liefde onbedrywiges na sy volk toe terugtrek.

12 Die Bybel sê dat Jehovah se liefde vir sy volk soos ’n koord, of ’n tou, is. Hoe is God se liefde soos ’n tou? Kyk na die volgende voorbeeld. Stel jou voor dat jy besig is om in ’n onstuimige see te verdrink en iemand gooi vir jou ’n reddingsbaadjie. Jy sou sekerlik baie bly wees omdat dit jou sal help om nie te verdrink nie. Maar ’n reddingsbaadjie sal nie genoeg wees om jou lewe te red nie. Die water is koud, en jy sal nie oorleef as jy nie by ’n reddingsbootjie kan uitkom nie. Jy het iemand nodig om vir jou ’n tou te gooi om jou na die reddingsbootjie te trek. Jehovah het oor die Israeliete wat afgedwaal het, gesê: “Ek [het] hulle bly trek, met die koorde van liefde” (Hos. 11:4). Vandag voel God dieselfde oor persone wat opgehou het om hom te dien en wat verdrink in ’n see van probleme en angs. Hy wil hê dat hulle moet weet dat hy hulle liefhet en hy wil hulle na hom toe trek. En Jehovah kan jou gebruik om hulle te wys hoe lief hy hulle het.

13. Vertel ’n ondervinding wat wys dat ons liefde ander kan help om na Jehovah toe terug te keer.

13 Dit is belangrik om onbedrywiges te verseker dat Jehovah hulle liefhet en dat ons hulle ook liefhet. Pablo, wat in die vorige artikel genoem is, was meer as 30 jaar lank onbedrywig. Hy sê: “Een oggend toe ek by die deur uitloop, het ’n dierbare ou suster my ontmoet en op ’n liefdevolle manier met my gepraat. Ek het soos ’n kind begin huil. Ek het vir haar gesê dat Jehovah haar na my toe gestuur het om met my te praat. Dit was op daardie oomblik dat ek besluit het om na Jehovah toe terug te keer.”

ONDERSTEUN DIE SWAKKES OP ’N LIEFDEVOLLE MANIER

14. Wat het die herder in die illustrasie in Lukas 15:4, 5 gedoen nadat hy die verlore skaap gevind het?

14 Ons moet aanhou om onbedrywiges te help en te ondersteun nadat ons hulle gevind het. Net soos die verlore seun in Jesus se illustrasie, het hulle dalk diep emosionele wonde wat ’n lang tyd sal neem om gesond te word. En hulle is heel waarskynlik geestelik swak as gevolg van wat hulle in Satan se wêreld ondervind het. Ons moet hulle help om weer geloof in Jehovah op te bou. In Jesus se illustrasie oor die verlore skaap beskryf hy hoe die herder die skaap op sy skouers sit en hom terug na die kudde toe dra. Die herder het alreeds tyd en energie spandeer om die verlore skapie te vind. Maar hy besef dat hy die skapie terug na die kudde toe moet dra omdat die skapie nie die krag sal hê om op sy eie terug te loop nie. – Lees Lukas 15:4, 5.

15. Hoe kan ons swakkes ondersteun wat na Jehovah toe wil terugkeer? (Sien die venster “ ’n Waardevolle hulpmiddel”.)

15 Ons moet dalk baie tyd en energie spandeer om onbedrywiges te help om ’n probleem te oorkom wat dit vir hulle moeilik maak om Jehovah weer te dien. Maar met Jehovah se gees, sy Woord en die publikasies wat deur die organisasie voorsien word, kan ons hulle help om weer geestelik sterk te word (Rom. 15:1). Hoe kan ons dit doen? ’n Ervare ouerman sê: “Die meeste onbedrywiges het ’n Bybelstudie nodig nadat hulle besluit het dat hulle Jehovah regtig weer wil dien.” * So as ’n ouerman jou vra om met ’n onbedrywige persoon te studeer, hoekom aanvaar jy nie die voorreg nie? Die ouerman sê ook: “Die verkondiger wat die Bybelstudie hou, moet ’n goeie vriend wees, iemand wat die onbedrywige kan vertrou en met wie hy kan praat.”

VREUGDE IN DIE HEMEL EN VREUGDE OP DIE AARDE

16. Hoe weet ons dat die engele ons sal help?

16 Baie ondervindinge wys dat die engele saam met ons werk om onbedrywiges te vind wat na Jehovah toe wil terugkeer (Op. 14:6). Silvio, van Ecuador, het byvoorbeeld ernstig gebid om gehelp te word om Jehovah weer saam met die gemeente te dien. Terwyl hy nog besig was om te bid, het sy deurklokkie gelui. Twee ouermanne was by die deur. Gedurende daardie besoek was hulle bly om hom die hulp te begin gee wat hy nodig gehad het.

17. Hoe sal ons voel wanneer ons onbedrywiges help?

17 Dit sal ons baie gelukkig maak wanneer ons onbedrywiges help om na Jehovah toe terug te keer. Kyk wat Salvador, ’n pionier wat spesiale aandag aan onbedrywiges gee, sê: “Soms is dit vir my moeilik om trane van vreugde terug te hou. Dit maak my so bly om te weet dat Jehovah een van sy skapies uit Satan se wêreld gered het en dat ek die voorreg gehad het om saam met hom te werk.” – Hand. 20:35.

18. Waarvan kan jy seker wees as jy onbedrywig is?

18 As jy opgehou het om met Jehovah se volk te assosieer, kan jy seker wees dat hy jou nog steeds liefhet. Hy wil hê dat jy na hom toe moet terugkeer. Jy sal ’n paar dinge moet doen om na hom toe terug te keer. Maar net soos die pa in Jesus se illustrasie, wag Jehovah vir jou om na hom toe terug te keer en hy sal jou met ope arms terugverwelkom.

LIED 103 Herders – Gawes in mense

^ par. 5 Jehovah wil hê dat persone wat nie meer met die gemeente assosieer nie, na hom toe moet terugkeer. Ons kan baie doen om persone aan te moedig wat Jehovah se uitnodiging wil aanvaar: “Keer terug na my.” In hierdie artikel gaan ons bespreek hoe ons hulle kan help om dit te doen.

^ par. 7 Party name is verander.

^ par. 15 Party onbedrywiges kan gehelp word deur gedeeltes in die boek Hoe om in God se liefde te bly te studeer. Ander is gehelp deur hoofstukke in die boek Kom nader aan Jehovah te studeer. Die Gemeentelike Dienskomitee het die verantwoordelikheid om te besluit watter verkondiger met die onbedrywige moet studeer.

^ par. 68 BESKRYWING VAN PRENTE: Drie verskillende broers help ’n broer wat wil terugkom. Hulle doen dit deur in kontak te bly, deur hom te verseker dat Jehovah en die broers hom nog liefhet en deur na hom te luister wanneer hy uit die hart praat.