Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Is die eienskappe wat in Galasiërs 5:22, 23 genoem word, die enigste aspekte van “die vrug van die gees”?

Hierdie verse noem nege Christelike eienskappe: “Die vrug van die gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Maar hierdie is nie die enigste goeie eienskappe wat God se gees ons kan help om te ontwikkel nie.

Kyk wat die apostel Paulus in die vorige verse geskryf het: “Die werke van die vlees . . . is seksuele onsedelikheid, onreinheid, skaamtelose gedrag, afgodediens, spiritisme, vyandigheid, stryery, jaloesie, woede-uitbarstings, onenigheid, verdeeldhede, sektes, afguns, dronkenskap, wilde partytjies en soortgelyke dinge” (Gal. 5:19-21). So Paulus kon ander dinge genoem het wat deel is van die “werke van die vlees”, soos dié wat in Kolossense 3:5 genoem word. Net so, nadat hy nege goeie eienskappe genoem het, het hy gesê: “Daar is geen wet teen sulke dinge nie.” So Paulus het nie probeer om al die goeie eienskappe te noem wat ons met die hulp van die heilige gees kan aanleer nie.

Ons kan dit duidelik sien wanneer ons hierdie lys vergelyk met wat Paulus aan die gemeente in Efese geskryf het: “Die vrug van die lig bestaan uit elke soort goedheid en regverdigheid en waarheid” (Ef. 5:8, 9). Ja, “goedheid”, saam met regverdigheid en waarheid, is deel van “die vrug van die lig”, maar dit is ook deel van “die vrug van die gees”.

Net so het Paulus vir Timoteus aangemoedig om “regverdigheid, toegewydheid aan God, geloof, liefde, volharding en sagmoedigheid aan te kweek” – ses uitstekende eienskappe (1 Tim. 6:11). Net drie van hulle (geloof, liefde en sagmoedigheid) word as aspekte van “die vrug van die gees” genoem. Maar Timoteus moes sekerlik ook regverdigheid, toegewydheid aan God en volharding aanleer en hy het geweet dat hy die hulp van die gees nodig gehad om dit te doen. – Vergelyk Kolossense 3:12; 2 Petrus 1:5-7.

So Galasiërs 5:22, 23 noem nie al die eienskappe wat ’n Christen moet aanleer nie. God se gees kan ons help om die nege aspekte van “die vrug van die gees” aan te leer. Maar daar is meer eienskappe wat ons moet aanleer terwyl ons volwasse Christene word en “die nuwe persoonlikheid aantrek, wat in ooreenstemming met God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is”. – Ef. 4:24.