Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 28

Wees oortuig dat jy die waarheid het

Wees oortuig dat jy die waarheid het

“Bly by die dinge wat jy geleer het en wat jy oortuig is om te glo.” – 2 TIM. 3:14.

LIED 56 Leef die waarheid uit

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat bedoel ons wanneer ons praat van “die waarheid”?

 “HOE het jy die waarheid gekry?” “Het jy in die waarheid grootgeword?” “Hoe lank is jy al in die waarheid?” Miskien het party jou al hierdie vrae gevra. Of miskien het jy al hierdie vrae vir ander gevra. Wat bedoel ons wanneer ons praat van “die waarheid”? Gewoonlik wanneer ons die woorde “die waarheid” gebruik, praat ons van wat ons glo, hoe ons God aanbid en hoe ons lewe. Mense wat “in die waarheid” is, weet wat die Bybel leer en lewe volgens die beginsels daarin. Daarom glo hulle nie meer valse godsdiensleerstellings nie en geniet hulle die beste lewe moontlik terwyl hulle in Satan se wêreld bly. – Joh. 8:32.

2. Wat is dalk die heel eerste ding wat ’n persoon na die waarheid toe trek, volgens Johannes 13:34, 35?

2 Wat het jou heel eerste na die waarheid toe getrek? Miskien was dit die goeie maniere van Jehovah se volk (1 Pet. 2:12). Of dalk was dit die liefde wat hulle vir ander het. Baie wat vir die eerste keer na ’n vergadering toe gaan, sien daardie liefde en onthou dit meer as enige iets wat by die vergadering gesê is. Dit verbaas ons nie, want Jesus het gesê dat sy dissipels uitgeken sou word deur die liefde wat hulle vir mekaar het. (Lees Johannes 13:34, 35.) Maar meer is nodig as ons sterk geloof wil hê.

3. Wat kan dalk gebeur as ons geloof in God net gebaseer is op die Christelike liefde wat deur ons broers en susters gewys word?

3 Ons moet ons geloof op meer as net die Christelike liefde van God se volk baseer. Hoekom? Sê nou iemand in die gemeente – selfs ’n ouerman of ’n pionier – pleeg ’n ernstige sonde. Of wat as ’n broer of ’n suster jou op die een of ander manier seermaak? Of dalk word iemand afvallig en sê dat wat ons glo, nie waar is nie. As sulke dinge gebeur, sal jy toelaat dat dit jou laat struikel en sal jy Jehovah ophou dien? Wat is die les vir ons? As jy net jou geloof in God opbou as gevolg van wat ander mense doen en nie omdat jy ’n persoonlike verhouding met Jehovah het nie, sal jou geloof nie sterk wees nie. In jou huis van geloof moet jy nie net sagte materiaal soos gevoelens en emosies gebruik nie, maar jy moet ook harde feite en vaste redenasies gebruik. Jy moet daarvan oortuig wees dat die Bybel die waarheid oor Jehovah leer. – Rom. 12:2.

4. Wat doen party volgens Matteus 13:3-6, 20, 21 wanneer hulle geloof getoets word?

4 Jesus het gesê dat party die waarheid “met vreugde” sou aanvaar, maar dat hulle geloof swak sou word wanneer hulle getoets word. (Lees Matteus 13:3-6, 20, 21.) Dalk het hulle nie besef dat persone wat Jesus volg, probleme sou hê nie (Matt. 16:24). Of miskien het hulle gedink dat om ’n Christen te wees, beteken dat hulle lewe sonder probleme sou wees – net seëninge, geen uitdagings nie. Maar in hierdie onvolmaakte wêreld sal daar probleme wees. Omstandighede kan verander en dit kan veroorsaak dat ons ons vreugde vir ’n tydjie verloor. – Ps. 6:6; Pred. 9:11.

5. Hoe wys die meeste van ons broers en susters dat hulle oortuig is dat hulle die waarheid het?

5 Die meeste van ons broers en susters wys dat hulle oortuig is dat hulle die waarheid het. Hoe? Hulle geloof word nie swakker nie selfs as ’n broer of ’n suster hulle seermaak of besig is met verkeerde dinge (Ps. 119:165). Elke keer wanneer hulle getoets word, word hulle geloof sterker, nie swakker nie (Jak. 1:2-4). Hoe kan jy sulke sterk geloof opbou?

VERKRY “DIE AKKURATE KENNIS VAN GOD”

6. Waarop het die eerste-eeuse dissipels hulle geloof gebou?

6 Die eerste-eeuse dissipels het hulle geloof op hulle kennis van die Skrif en die leringe van Jesus Christus, dit wil sê “die waarheid van die goeie nuus”, gebou (Gal. 2:5). Hierdie waarheid is al die dinge wat ons as Christene glo, insluitende die feite oor Jesus se losprysoffer en sy opstanding. Die apostel Paulus was daarvan oortuig dat hierdie leringe die waarheid is. Hoekom? Want hy het die Skrif gebruik om “deur verwysings [te] bewys dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan” (Hand. 17:2, 3). Die eerste-eeuse dissipels het hierdie leringe aanvaar en het op die heilige gees vertrou om hulle te help om God se Woord te verstaan. Hulle het aan hulleself bewys dat hierdie leringe op die Skrif gebaseer is (Hand. 17:11, 12; Heb. 5:14). Hulle het hulle geloof nie net op gevoelens en emosies gebou nie en hulle het Jehovah nie net gedien omdat hulle goed gevoel het wanneer hulle saam met hulle broers en susters was nie. Hulle het eerder hulle geloof op “die akkurate kennis van God” gebou. – Kol. 1:9, 10.

7. Wat sal ons geloof in Bybelwaarhede vir ons doen?

7 Die waarhede in God se Woord verander nie (Ps. 119:160). Byvoorbeeld, dit verander nie as ’n broer of ’n suster ons seermaak of ernstig sondig nie. En dit verander nie wanneer ons deur moeilike tye gaan nie. So ons moet Bybelleringe baie goed ken en daarvan oortuig wees dat dit die waarheid is. Ons sterk geloof wat op Bybelwaarhede gebou is, sal ons tydens moeilike tye beskerm, net soos ’n anker ’n boot tydens ’n sterk storm beskerm. Hoe kan jy meer oortuig wees dat jy die waarheid het?

WEES “OORTUIG . . . OM TE GLO”

8. Wat het Timoteus oortuig dat hy die waarheid het, volgens 2 Timoteus 3:14, 15?

8 Timoteus was oortuig dat hy die waarheid het. Hoe het hy geweet dat hy die waarheid het? (Lees 2 Timoteus 3:14, 15.) Sy ma en sy ouma was die eerste persone wat hom “die heilige geskrifte” geleer het. Maar hy het sekerlik ook moeite gedoen om self hierdie geskrifte te studeer. Daarom was hy “oortuig . . . om te glo” dat wat daarin staan, die waarheid is. Later het Timoteus, sy ma en sy ouma met die Christelike godsdiens in kontak gekom. Timoteus was ongetwyfeld beïndruk deur die liefde wat Jesus se volgelinge gewys het en hy het ’n sterk begeerte gehad om tyd saam met sy broers en susters in die gemeente te spandeer en om hulle te help (Fil. 2:19, 20). Maar sy geloof was nie gebou op sy gevoelens vir sy broers en susters nie, maar op feite wat hom nader aan Jehovah gebring het. Jy moet ook die Bybel studeer en oortuig wees dat wat dit oor Jehovah leer, die waarheid is.

9. Watter drie basiese waarhede moet jy aan jouself bewys?

9 Om mee te begin, moet jy ten minste drie basiese waarhede aan jouself bewys. Eerstens moet jy jouself oortuig dat Jehovah die Skepper van alle dinge is (Eks. 3:14, 15; Heb. 3:4; Op. 4:11). Tweedens moet jy aan jouself bewys dat die Bybel God se geïnspireerde boodskap aan die mensdom is (2 Tim. 3:16, 17). En derdens moet jy seker wees dat Jehovah ’n georganiseerde groep mense het wat hom onder Christus se leiding aanbid en dat Jehovah se Getuies hierdie groep is (Jes. 43:10-12; Joh. 14:6; Hand. 15:14). Jy hoef nie ’n Bybelprofessor te wees om hierdie basiese waarhede aan jouself te bewys nie. Jou doelwit moet wees om jou “denkvermoë” te gebruik om jouself te oortuig dat jy die waarheid het. – Rom. 12:1.

WEES GEREED OM ANDER TE OORTUIG

10. Wat moet jy kan doen nadat jy die waarheid geleer het?

10 Nadat jy seker gemaak het dat die drie basiese waarhede oor God, die Bybel en God se volk die waarheid is, moet jy die Bybel kan gebruik om hierdie waarhede aan ander te bewys. Hoekom? Want as Christene het ons ’n verantwoordelikheid om die waarhede wat ons geleer het, aan persone te leer wat na ons wil luister (1 Tim. 4:16). * En wanneer ons ander probeer oortuig dat wat die Bybel leer, die waarheid is, versterk dit ook ons geloof in hierdie waarhede.

11. Watter voorbeeld het die apostel Paulus as ’n onderrigter gestel?

11 Wanneer die apostel Paulus ander geleer het, het hy “hulle uit die Wet van Moses en ook uit die boeke van die profete probeer oortuig van Jesus” (Hand. 28:23). Hoe kan ons Paulus navolg wanneer ons ander die waarheid leer? Ons moet meer doen as om net feite op te noem. Ons moet ons studente help om die Bybel te studeer en om goed na te dink oor wat hulle leer terwyl hulle nader aan Jehovah kom. Ons wil hê dat hulle die waarheid moet aanvaar, nie omdat hulle ons respekteer nie, maar omdat hulle aan hulleself bewys het dat wat hulle oor ons liefdevolle God leer, die waarheid is.

Ouers, help julle kinders om geloof op te bou deur hulle “die diep dinge van God” te leer (Sien paragraaf 12-13) *

12-13. Hoe kan ouers hulle kinders help om in die waarheid te bly?

12 Ouers, julle wil natuurlik hê dat julle kinders in die waarheid moet bly. Julle voel dalk dat hulle sterk geloof sal ontwikkel as hulle goeie vriende in die gemeente het. Maar as julle wil hê dat julle kinders oortuig moet wees dat hulle die waarheid het, het hulle meer as net goeie vriende nodig. Hulle moet ’n persoonlike vriendskap met God hê en hulle moet oortuig wees dat wat die Bybel leer, die waarheid is.

13 As ouers hulle kinders die waarheid oor God wil leer, moet hulle die voorbeeld stel deur goeie studente van die Bybel te wees. Hulle moet tyd neem om na te dink oor wat hulle leer. Dan sal hulle hulle kinders kan leer om dieselfde te doen. Hulle moet hulle kinders leer om ons Bybelstudiehulpe te gebruik, net soos hulle een van hulle Bybelstudente sou leer. As hulle dit doen, sal hulle hulle kinders help om Jehovah lief te hê en ook om te vertrou dat hy “die getroue en verstandige slaaf” gebruik om ons te help om die Bybel te verstaan (Matt. 24:45-47). Ouers, moenie tevrede wees om julle kinders net basiese Bybelwaarhede te leer nie. Help julle kinders om sterk geloof op te bou deur hulle “die diep dinge van God” te leer terwyl julle hulle ouderdom en vermoëns in gedagte hou. – 1 Kor. 2:10.

STUDEER BYBELPROFESIEË

14. Hoekom moet ons Bybelprofesieë studeer? (Sien ook die venster “ Kan jy die volgende profesieë verduidelik?”)

14 Bybelprofesieë is ’n belangrike deel van God se Woord wat ons help om sterk geloof in Jehovah op te bou. Watter profesieë het jou geloof versterk? Jy dink dalk aan die profesieë oor “die laaste dae” (2 Tim. 3:1-5; Matt. 24:3, 7). Maar watter ander profesieë wat vervul is, kan jou geloof versterk? Byvoorbeeld, kan jy verduidelik hoe die profesieë in Daniël hoofstuk 2 of in Daniël hoofstuk 11 vervul is en besig is om vervul te word? * Wanneer jy sterk geloof het wat op die Bybel gebaseer is, sal niks jou geloof kan breek nie. Dink aan die voorbeeld van ons broers wat in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog erg vervolg is. Alhoewel hulle nie die Bybelprofesieë oor die laaste dae heeltemal verstaan het nie, het hulle sterk geloof in God se Woord gehad.

Wanneer ons die Bybel en Bybelprofesieë studeer, kan dit ons help om getrou te bly gedurende moeilike tye (Sien paragraaf 15-17) *

15-17. Hoe het die feit dat ons broers die Bybel studeer het hulle gehelp toe hulle deur die Nazi’s vervolg is?

15 Toe die Nazi-regering in Duitsland regeer het, het hulle duisende van ons broers en susters na konsentrasiekampe toe gestuur. Hitler en die hoof van die Nazi SS, Heinrich Himmler, het Jehovah se Getuies gehaat. Volgens ’n suster het Himmler vir ’n groep van ons susters in ’n konsentrasiekamp gesê: “Julle Jehovah [kan] in die hemel regeer, maar hier op aarde is dit ons wat regeer! Ons sal vir julle wys wie die langste volhard, julle of ons!” Wat het Jehovah se knegte gehelp om getrou te bly?

16 Daardie Bybelstudente het geweet dat God se Koninkryk in 1914 begin regeer het. Hulle was nie verbaas dat hulle so erg vervolg is nie. Maar Jehovah se knegte was oortuig daarvan dat geen menseregerings God kon keer om sy wil te laat plaasvind nie. Hitler kon nie ware aanbidding uitwis of ’n regering begin wat sterker as God se Koninkryk is nie. Ons broers was oortuig dat Hitler se regering uiteindelik tot ’n einde sou kom.

17 Wat daardie broers en susters geglo het, was waar. Ná ’n paar jaar het die Nazi-regering tot ’n einde gekom. Heinrich Himmler moes vir sy lewe vlug, die man wat gesê het: “Hier op aarde is dit ons wat regeer.” Terwyl hy gevlug het, het hy broer Lübke, een van Jehovah se Getuies wat vroeër in die tronk was, herken. Himmler, wat baie mismoedig gevoel het, het vir broer Lübke gevra: “Wel, Bybelstudent, wat gebeur nou?” Broer Lübke het aan Himmler verduidelik dat Jehovah se Getuies nog altyd geweet het dat die Nazi-regering tot ’n einde sou kom en dat hulle gered sou word. Himmler – die man wat voorheen so baie oor Jehovah se Getuies te sê gehad het – het uiteindelik niks gehad om te sê nie. Kort daarna het hy selfmoord gepleeg. Wat is die les? As ons die Bybel, asook Bybelprofesieë studeer, kan dit ons help om sterk geloof in God te hê en kan dit ons help om getrou te bly wanneer ons vervolg word. – 2 Pet. 1:19-21.

18. Hoekom het ons “akkurate kennis en goeie oordeel” nodig, volgens Johannes 6:67, 68?

18 Elkeen van ons moet liefde aan ander bewys – die kenmerk van ware Christene. Maar ons het ook “akkurate kennis en goeie oordeel” nodig (Fil. 1:9). Anders kan ons beïnvloed word “deur elke wind van lering van mense wat bedrieg en slinkse planne uitdink”, insluitende afvalliges (Ef. 4:14). Toe baie van Jesus se dissipels hom ophou volg het, het die apostel Petrus gewys dat hy vas oortuig is dat Jesus “woorde van die ewige lewe” het. (Lees Johannes 6:67, 68.) Alhoewel Petrus nie alles op daardie tyd verstaan het nie, het hy getrou gebly omdat hy geweet het wat die waarheid omtrent die Christus is. Jy kan ook oortuig wees dat dit wat die Bybel leer, die waarheid is. As jy dit doen, sal jou geloof sterk bly, maak nie saak wat gebeur nie, en sal jy ander help om sterk geloof op te bou. – 2 Joh. 1, 2.

LIED 72 Maak die Koninkrykswaarheid bekend

^ par. 5 Hierdie artikel sal ons help om te verstaan dat die waarheid in die Bybel baie belangrik is. Dit sal ook bespreek hoe ons meer oortuig kan wees dat wat ons glo, regtig die waarheid is.

^ par. 10 Om jou te help om met ander oor Bybelwaarhede te praat, sien die reeks “’n Gesprek oor die Bybel” wat vanaf 2010 tot 2015 in Die Wagtoring verskyn het. Onderwerpe wat al bespreek is, sluit in: “Is Jesus God?”, “Wanneer het God se Koninkryk begin heers?” en “Straf God mense in ’n helse vuur?

^ par. 14 Vir ’n verdere bespreking van hierdie profesieë, sien Die Wagtoring van 15 Junie 2012 en Mei 2020.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: Gedurende gesinsaanbidding studeer ouers Bybelprofesieë oor die groot verdrukking met hulle kinders.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: Gedurende die groot verdrukking sal hierdie selfde gesin nie verbaas wees oor wat gebeur nie.