Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 23

“Laat u naam geheilig word”

“Laat u naam geheilig word”

“O Jehovah, u naam bly vir ewig.” – PS. 135:13.

LIED 10 Loof Jehovah, ons God!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Watter onderwerpe is vir Jehovah se Getuies baie belangrik?

 DAAR is twee dinge wat vir ons baie belangrik is – Jehovah se soewereiniteit en die regverdiging van sy naam. As Jehovah se Getuies hou ons baie daarvan om hierdie interessante onderwerpe te bespreek. Maar is God se soewereiniteit en die heiliging van sy naam twee aparte dinge? Nee.

2 Ons almal besef dat God se naam geheilig moet word. Ons het ook geleer dat daar bewys moet word dat Jehovah se soewereiniteit, of manier van regeer, die beste is. So al twee hierdie dinge moet vir ons belangrik wees.

3. Wat sluit die naam Jehovah in?

3 Die naam Jehovah sluit alles in omtrent ons God, asook sy manier van regeer. So as ons sê dat die heiliging van Jehovah se naam die belangrikste is, sê ons ook dat daar bewys moet word dat Jehovah se manier van regeer die beste is. Jehovah se naam is gekoppel aan die manier hoe hy regeer as die almagtige Soewerein. – Sien die venster “ Wat is by die heiliging van Jehovah se naam ingesluit?

4. Hoe beskryf Psalm 135:13 God se naam, en watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Die naam Jehovah is uniek. (Lees Psalm 135:13.) Hoekom is God se naam so belangrik? Hoe is dit vir die eerste keer gelaster? Hoe heilig God sy naam? En hoe kan ons help om sy naam te verdedig? Kom ons bespreek hierdie vrae.

DIE BELANGRIKHEID VAN ’N NAAM

5. Waaroor wonder party dalk wanneer hulle hoor dat God se naam geheilig moet word?

5 “Laat u naam geheilig word” (Matt. 6:9). Jesus het gesê dat dit een van die belangrikste dinge is waarvoor ons moet bid. Maar wat beteken Jesus se woorde? Om iets te heilig, beteken om dit skoon of rein te maak. Maar party wonder dalk: ‘Is Jehovah se naam nie al klaar heilig, skoon en rein nie?’ Om dit te beantwoord, moet ons verstaan wat by ’n naam betrokke is.

6. Wat maak ’n naam waardevol?

6 ’n Naam is meer as net ’n klomp letters wat op ’n papier geskryf word of iets wat hardop gesê word. Kyk wat die Bybel sê: “’n Goeie naam is beter as baie rykdom” (Spr. 22:1; Pred. 7:1). Hoekom is ’n naam so waardevol? Omdat dit te doen het met ’n persoon se reputasie, wat ander mense van daardie persoon dink. So die manier hoe ’n naam geskryf of selfs uitgespreek word, is nie die belangrikste nie. Wat regtig belangrik is, is wat mense dink wanneer hulle daardie naam sien of hoor.

7. Hoe het mense God se naam aangeval?

7 Wanneer mense leuens oor Jehovah vertel, is hulle besig om sy reputasie aan te val. Wanneer hulle sy reputasie aanval, probeer hulle om sy naam te beskadig. Die eerste keer toe iemand God se naam en reputasie aangeval het, was in die tuin van Eden. Kom ons kyk wat ons uit hierdie aanval kan leer.

HOE DIE NAAM VIR DIE EERSTE KEER GELASTER IS

8. Wat het Adam en Eva geweet, en watter ander vrae kan ons vra?

8 Adam en Eva het Jehovah se naam geken en hulle het ook baie belangrike dinge van hom geweet. Hulle het geweet dat hy die Skepper is, die Een wat vir hulle lewe, ’n pragtige plek om in te bly en ’n perfekte huweliksmaat gegee het (Gen. 1:26-28; 2:18). Maar sou hulle aanhou dink aan alles wat Jehovah vir hulle gedoen het? Sou hulle aanhou om hulle liefde en waardering vir Jehovah op te bou? Die antwoorde op hierdie vrae het duidelik geword toe God se vyand hulle getoets het.

9. Wat het Jehovah volgens Genesis 2:16, 17 en 3:1-5 vir Adam en Eva gesê, en hoe het Satan die waarheid verdraai?

9 Lees Genesis 2:16, 17 en 3:1-5. Deur middel van ’n slang het Satan vir Eva gevra: “Het God werklik gesê dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” Satan het ’n vraag gevra wat ’n leuen oor Jehovah bevat het, en Eva het sleg van Jehovah begin dink. Maar wat God eintlik gesê het, is dat hulle van al die bome van die tuin kon eet, behalwe een. Daar was so baie verskillende bome waarvan Adam en Eva kon eet (Gen. 2:9). Ja, Jehovah is baie vrygewig. Maar God het vir Adam en Eva gesê dat daar een boom is waarvan hulle nie moes eet nie. So Satan se vraag het die waarheid verdraai. Satan het dit laat lyk asof God nie vrygewig is nie. Eva het dalk gewonder: ‘Is daar iets goeds wat God van ons af weghou?’

10. Hoe het Satan God se naam direk gelaster, en wat was die resultaat?

10 Toe Satan hierdie vraag gevra het, was Eva nog steeds gehoorsaam aan Jehovah. Sy het vir Satan presies gesê wat God vir hulle gesê het. Sy het ook gesê dat hulle nie eers aan die boom moes raak nie. Sy het geweet dat hulle sou sterf as hulle ongehoorsaam is. Maar Satan het vir haar gesê: “Julle sal beslis nie sterf nie” (Gen. 3:2-4). Satan het nie meer doekies omgedraai nie, hy het God se naam direk gelaster deur vir Eva te sê dat Jehovah ’n leuenaar is. Op hierdie manier het Satan ’n duiwel, of lasteraar, geword. Eva is geheel en al bedrieg; sy het Satan geglo (1 Tim. 2:14). Sy het hom meer vertrou as Jehovah. Daarom was dit vir Eva makliker om die ergste moontlike besluit te maak. Sy het besluit om ongehoorsaam aan Jehovah te wees. Sy het van die vrug begin eet waarvan Jehovah gesê het hulle nie mag eet nie. Daarna het sy ook vir Adam daarvan gegee. – Gen. 3:6.

11. Wat kon ons eerste ouers gedoen het, maar wat het hulle nie gedoen nie?

11 Dink vir ’n oomblik aan wat Eva vir Satan moes gesê het. Sê nou sy het iets gesê soos: “Ek weet nie wie jy is nie, maar ek ken my Pa, Jehovah, en ek is lief vir hom en vertrou hom. Hy het vir my en Adam alles gegee wat ons het. Hoe durf jy enigiets slegs van hom sê? Gaan weg!” Dink net hoe bly Jehovah sou gewees het om sulke lojale woorde van ’n liefdevolle dogter te hoor! (Spr. 27:11). Maar Eva het nie lojale liefde vir Jehovah gehad nie, en Adam ook nie. Omdat Adam en Eva nie sulke liefde vir hulle Vader gehad het nie, het hulle nie sy naam verdedig nie.

12. Hoe het Satan veroorsaak dat Eva begin twyfel, en wat het Adam en Eva nie gedoen nie?

12 Soos ons gesien het, het Satan sy aanval op Jehovah se reputasie begin deur Eva te laat twyfel dat Jehovah ’n goeie Vader is. Adam en Eva het nie Jehovah se naam teen Satan se slegte leuens verdedig nie. Daarom was dit vir hulle maklik om na Satan te luister en teen hulle Vader te rebelleer. Satan gebruik vandag soortgelyke metodes. Hy val Jehovah se naam aan deur dit te laster. Mense wat Satan se leuens glo, word maklik beïnvloed om Jehovah se regverdige heerskappy te verwerp.

JEHOVAH HEILIG SY NAAM

13. Hoe beklemtoon Esegiël 36:23 die Bybel se hoofboodskap?

13 Aanvaar Jehovah sulke laster sonder om homself te verdedig? Nee! Die hele Bybel fokus op wat Jehovah gedoen het om te bewys dat die slegte dinge wat van hom in die tuin van Eden gesê is, nie waar is nie (Gen. 3:15). Ons kan eintlik die Bybel se hoofboodskap op die volgende manier opsom: Jehovah heilig sy naam en bring weer regverdigheid en vrede op die aarde deur middel van die Koninkryk met sy seun as Koning. Die inligting in die Bybel help ons om te verstaan hoe Jehovah sy naam heilig. – Lees Esegiël 36:23.

14. Hoe het Jehovah se reaksie op wat in die tuin van Eden gebeur het, sy naam geheilig?

14 Satan probeer sy bes om te keer dat Jehovah sy doel bereik. Maar hy kry dit nie reg nie. Die Bybel wys hoe Jehovah gereageer het, en dit bewys dat daar niemand soos Jehovah God is nie. Die opstand van Satan en almal wat sy kant kies, het Jehovah al baie seergemaak (Ps. 78:40). Maar hy het hierdie aanval op sy naam met wysheid, geduld en geregtigheid hanteer. Hy het ook op baie maniere sy almagtige krag gewys. Maar die belangrikste is dat sy liefde gesien kan word in alles wat hy doen (1 Joh. 4:8). Jehovah het nog nooit opgehou om sy naam te heilig nie.

Satan het vir Eva leuens oor Jehovah vertel, en oor die jare het die Duiwel aangehou om God te laster (Sien paragraaf 9-10, 15) *

15. Hoe laster Satan God se naam vandag, en met watter resultate?

15 Vandag laster Satan nog steeds God se naam. Hy probeer om mense te laat twyfel dat God kragtig, regverdig, wys en liefdevol is. Byvoorbeeld, Satan probeer om mense te oortuig dat Jehovah nie die Skepper is nie. En as mense glo dat God bestaan, probeer Satan om hulle te laat glo dat God en Sy standaarde te streng en onregverdig is. Hy leer selfs vir mense dat Jehovah ’n wrede God is, wat mense in ’n hel laat brand. Wanneer hulle sulke verskriklike leuens glo, word dit vir hulle makliker om Jehovah se regverdige heerskappy te verwerp. Totdat Satan vernietig word, sal hy aanhou om Jehovah te laster en hy sal ook probeer om jou teen Jehovah te draai. Sal hy dit regkry?

HOE JY JEHOVAH SE NAAM KAN HEILIG

16. Wat kan jy doen wat Adam en Eva nie gedoen het nie?

16 Jehovah laat onvolmaakte mense toe om te help met die heiliging van sy naam. So jy kan doen wat Adam en Eva nie gedoen het nie. Alhoewel hierdie wêreld vol mense is wat Jehovah se naam laster, het jy die geleentheid om sy naam te verdedig en vir ander die waarheid te vertel – dat Jehovah heilig, regverdig, goed en liefdevol is (Jes. 29:23). Jy kan sy heerskappy ondersteun. Jy kan mense help om te verstaan dat net Jehovah se heerskappy heeltemal regverdig is en dat net sy heerskappy vrede en geluk vir die hele skepping sal bring. – Ps. 37:9, 37; 146:5, 6, 10.

17. Hoe het Jesus sy Vader se naam bekend gemaak?

17 Wanneer ons Jehovah se naam verdedig, volg ons die voorbeeld van Jesus Christus (Joh. 17:26). Jesus het sy Vader se naam bekend gemaak, nie net deur dit te gebruik nie, maar ook deur Jehovah se reputasie te verdedig. Byvoorbeeld, die Fariseërs het mense laat dink dat Jehovah wreed, streng, genadeloos en ver van die mens af is. Maar Jesus het mense gehelp om te sien dat sy Vader redelik, geduldig en liefdevol is en ander maklik vergewe. Hy het ook mense gehelp om Jehovah te leer ken deur sy Vader se eienskappe volmaak na te volg in alles wat hy gedoen het. – Joh. 14:9.

18. Hoe kan ons wys dat die slegte dinge wat oor Jehovah gesê is, nie waar is nie?

18 Net soos Jesus, kan ons vir mense vertel wat ons omtrent Jehovah weet en vir hulle wys wat ’n liefdevolle en goedhartige God hy is. Terwyl ons dit doen, wys ons dat die slegte dinge wat van Jehovah gesê is, nie waar is nie. Ons heilig Jehovah se naam deur mense te help om dit as heilig te beskou. Ons kan Jehovah ook navolg. Dit is moontlik, al is ons onvolmaak (Ef. 5:1, 2). Wanneer ons woorde en dade vir mense wys watter tipe persoon Jehovah regtig is, help ons om sy naam te heilig. Ons regverdig daardie naam deur mense die waarheid omtrent God te leer. * Ons wys ook dat onvolmaakte mense hulle integriteit kan behou. – Job 27:5.

Ons wil ons Bybelstudente help om te verstaan dat Jehovah ’n goedhartige en liefdevolle persoonlikheid het (Sien paragraaf 18-19) *

19. Hoe help Jesaja 63:7 ons om te sien wat ons hoofdoel moet wees wanneer ons ander leer?

19 Daar is nog iets wat ons kan doen om Jehovah se naam te heilig. Wanneer ons Bybelwaarhede aan ander leer, beklemtoon ons gereeld die feit dat Jehovah die reg het om oor die heelal te regeer. En dit is heeltemal waar. Maar alhoewel dit belangrik is om God se wette aan ander te leer, is ons hoofdoel om hulle te help om Jehovah, ons Vader, lief te hê en om lojaal aan hom te wees. Daarom moet ons op Jehovah se pragtige eienskappe fokus. Ons moet die persoonlikheid beklemtoon van die Een wat deur die naam Jehovah verteenwoordig word. (Lees Jesaja 63:7.) Wanneer ons ander op hierdie manier leer, help ons hulle om Jehovah lief te hê en om hom te gehoorsaam omdat hulle lojaal aan hom wil wees.

20. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 Maar hoe kan ons seker maak dat wat ons doen en die manier waarop ons ander leer, hulle sal help om nader aan Jehovah te kom en om goeie dinge van hom te dink wanneer hulle sy naam hoor? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.

LIED 2 Jehovah is u naam

^ par. 5 Watter onderwerp is vir mense en vir engele belangrik? Hoekom is dit so belangrik, en hoe is ons daarby betrokke? Die antwoorde op hierdie vrae en ander vrae wat hiermee verband hou, sal ons help om ons verhouding met Jehovah te versterk.

^ par. 18 Ons publikasies het al in die verlede gesê dat dit nie nodig is vir Jehovah se naam om geregverdig te word nie, want niemand het nog ooit gesê dat God nie die reg het om die naam Jehovah te hê nie. Maar by die jaarvergadering in 2017 is ons gehelp om hierdie punt beter te verstaan. Die voorsitter het gesê: “Eintlik sê ons net dat dit nie verkeerd is om te bid dat Jehovah se naam geregverdig moet word nie, want sy reputasie moet in ere herstel word.” – Sien die Januarie 2018 program op jw.org®. Kyk onder BIBLIOTEEK > JW BROADCASTING®.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: Die Duiwel het God gelaster deur vir Eva te sê dat God ’n leuenaar is. Oor die jare het Satan valse idees bevorder, soos die leuen dat God wreed is en dat Hy nie die mens geskep het nie.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl ’n broer ’n Bybelstudie hou, fokus hy op God se persoonlikheid.