Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 24

“Verenig my hart om u naam te vrees”

“Verenig my hart om u naam te vrees”

“Verenig my hart om u naam te vrees. Ek prys u, o Jehovah my God, met my hele hart.” – PS. 86:11, 12.

LIED 7 Jehovah, ons sterkte

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat beteken dit om God te vrees, en hoekom moet dié wat Jehovah liefhet, hierdie vrees hê?

 CHRISTENE is lief vir God, en hulle vrees hom. Vir party mense maak dit dalk nie sin nie. Maar ons praat nie van die soort vrees wat jou bang maak nie. Ons gaan ’n spesiale soort vrees bespreek. Mense wat hierdie soort vrees vir God het, het ’n diep en opregte respek vir hom. Hulle wil nie hulle hemelse Vader seermaak nie omdat hulle nie hulle vriendskap met hom wil beskadig nie. – Ps. 111:10; Spr. 8:13.

2. Met koning Dawid se woorde in Psalm 86:11 in gedagte, watter twee dinge gaan ons bespreek?

2 Lees Psalm 86:11. Wanneer jy oor hierdie woorde nadink, is dit duidelik dat koning Dawid besef het hoe belangrik dit is om diep respek vir Jehovah te hê. Kom ons kyk hoe ons Dawid se geïnspireerde woorde kan toepas. Eerstens gaan ons na ’n paar redes kyk hoekom ons diep respek vir God se naam moet hê. Tweedens gaan ons bespreek hoe ons in ons daaglikse lewe kan wys dat ons diep respek het vir God se naam.

HOEKOM MOET ONS DIEP RESPEK VIR JEHOVAH SE NAAM HÊ?

3. Watter ondervinding het Moses dalk gehelp om aan te hou om diep respek vir God se naam te hê?

3 Dink aan hoe Moses gevoel het toe hy in ’n skeur in ’n rots gesit het en ’n visioen gesien het van Jehovah se heerlikheid wat verbygaan. Insight on the Scriptures sê dat dit “seker die ongelooflikste ondervinding was wat enige mens gehad het voordat Jesus Christus aarde toe gekom het”. Moses het die volgende woorde gehoor, wat blykbaar deur ’n engel gesê is: “Jehovah, Jehovah, ’n God wat genadig is en medelye betoon, wat nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde en waarheid is, wat lojale liefde aan duisende betoon, wat ongehoorsaamheid en oortreding en sonde vergewe” (Eks. 33:17-23; 34:5-7). Wanneer Moses die naam Jehovah gebruik het, het hy moontlik aan hierdie ondervinding gedink. Dit is geen wonder dat Moses later God se volk Israel gewaarsku het om “hierdie glorieryke en ontsagwekkende naam [te] vrees nie”. – Deut. 28:58.

4. Wat kan ons help om selfs meer respek vir Jehovah te hê?

4 Wanneer ons dink aan die naam Jehovah, moet ons ook dink aan watter tipe persoon Jehovah is. Ons moet dink aan sy eienskappe soos sy krag, sy wysheid, sy geregtigheid en sy liefde. Wanneer ons dink aan hierdie en ander eienskappe, kan dit ons help om selfs meer respek vir Jehovah te hê. – Ps. 77:11-15.

5-6. (a) Wat beteken God se naam? (b) Op watter maniere laat Jehovah dinge gebeur volgens Eksodus 3:13, 14 en Jesaja 64:8?

5 Wat weet ons omtrent die betekenis van God se naam? Baie geleerdes sê dat die naam Jehovah blykbaar “Hy laat word” beteken. Hierdie betekenis herinner ons daaraan dat niks Jehovah kan keer om te doen wat hy wil doen nie en dat hy dinge kan laat gebeur. Hoe so?

6 Jehovah laat dinge gebeur deur enigiets te word wat nodig is om sy wil te laat plaasvind. (Lees Eksodus 3:13, 14.) In ons publikasies word ons gereeld daaraan herinner om aan hierdie wonderlike deel van God se persoonlikheid te dink. Jehovah kan ook onvolmaakte mense enigiets laat word wat nodig is om hom te dien en sy wil te laat plaasvind. (Lees Jesaja 64:8.) Op hierdie maniere laat Jehovah sy wil plaasvind. Niks kan hom keer om sy wil te laat plaasvind nie. – Jes. 46:10, 11.

7. Hoe kan ons ons waardering vir ons hemelse Vader opbou?

7 Ons kan waardering opbou vir ons hemelse Vader deur te dink aan wat hy gedoen het en wat hy ons gehelp het om te doen. Byvoorbeeld, wanneer ons aan die wonderlike skepping dink, is ons baie beïndruk met alles wat Jehovah gemaak het (Ps. 8:3, 4). En wanneer ons dink aan wat Jehovah ons laat word het om sy wil te doen, ontwikkel ons diep respek vir hom. Daar is beslis geen ander naam soos Jehovah se naam nie! Dit sluit alles in wat ons Vader is, alles wat hy gedoen het en alles wat hy gaan doen. – Ps. 89:7, 8.

“EK SAL DIE NAAM VAN JEHOVAH BEKEND MAAK”

Wat Moses ander geleer het, het hulle geloof versterk en aangemoedig. Dit het gefokus op Jehovah God se naam en die soort persoon wat hy is (Sien paragraaf 8) *

8. Wat wil Jehovah hê moet sy knegte met sy naam doen volgens Deuteronomium 32:2, 3?

8 Net voordat die Israeliete in die Beloofde Land ingegaan het, het Jehovah vir Moses die woorde van ’n lied geleer (Deut. 31:19). Moses moes toe die lied vir die volk leer. (Lees Deuteronomium 32:2, 3.) Wanneer ons oor vers 2 en 3 nadink, is dit duidelik dat Jehovah nie wil hê dat sy naam weggesteek moet word, asof dit te heilig is om uitgespreek te word nie. Hy wil hê dat almal sy naam moet ken! Dit was beslis ’n wonderlike voorreg vir die volk om te hoor hoe Moses hulle oor Jehovah en Sy wonderlike naam leer! Wat Moses hulle geleer het, het hulle geloof versterk en hulle aangemoedig, net soos sagte reën plante help om te floreer. Hoe kan ons seker maak dat ons ander op hierdie manier leer?

9. Hoe kan ons help om Jehovah se naam te heilig?

9 Wanneer ons van deur tot deur gaan of openbare getuieniswerk doen, kan ons ons Bybel gebruik om mense te wys dat God se persoonlike naam Jehovah is. Ons kan vir hulle ons pragtige lektuur, uitstekende video’s en ons webwerf wys wat Jehovah eer. By die werk, by die skool of terwyl ons reis, vind ons dalk geleenthede om te praat oor ons geliefde God en watter soort persoon hy is. Ons vertel dalk die mense wat ons ontmoet van die wonderlike dinge wat Jehovah vir ons en vir die aarde gaan doen. En wanneer hulle hierdie dinge hoor, besef hulle dalk vir die eerste keer hoe baie Jehovah ons liefhet. Wanneer ons vir ander die waarheid oor ons liefdevolle Vader vertel, help ons om God se naam te heilig. Ons help mense om te sien dat die leuens en laster wat hulle oor Jehovah gehoor het, nie waar is nie. Niks anders sal mense se geloof versterk en hulle aanmoedig soos die dinge wat ons hulle uit die Bybel leer nie. – Jes. 65:13, 14.

10. Hoekom moet ons meer doen as om net God se wette aan ander te leer wanneer ons ’n Bybelstudie hou?

10 Wanneer ons Bybelstudies hou, wil ons ons studente help om Jehovah se naam te leer ken en om dit te gebruik. Ons wil hulle ook help om Jehovah persoonlik te leer ken. Sal ons dit regkry as ons hulle net Jehovah se wette en standaarde leer? ’n Goeie student kan leer wat God se wette is en selfs daarvan begin hou. Maar sal die student gehoorsaam wees aan Jehovah omdat hy Hom liefhet? Onthou, Eva het God se wet geken, maar sy was nie regtig lief vir God nie; en Adam was ook nie (Gen. 3:1-6). So ons moet meer doen as om net God se regverdige wette en standaarde aan ander te leer.

11. Wanneer ons God se wette en standaarde aan ons studente leer, hoe kan ons hulle help om lief te word vir die Een wat die wette gee?

11 Jehovah se wette en standaarde is altyd goed vir ons (Ps. 119:97, 111, 112). Maar ons studente moet eers verstaan dat Jehovah dit gegee het omdat hy ons liefhet, anders sal hulle dalk nie besef dat dit goed is vir ons nie. So ons kan ons studente dalk vra: “Hoekom dink jy het God sy knegte gevra om dit te doen of om dit nie te doen nie? Wat sê dit vir ons oor hom as ’n Persoon?” As ons ons studente help om aan Jehovah te dink en ’n opregte liefde vir sy wonderlike naam te ontwikkel, is die kanse groter dat ons hulle hart sal bereik. Ons studente sal nie net lief word vir die wette nie, maar ook vir die Een wat die wette gee (Ps. 119:68). Hulle geloof sal sterker word en hulle sal gehelp word om deur moeilike toetse te kom. – 1 Kor. 3:12-15.

“ONS SAL WANDEL IN DIE NAAM VAN JEHOVAH”

By een geleentheid het Dawid toegelaat dat sy hart verdeeld word (Sien paragraaf 12)

12. Hoe het Dawid by een geleentheid toegelaat dat sy hart verdeeld raak, en wat was die gevolge?

12 Die woorde “verenig my hart” wat koning Dawid in Psalm 86:11 geskryf het, is baie belangrik. Gedurende sy lewe het hy gesien hoe maklik dit is om toe te laat dat die hart verdeeld word. By een geleentheid het hy op sy paleis se dak gestaan en gesien hoe ’n ander man se vrou bad. Was Dawid se hart op daardie oomblik verenig of verdeeld? Hy het geweet wat Jehovah se wet is: “Jy mag nie jou medemens se vrou begeer nie” (Eks. 20:17). Maar blykbaar het hy aanhou kyk. Sy hart het verdeeld geword – hy wou Batseba hê, maar hy wou ook Jehovah gelukkig maak. Alhoewel Dawid Jehovah al lank liefgehad en gevrees het, het hy selfsugtig opgetree. As gevolg hiervan het Dawid slegte dinge gedoen. Hy het oneer op Jehovah se naam gebring. Dit het ook slegte gevolge vir onskuldige mense gehad, insluitende sy familie. – 2 Sam. 11:1-5, 14-17; 12:7-12.

13. Hoe weet ons dat Dawid se hart weer verenig geword het?

13 Jehovah het Dawid gedissiplineer, en hy het weer ’n goeie verhouding met Jehovah gehad (2 Sam. 12:13; Ps. 51:2-4, 17). Dawid het al die slegte dinge onthou wat gebeur het toe hy toegelaat het dat sy hart verdeeld word. Sy woorde in Psalm 86:11 kan ook vertaal word as: “Gee my ’n onverdeelde hart.” Het Jehovah Dawid gehelp om sy hart heel, of onverdeeld, te maak? Ja, want Jehovah se Woord sê later van Dawid dat hy ’n man was wat “Jehovah sy God . . . met sy hele hart gedien” het. – 1 Kon. 11:4; 15:3.

14. Wat moet ons ons afvra, en hoekom?

14 Dawid se voorbeeld moedig ons aan, maar die feit dat hy ernstig gesondig het, is ook ’n waarskuwing vir ons. Of ons nou Jehovah onlangs begin dien het of hom al jare lank dien, moet ons ons afvra: ‘Doen ek alles wat ek kan om nie toe te laat dat Satan my hart verdeel nie?’

Satan sal enigiets probeer om jou hart te verdeel. Moenie toelaat dat hy dit doen nie! (Sien paragraaf 15-16) *

15. Hoe kan die vrees vir God ons beskerm wanneer ons prente sien wat ons aan onsedelike dinge kan laat dink?

15 Wat sal jy byvoorbeeld doen as jy ’n prent op die TV of die Internet sien wat kan veroorsaak dat jy aan onsedelike dinge dink? Dit kan dalk maklik wees om vir jouself te sê dat die prent of film nie eintlik pornografie is nie. Maar is dit dalk iets wat Satan gebruik om jou hart te verdeel? (2 Kor. 2:11). Daardie prent kan vergelyk word met ’n byl wat ’n man gebruik om ’n groot stuk hout in twee te breek. Die groot stuk hout sal nie onmiddellik in twee breek nadat hy die stuk hout vir die eerste keer gekap het nie. Maar as hy aanhou kap, sal die hout uiteindelik in twee breek. Net so, wanneer iemand prente sien wat hom aan onsedelike dinge kan laat dink, sal dit dalk nie onmiddellik ’n uitwerking op hom hê nie. Maar dit kan uiteindelik tot sonde lei wat sy hart verdeel en veroorsaak dat hy dislojaal is aan Jehovah. So moenie enigiets verkeerds in jou hart toelaat nie! Hou jou hart verenig om Jehovah se naam te vrees!

16. Watter vrae moet ons ons afvra wanneer ons iets verkeerds wil doen?

16 Behalwe prente wat kan veroorsaak dat ons aan onsedelike dinge dink, is daar baie ander dinge wat Satan gebruik om ons te kry om iets verkeerds te doen. Hoe reageer ons hierop? Dit is maklik om te dink dat hierdie dinge nie so sleg is nie. Ons dink miskien: ‘Wel, ek sal nie uitgesit word as ek dit doen nie, so dit kan nie so ernstig wees nie.’ Dit is baie verkeerd om so te dink. Dit is beter om onsself die volgende vrae te vra: ‘Probeer Satan om hierdie ding te gebruik om my hart te verdeel? Sal ek oneer op Jehovah se naam bring as ek op hierdie verkeerde begeertes reageer? Sal dit my nader aan my God bring of sal dit dalk my verhouding met hom beskadig?’ Dink na oor sulke vrae. Bid vir wysheid om hierdie vrae eerlik te beantwoord (Jak. 1:5). As ons dit doen, kan dit ons beskerm. Dit kan ons help om Satan se pogings om ons te kry om iets verkeerds te doen, te verwerp, net soos Jesus gedoen het toe hy gesê het: “Gaan weg, Satan!” – Matt. 4:10.

17. Hoekom is dit nie goed as ons hart verdeeld is nie? Gee ’n voorbeeld.

17 Dit is nie goed as ons hart verdeeld is nie. Dink aan ’n sportspan met spanlede wat nie met mekaar oor die weg kom nie. Party wil al die eer hê, ’n paar wil nie die reëls volg nie en party respekteer nie die afrigter nie. So ’n span sal heel waarskynlik nie ’n wedstryd wen nie. Maar ’n span wat verenig is, sal heel moontlik suksesvol wees. Jou hart kan soos daardie suksesvolle span wees as jou gedagtes, begeertes en emosies verenig is in Jehovah se diens. Onthou, Satan wil baie graag jou hart verdeel. Hy wil hê dat jou gedagtes, begeertes en emosies nie met mekaar en ook nie met Jehovah se standaarde moet ooreenstem nie. Maar jou hart moet verenig wees om Jehovah te dien (Matt. 22:36-38). Moet nooit toelaat dat Satan jou hart verdeel nie!

18. Wat is jy vasbeslote om te doen volgens Miga 4:5?

18 Bid tot Jehovah soos Dawid gedoen het: “Verenig my hart om u naam te vrees.” Doen alles wat jy kan om volgens die woorde in hierdie gebed te lewe. Wees elke dag vasbeslote om besluite te maak wat sal wys dat jy diep respek het vir Jehovah se heilige naam. As jy dit doen, sal jy as een van Jehovah se Getuies eer op daardie naam bring (Spr. 27:11). En ons almal sal net soos die profeet Miga kan sê: “Ons sal wandel in die naam van Jehovah ons God, vir ewig en altyd.” – Miga 4:5.

LIED 41 Hoor my gebed

^ par. 5 In hierdie artikel gaan ons op ’n gedeelte van koning Dawid se gebed in Psalm 86:11, 12 fokus. Wat beteken dit om Jehovah se naam te vrees? Hoekom moet ons diep respek hê vir hierdie groot naam? En hoe kan die vrees vir God ons beskerm wanneer ons iets verkeerds wil doen?

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENT: Moses het God se volk ’n lied geleer wat Jehovah eer.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: Eva het nie verkeerde begeertes verwerp nie. Maar ons weier om na prente of boodskappe te kyk wat ons dalk verkeerde begeertes kan gee en oneer op God se naam kan bring.