Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Selfbeheersing – Belangrik as ons Jehovah se goedkeuring wil hê

Selfbeheersing – Belangrik as ons Jehovah se goedkeuring wil hê

“Toe my neef met my begin stry het, het ek hom aan sy keel gegryp en hom begin wurg. Ek wou hom doodmaak.” – Paul.

“By die huis het ek baie vinnig kwaad geword, selfs al het ek nie ’n goeie rede gehad nie. Ek het meubels, speelgoed, enigiets wat ek in die hande kon kry, stukkend geslaan.” – Marco.

Ons is miskien nie so gewelddadig soos die persone in hierdie voorbeelde nie. Maar ons almal sukkel soms om onsself te beheer. Die hoofrede is omdat ons sondige neigings by die eerste man, Adam, geërf het (Rom. 5:12). Party mense, soos Paul en Marco, sukkel om hulle humeur te beheer. Ander sukkel dalk om hulle gedagtes te beheer. Hulle dink byvoorbeeld die hele tyd aan dinge wat hulle bang of mismoedig maak. En vir party is dit dalk moeilik om te stry teen die begeerte om seksueel onsedelik te wees, om alkohol te misbruik of om dwelms te gebruik.

Persone wat nie hulle denke, begeertes en dade beheer nie, kan hulle lewe verwoes. Maar ons kan keer dat dit met ons gebeur. Hoe? Deur te leer om selfbeheersing te hê. Kom ons bespreek drie vrae wat ons sal help om dit te doen: (1) Wat is selfbeheersing? (2) Hoekom is dit belangrik? (3) Hoe kan ons hierdie eienskap wat ’n aspek van “die vrug van die gees” is, aanleer? (Gal. 5:22, 23). Dan sal ons kyk wat elkeen van ons kan doen as ons soms nie selfbeheersing het nie.

WAT IS SELFBEHEERSING?

’n Persoon met selfbeheersing dink voordat hy optree. Hy sal niks doen of sê wat God ongelukkig sal maak nie.

Jesus het duidelik gewys wat dit beteken om selfbeheersing te hê

Jesus het vir ons gewys wat dit beteken om selfbeheersing te hê. Die Bybel sê: “Toe hy beledig is, het hy nie terug beledig nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar hy het die saak oorgelaat aan die Een wat regverdig oordeel” (1 Pet. 2:23). Jesus het selfbeheersing gehad toe sy vyande hom gespot het terwyl hy aan die paal gehang het (Matt. 27:39-44). Vroeër het hy buitengewone selfbeheersing gehad toe godsdiensleiers hom probeer kry het om iets te sê wat hulle teen hom kon gebruik (Matt. 22:15-22). En hy het ook ’n uitstekende voorbeeld gestel toe sekere Jode wat baie kwaad was, klippe opgetel het om hom daarmee te gooi! In plaas daarvan om hulle ook sleg te behandel, het “Jesus . . . weggekruip en uit die tempel uitgegaan”. – Joh. 8:57-59.

Kan ons Jesus se voorbeeld navolg? Ons kan, tot ’n sekere mate. Die apostel Petrus het geskryf: “Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Pet. 2:21). Al is ons onvolmaak, kan ons Jesus se voorbeeld van selfbeheersing noukeurig volg. Hoekom is dit belangrik dat ons dit doen?

HOEKOM IS SELFBEHEERSING BELANGRIK?

Ons het selfbeheersing nodig as ons Jehovah se goedkeuring wil hê. Selfs al dien ons Jehovah al lank getrou, kan ons ons vriendskap met hom verloor as ons nie beheer wat ons doen en sê nie.

Dink aan Moses, wat in sy tyd “verreweg die nederigste van al die mense op die hele aarde” was (Num. 12:3). Moses het jare lank geduldig geluister terwyl die Israeliete gekla het. Maar eendag het hy sy selfbeheersing verloor. Hy het kwaad geword toe hulle weer gekla het dat hulle nie genoeg water het nie. Hy het op ’n lelike manier met die volk gepraat en gesê: “Luister, julle opstandiges! Moet ons vir julle water uit hierdie groot rots laat kom?” – Num. 20:2-11.

Moses het sy selfbeheersing verloor. Hy het nie die eer aan Jehovah gegee as die Een wat deur middel van ’n wonderwerk hierdie water vir hulle gegee het nie (Ps. 106:32, 33). As gevolg hiervan het Jehovah nie toegelaat dat hy in die Beloofde Land ingaan nie (Num. 20:12). Moses het seker vir die res van sy lewe spyt gevoel dat hy sy selfbeheersing verloor het. – Deut. 3:23-27.

Wat is die les vir ons? Selfs al is ons al lank in die waarheid moet ons nooit op ’n disrespekvolle manier praat met iemand wat ons irriteer of wat raad nodig het nie (Ef. 4:32; Kol. 3:12). Wanneer ons ouer word, is dit soms moeiliker om geduldig te wees. Maar onthou wat met Moses gebeur het. Ons wil nie ons goeie reputasie met Jehovah beskadig omdat ons ons selfbeheersing verloor het nie. Wat kan ons doen om hierdie belangrike eienskap aan te leer?

HOE OM SELFBEHEERSING AAN TE LEER

Bid vir heilige gees. Hoekom? Want selfbeheersing is ’n aspek van die vrug van God se gees, en Jehovah gee sy gees aan dié wat hom vra (Luk. 11:13). Deur middel van sy gees kan Jehovah ons die krag gee wat ons nodig het (Fil. 4:13). Hy kan ons ook help om ander aspekte van die vrug van die gees aan te leer, soos liefde, wat dit vir ons makliker sal maak om selfbeheersing te hê. – 1 Kor. 13:5.

Vermy enigiets wat dit vir jou moeilik maak om selfbeheersing te hê

Vermy enigiets wat dit vir jou moeilik kan maak om selfbeheersing te hê. Bly byvoorbeeld weg van Internetwebwerwe en vermaak wat verkeerde gedrag insluit (Ef. 5:3, 4). Ons moet eintlik enigiets vermy wat kan veroorsaak dat ons iets verkeerds doen (Spr. 22:3; 1 Kor. 6:12). Byvoorbeeld, ’n persoon wat geneig is tot seksuele onreinheid, besluit dalk om romantiese boeke en films heeltemal te vermy.

Dit is dalk vir ons moeilik om hierdie raad toe te pas. Maar as ons die moeite doen, sal Jehovah ons die krag gee wat ons nodig het om onsself te beheer (2 Pet. 1:5-8). Hy sal ons help om ons gedagtes, spraak en dade te beheer. Paul en Marco, wat vroeër genoem is, het byvoorbeeld met Jehovah se hulp geleer om hulle gewelddadige humeur te beheer. Kyk ook na die voorbeeld van ’n broer wat dikwels sy humeur verloor het wanneer hy gery het, en selfs met ander bestuurders gestry het. Wat het hy daaromtrent gedoen? “Ek het elke dag ernstig gebid. Ek het artikels oor selfbeheersing gestudeer en Bybelverse gememoriseer wat my help. Al werk ek al jare lank hieraan, herinner ek myself nog steeds elke dag aan my doelwit om kalm te bly. En ek ry vroeg na my afsprake sodat ek nie haastig is nie.”

AS ONS ONS SELFBEHEERSING VERLOOR

Ons sal soms ons selfbeheersing verloor. Wanneer dit gebeur, voel ons dalk te skaam om tot Jehovah te bid. Maar dit is wanneer ons die meeste moet bid. So praat onmiddellik met Jehovah in gebed. Smeek hom om jou te vergewe, vra hom om jou te help en wees vasbeslote om nie weer dieselfde fout te maak nie (Ps. 51:9-11). Moenie dink dat Jehovah nie na jou sal luister wanneer jy hom opreg vra om jou te vergewe nie (Ps. 102:17). Die apostel Johannes herinner ons daaraan dat die bloed van God se Seun ‘ons van alle sonde reinig’ (1 Joh. 1:7; 2:1; Ps. 86:5). Onthou dat Jehovah vir sy knegte sê om ander oor en oor te vergewe. So ons kan die vertroue hê dat hy dieselfde vir ons sal doen. – Matt. 18:21, 22; Kol. 3:13.  

Jehovah was ongelukkig met Moses toe hy sy selfbeheersing tydelik in die wildernis verloor het. Maar Jehovah het hom vergewe. En God se Woord maak dit duidelik dat Moses ’n uitstekende voorbeeld van geloof is (Deut. 34:10; Heb. 11:24-28). Jehovah het nie vir Moses toegelaat om in die Beloofde Land in te gaan nie, maar hy sal hom wel die geleentheid gee om in die Paradys op aarde te lewe met die hoop om vir ewig te lewe. Ons kan ook uitsien na die ewige lewe as ons hard werk om hierdie belangrike eienskap van selfbeheersing aan te leer. – 1 Kor. 9:25.