Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 27

Moenie meer van jouself dink as wat nodig is nie

Moenie meer van jouself dink as wat nodig is nie

“Ek [sê] vir elkeen van julle om nie meer van homself te dink as wat nodig is nie, maar om op ’n manier te dink wat toon dat hy verstandig is.” – ROM. 12:3.

LIED 130 Wees vergewensgesind

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom sal ons volgens Filippense 2:3 goeie verhoudings met ander hê as ons nederig is?

 ONS luister nederig na Jehovah, want ons besef dat hy altyd weet wat die beste vir ons is (Ef. 4:22-24). Nederigheid beweeg ons om Jehovah se wil bo ons eie te stel en om ander hoër as onsself te beskou. As gevolg hiervan sal ons ’n goeie verhouding met Jehovah en met ons broers en susters in die gemeente hê. – Lees Filippense 2:3.

2. Wat het die apostel Paulus erken, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Maar as ons nie versigtig is nie, kan ons soos die mense in Satan se wêreld word wat trots en selfsugtig is. * Dit lyk asof dit met ’n paar Christene in die eerste eeu gebeur het, want die apostel Paulus het aan die Romeine geskryf: “Ek [sê] vir elkeen van julle om nie meer van homself te dink as wat nodig is nie, maar om op ’n manier te dink wat toon dat hy verstandig is” (Rom. 12:3). Paulus het erken dat ons wel iets van onsself moet dink. Maar as ons nederig is, sal ons nie te veel van onsself dink nie. Hierdie artikel sal drie gebiede bespreek waarin nederigheid ons sal help om nie te veel van onsself te dink nie. Hierdie gebiede is (1) ons huwelik, (2) ons verantwoordelikhede in Jehovah se organisasie en (3) ons gebruik van sosiale media.

WEES NEDERIG IN JOU HUWELIK

3. Hoekom sal daar heel moontlik probleme in ’n huwelik wees, en hoe reageer party wanneer daar probleme is?

3 Jehovah wil hê dat ’n man en vrou gelukkig moet wees in hulle huwelik. Maar niemand is volmaak nie, en daarom sal getroude paartjies heel moontlik nie oor alles saamstem nie. Om die waarheid te sê, Paulus het geskryf dat persone wat trou, probleme sal hê (1 Kor. 7:28). Party stry gedurig met hulle maat, en daarom kan hulle begin dink dat hulle nie vir mekaar bedoel is nie. As hulle deur die wêreld beïnvloed is, sal hulle dink dat dit beter is om te skei. Hulle sal net aan hulleself dink en aan wat hulle gelukkig sal maak.

4. Wat moet ons nie doen nie?

4 Ons moenie ontevrede met ons huwelik word nie. Ons besef dat daar net een skriftuurlike rede vir egskeiding is, en dit is seksuele onsedelikheid (Matt. 5:32). So wanneer die probleme kom waarvan Paulus gepraat het, wil ons nie trots wees nie en begin dink: ‘Gee hierdie huwelik vir my wat ek nodig het? Kry ek die liefde wat ek verdien? Sal ek gelukkiger saam met iemand anders wees?’ As ons op hierdie manier dink, dink ons net aan onsself en nie aan ons maat nie. Die wysheid van die wêreld sal vir jou sê om jou hart te volg en om te doen wat jou gelukkig maak, selfs al beteken dit dat jy skei. Die Bybel sê dat jy “nie net aan [jou] eie belange [moet] dink nie, maar ook aan die belange van ander” (Fil. 2:4). Jehovah wil hê dat jy getroud moet bly en nie van jou maat moet skei nie (Matt. 19:6). Hy wil hê dat jy eers aan Hom moet dink en nie aan jouself nie.

5. Hoe moet ’n man en vrou mekaar behandel, volgens Efesiërs 5:33?

5 ’n Man en vrou moet mekaar met liefde en respek behandel. (Lees Efesiërs 5:33.) Die Bybel leer ons om te gee eerder as om te ontvang (Hand. 20:35). Watter eienskap sal ’n getroude paartjie help om mekaar lief te hê en te respekteer? Die antwoord is nederigheid. Mans en vrouens wat nederig is, sal nie hulle eie voordeel soek nie, maar “dié van die ander persoon”. – 1 Kor. 10:24.

’n Nederige paartjie baklei nie met mekaar nie, maar werk eerder saam as ’n span (Sien paragraaf 6)

6. Wat leer jy uit Steven en Stephanie se kommentare?

6 Nederigheid het baie Christenpaartjies gehelp om gelukkiger in hulle huwelik te wees. Byvoorbeeld, ’n getroude man met die naam Steven sê: “As julle ’n span is, sal julle saamwerk, veral wanneer daar probleme is. In plaas daarvan om te dink ‘wat is die beste vir my?’ sal jy dink ‘wat is die beste vir ons?’” Sy vrou, Stephanie, voel ook so. Sy sê: “Niemand wil saam met iemand bly wat die hele tyd met jou stry nie. Wanneer ons nie saamstem nie, probeer ons uitvind wat die probleem is. Ons bid dan, doen navorsing daaroor en praat oor hoe om die probleem op te los. Ons vat die probleem aan, nie mekaar nie.” Getroude paartjies sal gelukkiger wees as hulle nie meer van hulleself dink as wat nodig is nie.

DIEN JEHOVAH MET “ALLE NEDERIGHEID”

7. Wat moet ’n broer se gesindheid wees wanneer hy verantwoordelikhede in Jehovah se organisasie kry?

7 Dit is vir ons ’n voorreg om Jehovah te dien op enige manier wat ons kan (Ps. 27:4; 84:10). Dit is baie goed as ’n broer bereid is om meer in Jehovah se organisasie te doen. Die Bybel sê: “As ’n man ’n opsiener wil wees, begeer hy ’n goeie werk” (1 Tim. 3:1). Maar wanneer hy verantwoordelikhede kry, moet hy nie meer van homself dink as wat nodig is nie (Luk. 17:7-10). Sy doelwit moet wees om ander nederig te dien. – 2 Kor. 12:15.

8. Wat leer ons uit die voorbeelde van Diotrefes, Ussia en Absalom?

8 In die Bybel is daar voorbeelde van mense wat te veel van hulleself gedink het. Diotrefes was nie nederig nie. Hy wou “die belangrikste” in die gemeente wees (3 Joh. 9). Ussia was trots en het iets probeer doen wat Jehovah hom nie gevra het om te doen nie (2 Kron. 26:16-21). Absalom wou koning wees, so hy het gemaak asof hy lief is vir die mense sodat hulle hom sou ondersteun (2 Sam. 15:2-6). Soos hierdie Bybelverslae duidelik wys, is Jehovah nie gelukkig met mense wat hulle eie eer soek nie (Spr. 25:27). Mense wat trots is en deur ander bewonder wil word, sal uiteindelik net probleme hê. – Spr. 16:18.

9. Watter voorbeeld het Jesus gestel?

9 Jesus was nie soos daardie trotse mense nie. Die Bybel sê die volgende oor Jesus: “Al was hy soos God, het hy dit nooit oorweeg om God se posisie te probeer neem deur homself aan God gelyk te stel nie” (Fil. 2:6). Alhoewel Jesus die tweede magtigste persoon is, dink hy nie meer van homself as wat nodig is nie. Hy het vir sy dissipels gesê: “Wie hom as ’n mindere onder julle almal gedra, is die een wat groot is” (Luk. 9:48). Dit is regtig ’n voorreg om saam met pioniers, bedieningsknegte, ouermanne en kringopsieners te dien, wat nederig is soos Jesus! Nederige knegte van Jehovah dra by tot die liefdevolle gees wat ’n kenmerk is van God se organisasie. – Joh. 13:35.

10. Wat moet jy doen as jy voel dat probleme in die gemeente nie reg hanteer word nie?

10 Wat moet jy doen as dit lyk asof daar probleme in die gemeente is en jy voel dat dit nie reg hanteer word nie? Eerder as om te kla, moet jy nederig wees deur dié wat die leiding neem te ondersteun (Heb. 13:17). Om jou te help om dit te doen, kan jy jou afvra: ‘Is die probleme wat ek sien regtig so ernstig dat iets omtrent die saak gedoen moet word? Is dit die regte tyd om iets daaroor te doen? Is dit my plek om iets daaromtrent te doen? Probeer ek regtig om die gemeente te verenig of probeer ek om myself belangrik te laat lyk?’

Persone wat verantwoordelikhede ontvang, moenie net bekend wees vir hulle vermoëns nie, maar ook vir hulle nederigheid (Sien paragraaf 11) *

11. Wat is die resultate volgens Efesiërs 4:2, 3 wanneer ons Jehovah met nederigheid dien?

11 Nederigheid is vir Jehovah belangriker as ons vermoë om iets te kan doen en eenheid is vir hom belangriker as hoe goed en hoe vinnig ons iets kan doen. So doen jou bes om Jehovah met nederigheid te dien. As jy dit doen, sal jy help om die eenheid in die gemeente te bevorder. (Lees Efesiërs 4:2, 3.) Doen soveel as wat jy kan in die bediening. Soek na maniere om ander te dien deur goeie dinge vir hulle te doen. Wees gasvry teenoor almal, insluitende persone wat nie verantwoordelikhede in die gemeente het nie (Matt. 6:1-4; Luk. 14:12-14). Wanneer jy nederig saam met jou broers en susters in die gemeente werk, sal hulle nie net jou vermoëns sien nie, maar ook jou nederigheid.

WEES NEDERIG WANNEER JY SOSIALE MEDIA GEBRUIK

12. Moedig die Bybel ons aan om vriende te hê? Verduidelik.

12 Jehovah wil hê dat ons dit moet geniet om tyd saam met ons familie en vriende te spandeer (Ps. 133:1). Jesus het goeie vriende gehad (Joh. 15:15). Die Bybel wys hoe dit ons help om goeie vriende te hê (Spr. 17:17; 18:24). En dit sê dat dit nie goed is om onsself af te sonder nie (Spr. 18:1). Baie dink dat sosiale media ’n manier is om baie vriende te hê en om nie eensaam te voel nie. Maar ons moet versigtig wees wanneer ons sosiale media gebruik.

13. Hoekom voel party mense wat sosiale media gebruik, eensaam en depressief?

13 Studies het gewys dat persone wat ure lank na ander mense se kommentare en foto’s op sosiale media kyk, later eensaam en depressief kan voel. Hoekom? Een moontlike rede is omdat mense gewoonlik net die beste foto’s van hulleself, hulle vriende en die opwindende plekke waar hulle was, op sosiale media sit. ’n Persoon wat na hierdie foto’s kyk, kan dalk dink dat sy lewe nie opwindend is nie – selfs vervelig is. ’n Christensuster, wat 19 jaar oud is, erken: “Toe ek al die lekker dinge sien wat ander oor naweke doen terwyl ek verveeld by die huis is, het ek ongelukkig begin voel.”

14. Hoe kan die Bybel se raad in 1 Petrus 3:8 ons help om sosiale media op ’n wyse manier te gebruik?

14 Sosiale media kan natuurlik op ’n goeie manier gebruik word, byvoorbeeld om in kontak te bly met familie en vriende. Maar het jy al agtergekom dat party mense kommentare, foto’s en video’s op sosiale media sit sodat ander hulle sal bewonder? Dit lyk asof hulle probeer sê: “Kyk na my.” Party sê selfs lelike dinge en gebruik vuil taal wanneer hulle kommentare oor hulle of ander mense se foto’s maak. Christene word aangemoedig om nederig te wees en meegevoel te hê. So hulle sal nie sosiale media op hierdie manier gebruik nie. – Lees 1 Petrus 3:8.

As mense na jou foto’s, video’s of kommentare op sosiale media kyk, sal hulle dink dat jy besig is om te spog of sal hulle dink dat jy nederig is? (Sien paragraaf 15)

15. Hoe kan die Bybel ons help om nie onsself belangrik te laat lyk nie?

15 As jy sosiale media gebruik, vra jou af: ‘Kan die kommentare, foto’s of video’s wat ek op sosiale media sit mense laat dink dat ek besig is om te spog? Kan ek ander jaloers laat voel?’ Die Bybel sê: “Alles wat in die wêreld is – die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die gespog met ’n mens se besittings – het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld” (1 Joh. 2:16). Een Bybelvertaling het die woorde “die gespog met ’n mens se besittings” vertaal as “om belangrik te lyk”. Christene voel nie dat hulle belangrik moet wees of dat hulle deur ander bewonder moet word nie. Hulle volg die Bybel se raad: “Laat ons nie te veel van onsself begin dink en met mekaar kompeteer en jaloers wees op mekaar nie” (Gal. 5:26). As ons nederig is, sal ons nie soos mense in die wêreld word wat trots is en wat wil hê dat ander moet dink dat hulle belangrik is nie.

‘DINK OP ’N MANIER WAT TOON DAT JY VERSTANDIG IS’

16. Hoekom moet ons nie trots wees nie?

16 Ons moet leer om nederig te wees, want dié wat trots is, is nie “verstandig” nie (Rom. 12:3). Mense wat trots is, is stryerig en dink te veel van hulleself. Wat hulle doen en sê veroorsaak dikwels dat hulle hulleself en ander seermaak. As hulle nie versigtig is nie, sal Satan hulle verstande verblind en hulle denke sleg laat word (2 Kor. 4:4; 11:3). Maar ’n nederige persoon is verstandig. Hy dink nie te veel van homself nie en hy besef dat ander op die een of ander manier beter as hy is (Fil. 2:3). En hy weet dat ‘God die hoogmoediges teëstaan, maar onverdiende goedheid aan die nederiges gee’ (1 Pet. 5:5). Dié wat verstandig is, wil nie Jehovah as ’n vyand hê nie.

17. Wat moet ons doen om nederig te bly?

17 Om nederig te bly, moet ons die Bybel se raad toepas om ‘die ou persoonlikheid met sy gebruike uit te trek en die nuwe persoonlikheid aan te trek’. Dit is harde werk. Ons moet ’n studie maak van Jesus se voorbeeld en probeer om hom so na as moontlik na te volg (Kol. 3:9, 10; 1 Pet. 2:21). Maar dit is die moeite werd. Wanneer ons leer om nederig te wees, sal ons gesinslewe verbeter, sal ons help om die eenheid in die gemeente te bevorder en sal ons sosiale media nie op ’n slegte manier gebruik nie. En die belangrikste is dat Jehovah ons sal seën en goedkeur.

LIED 117 Goedheid

^ par. 5 Vandag lewe ons in ’n wêreld wat vol trotse en selfsugtige mense is. Ons moet versigtig wees dat ons nie soos hulle word nie. Hierdie artikel sal drie gebiede bespreek waarin ons nie meer van onsself moet dink as wat nodig is nie.

^ par. 2 WAT DIT BETEKEN: ’n Persoon wat trots is, dink gewoonlik te veel van homself en nie genoeg van ander nie. So, ’n trotse persoon is selfsugtig. Maar nederigheid help ’n persoon om nie selfsugtig te wees nie. ’n Persoon wat nederig is, is nie trots nie en dink nie dat hy die belangrikste persoon is nie.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouerman wat toesprake by streekbyeenkomste gee en ’n opsiener is, waardeer ook die voorreg om die leiding in die bediening te neem en om die Koninkryksaal skoon te maak.